Die derde spoel deur SJ Naudé: 'n Onderhoud

  • 0

Die derde spoel
SJ Naudé

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207475

Skrywers oor hul nuwe boeke: SJ Naudé gesels met Naomi Meyer oor Die derde spoel.

Waar begin 'n storie? Prakties: die skryf van hierdie boek is deur die beurs van Jan Rabie en Marjorie Wallace befonds. Wil jy iets hieroor sê of deel, iets tegnies en prakties en hoe dit in die praktyk gewerk het?

Hallo Naomi. Goed om met jou te praat. Ek kan met redelike sekerheid sê dat die boek sy oorsprong gehad het in ’n gesprek wat ek ’n paar jaar gelede met 'n Londense dosent in filmteorie gevoer het. Dit was ’n gesprek oor spookfilms – verlore films, gewoonlik uit die ‘20’s of ‘30’s, waarvan net fragmente, erg beskadigde afdrukke/negatiewe of stilfoto’s oorbly. Of soms net promosieplakkate of beskrywings. In daardie tyd is films gesien as vlietende vermaak, en nie die moeite werd om te bewaar nie. Nou is daar filmargiewe en lyste van sulke films, en mense wat hul daarop toespits om dit te probeer vind. Nou en dan kom daar wel ’n afdruk van ’n film wat as verlore geag was aan die lig in ’n ou stoorkamer of solder. My protagonis is obsessief op soek na ’n spookfilm (weliswaar 'n fiktiewe een) in Londen en Berlyn, ’n soektog wat hom in die gevaar in en deur Oos-Duitse doolhowe lei.

Die ruim Jan Rabie en Marjorie-Wallace-beurs is aan die begin van 2014 aan my toegeken deur die UWK. Daarsonder weet ek nie of ek sommer ’n roman sou aangepak het wat soveel navorsing verg nie. Papier is natuurlik geduldig, en my projekbeskrywing vir die beursaansoek was ambisieus. Enkele dinge verander soos mens aan die roman skryf, maar eintlik het ek verbasend naby aan my plan gebly. Die beurs het my in staat gestel om navorsing in Londen en Berlyn te onderneem. En vir twee jaar voltyds te skryf.

Meer figuurlik, oor waar ‘n storie begin: Die derde spoel, as roman, het sy begin/oorsprong in 'n wêreldstad, en simbolies is die wêreldkaart op (hoofkarakter) Etienne afgedruk. Praat met my oor ruimte in die boek.

Die boek speel hoofsaaklik in Londen en Berlyn af, met kort gedeeltes in Suid-Afrika (Pretoria en KwaZulu-Natal) en ’n soort koda in Buenos Aires. In Londen bly die hoofkarakter Etienne en sy vriende in sogenaamde squats – onwettig-bewoonde huise in Thatcher-era-Brittanje. Hulle is kunstenaars en postpunk-musikante (en party van hulle is eintlik maar net slackers, leeglêers). In Duitsland bly Etienne aanvanklik in Oos-Berlyn en later in Wes-Berlyn, en sluit hy as tromspeler by ’n industrial band aan. Die roman is onder andere gemoeid met die letsels wat hierdie stede nog van die groot 20ste-eeuse traumas oorhou, die soort traumas wat ons eie tydvak gevorm (of misvorm) het. Dit is onbestendige, ontstemmende ruimtes hierdie – stede waar herinneringe aan verwoesting en menslike brutaliteit in die weefsel van die geboue bly talm.

En toe ontsluit Aodhan, die man wie se bloed koud klop, in wie daar sade van drogplante ontkiem, 'n nuwe spesie in 'n nuwe stad. Film. Dis by hom dat Etienne film ontdek, en dis vir hom wat Aodhan teken terwyl Etienne die film kyk. Wie sien wie in hierdie boek? Is film ook mag? En: kan visuele film emosionele emosie vasvang? Ek dink aan die sosiale media en hoeveel krag daar in visuele beelde is, soos Instagram. Wil jy iets sê oor die visuele elemente in die boek?

Etienne gaan filmskool toe in Londen, nadat hy sy geboortestad Pretoria verlaat het om diensplig te ontsnap. Hy word opgelei in die praktiese aspekte van films maak (kamerawerk, redigering, ens) en werk ook aan studentefilmprojekte. Hy besef weldra hy het nie juis veel talent vir films maak nie. Hy kom op die spoor van die verlore film en begin ’n obsessiewe soektog daarna, soos hier bo vermeld. Die boek is onder andere gemoeid met die sortering van beelde wat deur ’n kameralens gesien word, asook die terugvind van filmbeelde wat in die newels van die tyd verdwyn het. (Ek verneem van heelparty lesers dat hulle ook die aanslag van die roman self filmmatig vind.)

