Die UJ-pryse 2018 is onlangs toegeken. Hier is Karen de Wet se commendatio oorJolyn Phillips se radbraak, ontvanger van die 2018 UJ-debuutprys.
slinks is die ekkes
in my besig om bakstene aan te dra
vir ’n nuwe babel
my ma in C-majeur
sy het net haar stem
wat uit haar hande sing
die nette stitch
do
re
mi
fa
never-ending
so
la
ti
do
sing sy uit haar hande
my ma laat my dink aan see-majeur
sonder sharps of flats
die maklikste die mooiste
omdat dit so skoon is
sy fluit die vis tot byt
haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son
vir die golwe want haar seun fluit êrenssy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar
Jolyn Phillips se gedig “my ma in C-majeur” (radbraak, 49)1. Mens hoor Jeanne Goosen (2007) se “My mamma is bossies” en mens onthou Antjie Krog (1970:12) se “Ma, ek skryf vir jou ’n (kaalvoet) gedig”, en dink aan Ronelda S Kamfer (2016) se Hammie en reëls soos “my ma is gemaak van vlees en been/ haar stem is ’n boom wat skeef gegroei het” (“Gertruida”, 82).
Wat maak dan Jolyn Phillips se gedig, se digbundel, besonders? Dat sy tematies by strominge in die Afrikaanse literêre tradisie aansluit? Dat sy bydra tot die lank-versweë stem van onderdrukte en miskende gemeenskappe en mense en daarmee tydgenootlik aansluit by die werk van eietydse digters soos Dianna Ferrus, Ronelda S Kamfer, Nathan Trantraal, Shirmoney Rhode en Gaireyah Fredericks? Dat sy ’n vrou is wat dig? ’n Jong, bruin vrou is wat dig? Dat sy soms ook Kaaps2 in haar gedigte gebruik?
Immers beleef Kaaps ’n hoogbloei, soos oa die kongres en publikasie Kaaps in fokus (Hendricks en Dyer, 2017), die boek Ons kom van vêr, LitNet se Bybel in Kaaps-kompetisie en -argief (Coetzee, 2016–2018), en vele debatte, menings, uitsprake, rubrieke en boeke van polemici goed illustreer. Maar skryf Phillips “Kaaps”? En is dit wat haar werk uitsonderlik maak? En dit vra ek nie om ’n taalpolitiese debat te aktiveer nie – ek skaar my by Wannie Carstens (Carstens en Hendricks 2017):
Afrikaans (is) ’n heterogene taal ... en daar (is) dienooreenkomstig binne Afrikaans diverse manifestasievorme oftewel variëteite, waaronder Standaardafrikaans en Kaaps, te onderskei is.3
Die vraag oor taal en die moontlikhede wat die resepsie van radbraak kan beïnvloed, is ’n waarskuwing teen kategorisering en stereotipering. Natuurlik funksioneer literêre opinies en literatuurgeskiedskrywing, die toekenning van pryse en kanonisering, nie in die afwesigheid van die “plasing” van tekste nie. Maar die bundel, soos geen bundel inderdaad nie, verdien nie stereotipering nie. “Dit is Afrikaans!” sê Phillips telkens in onderhoude.4 Nog meer navrant is dat dit nodig is dat die digter, wat ook die saak in haar gedigte ter sprake bring, telkens moet sê: “My werk is nie ’n stuk vel nie” (vgl Van Zyl 2017) – “vel is te oppervlakkig”; dit is poësie dié.
