UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak

  • 0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Beide die pryse word sonder inagneming van genre toegeken. 

Die wenner van die UJ-debuutprys is Jolyn Phillips vir haar digbundel Radbraak. Hier is haar repliek by ontvangs van die prys tydens die toekenningsgeleentheid.

Jolyn Phillips (foto verskaf)

 

Ek was eenkeer by ’n konferensie en ’n bekende skrywer op die paneel het die skryfproses vergelyk met swangerskap. Haar praat het soos eelte in my vingertoppe kom sit. Sy het haarself welseggend in Engels uitgedruk, maar ek sal terugpraat soos my kop dit in daardie oomblik verstaan het: “As jy nie weet wanneer om geboorte te gee aan jou gedig nie, sit jy óf met ’n ontydige skryfkind, óf as jy te lank wag, gee jy geboorte aan ’n stildood skryfkind.”

Hierdie woorde draai nog altyd in my vingertoppe as ek potlood en papier aandurf. Met hierdie bundel het ek gevoel my taal raak op. Ek het ’n kortverhaalbundel in Engels neergepen en tog voel elke skryfbegin soos die eerste trekpleister. Met die eerste boek het ek tyd gehad; die boek wás die kursus.

How to kill your darlings, how to not commit the cliché (the author’s death). My skryf het netjies in ’n bundel gepas, geïnk en toe gepubliseer soos ’n gedrukte blom. ’n Gedrukte blom wat nou in twee tale vermink.

Iemand het vir my gevra after all that, wat is daar nog oor om te sê. Ek wens ek kon toe antwoord ’n boek is ’n lewe nie die lewe nie. Ek wens ek het dit al geweet, want ek het gedink ek sal nooit weer skryf nie. En toe ek nie meer kan skryf nie, is ek terug boeke toe, want taal in boeke was nog altyd vir my ’n lewende fossiel, ’n skulp, en die skulp breek vir my die woord radbraak oop. Eers vir ’n hele ruk sit ek en toktokkies soek in my skryf en toe ek die woord kry, soek ek soos ’n bloedhond in die etimologie en die argiewe. Wie is jy, woord? Wie se woord is jy, woord?

Die woorde skryf terug:

ek het eiertand uit Grootkop
se skoot getik-tik-tik
ek het skip daar aangekom
en nou sit ek vas palmietbossies
aan die rotse van die Baviaan. (radbraak, bl 7)

Met hierdie woorde breek die wêreld van dié bundel oop. Hierdie gesplete tong van my het eers geraas en gegrens en toe kom radbraak en leer my: Taal is niemand se behoort nie. Taal is niemand se hou en houer nie.

Die ekkerige mens wat ek is, het bekommerd geraak, die angs dat ek besig was om my woorde te verloor, my taal te verloor. Ek was bekommerd ek verloor my Afrikaans.

Die gespletenheid, die toiingrige taal wat ek praat, wat maak ek hiermee? Wie gaan my verstaan, dié babel van my? Ek het aan my Afrikaans vasgehou, maar dit het die hele tyd soos water deur my hande gegly, dit wou stukkend stap en stukkend praat en ek wou heeltyd net teruggryp: ordentlik, standaardvariëteit soos die spreker in “skoonmaakmiddels” (10):

ek kan jou nie uit my kop uit was nie
   [fluister die spreker]
al vryf ek
al spoel ek
al vryf ek jou in jik
al vra ek die son om jou uit te bleik
ek kan jou nie uit my kop pars nie (radbraak, bl 10).

Ek is jou spreker, jou taal, jou rekenskap.

Die woord radbraak kom weer - ek sit met die etimologie:

  1. (histories) ’n Oortreder se ledemate breek en hom doodmartel.
  2. ’n Taal vermink.

