Kettinggesprek: Wannie Carstens gesels met Frank Hendricks oor Kaaps in fokus

  • 8

ketting_frankwanni

  • Op die foto's hierbo verskyn Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Frank Hendricks en Charlyn Dyers.

Teen die agtergrond van twee uiteenlopende boeke wat onlangs verskyn het, gesels Wannie Carstens en Frank Hendricks met mekaar. Wannie Carstens, een van die redakteurs van Ons kom van vêr (Naledi), stel hier onder vrae aan Frank Hendricks, een van die redakteurs van Kaaps in fokus (African SUN MeDIA). Hierdie is die laaste deel van die kettinggesprek.

Frank, Kaaps in Fokus was vir my ’n hoogtepunt, veral omdat dit ’n slag uit ’n wetenskaplike hoek na Kaaps gekyk het. Die boek is die resultaat van ’n simposium ook oor hierdie onderwerp. My vraag is: Waarom het julle die simposium gehou wat tot hierdie boek gelei het en wat wou julle hiermee bereik?

Jy’s reg, Wannie. Die boek is inderdaad die uitvloeisel van ’n simposium, en wel die simposium wat in Julie 2012 by UWK gehou is as gesamentlike inisiatief van die Departemente Afrikaans en Nederlands en Linguistiek aan die UWK, in samewerking met die stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Vlaamse Interuniversitaire Raad (VLIR).

Dis belangrik om te noem dat die boek inhoudelik nie ’n verbatimweergawe is van al die referate wat tydens die simposium gelewer is nie, maar eerder ’n wetenskaplike werk is waarin bygewerkte weergawes van nege van die referate neerslag gevind het.

Die motivering vir en/of oogmerke met hierdie historiese eerste simposium oor Kaaps?

In Charlyn se antwoord op Michael se eerste vraag aan haar roer sy wel die motivering vir die aanbied van die simposium aan. Vanuit my hoek sal ek graag die volgende wil byvoeg:

Kaaps, of een of ander aspek daarvan, het oor die jare heen meermale opgeduik as tema in talle referate tydens simposia waaraan ek deelgeneem het. Mens dink hier aan die vier Swart Afrikaanse Skrywerssimposia wat sedert 1985 gehou is, die simposium oor die lewe en werk van SV Petersen wat op 5 November 2010 by die UWK aangebied is, die simposium oor die lewe en werk van Adam Small wat op 7 Oktober 2011 (ook by die UWK) aangebied is en waarvan die referate neerslag gevind het in die 2012-herfsuitgawe van Tydskrif vir Letterkunde, en dan ook die simposium oor die standaardisering van Afrikaans wat in 2011 in Pinelands onder leiding van Kwesi Kwaa Prah gehou is en gelei het tot die bekroonde publikasie met die titel Veelkantiger Afrikaans: streeksvariëteite in die standaardvorming.

Maar dis laasgenoemde (die Prah-simposium), en dan spesifiek my referaat waarin ek ’n gelykevlak-benadering tot taalverskeidenheid teoreties gefundeer het en die potensiële nut daarvan belig het, wat die vonk verskaf het vir my oortuiging om onverwyld betrokke te raak by die reël van ’n simposium wat uitsluitlik op Kaaps en die velerlei aspekte daaromtrent sou fokus – én ingestem sou wees op ’n aksentuering van die waardigheid van Kaaps en sy sprekers. In Charlyn, Quentin Williams en Dmitri Jegels uit die geledere van die UWK se Departement Linguistiek, asook my kollegas in die Departement Afrikaans en Nederlands het ek ywerige bondgenote gekry. And the rest is history: eers die simposium wat groot belangstelling gaande gemaak het en vier jaar later ’n akademiese boek met nege hoofstukke waarin Kaaps deur verskillende outeurs vanuit diverse invalshoeke betrag word.

 Die debat is nog altyd Standaardafrikaans vs Kaaps. Dat die een “beter” is as die ander. Wat dink jy hiervan? Jy is mos die ondervoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie? Wat is die Taalkommissie se standpunt oor Kaapse leksikale elemente se insluiting in die AWS?

