UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die prys vir Die derde spoel

  • 0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Beide die pryse word sonder inagneming van genre toegeken. 

Die wenner van die UJ-prys is SJ Naudé vir sy roman Die derde spoel. Hier is sy repliek by ontvangs van die prys tydens die toekenningsgeleentheid.

SJ Naudé (foto verskaf)

Skrywers as vryheidspioniers

Baie dankie aan die beoordelaarspaneel, die Departement Afrikaans en die Universiteit. In ’n tyd waarin die heersende winde – sosiaal en kultureel, nasionaal en internasionaal – dit nie die maklikste of mees logiese besluit maak om te skryf, en dit nog in Afrikaans ook te doen nie, beteken dit baie om sulke bevestiging te kry. Dit laat jou dink: já, om in Afrikaans te skryf maak saak; jy moet dit aanhou doen. Jou stem, besef jy, eggo nie net in ’n leë kamer nie.

Die UJ-prys is daarby gesog en uniek, onder andere weens die kombinasie van ’n kompromislose fokus op bellettristiese werk, die oorweging van alle genres vir die prys en die institusionele konteks van ’n akademiese instelling. Die wêreld van literêre skryfwerk is in heelwat opsigte broos, en sulke vasberade institusionele steun maak ’n enorme verskil vir skrywers.

Maar om weg te beweeg van myself en die prys, het ek gedink ek sal vanaand, in hierdie neo-outoritêre era van Brexit en Donald Trump, en te midde van die posttrauma van Jacob Zuma se presidentskap, ’n kort woord spreek oor die idee van die literêre skrywer as die pionier of beskermer van vryheid.

In die Suid-Afrika van die 1970’s en 1980’s was politieke skryfwerk bykans die enigste modus wat beskikbaar was vir skrywers wat ernstig opgeneem wou word. En tesame met die vereiste om kritiek op die onmenslike stelsel van apartheid in ’n mens se fiksie te integreer was daar ook die voorgeskrewe raamwerk van realisme, wat lank reeds beskou word as die mees doeltreffende voertuig vir polities betrokke fiksie. Die skryfwyses van byvoorbeeld André Brink en Nadine Gordimer, wat internasionaal bekend was vir hul anti-apartheidstandpunte, was oorhoofs realisties. Hul tydgenoot, JM Coetzee, se gestroopte en onthutsende romans, daarenteen, het grootliks die realistiese matriks ontduik. Hy het politieke vraagstukke in sy eie terme aangespreek – dikwels het hy probeer om met etiese kwessies te stoei by wyse van die moeisame oplossing van formele literêre probleme. Teen hierdie agtergrond is dit interessant, en dalk veelseggend, dat dit juis sý werk is wat, ofskoon dit langer geneem het om ’n wye gehoor te bereik, waarskynlik ’n veel langer lewensduur gaan hê.

Dus: wat ek wil oorweeg, is die gedagte dat skrywers van literêre (of “ernstige”) fiksie die fakkeldraers is vir vryheid en demokrasie, dit wil sê dat hulle ’n opposisionele benadering behoort te volg, dat hulle deur hul prosa die onderdruktes moet aanvuur om hul juk af te smyt, of dat hulle ten minste die gewetens moet aktiveer van dié wat invloed op die magshebbers het. En die vraag is voorts: Watter soort geldigheid het hierdie idee in die vroeg-21ste eeu?

Die siening dat romansiers hul daarvoor moet beywer om die wêreld te verander – en die verwaande aanname dat hulle kán – is in sekere opsigte oudmodies. In die Weste, anders as in Suid-Afrika, het die idee van die skrywer as vryheidsvoorstander vanaf die 1960’s begin vervaag. Die redes hiervoor het ingesluit die ontwikkeling van ondersoekende joernalisme, die wyer erkenning van individuele regte en vryhede, asook, in meer onlangse tye, die rol van sosiale media. Politieke diskoers is gedemokratiseer, is lankal nie meer die uitsluitlike terrein van die elite nie – en by laasgenoemde sluit ek dié in wat kulturele artefakte produseer.