Uit Ndl radbraken (al Mnl in bet 1; 1589 in bet 2), ’n samestelling van rad “wiel” en braken “breek”, in bet 1 so genoem omdat ’n oortreder se liggaam op ’n wiel gelê is en gebreek is. In Afr kom as simpleks vir Ndl rad slegs rat voor. (Van Wyk ea, 2003:367)

Hoe gevaarlik en martelend is woorde nie? Woorde kan jou ’n rat voor die oë draai, die folter en die martel uitwas tot ’n eufemisme, uitwas tot ’n sêding – soos skoonmaakmiddels.

Ek lees om te folter was nog altyd om te martel met die doel om informasie te verkry. Hier leer ek my taal is onbetroubaar – ek praat eintlik ’n taal meer geërf, geswerf, aangegee, opgegee.

Ek besef hoe onveilig en gevaarlik en brutaal woorde is. Voor die woord dié uitdrukking geword het, was die aksie, die martel, die breek, die taal vermink, eers mens-vermink.

Afrikaans is gebore die dag toe iemand besluit het om te radbraak.

En dan val radbraak my eie ekkerigheid aan. Wie is jy in die taal? In die Afrikaans? Wat gaan jy doen om vir jouself in die taal in te breek? Gaan jy martel? Wie gee jou die reg?

In baie opsigte is die digter soos ’n snydokter. Waar trek jy die lyn tussen vermink en versorg? Waar trek die digter die lyn tussen taal vermink en taal versorg? Hier staan ek heeltemal geradbraak en vertaal voor jou. Ek hoop ek het reg gewag vir die hierdie folterbundel. Ek vra my weer af: Wat is dit wat jy wou uitmartel?

radbraak antwoord:

Ek weet my woord het ’n ander stam ander woorde
is vir my gevoer geleer ek belowe ek fluister my
woorde in die grond maar ek kan nie ’n sewejaartjie lospraat nie. (radbraak, bl 38)

radbraak leer my weer taal is niemand se hou of houer nie. Jy praat dit, maar dit behoort nie net aan jou nie. Die taal praat aan – met of sonder jou.

Jy kan nie ’n sewejaartjie lospraat nie.

Maar soos ’n kind wat tande tel in grootmense se geselskap, is my taal ook stukke, parte en dele van ander mense – die – dié? – taal van my breek saam. My Afrikaans is gebore die dag toe ek besluit het om te radbraak:

uit my liggaam wil ’n ander alfabet simfonie
ek is meer as net ’n vel-taal ...
...
ek praat al my tonge gelyk
Ma sê dis gevaarlik as mense
in tonge praat niemand kan
’n prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes
in my besig om bakstene aan te dra
vir ’n nuwe babel (radbraak, ble 38, 39)

Ná die skryf is ek terug huis toe. My antie het vir my twee skulpe gegee. Die mooiste skulpe wat ek nog gesien het. “Dis nie die soort skulpe wat Gansbaai se water uitspoel nie,” het ek gesê – vir wat sal sy vir my ’n ander plek se skulpe geskenk gee as ons so baie het, dink ek. Sy sê toe: “Ja, mens kry hulle daar doer op Mosselbaai.”

Skulpe het soveel simboliese betekenisse, maar vir my is die skulp vir die see soos wat taal vir die mens ’n lewende fossiel is. Ek lees ook fossiele vorm die beste onder die see, omdat fossiele nie kan vorm as daar suurstof is nie; fossiele vorm met ander woorde waar die mensdom nie kan lewe nie.

Ek wonder toe of dit dieselfde vir taal is. Ek sê nou die dag vir iemand dat mens eintlik skryf tot jy uitskryf en uiteindelik opskryf, maar in daai tyd wou my onwysheid die uurglas omdop vir my woorde.

“Taal is niemand se hou en houer nie. Taal praat aan met of sonder jou,” kom die hinder.

radbraak het my soveel skulpe gegee. My taal het in ’n mate skulp geword, gekalk, gevlek, geknop, by tye glad geword en ander tye kere weer grof geword.

Ek het ’n bundel vol ongewerwelde diere wat ek in daardie digskulpe gevorm het, laat doodgaan het en laat vrot word het.