Axel, Etienne se minnaar, is ’n visuele kunstenaar. Hy hou hom meestal met installasies besig, met konseptuele kuns. Sy materiale is gevarieerd (byvoorbeeld Victoriaanse foto's, die pels van bedreigde spesies, dooie duiwe, semen, vars-uitgeslagte haasharte). Een maal in die boek maak hy ook ’n skildery.

Foto van SJ Naudé: Joanne Olivier

Etienne en Axel verteenwoordig lande. Hier is 'n parallel: "Etienne kyk om hom. Die studente is bedeesd. Hulle vra niks, luister in stilte, knik hul koppe. Hy dink aan die moerigheid, angs en anargie van sy Londense medestudente, aan hul uitdagende vrae en besware. Hul eiegeregtigheid, hul selfvertroue. Hul weerloosheid. Hul deurmekaar hare, hul punkerige uitrustings. Dit voel of hy terug is in Suid-Afrika. Al die selfvertroeteling en skouerkloppery. Al die verbode gedagtes wat binne skedels skuil." Praat met my oor die raakpunte in die boek tussen Suid-Afrika en Duitsland.

Etienne bevind hom tussen verskeie onderdrukkende politieke bestelle. Hy het apartheid-era-Suid-Afrika verlaat en bevind hom, soos genoem, aanvanklik in Thatcher se konserwatiewe Brittanje en dan in Oos-Duitsland. En dan is daar die newe-intrige wat in vroeë Nazi-Duitsland afspeel. In die (boek se) hede is dit die tyd van die Koue Oorlog en plofbare geopolitiek. Ek dink nie daar is presiese parallelle te trek tussen apartheid-era-Suid-Afrika en Nazi-era Duitsland of kommunistiese Oos-Duitsland nie. Daar is raakpunte, ja, maar die boek wil nie valse of maklike kongruensies poneer nie.

Wat vir my interessanter was as om sulke vergelykings te maak, was die feit dat die laat ‘80’s juis ’n tyd was toe dit gelyk het of die wêreld nog ingrypend kon verander, asof groot magsverskuiwinge nog moontlik was. Daar wás ook kort ná hierdie era groot veranderinge – apartheid het tot 'n einde gekom, die Berlynse Muur het geval, Thatcher (en later haar Konserwatiewe Party) is eindelik uitgestem. Dit is wel ironies dat die manier waarop mag in die Westerse wêreld werk, sedertdien so vasgelê geraak het dat mens my Londense karakters se vae “revolusionêre” idees as naïef ervaar, as “quaint”. Ja, hierdie jongmense is dalk nie effektiewe aktiviste of besonder goed ingelig nie, en hul idees oor radikale vryheid was seker selfs in 1986 nie juis realisties nie, maar die punt is: utopiese verwagtinge was toe nog moontlik; mens kon tog nog ander soorte gemeenskappe verbeel, waar radikale vryheid aan die orde van die dag sou wees. Vroeg in die 21ste eeu is mens minder optimisties. En nie net omdat outoritêre politiek weer, merkwaardig genoeg, sy kop uitsteek in die era van Trump en Brexit nie, maar veral ook omdat ons verdoof word deur ’n alles-koöpterende verbruikerskultuur en ‘n toenemend radikale vorm van kapitalisme (ten spyte van al die voorspellinge van die einde daarvan). Die idee van queerness, in die sin van ’n bepaalde soort opposisionele ingesteldheid eerder as net seksuele oriëntasie, het begin vervaag. En stede soos Londen en Berlyn is vandag geheel ander plekke as die stede van my boek. Sentraal-Londen is grootliks ’n superryk, gesteriliseerde plek waar daar nie nou veel ruimte sou wees vir Etienne en sy soort, of hul benadering tot die stad nie. Selfs Berlyn word in die 21ste eeu ’n pastiche van haarself, ’n stad wat haar 1980’s self nou daagliks opvoer vir jong Britse en Amerikaanse toeriste.

Interessant, Etienne se ervaringe in Oos- versus Wes-Duitsland. Wil jy iets van hierdie kontras binne dieselfde land bespreek?

