Bot deur Carien Smith: ’n resensie

  • 0

Links: omslag van Bot (Tafelberg); regs: foto deur Sergey Vinogradov op Unsplash

Bot
Carien Smith
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092872

Koop Bot by Graffiti.

Verbeel jou ’n wêreld waar simpatieke robotte die siekes verpleeg, groteske hoenders met metaalsnawels enige vorm van protes of individualiteit met geweld uitwis en ’n lewe waar slegs die rykes dit kan bekostig om sonder moeite asem te kan haal deur suurstof te koop. Of wil jy dalk ’n kind deur ’n agentskap bestel?

Só word die wêreld beskryf in Carien Smith se debuutkortverhaalbundel Bot.

Onlangs vra ek ’n groep voorgraadse studente wat hulle dink sal gebeur indien ’n tegniese of menslike fout by die Koeberg-kernkragsentrale ’n ontploffing soortgelyk aan die Tsjernobil-kernramp van 1986 veroorsaak. ’n Stilte daal oor die lesinglokaal neer. Groot, bekommerde oë staar my aan. Met dié opmerking word ons bespreking van Lien Botha se Wonderboom as distopiese roman voortgesit. Gesprekke word gevoer oor Suid-Afrika en of ons ons reeds midde ’n vroeë dog redelik afgewaterde distopie bevind. Probleme met elektrisiteitsvoorsiening, droogtes, klimaatsverandering en die uitwissing van verskeie dierspesies laat die debat behoorlik vlam vat.

Toevallig is dit presies ’n eeu gelede sedert CJ Langenhoven se wetenskapfiksieroman Loeloeraai gepubliseer is – en dit vóór Afrikaans as taal amptelike status geniet het. Hoe gebeur dit dat ’n skrywer in ’n dorpie so klein en afgeleë soos Oudtshoorn in die vroeë twintigerjare dié fiktiewe scenario kon opdis? Skrywers soos HG Wells het reeds in die 19de eeu distopiese wêrelde in sy romans geskep. Die verskil tussen die verbeelde wêreld van Loeloeraai, Vroutjie en Herrie die olifant en ’n distopiese verhaal in ’n toekomstige Suid-Afrika word in die sosiopolitieke kommentaar en fiktiewe narratief van die distopie weergegee soos in die kortverhale in Carien Smith se Bot.

...
Die kortverhaalbundel mag dalk Bot heet met verwysing na robotte en kunsmatige intelligensie, maar bevat kortverhale wat hierdie genre opnuut soos die bloeisels van ’n jakarandaboom in Oktobermaand laat bot.
...

Hierdie distopiese Suid-Afrika word op boeiende en soms skokkende wyse in Bot verbeel. Smith het reeds met Nuwe stories 3 haar merk as kortverhaalskrywer gemaak, maar Bot is ’n perd van ’n ander kleur. Die kortverhaalbundel mag dalk Bot heet met verwysing na robotte en kunsmatige intelligensie, maar bevat kortverhale wat hierdie genre opnuut soos die bloeisels van ’n jakarandaboom in Oktobermaand laat bot. Die treffende voorplatontwerp dui op die samevoeging van die mens, natuur en tegnologie. Hierdie temas word op kreatiewe wyse in die 16 kortverhale verken. Die bundel word opgedra aan “alle medereisigers in die sesde massa-uitwissing” wat die distopiese element in die kortverhaalbundel aktiveer.

Bot kan as ’n eenheidsbundel gelees word waarin die kortverhale tematiese raakpunte vertoon. Tog is daar nie perke te bespeur ten opsigte van die skrywer se filosofiese denke en kreatiewe vernuf om aan emosionele, kommerwekkende en selfs sensitiewe onderwerpe in die konteks van die distopiese fiktiewe wêrelde gestalte te gee nie. In die konteks van die posthumanisme word die vraag rondom menswees geopper in “Die agentskap”, “Vakuum”, “Liefie”, “June”, “Gesprek met ’n hologram” en “Dit is tyd”. Die verhaal “Ek is vir jou gemaak” is in dié opsig belangrik aangesien die verteller die ervaring van menslike emosies asook gevoelens soos fisieke pyn deur die oë van ’n robot beskryf. Smith hou die leser deurentyd aan die raai met vrae oor wat menswees behels. Wat onderskei die waarheid van ’n leuen of vlees en bloed van kunsmatige intelligensie?