In die debat Standaardafrikaans vs Kaaps (soos jy dit noem) oftewel Afrikaans vs Kaaps (soos sommige dit verwoord) klink veral drie standpunte dikwels op, te wete (i) dat Standaardafrikaans ’n sinoniem vir Afrikaans sou wees; (ii) dat Kaaps ’n taal náás Afrikaans (en ander Suid-Afrikaanse tale) sou wees; en (iii) dat Standaardafrikaans, of dan Afrikaans, inherent beter as, verhewe bo, Kaaps sou wees.

Met hierdie drie standpunte as vertrekpunt sou daar taalpolities een van twee rigtings ingeslaan kon word. ’n Eerste rigting sou wees om Kaaps, soos in die apartheidsverlede, in die beskrywing en normering van Afrikaans te systap, te marginaliseer. ’n Tweede rigting sou wees om, as alternatief vir eersgenoemde rigting, Kaaps as aparte taal, dus buite Afrikaans, te wil posisioneer en op sy eie spoor te stuur.

Gemelde drie standpunte vind ek vanuit ’n variasietaalkundige perspektief en op grond van my verbintenis tot ’n gelykevlak-benadering tot taalverskeidenheid ongegrond, en ek sal my met geeneen van die twee gemelde taalpolitieke rigtings wil vereenselwig nie. Feit is dat Afrikaans ’n heterogene taal is en dat daar dienooreenkomstig binne Afrikaans diverse manifestasievorme oftewel variëteite, waaronder Standaardafrikaans en Kaaps, te onderskei is. (Onder Kaaps, ook genoem Kaapse Vernakulêre Afrikaans, verstaan mens daardie vorm van Omgangsafrikaans wat hoofsaaklik met die werkersklas van die Kaapse Skiereiland (onder wie veral bruin, maar ook wit persone, voorkom).

Standaardafrikaans is volwaardig Afrikaans en so ook Kaaps. Beide is legitieme taalkodes wat gebruiksmatig onderhewig is aan die norm van situasionele gepastheid en wat, waar nodig, onder meer in die onderwys en in die joernalistiek, as aanvullende kodes benut kan word. Om Standaardafrikaans teenoor Kaaps te stel, teenoor mekaar op te stel, is dus ’n onding.

Op die tweede deel van jou vraag antwoord ek graag soos volg: Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns waarin ek sedert 2010 dien, is reeds ’n geruime tyd verbind tot die insluiting in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) van leksikale items uit die histories gemarginaliseerde omgangsvariëteite van Afrikaans, waaronder Kaaps en Oranjerivierafrikaans. In die 10de uitgawe van die AWS wat in 2009 verskyn het, is byvoorbeeld ’n aantal hoofsaaklik geloofs- en kultuurverwante leksikale items van Maleise en Arabiese herkoms uit die skryftaal van Moslem-Afrikaanssprekendes opgeneem. Ook die insluiting van leksikale items uit Kaaps en Oranjerivierafrikaans in die eeufeesuitgawe van die AWS wat later vanjaar die lig sien, kan voorgehou word as bewys dat die Taalkommissie die verrekening van leksikale items uit die histories gemarginaliseerde omgangsvariëteite met erns bejeën. Dat die Taalkommissie Kaaps as geldige voedingsbron vir Standaardafrikaans begin erken het, het dalk tog iets met mý daarwees te make, maar die Taalkommissielede van die afgelope klompie jare moet as kollektief vir hierdie regstellingsinisiatief geloof word.

Jy is self nie ’n moedertaalspreker van Kaaps nie, want jy kom uit die Hantamwêreld. Van waar dan jou belangstelling in en bemoeienis met Kaaps as onderwerp? Wat dink jy het jy met jou insette oor jare oor Kaaps bereik?