Wanneer ons dan vanaand hier byeen is om die sestiende UJ-debuutprys toe te ken aan Jolyn Phillips, is die vraag: Waarom radbraak? Afgesien van die bydraes wat die bundel tot belangrike heersende diskoerse in die Afrikaanse poësie maak. En die een aspek van die bundel wat telkens na vore kom, is die hantering van taal. Dit blyk ook duidelik uit die volgende waardeskattings van drie van die lede van die beoordelaarspaneel, wat dit in hulle keurverslae uitwys:
[W]at Phillips in ’n liga van haar eie plaas, is haar prysenswaardige sensitiwiteit vir taal ... (Frederick Botha)
Met hierdie digdebuut [bied Phillips] winste vir Afrikaans se poëtiese seggingskrag. Die vernietigende nagevolge van apartheid ... word ... ook talig verken deurdat die digter woorde, uitdrukkings, klanke en skryfwyses verwring as ’n illustrasie van die skending waarmee die teks ten nouste gemoeid is. (Sonja Loots) (Klem, KdW)
[D]it is maklik om die ritmiese hardop lees van die gedigte te verbeel. Anders as sommige gedigte wat geskryf is om voorgelees te word, is die gedigte in radbraak egter ook op papier baie bevredigend. Op ’n visuele vlak is die tipografiese eksperimentering interessant en deur die ontginning van digterlike tegnieke is die gedigte ook kompleks en dus intellektueel boeiend. (Bibi Burger)
Aan Marchelle van Zyl (2017) sê Phillips hieroor:
My taal was vir my belangrik toe ek in die Kaap kom bly het. Ek kon nie relate tot die mense, die plekke nie. Ek het die stories geskryf vanuit ’n plek van onthou, (van) die huis mis. Die taal ... het my laat opstaan in die oggend om aan te gaan. Dit is daardie plek wat ek vir myself geskep het om te vertoef met my taal. ... Dit was die kombers van my landskap. (Klem, KdW)
En ook: “Ek is ’n simbiose van verskillende Afrikaanse.” Terwyl die kommentaar in een van die gedigte oor aanpassing, stereotipering en buitestanderskap lakoniek sê:
hier bo in die Kaap dreig
die tale soos aspoester
se koets om middernag(“oe jirlikheid! Janwap se kind”, 54)
Jolyn Phillips is ’n Rhodes-Mandela-afgestudeerde, die wenner van die Nasionale Instituut vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe-prys (2018) vir haar Engelse debuut Tjieng tjang tjerries, en “onder die radar” (Lategan 2018), sê sy, ’n jazz-sanger. Woorde en taal kom maklik ter sprake waar Phillips aan die woord is en sy het haarself al ’n “word vagrant” genoem (Anon sj). ’n Woordswerwer, ’n nomade van die woord. Op hierdie spoor kan mens in die bundel ook loop. Die digtende in radbraak is ’n strandloper, ’n versamelvoël, ’n trekvoël. Sy is ook ’n migrerende – tussen verlede en hede, tussen plekke en omstandighede, maar veral in taal, midde in en deur taal. In radbraak is dit ’n versamelaar en rangskikker van woorde wat stem gee aan ’n persoonlike en kollektiewe, voorheen doodgeswygde verlede, maar ook aan haar hede. Liries en met empatie, maar ook eerlik en sekerlik onsentimenteel.
Dit is gedigte wat stem gee aan die historie van ’n vorige en ’n eie generasie. Soos die ma “met die sonstraalhare” wat nie wil of kan onthou nie, maar wat uiteindelik haar herinneringe deel – weergegee in ’n intieme vraag-en-antwoord-gesprek tussen ma en dogter. Die gedig se titel is: “‘my ma sê sy het drie oogwinke van haar ma” (50–1) en die ma, wat kleintyd agtergelaat is, se herinnering van haar eie ma word opgeteken:
sy onthou haar soos bloeding op die brein
...
sy wou haar onthou
maar toe sy bykom
het haar geheue net gesilhoeët.
In die volgende twee dele van die gedig is dit die voortgesette vraag-en-antwoord-gesprek, maar ook die manier waarop die refrein waarop die strofes telkens stok, gewysig word, wat die storie aan die hart laat gryp:
Ma hoekom het ek nie ’n ouma nie?
jou ouma het gaan brood koop
end van storiehoe oud was Ma?
ek het nog nie verjaar nie
maar my suster was al twee
los tog moet nie krap nie
end af die storie...
ek was my ouma se wegsteek-
kleinkind met die sonstraalhare
dis hoekom noem hulle my Poppe
eindig die storie.
