Kettinggesprek: Michael le Cordeur gesels met Charlyn Dyers oor Kaaps in fokus

  • 1
 ketting_charlynmichael
Ons kom van vêr
Redakteurs: WAM Carstens en
Michael le Cordeur
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316674
Kaaps in fokus
Redakteurs: Frank Hendricks en Charlyn Dyers
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA
ISBN: 9781928314165
  • Op die foto's hierbo verskyn Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Frank Hendricks en Charlyn Dyers.

Teen die agtergrond van twee uiteenlopende boeke wat onlangs verskyn het, gesels Michael le Cordeur en Charlyn Dyers met mekaar. Michael le Cordeur, een van die redakteurs van Ons kom van vêr (Naledi), stel hier onder vrae aan Charlyn Dyers, een van die redakteurs van Kaaps in fokus (African SUN MeDIA). In die dae wat kom, word nog soortgelyke gesprekke gepubliseer.

Waar het die idee van ’n boek met Kaaps as fokus ontstaan? En hoe lank het julle aan hierdie boek gewerk?

Quentin Williams van ons Departement Linguistiek was die eerste jong akademikus wat die idee van ’n simposium oor Kaaps, sy huistaal, geopper het. Hy het aanhoudend gepleit by my en Frank om dit tog te reël, en ons het uiteindelik ernstig daaroor begin praat. Groot was my verbasing om te hoor dat so iets nog nooit plaasgevind het nie ten spyte van al die belangrike werk wat reeds op die terreine van taalverskeidenheid asook taal en identiteit gedoen is. Die historiese eerste simposium oor Kaaps vind toe plaas vanaf 19 tot 20 Julie 2012 by die Universiteit van Wes-Kaapland. Na afloop van hierdie baie geslaagde simposium het ons met die meeste van die sprekers kontak gemaak en gevra wie belang sou stel om hul referate op skrif te stel vir ’n boek oor Kaaps. Ons moes ook op die ou end besluit watter bydraes die beste sou werk in so ’n boek. So jy kan sê dat dit ons feitlik vier jaar geneem het om die finale produk te lewer.

Wat was die primêre doelwit van die boek – met ander woorde waarom in die eerste plek ’n boek oor Kaaps publiseer?

Ons wou ’n deurslaggewende akademiese werk saamstel oor hierdie oudste variëteit van Afrikaans waarin ons die aard, geskiedenis en ideologieë rondom Kaaps kon bespreek, asook die kontekstuele gebruike daarvan in die onderwys en die ekonomie. Ons was albei reeds bewus van ’n besliste aanvraag vir ’n boek van so ’n aard in Suid-Afrika asook in die buiteland.

Wie is die skrywers wat bydraes tot hierdie boek gelewer het, waaroor handel die hoofstukke en hoe sluit dit by mekaar aan om ’n geheel te vorm?

Alhoewel elke hoofstuk ’n individuele stempel dra, verteenwoordig die nege hoofstukke kollektief ’n veelhoekige perspektief op Kaaps. Frank Hendricks se bydrae in hoofstuk 1 plaas die soeklig op die talige kenmerke van hedendaagse Kaaps, maar hy belig ook die verledetydse wortels en historiese marginalisering van hierdie variëteit. In hoofstuk 2 beskryf Ernst Kotzé Kaaps as een van die ontstaansvariëteite van Afrikaans, met besondere aandag aan Kaapse Moesliemafrikaans as “kerndialek van Kaaps”. Christo van Rensburg in sy bydrae in hoofstuk 3 gebruik die term Kaaps sinonimies met Vroeë Afrikaans. Van Rensburg sien Kaaps as ’n veelsoortige taalvorm met Khoi-Afrikaans en Kaapse Moesliemafrikaans as van die belangrikste “subvariëteite” daarvan. My eie bydrae in hoofstuk 4 toon aan dat die verbreding en verryking van begrippe oor die taalrepertoire van mense inhou dat Kaaps met nuwe oë bekyk moet word en dat hierdie nuwe kyk die herstel van die waardigheid van die variëteit en die sprekers daarvan moet meebring. Hierdie vier hoofstukke handel dus oor taalkundige besinninge oor Kaaps; die volgende vyf hoofstukke kyk na die kontekstuele gebruik daarvan.

Hein Willemse se bydrae in hoofstuk 5 handel oor die verwerwing en bevordering van die waardigheid (soppangheid) van Kaaps en die sprekers daarvan. Hy stel voor ’n bi-/multidialektiese benadering in die onderwys en media om ’n groter bewustheid van spreektaalvariëteite soos Kaaps te kweek. Verder argumenteer hy ten gunste van die gebruik van ’n wyer verskeidenheid letterkundige en retoriese strategieë deur skrywers. Michael le Cordeur en Dmitri Jegels se bydraes in hoofstukke 6 en 7 handel oor die gebruik van Kaaps as voertaal in die onderwys uit onderwyskundige en sosiolinguistiese perspektiewe onderskeidelik. Hulle maan onder meer dat die selfbeeld van kinders wat met Kaaps as huistaal grootword, asook hul houdings teenoor taal, nadelig beïnvloed word as gevolg van die gebrek aan erkenning van die veelsoortigheid van Afrikaans in die onderwys. Die laaste twee hoofstukke, deur Christo van der Rheede en Anastasia de Vries (8 en 9), plaas die klem op die verband tussen Kaaps en die ekonomie. Van der Rheede gebruik gemeenskapsteorie as ontwikkelingsteorie om te toon hoedat Kaaps se ekonomiese potensiaal verder ontgin kan word, terwyl De Vries ’n duidelike verband sien tussen die ekonomiese lewensvatbaarheid van media en hul vermoë om met gemeenskappe te praat in variëteite waarmee hulle vertroud is.

In my hoofstuk argumenteer ek dat Kaaps ’n meer prominente plek in die skoolkurrikulum moet kry. Jou mening hieroor?

Soos my eie hoofstuk in die boek ook argumenteer, stem ek honderd persent met jou saam. Ek vertaal ook van my lesings in beide Kaaps en Standaardafrikaans, en my studente reageer baie positief op hierdie vorm van akademiese ondersteuning. En as dit op universiteit kan slaag, des te meer op skoolvlak! Ek is veral trots om te sien hoe die erkenning van Kaaps in die akademie my studente wat dit as huistaal besig, ’n baie beter selfbeeld gee. Soos een student dit so beeldryk gestel het: “Toe Prof vir die eerste keer sê dat van die materiaal in Kaaps vertaal is, het ek gevoel hoedat my kop oplig en my skouers breër word.”

By die geleentheid van die boek se bekendstelling het ek onder andere gesê dat noudat ons ’n boek oor Kaaps het, is dit dalk tyd vir ’n boek in Kaaps. Stem jy saam? Motiveer asseblief?

Dit hang natuurlik af van die lesersmark wat beoog word. Soos jy kan sien, het ons Kaaps in fokus vir hoofsaaklik die akademiese mark saamgestel, maar daar is mos baie wyer leserskringe ook. Ek lees daagliks die pragtigste bydraes in Kaaps op Facebook (sal maar nou nie die name van die skrywers noem nie) wat handel oor landsake, hartsake, gemeenskapsake ens. Dat daar gretige lesers vir so ’n boek sal wees, betwyfel ek nie – soos Anastasia de Vries se bydrae oor die media so duidelik toon.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top