Wannie, die volle draagwydte van Afrikaans, al sy manifestasievorme, gryp my aan. Studente wat oor die jare heen aan my toevertrou is, sal dit kan bevestig. Ek plaas ’n hoë premie op elke sosiolinguisties-beduidende manifestasievorm van Afrikaans. Ek is gaande oor die variëteite van Afrikaans wat ek kan beheers, naamlik Standaardafrikaans (hetsy formele, hetsy informele Standaardafrikaans), die Afrikaans van die Hantam waar ek gebore is en my vormingsjare deurgebring het, en Kaaps, waaraan ek sedert my twaalfde lewensjaar blootgestel is. Maar ook die variëteite van Afrikaans wat ek nie van nature praat nie, gryp my aan.

Alle vorme van Afrikaans is vir my ewe reg, ewe mooi – én ondersoekwaardig! Tog het ek studiegewys prominensie aan Kaaps gegee. Oor die jare heen het ek, naas en so tussendeur my vakkundige bydraes op die terreine van sintaksis en naamkunde, ook aan Kaaps (en Oranjerivierafrikaans) aandag gegee, en wel in my navorsingsuitsette, in referate tydens simposia en oor die radio.

Soos gemeld in my praatjie ten tye van die bekendstelling van Kaaps in fokus op 8 Desember verlede jaar (terloops, dié praatjie is op LitNet gepubliseer), markeer my bemoeienis met Kaaps as ’t ware die begin- en eindknoop van my professionele loopbaan van bykans 40 jaar. (Ja, soos jy en Charlyn lê ek vanjaar die tuig neer.) Die begin van my loopbaan as Afrikaansdosent het naamlik saamgeval met my verwerwing van die graad magister in Afrikaans en Nederlands vir ’n verhandeling oor die gebruik van Kaaps in Kanna hy kô hystoe, en met my hoofstuk in Kaaps in fokus hier in die uitloop van my loopbaan is ek steeds aan Kaaps verbind.

Jy vra ook wat ek met my insette oor Kaaps bereik het.

In my vakbydraes het ek my (waarskynlik meer as ander) toegespits op ’n genuanseerde beskrywing van die talige aard, dit wil sê op die uitspraak-, leksikale en grammatiese merkers van Kaaps. Ook het ek ’n erkenning van die waardigheid van Kaaps en sy sprekers bepleit, en wel as teenvoeter vir die jare lange miskenning, minagting en stigmatisering waaronder Kaaps gebuk moes gaan. Trouens my uitkom vir ’n gelykevlak-benadering tot taalverskeidenheid (waarvolgens die standaardvariëteit en die niegestandaardiseerde omgangsvariëteite van ’n taal as prinsipieel gelykwaardige en ewe geldige kommunikasiekodes bejeën word) wil juis in diens staan van die destigmatisering en demarginalisering van veral Kaaps, maar ook ander kleurvariëteite van Afrikaans (soos die onderskeie subvariëteite van Oranjerivierafrikaans). Ook het ek die Afrikaansheid, dus die verbondenheid van Kaaps aan Afrikaans, geaksentueer. Samehangend hiermee het ek dit duidelik gemaak dat Kaaps nie langer in die taalkundige beskrywing van Afrikaans te ignoreer is nie. Trouens, in die slotdeel van my hoofstuk in Kaaps en fokus (asook in ander vakbydraes) bepleit ek die totstandbring van ’n Afrikaanse grammatikamodel wat blyke sal gee van ’n polilektiese perspektief op Afrikaans en waarin daar veral ook rekenskap gegee sal word van die ryke talige sistematiek wat in Kaaps weerspieël word.

Ek vertrou dat my insette oor Kaaps oor die jare heen, en my manier van doen daaromtrent, gelees sal word as ’n diens ten bate van Afrikaans en al sy sprekers.

Ons trek ’n effense onderskeid tussen Kaaps en Moesliemafrikaans. Waarop berus dit? Ís daar ’n onderskeid? Hoe klaar ’n mens op watter leksikale elemente nou Kaaps is of Moesliemafrikaans is? Is die een nie die ander nie?

