Achille Mbembe: "Om die demokrasie aan die hand van die lewende te heruitvind" (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw)

  • 0

Achille Mbembe, prominente filosoof en professor aan WiSER (Wits Institute for Social and Economic Research). Bron: YouTube (skermgreep)

Die onderhoud met Achille Mbembe deur Séverine Kodjo-Grandvaux verskyn oorspronklik in Le Monde van 5 Maart 2023.

Die onderhoud is uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw en verskyn met toestemming op LitNet.

In sy nuwe boek, La Communauté terrestre (Die Aardgemeenskap) (Parys: La Découverte, 208 bladsye, €20, digitaal €15), stel die Kameroense filosoof Achille Mbembe voor dat die syn bedink word as oop vir almal en alles deur in die besonder op animistiese Afrika-benaderings tot die metafisika te steun.

Deur die grense van die lewende en die tegnologiese te heromskryf in die era van die versteuring van klimaatstabiliteit, wat vrese vir ’n algehele ineenstorting en mense se onttrekking aanwakker, stel Mbembe voor dat ons anderkant grense moet dink. Deur die aarde te benader as ’n geheel, dit wil sê as ’n organiese sowel as ’n politieke en maatskaplike liggaam wat lewe huisves – álle lewensvorme, menslik sowel as andersins – is die aarde volgens hom die “laaste utopie” wat nog verwesenlik moet word.

Wat kenmerk die era van die “Antropo-tegnoseen” wat ons volgens u betree het?

Die tegnosfeer en die biosfeer kan nie meer van mekaar geskei word nie. Hulle wissel mekaar af en leef van mekaar. Om van hierdie onskeibaarheid rekenskap te gee benodig ons ’n uitgebreide begrip van lewe, van gemeenskap en sorg, wat nie slegs tipies ekologiese gebeure nie, maar ook tegnologiese verskynsels kan omvat. Dit vooronderstel dat twee groot denkfamilies wat te dikwels onkundig teenoor mekaar staan, naamlik die ekokritiek en die tegno- en objekkritiek, met mekaar versoen word. 

Dit is die voorwaarde om die teenoormekaarstelling van die lewende en die kunsmatige te oorkom – vandaar die belang wat ek in my boek toeken aan skrywers soos die prehistorikus André Leroi-Gourhan (1911–1986) vir sy besinnings oor die samehang tussen die skep van simbole en die skep van werktuie, of die tegniek as verlenging van die liggaam. Vandaar ook, en veral, my aansluiting by animistiese Afrika-denke, wat dien as grondslag vir my benadering tot die lewende. Dit stel ons in staat om te begryp dat een van die vernaamste kenmerke van die Antropo-tegnoseen die radikale gelyksoortigheid tussen syndes, persone en objekte is.

Het ons voor ’n nuwe ontologiese breuk te staan gekom?

Dit is wat ek aan die hand doen. In ieder geval het ’n foutlyn verskyn wat nie langer deur ’n dik sluier van onverskilligheid bedek kan word nie. Mense was nog altyd ’n bietjie meer as bloot mens. Dieselfde geld objekte wat nog altyd ’n bietjie meer as bloot werktuie was. Dit is wat die animistiese Afrika-denke ons van altyd af leer. Leroi-Gourhan toon op sy beurt aan dat elke tegnologiese vernuwing beskik oor die potensiaal om mense te verander in iets anders as wat hulle voorheen was. Die hedendaagse mens het byvoorbeeld nie meer veel gemeen met die prehistoriese mens of die mens van die Verligting nie. Hierdie ontologiese veranderinge van die mens sowel as van objekte verklaar die verskillende soorte krisisse wat ons vandag trotseer – van die demokrasie, van verteenwoordiging, van die subjek...

.....
Mense was nog altyd ’n bietjie meer as bloot mens. Dieselfde geld objekte wat nog altyd ’n bietjie meer as bloot werktuie was. Dit is wat die animistiese Afrika-denke ons van altyd af leer. 
.....

Het ons ’n transhumanistiese era betree?

Ek vermy die term transhumanisties sorgvuldig, omdat dit die debat onmiddellik sluit. Die idee is eerder om die debat so wyd as moontlik te open deur aansluiting te vind by argiewe wat gewoonlik geringgeskat word. Ons bevind ons op ’n tydstip waarin sowel mense as objekte en wêrelde onderverdeel word. Natuurlike breine word gesuperponeer deur breine wat al hoe meer kunsmatig is, ’n individuele en maatskaplike geheue wat al hoe meer veruiterlik is. Mense en objekte is vandag miskien meer as tydens enige ander tydvak in die menslike geskiedenis neurologies met mekaar geskakel. Dit is op die oomblik baie moeilik om hierdie nuwe gemeenskappe van lewende wesens presies te benoem. Hierdie benoemingstaak maak juis deel uit van die kritiese en politieke werk wat ons moet doen, en wat die term transhumanisme voortydig probeer afsluit.

