UJ-pryse 2018: Commendatio vir SJ Naudé se Die derde spoel

  • 0

Die UJ-pryse 2018 is onlangs toegeken. Hier is Bibi Burger se commendatio oor SJ Naudé se Die derde spoel, ontvanger van die 2018 UJ-prys.

Bibi Burger (Foto: www.up.ac.za)

Spoke van ’n verlore toekoms

Toe SJ Naudé se kortverhaalbundel Alfabet van die voëls (wenner van die 2012 UJ-debuutprys) gepubliseer is, het resensente soos Jacomien van Niekerk (2012:168) hulle bewondering uitgespreek vir die “groot verskeidenheid uiteenlopende temas en motiewe” in die bundel. Ook wat Die derde spoel betref, verwys my medebeoordelaar Sonja Loots na die roman se “panoramiese reikwydte”. Frederick Botha lys van die roman se motiewe: “argitektuur, filmkuns, musiek, seks, apartheid, Vigs en die grensoorlog”. Hierby kan gevoeg word: industriële musiek, Walter Benjamin en tuinmaak.

Soos afgelei kan word uit hierdie lys, skryf Naudé oor onderwerpe waaroor daar nog nie voorheen in Afrikaans geskryf is nie, of ten minste is die naasmekaarplaas van hierdie onderwerpe nuut in Afrikaans. Die lys dui ook op Naudé se vaardigheid as skrywer, in die amper ongelooflike manier waarop hy dit regkry om so ’n veeltakkige verhaal saam te bind en die spanning te behou. Sonja Loots verwys implisiet na hierdie prestasie wanneer sy sê dat die leser van Die derde spoel nooit “die idee kry dat die skrywer die greep op sy materiaal kwyt is [nie]”.

Ek wil vanaand spekuleer dat die fassinasie van hierdie bogenoemde motiewe ook verband hou met die roman se gesprek met die werk van die filosoof Walter Benjamin. Benjamin is onder meer bekend vir sy idees oor Paul Klee se 1920-kunswerk Angelus Novus (Nuwe Engel). Oor die kunswerk sê Benjamin (ek haal aan uit Harry Zohn se vertaling):

A Klee painting named Angelus Novus shows an angel looking as though he is about to move away from something he is fixedly contemplating. His eyes are staring, his mouth is open, his wings are spread. This is how one pictures the angel of history. His face is turned toward the past. Where we perceive a chain of events, he sees one single catastrophe which keeps piling wreckage upon wreckage and hurls it in front of his feet. The angel would like to stay, awaken the dead, and make whole what has been smashed. But a storm is blowing from Paradise; it has got caught in his wings with such violence that the angel can no longer close them. The storm irresistibly propels him into the future to which his back is turned, while the pile of debris before him grows skyward. This storm is what we call progress.

Benjamin sê dus dat die sogenaamde vooruitgang ook vernietiging veroorsaak, en dat hierdie vernietiging nie heeltemal agtergelaat kan word nie. Die derde spoel in sy geheel is só ’n terugblik op die “wreckage” van die geskiedenis, spesifiek die jare 1986 tot 1990.

Hoekom juis hierdie jare?

In ’n referaat oor SJ Naudé en Koos Prinsloo by die February Lectures oor “Queer life in the Global South” sê Louise Viljoen dat die 1980’s van die Die derde spoel ’n tydperk is waarin daar nog ’n toekoms was. Sy maak hierdie stelling na aanleiding van ’n onderhoud met Naudé op LitNet waarin hy sê dat kontrakulturele rebellie nog nie in die 1980’s heeltemal deur kapitalisme geassimileer is nie. Hierdie bewerings, dat daar in die 1980’s nog ’n toekoms was, het my laat dink aan die ontslape Britse resensent Mark Fisher se boek, Ghosts of my life uit 2014. Hierin argumenteer hy dat 21ste-eeuse popkultuur (dit sluit musiek, films, TV-reekse ens in) behep is met die 1960’s tot 1980’s omdat dit ’n tyd was waarin populêre kultuur gefokus was op hoop en planne vir die toekoms. Nie net het popkultuur toe gehoop op ’n beter toekoms nie, daar is ook geglo dat eksperimentele, uitdagende kuns hierdie toekoms teweeg kan bring. Vandag word ons steeds verlei deur hierdie beelde van ’n alternatiewe toekoms, maar ons is meer sinies oor of so ’n toekoms moontlik is. Uitdagende kuns word ook dikwels afgemaak as elitisties. Van die 1980’s af het wat Fisher dus die “slow cancellation of the future” noem, plaasgevind.