Die derde deel van die gedig lui die motief van musiek in, en ook die gebruik van wiegeliedjies en kleuterryme. Die ma, wat heeltyd nie wil onthou nie, die ma wat die verdriet ken van verwerping, en spesifiek in verband met afkoms, styg hier onverwags en sterk uit en bied aan haar kind die alternatief van musiek:
ma waar kom ek vandaan?
jy is gevorm met my stembande
stembande wat ’n nuwe liedjie sing
ons kom van die kruidjie-roer-my-nie-mense
wat saam met die suikerbekkies se bessie
biem bam se bessie bam se bessie biem bam
se bessie bam se bessie biem bam bam.
Hierteenoor staan die kind se belewings wanneer sy weggestuur word om by mense te bly. Die onemosionele aanbod en die afwesigheid van selfbejammering in “kronieke van ’n plaasjapie in die stad” (26–7) is wat die hardste slaan. Die drie dele van die gedig presenteer soos ’n oorgangsrite en die ontsetting daarvan om te sien hoe ’n kind wat besef sy “hoort” nie, ’n kind wat weet sy het nie aansien nie, en ook nie geld nie, wat weet sy is afhanklik en wat daarom “by die reëls” probeer hou, maar steeds buitestander gehou word, in drie opeenvolgende huise, laat mens se asem in jou keel stok:
my eerste keer hier in Kuilsrivier en die strate is in sy naat gestryk
ek bly in ’n kamer waar alles die toiletpapier match
ek en my sak klere is die ink wat die kamer vlek
hulle kinders wil weet of ek van Namibië is
omdat ek “lyk soos daai rooikop-basters”ek weet dis nie my huis nie en respekteer hulle reëls:
my wasgoed mag nie saam met hulle wasgoed hang nie
ek moet die seun vra om die TV vir my aan te sit ...(“hoofstuk 1: Kuilsrivier”, 26)
Ook by die tweede verblyf, in “hoofstuk 2: Manenberg” (26), en hierdie keer by familie, word nie net die “plaasjapie” se buitestanderskap nie, maar ook haar vreemdelingskap in terme van geloof en kultuur, onder haar neus gevryf, dwingend aan haar voorgehou:
ruik niemand dat Athlone soos ’n public toilet ruik nie?
my oom sê hy ruik dit nie en hy het hier grootgeword
die toilet is ’n snaakse plek in sy huis vandat ek hier bly
koop hulle toiletpapier daar is ’n Bashew’s-botteltjie met water in
wat hulle gebruik al is daar 2-ply toiletpapierek kan nie 7de Laan kyk nie want dit is maghrib-tyd
ek kan nie aan my nefie raak nie want hy is bang
ek breek sy abdas meestal eet ek uit hulle hande uit
maar hulle eet nie uit my hande nie want dis haram.
In die derde gedig (“hoofstuk 3: Elsiesrivier”) verander die ritme en taalgebruik, is die beskrywings in pas met “Mrs Bearns” en haar “rattle-taal”:
...
die yskas het ’n slot aan
die snytjies brood word getel
...Sondae gaan ons kerk toe haar hoed
omwentel haar soos Saturnus
se ringe haar Mercedes-Benz skud
Parkinson’s disease haar bybel
het onttrekkingsimptome as sy
deur dit blaai die bloed
van jesus is haar kopskiet
wat haar babelaas bekeerek is op tea duty as haar kinders
kom kuier ...
Die digter-spreker kies deurgaans om nie in die persoonlike of emosionele vas te val nie. So is die perspektief wat gegee word op haar broer se begrafnis (waar almal huil, terwyl sy dit as skynheilig beskou: “miskien huil hulle oor hulle eie goed”), een wat die sosiale probleme en realiteite aanspreek. ’n Blik word gegee op die mense (bendes) wat uiteindelik haar broer in die graf gekry het nie (wat “jou wit biene gemakit”, 25), en die bendegedrag word beskryf. Maar die gedig bly nie steek in slegs die opteken van belewenis en geskiedenis nie. Ter illustrasie van die bendes, en haar broer se lewe in die tronk, gebruik sy haar broer se skollietaal (“die taal van nommes en pakamisa”, 25) in die gedig – spesifiek met die doel om voordeel uit hierdie taal(gebruik) te trek, maar ook om haarself daarvan distansieer. Dit is ’n “lyksang vir jou skollietaal” (25) wat sy skryf:
Ma en Pa gebruik jou dood soos button-pille maar
ek trek lang skywe met jou taal nip jou
in die asbakkie ek wil nie met my lewe so be-taal.