U sê dat sekere van hierdie objekte lewend geword het. Wat is dus eiesoortig aan die lewende?

In Afrikaïese denkstelsels is die eiesoortige van die lewende sy onbepaaldheid, oftewel sy vermoë tot vermenigvuldiging, deurlopende metamorfose en resonansie met alles wat bestaan, asook met die kragte van die kosmos. Bowendien is hedendaagse objekte soveel meer lewend in die mate waartoe hulle deurgaans nuwe breinmoontlikhede skep. In werklikheid staan die tegnologie vandag meer as ooit in die verlenging van die algemene ontwikkeling van spesies. Dit sien ons duidelik in die wyse waarop dit deurgaans van vorm en funksie verwissel. Ons bevind ons op ’n tydstip van die geskiedenis van die lewende waar die aantal mutante objekte bly groei terwyl dit al hoe kleiner word, draagbaar en aanpasbaar word, en die teenwoordigheid daarvan ons lewens versadig. Dit is in hierdie groot beweging dat nuwe vrae oor die lewende en sy grense aan die orde gestel word.

Waarom sê u dat ras en kolonialiteit die moedervorme van sowel ons politieke as ons ekologiese wêreld is?

Die moderne era begin met ’n rasgebaseerde ordening van die aarde wat saamhang met ’n uitgerekte proses van vang, kou en verteer, en wat lei tot die uitskuif van ’n gegewe massa liggame wat soos ’n grondstof ontgin kan word, maar wat ’n mens ook kan vermors as dit daarop aankom. Kolonialiteit vorm deel van hierdie kwasi-Promethiaanse wil om nie slegs alles te beheer nie, maar ook om alles aan berekening te onderwerp. Nou, dit wat hierdie berekening moontlik maak, is ras, wat van die menslike liggaam ’n natuurlike hulpbron maak. In die geval van mense van Afrika-herkoms is hierdie verhouding tussen die menslike liggaam en die natuurliggaam ooglopend omdat hierdie liggame gekommodifiseer is. Daar kan geen ekokritiek sonder ’n kritiek van ras en kolonialisme wees nie.

U steun op animistiese Afrika-benaderings tot die metafisika om ’n “algemene ekologie” te bedink waar die lewe buite die kwantifiseerbare en die berekenbare geplaas word. Sal die oplossings vir die huidige ekologiese krisis uit inheemse samelewings kom?

’n Mens kan nie die wêreld of die aarde regtig herbou deur slegs op een van die talle argiewe van die mensdom staat te maak nie. Waar dit ook al voorkom, moet die bronne wat ons in staat stel om die politiek te herstig, die demokrasie te heruitvind en ander verbeeldingsraamwerke vir die gemeenskaplike bied, herontdek word.

.....
Afrika-filosofieë en inheemse kulture het denke van die syn, die subjek en verhoudingsmatigheid ontwikkel wat onteenseglik ryker is as dié wat op berekening, wins en kontrak geskoei is.
.....

Die idee is nie om die nalatenskap van die moderne filosofie geheel en al te likwideer nie, maar om reg te laat geskied aan ’n epistemiese pluralisme wat opgewasse is vir die pluralisme van die planeet self as ons al die terreine van lewe wil vernuwe. Afrika-filosofieë en inheemse kulture het denke van die syn, die subjek en verhoudingsmatigheid ontwikkel wat onteenseglik ryker is as dié wat op berekening, wins en kontrak geskoei is.

 

U sê dat die aarde as wêreldeenheid ’n utopie bly. Maar vir wie? In ander kosmologieë bestaan hierdie wêreldentiteit inderdaad ...

Die aarde as politieke eenheid saamgestel uit die lewendes en wat in gelyke mate deur die geheel van lewende wesens geregeer word, is ’n utopie. Dit is opmerklik die geval op hierdie tydstip waartydens die begeerte tot afskeiding aangehelp deur streeksidentiteite so heftig is. Die herlewing van nasionalisme, rassisme, en ideologieë van verskil, en die wil tot afskeiding en segregasie, is aan die orde van die dag, juis nou dat die vraagstukke wat ons die hoof moet bied, nie slegs plaaslik opgelos kan word nie.

In die aangesig hiervan kan ons nie die radikaliteit van ’n aardgemeenskap wat almal insluit, onderskat nie – en ek verwys nie slegs na mense nie. Om iets te verbeel anderkant ’n flou kosmopolitanisme, ’n verwelkte universalisme vermeng met die unieke in aansluiting by die monoteïstiese teologieë, sal dit ongetwyfeld nodig wees om na ander opsies te kyk en die risiko van nuwe denkreise te neem. So gesien verteenwoordig die Amasoniese, Chinese en Afrikaïese filosofieë onuitputlike bronne, op voorwaarde dat dit ons denke opskerp en dat ons ontslae raak van ons dors na die eksotiese.