Vir dié wat nog nie Die derde spoel gelees het nie: Die roman handel oor Etienne, ’n jong Suid-Afrikaner wat in die 1980’s diensplig ontduik en na Londen vlug, waar hy later filmkuns begin studeer. Daar ontmoet en begin hy ’n verhouding met Axel, ’n verpleër en kunstenaar uit Duitsland. Axel stel hom bekend aan ʼn verlore Duitse film uit 1933, gebaseer op Walter Benjamin se herinneringe aan sy kinderdae in Berliner Kindheit um neunzehnhundert. Axel se ouma het aan die film gewerk as filmproduksie-assistent en hy besit haar notas oor die verfilmingsproses. Etienne onderneem ’n speurtog na die drie spoele van die film wat tydens die Tweede Wêreldoorlog verlore geraak het.

Etienne se wegvlug uit Suid-Afrika is nie net ’n wegvlug van diensplig en apartheidsnasionalisme nie, maar ook ’n poging om te vlug van die toekoms wat sy pa vir hom beplan: ’n toekoms as ingenieur en besigheidsman met ’n vrou en kinders (16–7). Al verset hy hom teen apartheidsnasionalisme, distansieer hy hom reeds vroeg in die roman ook van die anti-apartheidstryd. Hy vind eerder sy “sieleheil” (102) (ten minste tydelik) in aktiwiteite wat nie op groot skaal utopies is nie, maar wat wel aansluit by wat Mark Fisher populêre modernisme noem.

Verskeie van die spesifieke kultuurvorme wat Fisher met die laaste stuiptrekkings van die modernisme assosieer, is juis ook dié waarby Etienne betrokke raak, soos squats, waarin klein groepe mense geboue onwettig bewoon en daar kuns beoefen en hulle eie utopieë op klein skaal vestig. Fisher glo dat krakerpande (soos dit in Nederlands genoem word) nodig is vir die bestaan van kuns wat nie gerig is op wins nie – omdat dit beteken dat mense ’n lewe kan skep sonder veel inkomste. Etienne self is ’n musikale kunstenaar, ’n tromspeler wat later in Berlyn deel word van ’n groep wat industriële musiek speel. Hulle naam, Stunde Null, verwys na middernag, 8 Mei 1945 en die poging om ’n nuwe Duitsland te skep na die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Só ook glo Stunde Null dat hulle musiek maak wat nuut is, wat niemand nog voorheen gehoor het nie (158).

Nog ’n vorm van populêre modernisme wat Fisher noem is uitdagende kunsfilms, en hy verwys spesifiek na die Russiese regisseur Tarkofski se Sluiper. In hierdie wetenskapfiksiefilm uit 1979 lei ’n sluiper mense deur ’n sone waar die normale wette van die realiteit nie geld nie. Die sone bevat onder meer die gemors van ’n vroeër samelewing. Fisher verwys na Sluiper in die konteks van ander kuns wat geskep is uit die verlede se vullis, en spesifiek na die musikant Burial. Etienne lees op oor die moeilike produksiegeskiedenis van Sluiper – oor hoe dit verfilm is in “ou fabrieke, digby chemiese aanlegte. In ’n vergiftigde landskap” (115). Behalwe dat Sluiper, soos Die derde spoel, geskep is uit wat Benjamin soms die “wreckage” van die geskiedenis noem, is dit ook relevant dat daar in die sone ’n kamer is waar die karakters se onbewuste begeertes verwesenlik word. Etienne sien die film net voordat hy vir Axel, die verpersoonliking van sy onbewuste begeertes, ontmoet.