Afrikaans is ’n heterogene taal. Die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans waaronder Kaaps variasietaalkundig ingedeel word, is heterogeen. En Kaaps as variëteit van Afrikaans op sigself is heterogeen van aard. In die slothoofstuk van Kaaps in fokus wys Anastasia de Vries daarop dat die Kaaps wat tot dusver in die rubrieke van Afrikaanse hoofstroomkoerante neerslag gevind het, verskillende soorte Kaaps is. Sy het bevind dat Peter Snyders vroeër in die Burger-rubriek “Kopstukke” gebruik gemaak het van ’n ouer vorm van Kaaps wat in die breë op die Kaapse Vlakte en in die besonder ook in die suidelike voorstede van Kaaps gepraat word/is; dat die Kaaps wat sý vroeër in die TYD-Rapport-rubriek “Duskant Maandag” aangesny het, meer bepaald Kaaps van die noordelike voorstede van Kaapstad, in die besonder Ravensmead, is, terwyl Nathan Trantraal die Kaaps van die townships (Bishop Lavis, Mitchells Plain) in die Rapport-rubriek “Sypaadjies” ondervang. Ja, daar is verkillende soorte Kaaps.

Moesliemafrikaans, meer spesifiek Kaapse Moesliemafrikaans, is eweneens te bestempel as ’n variëteitsonderskeiding binne Kaaps. Dis daarom nie van Kaaps te skei of te onderskei nie. Trouens, Kaapse Moesliemafrikaans is een van die oudste subvariëteite van Kaaps met die Bo-Kaap as waarskynlike historiese bakermat. Op grond van die historiese band met die Bo-Kaap word die benaming Kaapse Moesliemafrikaans sinonimies met die gangbare benaming Bo-Kaapse Afrikaans gebruik. (Die benaming Maleierafrikaans wat ook in gebruik gekom het, word as kwetsend ervaar en moet dus liefs laat vaar word.)

Is Kaapse Moesliemafrikaans talig anders as die ander subvariëteite van Kaaps?

In die neëntientagtigerjare het Ernst Kotzé (die skrywer van hoofstuk 2 van Kaaps in fokus) empiries bevind dat in Kaapse Moesliemafrikaans (oftewel Bo-Kaapse Afrikaans) die tipiese talige kenmerke van Kaaps kwantitatief die sterkste beliggaam word. ’n Prominente kenmerk van Kaapse Moesliemafrikaans is die grootskaalse en spontane aansny van leksikale items van Maleise en Arabiese herkoms.

Wat nou vorentoe rakende die navorsing oor Kaaps? Nog ’n boek of wat daaroor?

Kaaps as studieonderwerp is nog nie uitgeput nie; daarom is ’n opvolgboek oor Kaaps ’n sterk moontlikheid. Maar die totstandbring daarvan sal gedryf moet word deur jonger vakgenote met ’n feel vir Kaaps – mense soos Anastasia de Vries en Quentin Williams.

Maar ek reken dat die tyd ryp is om ’n slag ook aandag te gee aan die Afrikaans van die Noord-Kaap (Oranjerivierafrikaans), beginnende met ’n simposium, gevolg deur ’n boekpublikasie. Daarna behoort die Praatafrikaans van die noordelike provinsies, die Oos-Kaap, die Wes-Kaap in die breë, ander dele van ons land asook Namibië aan die beurt te kom. Vir Afrikaans sal dit wondere beteken!

Lees ook die ander dele van die kettinggesprek:

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Derick Pieterse

    Uiters insiggewende gesprek! Ek het my lanklaas so verlustig in 'n gesprek oor die taal. Dankie Frank.

  • Avatar
    francois verster

    Ek hoop net nie ons Afrikaanssprekendes gaan later begin beweer die een is uit en die ander is in nie. Afrikaans het genoeg vyande. Standaardafrikaans behoort die lingua franca van Afrikaanssprekendes te bly, met vryheid en reg vir enigeen wat 'n variant daarvan wil praat, soos hulle daarmee gemaklik is. Hopelik bly ons middelpuntsoekend en nie middelpuntvlietend nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top