Ek het gelees leë skulpe is eintlik grafte wat uitspoel omdat die weekdier wat dit bewoon, doodgegaan het, uitgevreet is of vrot geword het, maar dat die mens dit weer ander dinge maak – bygesê: ander tale maak.

Die skulp ’n lewende fossielouer as taal-ouer as die “wyse mens”.

Ek weet nie wie of wat besluit het dat ek ’n strandloper en Gansbaaier geword het nie, maar ek weet: dié plek is die plek van my woordbegin en my dankwoord.

Ek kan nog nie die vraag beantwoord van waar pas ek in die taal nie, maar radbraak is hier, geskulp, ’n kraak.

My naivety, my ekkerigheid, wil glo sy’t probeer deur ’n ou taal uit-, op- en deur te breek tot ’n nuwe taal en tong begin.

My ekkerigheid wil glo in hierdie begin en die bundel het my op my plek gesit: “Dié taal gaan aan – met of sonder jou, al probeer jy die lewe hier in ’n gedig distilleer.”1

Ek wil vir Human & Rousseau dankie sê wat ’n kans gevat het in dié begin van my. Nèlleke, toe ek jou die eerste keer ontmoet het om te praat oor hoe ons die manuskrip in ’n bundel gaan skep, het jy gesê: “Ons wil vir jou ’n bundel maak waarop jy oor 50 jaar nog trots kan wees.” Die manuskrip kom uit my hand, maar die bundel is moontlik gemaak deur jou en die span by Human & Rousseau. Elke keer wanneer ek die bundel optel en oopmaak, sit hierdie belofte in die manier hoe die boek ontwerp en geset is. Ook dankie, Michiel Botha, die bandontwerper, wat ’n antwoord ontwerp het vir die vraag: Hoe ontwerp mens ’n radbraak?

Dankie, Human & Rousseau, dankie dat julle taalsorg en boeksorg ook sinoniem is aan sielsorg en integriteit.

Aan die UJ-pryskomitee: baie dankie vir hierdie wonderlike eer wat dit vir my moontlik maak om vir ’n hele ruk te kan skryf sonder die albatros van finansiële verpligtinge.

Ek is geleer “hou kop, behou balans”. Dankie vir jou, my anker, my kompas, my leibaan, my sonsopkoms ...

Ek is aangeraai om die kuns van verloor aan te leer as jy dig: mense koop nie meer poësie nie, en wen amper, maar nie heeltemal nie.

’n Prys soos hierdie bewys hierdie siening verkeerd. As mens oefen om te verloor, oefen jy nie jou dankie nie en ek is nie seker of ek dit reg gedoen het nie – maar ek sien die prys ook as ’n dankie aan digkuns.

Die sprekers en stemme reken met hul eie Afrikaanse in die bundel; hulle stap stukkend, maar die radbraak in dié bundel stukkend saam soos ’n mosaïek, ’n simbiotiese taal. Húlle is die talenaars.

radbraak (bl 36) herinner:

skiet mielies met jou woorde
kap tol met jou toiing-tong
skip tou met jou flentervlees.

Maar vir myself onthou ek altyd:

ek ken van lila heuwels
wat pers bloos vir die lente
ek loop nog elke dag
op bros grond
hier in die dal van genade
word ek wakker tussen bloekombome
wat groener raak hoe ouer
my herdenking
hoe silwerder my ouers
ek het nog altyd geglo
dat die bome met die groen wolke
net-net aan die takke hang
en die kleihuise
my beter ken as ek self. (radbraak, bl 14)

  • Jolyn Phillips, 11 Mei 2018, Universiteit van Johannesburg

Bronne

Phillips, J. 2017. radbraak. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Wyk, GJ, AE Cloete, A Jordaan, HC Liebenberg en HJ Lubbe. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Eindnota

1 Met verwysing na Gwendolyn Brooks: “poetry is life distilled” deur Christine M Hill (Enslow Publishers, 2005).

Lees ook:

UJ-pryse 2018: Commendatio oor Jolyn Phillips se radbraak

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die prys vir Die derde spoel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top