LitNet Akademies-resensie-essay: Decima deur Eben Venter

  • 1

Eben Venter praat oor Decima tydens vanjaar se Easy Equities-skrywersfees by die Toyota US Woordfees.

Titel: Decima
Skrywer: Eben Venter
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781415210017

Decima: Elegie aan ’n oermoeder

 

  1. Inleiding

Met Decima as 11de roman verleen Eben Venter ’n ekologiese perspektief aan die teks deur die mens se verhouding tot sy fisiese omgewing krities te ondersoek. Bemoeienis met omgewingsverwante kwessies is geen nuwe toevoeging tot Afrikaanse tekste nie. Volhoubaarheid en die bewuswording van die lewensonderhoudende, maar delikate balans tussen die mens en die omgewing word toenemend ’n motief in Decima. Die sentrale beginsel van die radikale ekologie behels juis dat die lewe bestaan uit ’n interkonnektiewe web wat alle lewe onderhou (Roothman 2015:2). In ’n onlangse onderhoud bevestig Venter dat Decima ’n omgewingsmotief het wat spreek tot lesers wêreldwyd. Venter self beskou Decima as ’n versnit van outofiksie, fiksie, fabel en diep-nagevorste nie-fiksie.

Toe ek Eben Venter se jongste roman Decima vir die eerste keer onder oë kry, was die kunstige afbeelding van die renoster op die voorblad asemrowend vir my. Daar staan sy, die oermoeder van die renosters, haar liggaam met metaalagtige skilde bedek. Asof sy onaantasbaar genoeg is dat geen koeël haar liggaam sou kon deurboor nie. Dié afbeelding van die renoster in die Dürer-houtdruk op die voorblad, asook die titel, Decima, plaas die fokus op die mitiese rol wat die swart renosterkoei in die roman vertolk. Dierestudies as subkategorie van ekokritiek word deur die roman betrek en beklemtoon die dierlike wending (“animal turn”) in letterkunde waarvolgens diere in navolging van JM Coetzee (2003:33) as “embodied souls” bestempel word. Die verteller beklemtoon self die kernrol van hierdie megaherbivoor: “Ek noem haar Decima, na die Latyn vir ’n tiende, ’n grootsheid, ’n gul gawe vir hierdie stuk suidelike Afrika-grond” (28). Hierdie aanhaling voorspel reeds die onafwendbare lot van die ou matriarg – dat sy as oergees en metafoor van alle swartrenosters die offer sou bring.

Met die skryf van Decima sluit Venter weer eens aan by die baie ou tradisie in die Afrikaanse prosa wat so ver terugstrek as tekste deur byvoorbeeld die “Hobsonbroers, P.J. Shoeman en Eugéne Marais wat temas soos grondbesit, patriargie en rasseverhoudings uitdaag en ondermyn” (Roos 1998:88). Beide historiese feite en verbeeldingryke verhale word onder andere mondelings oorgedra van een generasie na die volgende om die mites te skep waaruit die mens morele lesse behoort te leer. Mites word gewoonlik geskep om sodoende kommentaar te lewer op ’n werklike gebeurtenis. Só is die karakter van Decima geskoei op ware verhale van renosterstropery om die voortdurende stryd in die bewaring van skaars spesies te belig. Die oes van hulle horings word as “grondmotief” (159) vir die stroping van veral die swartrenoster voorgehou. Die reputasie van die swartrenoster as mees gesogte spesie om te stroop vir sy “wilde horing” (’n horing waaraan “rou vel en grond en ou bloed” (39) nog kleef) plaas hierdie roman in die sfeer van die kriptosoölogie, ’n term wat deur Bernard Heuvelmans in sy boek On the track of unknown animals (1995) gebruik is (Coleman & Clark 1999:15). Diere wat deur kriptosoöloë ondersoek word, staan as kriptiede of kriptowesens bekend en behels onder andere waarnemings van dié misterieuse diere deur lede van die plaaslike bevolking.