Hierdie digter presenteer dus nie net as woordversamelaar en liriese, ironiese of ontnugterende optekenaar nie, sy “be-taal”. Sy is taalontginner, radbraker van die taal. Sy dra swaar aan die tekort skiet van taal – haar tong se taal, die verskyningsvorme van haar taal, maar ook die finale onvermoë van taal, volgens die aard en wese daarvan, om te kan ver-haal en “be-taal” (25). Dit is hierdie bemoeienis met taal, die blootlê en uitbuit daarvan, wat Jolyn Phillips se bundelvan dié van haar tydgenote onderskei.
Alhoewel die woord radbraak moeiteloos die assosiasie oproep met die uitdrukking geradbraakte taal (volgens die HAT (Odendal en Gouws 2005) “verknoeide taal”), is die woord immers etimologies terug te voer na ’n martelingstegniek waar ledemate en bene gebreek word, waar die liggaam op ’n wiel uitmekaargeskeur word. En woorde wat in hierdie paradigma pas, kan dan vermink en geskend wees, eerder as bloot verknoei.
In die slotgedig van die bundel word die radbraak só verwoord: “my taal/ beenbreuk ...”; “sy breekwiel het verwees tot ’n spreekwoord/ my tong draai word gevleg geknuppel ...” (64).
Dié gedig wat ’n vuishou in die maag plant, is “Diglossie” (64–5), en die pynlike en politieke taalgeskiedenis van hierdie taal word opgehaal in ’n poging om die magtelose woede en onvermoë te toon wanneer die woorde wat jy het, jou nie in staat stel om te bereik wat jy wil nie, om te kan kommunikeer soos en waaroor jy wil nie. Die gedig is ’n uitroep oor, ’n aanklag teen, die universele gegewe van die beperkte vermoë en die beperkende aard van taal, maar ook spesifiek teen Afrikaanse taaleksklusiwiteit en Afrikaanse taalgemeenskappe: “hoe meer ek in my tong/ praat hoe meer word ek onverstaanbaar”, is die noodkreet en die aanklag. WOKNAKWYF!5
Ter illustrasie enkele kort grepe uit “Diglossie”:
my tong het taalgrafte wat ek opgrawe
uitgrawe en oorbegrawe
...ek doeftong doftong bloemtong traagloper met my taal
sirkelgang stamtaal ...
...ek liegbek die hele tyd want ek breek by
die taalwiel die hele tyd sien ek my taal
beenbreuk hoe meer ek in my tong
praat hoe meer word ek onverstaanbaar
’n vraat by ’n bidwielek sit in sy oorskulp ek draai oorwas-
woorde om en om die middeleeuse storie
sy breekwiel het verwees tot ’n spreekwoord
my tong draai word gevleg geknuppel
...die diglossie diftong blindtong manteldraaiertaal is die siekte
proe met my voelhorings my tongbeen breek die woordkis
sukkel trapsuutjies teen die braak van ander tonge wat
my stem vermom die olke bolke riebietjie stolke knortaal
vol vermoerde let/ter/gre/pe pluk ’n lat vir sy eie gatwat moet my prostese-tong nog stukkend stap
om uit my vel-taal te ontsnap?
Taal is ook tematies die fokus van “tong-trilogie” (37–9), maar hier is dit minder gewelddadig, meer verhalend, dog steeds ontginnend, en hiermee wil ek dan afsluit:
die storie van my woord begin toe ek vir die eerste keer
saam met Pa en sy familie Pêreberg toe gaan
die woorde proe sierangs en nie vis nie...
ek fluister vir die speldekussing
as ek die woord in die are
van die adamsvy soek(part 1)
uit my liggaam wil ’n ander alfabet simfonie
ek is meer as net ’n vel-taal my liggaam ont-
taal die kronieke tong my tale is baie letterswat uitmond my mond proe
na karring-tale ...(part 2)
die biologie van my woord is ’n verbrokkelende fraktuur
...
ek praat al my tonge gelyk
Ma sê dis gevaarlik as mense
in tonge praat niemand kan’n prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes
in my besig om bakstene aan te dra
vir ’n nuwe babel(part 3) [klem KdW]
Dames en here, ek beveel hiermee aan dat die 2018 UJ-debuutprys aan die bouer van “’n nuwe babel” in die Afrikaanse poësie, Jolyn Phillips, toegeken word vir haar bundel radbraak.
