Ons kom van vêr Redakteurs: WAM Carstens en Michael le Cordeur Uitgewer: Naledi ISBN: 9780928316674 |
Kaaps in fokus Redakteurs: Frank Hendricks en Charlyn Dyers Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA ISBN: 9781928314165 |
- Op die foto's hierbo verskyn Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Frank Hendricks en Charlyn Dyers.
Teen die agtergrond van twee uiteenlopende boeke wat onlangs verskyn het, gesels Frank Hendricks en Michael le Cordeur met mekaar. Frank Hendricks, een van die redakteurs van Kaaps in fokus (AFRICAN SUN MeDIA), stel hier onder vrae aan Michael le Cordeur, een van die redakteurs van Ons kom van vêr (Naledi). In die dae wat kom, word nog soortgelyke gesprekke gepubliseer.
Michael
Die boek Ons kom van vêr met jou en Wannie Carstens as redakteurs het in Desember 2016 by Naledi verskyn. Ek was teenwoordig by die bekendstellingsgeleentheid wat op 16 Desember by ArtsCape gehou is. Die kritiese leser, reken ek, sal graag antwoorde op onder meer die volgende vrae verskaf wil hê – vrae wat deur jou of Wannie beantwoord kan word.
’n Eerste vraag: die subtitel van die boek word aangegee as “Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans”. Sou dit dalk meer korrek wees om te sê dat die boek meer bepaald handel oor die bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die geskiedenis van Suid-Afrika”? En: is al die bydraers bruin?
Dankie vir die vraag, Frank. Ek sou die boek beskryf as ’n bundel essays waarin die bruin gemeenskap – anders as wat baie persone vandag in Suid-Afrika wil glo – vertel van hul betrokkenheid by die struggle teen apartheid, en hoe hierdie stryd in hulle moedertaal, Afrikaans, geskied het. In die proses het hulle nie net ’n bydrae gelewer tot die bevryding van hulle mense nie, maar ook ’n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, omdat hierdie stryd hoofsaaklik in Afrikaans geskied het. Vir bruin mense was Afrikaans dus nie net ’n taal van verdrukking nie, maar ook ’n taal van bevryding en vandag ’n taal van versoening.
Die titel Ons kom van vêr suggereer dat bruin mense (en dan in die besonder Afrikáánssprekende bruin mense) reeds lank terug begin het om betekenisvolle bydraes in die ontwikkeling van Suid-Afrika te speel. Hoe ver gaan die boek in hierdie opsig terug? Tot die 17de eeu? Tot die struggle tydens en teen die apartheidregime? Word alleen oorbekendes soos Adam Small, Allan Boesak en Jakes Gerwel se bydraes belig, of gaan dit bepaald ook oor die bydraes van minder bekendes? Op watter terreine het bruin mense, volgens die boek, bydraes gelewer?
Sjoe! Hierdie vraag is ’n hele mondvol: Die boek onderstreep dat bruin mense se verhouding met Afrikaans teruggaan tot die grondlegging van die Kaap in die 17de eeu toe die eerste slawe hier aangekom het en in die kombuise en op die plase van die Vryburgers begin werk het. Soos Ronel van Oordt se hoofstuk aandui, moes die verskeidenheid mense aan die Kaap (Hollanders van die VOC, slawe en Vryburgers) ’n taal vind om met mekaar te kommunikeer, en daardie taal was Kaaps-Hollands, later Kaaps en nog later Afrikaans. Willa Boesak se hoofstuk boekstaaf dat die Khoisan-bevolking reeds lank, baie lank, voor die Portugese in die 15de eeu en die Hollanders in die 17de eeu interaksie met Europeërs gehad het wat onder meer tot Saldanha se eerste tweetalige woordeboek (Portugees–Khoi-Khoin) van bykans 100 woorde gelei het. My eie hoofstuk oor die klopse vertel hoe die slawe reeds in die 1860’s ’n tradisie begin het wat gebou was om musiek en ’n taal, ’n taal wat – soos Ronel van Oordt uitspel, hier aan die voet van Tafelberg posgevat het. Dit was ook ’n taal wat die bruin mense se verwantskap aandui met hulle wit broers en susters, soos die gedig van SV Petersen met dieselfde naam duidelik uitbeeld. In daardie sin “kom ons dus van ver” wat betref ons verhouding met Afrikaans en ons betrokkenheid in die struggle. Gepraat van: legendes soos Small, Gerwel en Boesak se invloed op my en die ander skrywers word duidelik belig, maar ook Franklin Sonn word vereer vir sy leierskap. Maar die groot waarde van die boek lê daarin dat die 36 skrywers elk hul eie legendes se geskiedenis en bydraes tot die struggle en Afrikaans nagevors het en hier vir die eerste keer aanbied aan ’n “oningeligte Afrikaanse gemeenskap wat nog altyd gedink het die beginpunt van Afrikaans was Totius en Eugène Marais wat sou eindig by Van Wyk Louw, Opperman en Breytenbach”.
Die boek is opgedra aan Adam Small. Hoekom juis aan hom en nie aan ’n ander prominente bruin persoon nie? Bygevra: Hoekom het die boek juis in 2016 verskyn, en nie vroeër of later nie? Dus: In watter mate staan die verskyningsdatum van die boek met Adam Small in verband?
Omdat Small die moed gehad het om sy mense se pyn en lyding te verwoord, om as stem vir die stemloses op te tree toe die apartheidsregering hulle van hul stemreg ontneem het, en dit boonop in die variëteit gedoen het wat bruin mense van die vroegste tye af gepraat het, is besluit om die boek aan hom op te dra. Dis ons manier van dankie sê aan ’n ikoon wat nie eens vir die Hertzogprys sy beginsels prysgegee het nie. Sy invloed op elke skrywer van die boek, asook sy werk, loop soos ’n goue draad regdeur die boek en bind die 36 hoofstukke saam as ’n afgeronde geheel.