 

  1. Netwerk van rolspelers

In hierdie roman word die fyn netwerk van rolspelers in die stropingsbedryf stelselmatig blootgelê. Die verhaal word beurtelings vanuit die perspektief van die verskillende karakters vertel: navorsers, wildbewaarders, stropers en hulle kliënte, tradisionele genesers en hulle kliënte, Decima, die swartrenosterkoei, en Skalpie, die kransaasvoël. Decima, die mitiese swartrenosterkoei, word saam met die res van haar “storm” (29) teen die natuurlike agtergrond van die Groot Visrivierpark in die Oos-Kaap geplaas. Die proses van die verskuiwing van renosterspesies sedert 1986 word vertel: “[T]otdat slegs die droogtebestande Diceros bicornis – die suidwestelike swartrenoster wat in die oertyd op hierdie aarde gewei het met sy gemengde flora van savanna, euphorbia-stanings, spek- en doringboom” (59) nog hier oor is. Decima se herinneringe strek sover terug soos die dag toe haar ma gestroop is en sy as wesie in die bos agtergebly het. Die verteller noem dat hy hierdie keer skryf ter wille van ’n spesifieke dier, “in ’n poging om haar as sensoriese wese na vore te laat tree, om die gevoelvolheid van haar te verstaan” (141).

'n Swartrenosterkoei (Foto: Izak de Vries)

Spanning word opgebou deur die aftelling tot die volmaannag of “doodsmaan” (29) wanneer die volgende stroping sal plaasvind. Die twee stropers, Athule Bomvana en Frankie van der Merwe, berei vir dié gebeurtenis voor. In aanloop tot die stropingsgeleentheid leer ken die twee karakters mekaar en ontwikkel daar ’n band tussen hulle. Hulle ontdek dat die oes van renosterhorings ’n hoogs-georganiseerde bedryf is en dat dit uit vyf vlakke bestaan wat elke rolspeler se rangorde in die organisasie bepaal. As stropers bevind hulle hulself op vlak een, vlak twee is die persoon wat die “hardeware” organiseer en die koördinate aan die stropers verskaf, die vlak drie-persoon is die “kingpin” en word beskryf as die persoon wat nie by die aksie betrokke is nie en bloot die lewering van die horing inwag, inligting oor die vlak vier-persoon is vaag en sy rol bly ongedefinieerd, terwyl die persoon wat die horings verkoop, op vlak vyf funksioneer. Die twee stropers ontvang uiteindelik die opdrag (“shopping list”) (63) om spesifiek die wilde horing van “’n koei ouer as vyf-en-dertig” (65) te gaan oes. Hierdie horing is bestem vir ’n ou Chinese vrou “op haar doodsbed in Hongkong” (65). Hulle neem die nodige gereedskap (”hardeware”) vir die stroping in besit: ’n byl, ’n saag, ’n AK-47 (45), asook selfone waarmee hulle die koördinate van waar die spesifieke renoster wat die teiken van die stroping is, sal ontvang. Die stropers se geestelike voorbereiding behels die aankoop van tik (metamfetamien) om hulle sintuiglike waarneming te verskerp as teenvoeter vir die olfaktoriese vermoëns waarvoor die renoster so bekend is. Athule Bomvana onderneem ’n reis na sy “grootworddorp” (40) Cradock waar sy gesin woon. Hierdie reis dien nie bloot as afskeid van sy familie indien iets verkeerd sou loop tydens die stroping nie, maar bied hom ook die geleentheid om die voorvadergeeste by die “ixhanti-paal” (143) in sy “mhakhulu” (44) (ouma) se agterplaas te smeek om sy hart net hierdie een keer vry te maak en hom met die gawe van omgee vir ander en sy eie lewe te beloon. Met sy vertrek oorhandig sy ouma aan hom ’n hondetand met die opdrag om dit altyd teen sy lyf te dra vir beskerming.

Ziyanda Nelson is werksaam as veldwagter in die Groot Visrivierpark. Mettertyd vorm sy ’n band met Decima en laat die renosterkoei haar toe om haar te vertroetel en snoephappies te voer. Sy raak betrokke by skole in die omgewing van die park waar sy die kinders onderrig in die bewaring van die swartrenoster. Ziyanda se karakter word gekenmerk deur innerlike konflik oor kwessies soos die moontlikheid van die rehabilitasie van stropers. Sy herinner haarself aan die teorie wat haar pa huldig oor “die val van die mens, die verwerwing van kulturele diversiteit, die vernietiging van diere en bowenal die versuim van die mensdom om na hulself om te sien, die versuim om na mekaar om te sien” (111). Dit laat haar met ’n apokaliptiese visie vir die toekoms van mens en dier. Dit blyk uiteindelik dat al haar moeite tevergeefs is wanneer die stropers op Decima toeslaan.