In “Vervaag” ondersoek Smith die mens se obsessie met voorkoms in ’n wêreld wat die Prediker in die Bybel as bloot ’n gejaag na wind sal beskou. Die sterk feministiese inslag van die verhaal opper belangrike vrae rondom vroulikheid en die mag wat die patriargie selfs in ’n toekomstige verbeelde distopie uitoefen en wat steeds aan die orde van die dag is. Opvallend is die verteller se opmerking: “Ek wil nie kinders hê nie. […] Die wêreld is nie meer ’n plek vir die mens nie.” In ’n samelewing waarin oorbevolking en ’n gebrek aan hulpbronne soos voedsel en water die realiteit weerspieël, is Smith se woorde ’n wekroep wat dringend aandag moet geniet. Dié opmerking is veelseggend in die konteks van die verhaal waarin die spreekwoordelike waarde van ’n vrou aan voortplanting gekoppel word.

...
Smith slaag daarin om nie alleen die belangrike rol van tegnologie in die samelewing te beklemtoon nie, maar om die proses van veroudering en die alleenheid wat gereeld daarmee gepaard gaan, met patos te benader sonder enige vorm van oordrewe bejammering.
...

In ’n post-COVID-19 wêreld en die invloed van tegnologie op die daaglikse omgang van die mens is “Nĭ yŏu kèrén” een van die treffendste verhale in die bundel. Smith slaag daarin om nie alleen die belangrike rol van tegnologie in die samelewing te beklemtoon nie, maar om die proses van veroudering en die alleenheid wat gereeld daarmee gepaard gaan, met patos te benader sonder enige vorm van oordrewe bejammering. Talle lesers sal met die hoofkarakter kan identifiseer en die emosionele broosheid van die mens word ontbloot.

Verdere verhale wat uitstaan is “god die Robot” waarin indoktrinasie verken word. Temas soos geweld teenoor vroue, sosio-ekonomiese ongelykhede asook klimaatsverandering en die effek wat dit op die mens het, word ondersoek. In dié opsig is “Fel” ’n geslaagde verhaal oor die uitwerking van klimaatsverandering in ’n toekomstige, distopiese Suid-Afrika. Die aandag wat Smith aan die gedetailleerde en raak beskrywing van die milieu waarin die verhaal afspeel, gee, is prysenswaardig.

Met Bot opper Smith belangrike sosiopolitieke temas waarvan die mens tydens die Antroposeen kennis behoort te dra. Of die leser glo in klimaatsverandering en of biokinders en kunsmatige intelligensie as onsin afgemaak kan word, is vir die leser om self te besluit. Met hierdie weldeurdagte, sterk bundel kortverhale kan die leser nie anders as om na te dink oor die mens se vernietigende interaksie met die planeet wat ons bewoon nie. Smith draai nie doekies om nie en ontbloot sonder skroom die moontlikheid van ’n toekomstige Suid-Afrika waarin iets soos beurtkrag as onbenullig afgemaak sal word vergeleke met ’n distopiese samelewing wat moontlik ons daaglikse realiteit kan wees. Die voortbestaan van ’n utopiese samelewing waarvan sommige mense nog droom, blyk blote wensdenkery te wees. Op kragtige wyse dien elke kortverhaal in die bundel as waarskuwing. Die toekoms lyk dalk anders as wat ons gedink het met ’n sesde massa-uitwissing wat die mensdom stelselmatig bekruip. Met Bot vestig Smith haar stem as vernuftige kortverhaalskrywer van wie daar hopelik nog veel meer gehoor sal word.

 

Lees ook:

 

Persverklaring: Wenners van die 2023-UJ-debuutprys en die 2023-UJ-prys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top