Hoe stig ’n mens konkreet gemeenskap met niemenslike entiteite?

In die geval van die Afrika-mites wat ek bestudeer het, is die idee nie byvoorbeeld om aan die berge en ander entiteite soos woude, water of geeste dieselfde regte as aan mense toe te ken nie, maar wel om die groot uiteenlopendheid van syndes en hul veelvoud te erken, en gevolglik aan elkeen van hulle in sy sonderlingheid en oorspronklikheid plek te gee. Dit beteken om die voorwaardes te skep waarvolgens elkeen van hulle soos hulle is van die nodige voorsien kan word, om hulle in staat te stel om te bly lewe, en wel in samehang met die res. Dit beteken ook om te erken dat die lewende as sodanig onherkenbaar en ontoe-eienbaar is.

Hierdie twee vorme van erkenning lei nie noodwendig tot regte nie. Die sleutel tot die rehabilitasie van die wêreld en sy duursaamheid is te vinde in die erkenning van ’n skatpligtigheid teenoor die lewe wat ons verbind aan die geheel van die skepping en in die poging tot ’n kollektiewe, nooit-voltooide opbou van die vermoëns om dit met andere te deel. So gesien het die reg betekenis slegs in soverre dit ’n wêreld sonder heinings en grense bevestig, bekragtig en grondves wat gekenmerk word deur ’n onvoorwaardelike openheid vir die lewende en plek inruim vir dit wat anders as die self is.

Is dit ’n demokrasie van die lewende?

Daar bestaan vandag ’n diskreditering van, en selfs haat jeens die demokrasie. Wat my betref, is die ander naam vir die ware demokrasie van ons tyd die lewende, en vanuit die oogpunt van die organiese is dit wat eie aan die lewende is, om asem te haal. Die demokrasie en die lewende verteenwoordig vandag die twee vernaamste toegangspunte vir diegene wat daarna streef om ’n wêreld te bou wat deur almal bewoon kan word, en waar almal kan asemhaal. Dit is moontlik, of so dink ek altans, om die demokrasie te heruitvind op grond van die idee van die lewende as begrondende onbepaaldheid, die vermoë tot metamorfose, tot vermenigvuldiging, as radikale openheid vir veelvoud. Wat meer is, in die mate waartoe die aarde ons almal se tuiste is, beteken dit dat om te woon is noodwendig om saam te woon en dat daar vir almal ’n absoluut grondige reg op gasvryheid en om asem te haal is.

.....
Die demokrasie en die lewende verteenwoordig vandag die twee vernaamste toegangspunte vir diegene wat daarna streef om ’n wêreld te bou wat deur almal bewoon kan word, en waar almal kan asemhaal. 
.....

Dit nooi ons uit om die humanisme agter te laat, nie om ons in een of ander antihumanisme of transhumanisme te werp nie, maar om die deur te open vir ’n politiek wat vanselfsprekend vir die menslike, dog ook vir die geheel van die lewende, plek sal inruim. Dit is ’n politiek van veelvoud en openheid soos wat die Afrikaïese denkstelsels ons leer, veral die denke aangaande verhoudingsmatigheid en resonansie.

U bedink die “reg op asemhaling” op verskillende vlakke, vanuit ’n ekologiese maar ook politieke oogpunt met verwysing na die dood van George Floyd in 2020 in Minneapolis, wat op uiters gewelddadige wyse deur die polisie gearresteer is en met sy laaste asem uitgekry het: “Ek kry nie asem nie.”

Absoluut. Alles begin by om asem te haal. Dit sien ons duidelik in die diskoers van sowel die Afro-Amerikaners as van almal wat op die lange duur die ervaring van versmoring en smaad meegemaak het. Dit is ook waar van die animistiese Afrika-denke waarvolgens alles asemhaal. En omdat alles asemhaal, is alles lewend of bevatlik vir lewe. Alles is geskik daarvoor om nie slegs energieë te bevat nie, maar ook gebare, spraak en ritmes.

So gesien is die werktuig ’n werktuig van die lewe in diens van die rehabilitasie van die wêreld en sy asemhaling. Laasgenoemde is nie beperk tot organiese asemhaling nie. Daar is ook asemhaling wat geskied deur gebare, spraak, taal, die liggaam – al daardie uitdrukkingsvorme wat ’n mens in staat stel om jou asem terug te kry, om ’n blaaskans te neem, om jou energie te herwin ten einde weer aan die gang te kom, jou weer in iets te werp, maar altyd in verhouding. Hierin is ’n teorie van asemhaling te vinde wat vanuit sy suiwer liggaamlike aspek as vertrekpunt onmiskenbaar na sy gemeenskaps- en dus politieke dimensie lei.

Lees ook:

Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns

The industrialisation of mimesis: In dialogue with the thought of René Girard and Bernard Stiegler on automatisation

Education in the shadow of the Anthropocene: Critical posthumanist experimentation

Bot deur Carien Smith: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top