Karen de Wet
Universiteit van Johannesburg
11 Mei 2018
Bronne
Anon. sj. Featured Authors: Jolyn Phillips. Blown Away by Books: The Friends of the Fish Hoek Library. Beskikbaar: http://www.blownawaybybooks.co.za/featured-authors/#Jolyn-Phillips Besoek: 30 April 2018.
Blum, P. 1958. Man wat mal word. In Enklaves van die lig. Kaapstad: AA Balkema.
Carstens, W en F Hendricks. 2017. Kettinggesprek: Wannie Carstens gesels met Frank Hendricks oor Kaaps in fokus. LitNet, 30 Januarie. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/kettinggesprek-wannie-carstens-gesels-met-frank-hendricks-oor-kaaps-fokus. Besoek: 30 April 2018.
Carstens, WAM en M le Cordeur (reds). 2017. Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Naledi.
Coetzee, O. 2016–2018. Bybel in Kaaps. [Verskeie bydraes.] LitNet. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/category/nuwe-skryfwerk-new-writing/bybelinkaaps. Besigtig: 30 April 2018.
De Villiers, KF. 2017. Jolyn Phillips. [Onderhoud.] The Foremost Authority. Beskikbaar: https://www.theforemostauthority.com/home/8-jolyn-phillips. Besoek: 30 April 2018.
Goosen, J. 2007. “My mamma is bossies”. In Joubert, M (samest), Versindaba 2007. Pretoria: Protea.
Hendricks, F en C Dyers (reds). 2017. Kaaps in fokus. Stellenbosch: African Sun Media.
Kamfer, RS. 2016. Gertruida. In Hammie. Kaapstad: Kwela.
Krog, A. 1970. Ma. In Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.
Lategan, H. 2018. “My plek is my kompas.” [Onderhoud met Jolyn Phillips.] Ink,4(4), 8 Maart.
Odendal, FF en R Gouws (reds). 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Kaapstad: Pearson.
Phillips, J. 2016. Tjieng tjang tjerries. Kaapstad: Modjaji Books.
—. 2017. radbraak. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Zyl, M. 2017. “My werk is nie ’n stuk vel nie.” [Onderhoud met Jolyn Phillips.] Die Burger, 16 September. Beskikbaar: https://www.pressreader.com/south-africa/die-burger/20170916/281848643772617. Besoek: 30 April 2018.
Eindnotas
1 ’n Impromptu, ongeredigeerde opname hiervan is beskikbaar aan die einde van De Villiers (2017) se onderhoud met Phillips en is voorgespeel aan die begin van die commendatio op die prysuitdelingsaand. In die opname lui die reël: “my ma is see-majeur”, wat ek besonder treffend vind.
2 Spesifiek “skollietaal” in die gedig “lyksang vir jou skollietaal” (25).
3 Hy gaan voort: “Onder Kaaps, ook genoem Kaapse Vernakulêre Afrikaans, verstaan mens daardie vorm van Omgangsafrikaans wat hoofsaaklik met die werkersklas van die Kaapse Skiereiland (onder wie veral bruin, maar ook wit persone, voorkom).”
4 Soos wat die in Engels-gepubliseerde Tjieng tjang tjerries (Phillips, 2016) ook vir my wesenlik Afrikaans is, gevul met die klank en sang van die taal. Dit roep uit die struktuur van die sinne, nie net uit die taal in die karakters se monde nie.
5 “... Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal
eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dit ís liefde: kán dus in die greep
van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!”
(“Man wat mal word”, Peter Blum)
Lees ook:
UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak
UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die prys vir Die derde spoel