’n Mens wil vra: Maar hét enige roman al ooit ’n politieke stelsel verander? Of ten minste ’n betekenisvolle rol gespeel om voorbrand vir verandering te maak? Die antwoord op die eerste vraag is sekerlik nee. Die tweede vraag verg ’n meer komplekse antwoord. Dit is in die aard van literêre romans om op sonderlinge en indirekte maniere te werk te gaan – deur persepsies te verander, deur aannames en vooroordele te ontsetel. By wyse van intieme wisselwerking, met een leser ná die ander. In die VSA word die romanskrywer meestal gesien as iemand wat vermaak verskaf eerder as ’n politieke handeling uitvoer. Daar ís wel ook ernstiger idees in sirkulasie in Amerika oor die taak van die skrywer – ’n paar jaar gelede het ’n koerant berig oor ’n Amerikaanse stadspolisiemag wat van hul offisiere vereis om klassieke romans te lees as deel van hul opleiding, die doelstelling synde om hul begrip uit te brei van hoe ander mense voel en dink. ’n Meer beskeie gedagte, weliswaar, as dié van die roman as revolusionêre instrument. In Rusland, Kontinentale Europa en die Globale Suide het skrywers histories nog altyd groter ambisies vir – en lesers groter verwagtinge van – die roman. In hierdie kultuurwêrelde is daar nog altyd die hoop gekoester dat skrywers onder andere die rol van vryheidsbewakers sal speel.

Sonder om nou my toevlug te neem tot die meer grandiose spektrum van idees rondom die skrywer as orakel, wil ek argumenteer dat die roman inderdaad sy lesers se politieke bewussyn kan verbreed. Dit kan taal en verhaal as probes aanwend om nuwe maniere van wees en van ervaar te ondersoek – modusse wat meer outentiek is, of meer menslik. Dit kan lesers se opvattinge verander oor wat moontlik is in menslike verhoudinge, en in hul denke oor die wêreld. En, ja, dit kan mense beweeg om tot aksie oor te gaan. Dít verstaan die magshebbers skynbaar instinktief – skrywers is histories dikwels in die tronk gestop. En in sommige lande gebeur dit nog steeds. Dit is ook hoekom despotiese regimes al probeer het om propaganda by wyse van literatuur te versprei. Een voorbeeld sou wees die sogenaamde produksieromans in die voormalige Sowjetunie. Hitler, daarenteen, het begryp dat films ’n groter effek op die massas sou hê.

Maar: ten einde enige uitwerking in die openbare sfeer te hê, moet ’n roman lesers eers boei, betower, skok, uitdaag, roer, fassineer of kwaad maak. Die roman het ’n unieke, onverminderbare soort krag, maar net as dit werk as ’n roman. ’n Direk propagandistiese benadering in fiksie is vervelig, en onderskat lesers noodwendig. So ’n benadering kan onmoontlik in die 21ste eeu werk. Letterkunde kan nie die rol van joernalistiek vervul nie. Ten minste nie meer nie. Dit kán wel die meesternarratiewe wat politici wil hê ons moet internaliseer, weier. En dit kan ’n wêreldbegrip wat lesers as vanselfsprekend ag, ontwrig. As politiek gemoeid is met vals beloftes vir die toekoms, dan is etiek gemoeid met die lyding en die waarheid van die hede. En die beste betrokke skryfwerk hou sig besig met etiek eerder as politiek – selfs, of veral, wanneer dit in ’n distopiese toekoms afspeel.

Om my ten slotte te wend na ’n konkrete voorbeeld: Het die romanskrywer die mag om ’n protodespoot soos Donald Trump teë te staan? Die waarheid is dat aktivisme in die 21ste eeu ongetwyfeld ’n meer doeltreffende politieke instrument is as letterkunde. Georganiseerde protes en weerstand het ’n veel meer direkte impak as stories. In die postwaarheid-era in die VSA is fiksieverkope blykbaar aan’t afneem. ’n Kieserskorps wat hul president se naakte leuens probeer weerstaan, het skynbaar minder – eerder as meer – fiksie nodig, ook al is laasgenoemde op eiesoortige wyse op die onthulling van waarheid gerig. Kreatiewe skryfwerk is, so lyk dit, nie wat nodig is om ’n diskoers te weerstaan wat die idee van ’n gedeelde waarheid fundamenteel bedreig nie.

Dit is, helaas, nie skrywers wat Trump uitgeskop gaan kry nie. En tog, romans het hul eie manier om ’n verskil te maak. Stories verander dalk net een gedagtewêreld op ’n slag. Maar moenie die ernstige boek afskryf nie. Of nog nie. Al is dit nie die hoofinstrument van vryheid nie, werk dit op stadiger, dieper maniere. Lank ná Donald Trump se oranje liggaam in die aarde begrawe is, en wanneer sy miserabele nalatenskap op die geskiedenis se ashoop lê en vrot, sal romans nog steeds geskryf word, en sal skrywers nog steeds weier om taal aan die leuenagtige tonge van die tiranne oor te gee.

  • SJ Naudé

UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top