Etienne het die seldsame voorreg om vryelik tussen Oos- en Wes-Berlyn te beweeg, soos die rotte en kakkerlakke. Hy word uiteraard gekonfronteer deur die disoriënterende kontraste telkens wanneer hy van die een halwe stad na die ander beweeg. Hy bevind hom elke nou en dan op die rande, waar die stede in mekaar inbloei. Friedrichstrasse byvoorbeeld, die stasie waar die meeste mense die grens sou oorsteek, is ’n komplekse tussenplek waar Oos- en Wes-Duitsland se onderskeie bo- en ondergrondse treinstelsels en tonnels soos in ‘n termietnes bymekaarkom, en ingepas moet word sonder dat mens iewers kan deurgaan van een na die ander. En dan is daar die spookstasies. In die S-Bahn-treinstelsel het van die Westerse treine onderdeur dele van Oos-Berlyn gery. Daar was ou stasies wat bogronds gesluit was aan die Oos-Berlynse kant. Die Wes-Duitse treine sou spoed verminder en teen ’n slakkepas deur sulke spookstasies ry, waar daar dan Oos-Duitse wagte op die leë, skemer perronne sou staan, gereed met hul gewere indien iemand dalk sou probeer afklim of, meer waarskynlik, ’n Oos-Duitser dalk ’n Wes-Duitse trein sou probeer bestyg.

Vertel my van jou eie filmagtergrond, indien enige? Of het jy navorsing agterna gedoen oor iets wat jou, as skrywer, nog altyd prikkel?

Ek is lankal geïnteresseerd in filmkuns, maar het nog nooit ’n film gemaak of probeer maak nie. Ek sou graag wou; toe ek in New York by Columbia Law School studeer het, het ek my voorgeneem ek sou ná my regstudies by ’n filmskool inskryf. Dit het helaas nie gebeur nie – mens begin werk by ’n groot korporatiewe regsfirma en voor jy weet is jy ingesuig in ’n heeltemal ander soort lewe. Ek skram wel ook weg van die logistieke kompleksiteit van die filmmaakproses en die feit dat markkragte grootliks bepaal watter soort films gefinansier en gemaak kan word. Dis sekerlik ’n glibberige taak. Ek dink die maak van films het ten minste ewe veel met onderhandeling en die bestuur en sjarmering van mense te make, en met die opbou van ’n netwerk verbintenisse, as met visuele insig. Om nie te praat van die tegniese vaardighede wat vereis word nie. Dis darem maar veel veiliger om as romanskrywer agter ’n rekenaarskerm te sit en jou films te verbéél as om inderdaad ’n film gemáák te probeer kry. Dit gee jou vrye teuels om films te bedink sonder om die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan te oorweeg of die praktiese kompleksiteite in ag te neem.

Jou werk in die buiteland ... waar het jy al orals gebly en gereis?

Ek het in die vroeë ‘90’s in Engeland studeer, in Cambridge, en toe in die middel-‘90’s in die VSA, in New York, in albei gevalle nagraads in die regte. Ek het toe in New York gekwalifiseer as regspraktisyn en eers daar en toe later in Londen gewerk en gebly. As regspraktisyn het ek dikwels gereis vir werk, maar dit tel nie regtig nie – mens sien nie veel meer as konferensiekamers, hotelinterieurs en verbysnellende stadslandskappe deur taxivensters op sulke reise nie. Ek het darem my vakansietye meestal op die Europese vasteland spandeer. Ek het veral dikwels by vriende in Berlyn gekom tydens my Londense jare. Dit voel, om die waarheid te sê, asof ek in daardie stad ook gebly het, hoewel dit eintlik nie so is nie.

Wat lees jy? (Of: jou beste vyf boeke)

Ek het minder gelees die afgelope jaar of wat as wat ek wou; die produksiewerk aan die Afrikaanse en Engelse weergawes van my roman, wat gelyktydig gepubliseer is, was nogal tydrowend. Die mees onlangse boeke wat ek gelees het, was The Vegetarian deur die Koreaanse skrywer Han Kang (ek kan dit helaas nie aanbeveel nie), All that Man Is van David Szalay, I am Pandarus deur Michiel Heyns en What Belongs to You deur Garth Greenwell.

Noem 'n paar films wat indruk gemaak het? 

Die meeste daarvan word in die roman genoem. Etienne se smaak wat betref films stem (gelukkig!) meer met myne ooreen as sy lewensverhaal.

Wat is die sin van die lewe?

As mens dít bondig sou kon saamvat, sou dit onnodig wees om romans te skryf.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top