Ons wou die boek in 2016 uitgee omdat Adam Small op 21 Desember 2016 sy 80ste verjaarsdag sou vier. Dit was ons (baie klein) geskenk aan ’n man wat sy tyd ver vooruit was. As wit en bruin Afrikaanssprekendes verskillende uitgawes van Die Burger gelees het (soos Conrad Sidego in sy hoofstuk aandui), spreek dit vanself dat wit en bruin eintlik min van mekaar af weet. Daar is dus ’n rede waarom ons hierdie boek op Versoeningsdag (16 Desember) bekendgestel het. Daar is steeds ruimte vir die volle Afrikaanse gemeenskap om ’n versoeningsgesprek te begin.
Vier bydraes in die boek verskyn onder jou naam. Wil jy kortliks hieroor uitwei? Hoe sluit hierdie vier bydraes tematies aan by jou bydrae in die boek Kaaps in fokus?
My eerste hoofstuk (14) vertel my eie verhaal tydens apartheid en hoe my betrokkenheid by die opstande van 1976 (toe ek in matriek was) byna my toekoms verongeluk het. Dit vertel ook van my betrokkenheid by die 1980-studenteprotes (toe ek ’n student op UWK was met wonderlike dosente soos Jakes Gerwel, Tony Links en ’n bloedjong Frank Hendricks) en onthul my vriendskap met nog ’n legende, Cecyl Esau, en hoe ek my eerste gedig in die studentetydskrif Grondstof van die UWK (met Hein Willemse as voorsitter en Cecyl Esau as sekretaris) gepubliseer het. Ek skets die impak wat die 1976-opstand op ʼn persoonlike vlak op my – toe nog op skool – gehad het. Ek sou eers werklik verstaan toe ek in die vroeë 1980’s op UWK deel was van die groep Afrikaanssprekende bruin studente wat hulle teen apartheid verset het.
In die daaropvolgende twee hoofstukke onthul ek twee van die bes-bewaarde kulturele geheime in Suid-Afrika – albei al meer as ’n eeu oud. My tweede hoofstuk (16), “Hoor hoe slaan die ghoema”, bekyk die oorsprong van die klopsetradisie en skets kursories ’n musiektradisie wat, ondanks uitsluiting uit die hoofstroom in die apartheidsjare, steeds daarin slaag om jongmense te inspireer om in Afrikaans te skryf, te dig, te komponeer en te sing, reeds vir meer as 100 jaar. In my derde hoofstuk (19) boekstaaf ek die geskiedenis van een van die oudste kultuurorganisasies in Suid-Afrika, naamlik die Wellington Krisantevereniging wat reeds in 1916 deur pioniers soos Adam Small se ouers gestig is. Ek ondersoek die uitdagings van die afgelope eeu en bied ʼn blik op ʼn kulturele familie wat oor kleur- en godsdiensgrense heen strek. Met albei hierdie hoofstukke dui ek aan hoe Afrikaans die taal was waarmee bruin mense hul kultuurhistoriese erfenis bewaar het ondanks die feit dat hulle geen borge of enige finansiële ondersteuning van die regering gekry het nie.
In my vierdie hoofstuk (23) gee ek ’n kritiese oorsig van bruin Afrikaanssprekendes se historiese en toekomstige rol in die Afrikaanse media. Ek voer aan dat die Afrikaanse media hul versoeningsrol tussen die twee grootste Afrikaanse groepe onderskat (en dikwels versuim) het en pleit dat die Afrikaanse media hul bruin Afrikaanssprekende lesers in ag moet neem deur hul beheptheid met “suiwer” Afrikaans te laat vaar ten einde nasiebou te bevorder. In hierdie hoofstuk sluit ek dus aan by my hoofstuk in Kaaps in fokus waarin ek aanvoer dat Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerders hoofsaaklik Kaaps as huistaal het. Die hoofstuk behels ’n blik op die geskiedenis en huidige status van Kaaps; of daar ruimte is vir Kaaps binne die doelwitte van die KABV (Kurrikulum en Assesserings-beleidsverklarings); die invloed van Kaaps op sy sprekers se persepsie van hul identiteit; die spanning tussen Kaaps en Standaardafrikaans te midde van die herstandaardiseringsproses; en tot watter mate Kaaps in Suid-Afrikaanse skole tot sy reg kom. My hoofstuk in Kaaps in fokus kom tot die slotsom dat leerders wat met Kaaps groot word, benadeel word en beveel aan dat Afrikaansonderrig op skool ’n meer inklusiewe benadering moet volg wat aan Kaaps sy regmatige plek in die kurrikulum sal gee.
Voorsien jy en Wannie ’n opvolg vir hierdie boek?
My eerste impulsiewe antwoord (en ook die antwoord van my vrou) sal wees: Nee, asseblief nie weer so ’n jaar waar ek dag en nag moes werk om die boek betyds klaar te kry nie. In die proses is heelwat van my ander werk en projekte afgeskeep, wat ek hierdie jaar sal moet inhaal. Hou ook in gedagte dat ’n omvattende boek soos hierdie (600 bladsye en 36 skrywers) baie, baie tyd verg en baie duur is. Ek moes self al die fondse werf. Fondse sou dus ’n oorweging wees. Vir eers sal ek dus moet fokus op die ander werk op hande, maar ek sluit die moontlikheid van ’n deel 2 nie uit nie.
Soos Nataniël gesê het: Kóóp net die bleddie boek! En lees dit.