Nog ’n vorm van die populêre modernisme wat Mark Fisher bespreek, is Brutalistiese argitektuur, waardeur menslike vernuf getoon word deur beton die onmoontlike te laat doen – “swaartekrag [...] ondermyn” (37). ’n Sekstoneel wat afspeel in die nou gesloopte Trinity Square Car Park, herinner aan die maniere waarop JG Ballard beton en metaal eroties maak in sy roman Crash. Ook elektriese netwerke word as eroties uitgebeeld in Die derde spoel, soos Wemar Strydom onder meer aanvoer in ’n studie wat nog nie gepubliseer is nie. Neem byvoorbeeld die beskrywing van die eerste keer wat Etienne en Axel seks het. Dit speel af in ’n tonnel onder ’n treinspoorviaduk:

Hy [Etienne] hoor swaar elektrisiteit dreun. [...] Hul liggame sluit. Dis so warm soos die hel. Etienne gee nie om waar daar transformators in die donker is, of lewendige kabels nie. Die volts het sy liggaam reeds binnegegaan; hy is in die stad se netwerk ingeprop. [...] ’n Dik stroom vloei reg deur hom, na slagpale en fabrieke. (41)

Die erotiek van hierdie aanhaling sluit aan by ’n ander vorm van opposisionele utopisme uit die 1980’s wat Fisher nie noem nie, maar waarop Naudé wel wys in die reeds genoemde onderhoud op LitNet: “Die idee van queerness, in die sin van ’n bepaalde soort opposisionele ingesteldheid eerder as net seksuele oriëntasie”.

Om my argument kortliks saam te vat: In aansluiting by Fisher, dink ek dat die uitbeelding van die squats, die industriële musiek, Tarkofski se film, die Brutalistiese argitektuur, ens, so fassinerend is vir ons as lesers vandag omdat die drome van die toekoms en van alternatiewe maniere van leef wat daardeur verteenwoordig word, steeds by ons spook. Die derde spoel bevat egter nie net baie wat deur akademici ontgin kan word nie, dit is ook op só ’n spannende wyse geskryf dat die leser nie anders kan as om meegevoer te raak deur Etienne se soektog na die derde spoel nie, en deur sy soeke na betekenisvolle kuns, aktiwiteite en maniere van bestaan. Om hierdie redes is dit vir my ’n groot plesier om die UJ-prys aan SJ Naudé te oorhandig vir Die derde spoel.

 

Bibliografie

Ballard, JG. 2008. Crash. Londen: Harper Perennial.

Benjamin, W. 1973. Illuminations. Waukegan: Fontana.

—. 2006. Berlin Cchildhood around 1900. Cambridge: Harvard University Press.

Fisher, M. 2014. Ghosts of my life: Writings on depression, hauntology and lost futures. Winchester: Zero Books.

Naudé, SJ. 2011. Alfabet van die voëls. Kaapstad: Umuzi.

—. 2017. Die derde spoel. Kaapstad: Umuzi.

Naudé, SJ en N Meyer. 2017. Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n onderhoud. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-derde-spoel-deur-sj-naude-n-onderhoud (14 Mei 2018 geraadpleeg).

Van Niekerk, J. 2012. Resensie: Alfabet van die voëls. Tydskrif vir Letterkunde, 49(2):168.

Viljoen, L. 2018. Afrikaans Literature in/and the World Republic of Letters: the case of Koos Prinsloo and SJ Naudé. Referaat gelewer by February Lectures, Unisa, 23 Februarie.

 

UJ-pryse 2018: Commendatio vir Jolyn Phillips se radbraak

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die prys vir Die derde spoel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top