As deel van die outofiktiewe verhaal (’n gefiksionaliseerde outobiografie) neem die ek-verteller dit op hom om navorsing oor die stroping van renosters te doen. Hy maak kontak met Thulani Lani Klaas wat as gids vir hom optree. Thulani neem die verteller op besoek na igqirha Nolala wat in Mogogoshestraat, Motherwell woon. Thulani verduidelik aan die verteller dat Nolala nie as sangoma praktiseer nie, maar wel as igqirha – “sy het die goddelike gawe ontvang, maar sy het haar ook halfpad tot die Christendom bekeer” (13). Die verteller verlaat Nolala as teleurgestelde man toe sy nie soos hy verwag het “beentjies en goeters” (14) gooi nie. Hy verneem by Nolala hoe sy ’n mens wat beplan om die park as stroper binne te gaan, die renosterhoring te oes en weer veilig daar uit te kom, sou voorberei. Nolala sien deur hom en besef dat dit bloot ’n gevallestudie is en dat hy nie self beplan om op ’n soortgelyke sending te gaan nie. Nolala stuur ’n e-pos aan Ziyanda Nelson waarin sy haarself verontskuldig en distansieer van enige toekomstige strooptogte in die Groot Visrivierpark. Die verteller volhard in sy soeke na antwoorde en begewe hom op ’n reis tot in Hazyview waar hy onderhoude voer met stropers wat in die Krugerwildtuin operasioneel is en inligting verkry in verband met die rituele van stroping en dít wat stropers motiveer om die daad deur te voer. Op pad terug besoek hy die Petroport op die N4 waar hy op ’n toneel afkom wat soos ’n “diorama met opgestopte renosters op wiele, voorafbestem om heen-en-weer op mensgemaakte spore te loop” voor hom uitstrek (51). Hy kyk by ’n venster oor ’n omheinde vlakte uit en is geskok om te sien hoe diere bloot tot die vermaak van mense sinneloos ronddwaal, gedoem tot niksdoen. Hierdie reservate word as ’n vorm van ekotoerisme bedryf.

Eben Venter (Foto: Izak de Vries)

In Eben Venter se oeuvre is die besoeke (dikwels in die vorm van herinneringe) aan die familieplaas ’n terugkerende en meestal geïdealiseerde gegewe. Decima is ’n voortsetting hiervan deur die verteller se herbesoek in sy gedagtes aan die familieplaas, Die Vlei, in die Burgersdorpdistrik in die Groot-Karoo. Hy herroep ’n besoek tydens sy jeugjare aan die buurplaas Renosterhoek waar sy gasheer oom Andries Renosterhoek aan hom “die tippie van ’n horing” wou skenk. Hy weier die ontvangs en dit sinjaleer in hom watter tipe mens hy later sou word – ’n “mens met respek vir alle diere” (25). Volgens oorlewering dateer die horing uit 1880 uit die distrik van Graaff-Reinet. Hierdie gegewe impliseer hoe wyd renosters in Suid-Afrika voorgekom het.

Die verteller besoek sy moeder in die aftreeoord waar sy haar laaste jare in eensaamheid slyt. In hierdie roman wat in die teken van die verlies en verganklikheid staan, neem die verteller ook afskeid van sy ma wat in die Paradys-aftreeoord in Jeffreysbaai te sterwe kom.

Die verhaal neem die leser op reis na waar twee navorsers, naamlik Roslyn Lung en Leigh-Ann Biggs, in Julie 2016 onderhoude voer met praktisyns van Tradisionele Chinese Medisyne (TCM) oor die gebruike van renosterhoring. Die kern van die navorsing berus op die vra van gestruktureerde en halfgestruktureerde vrae. Onderhoude met 14 praktisyns vind plaas in verskillende TCM-spreekkamers in Lai Chi Kok in Kowloon. Alhoewel nie een van die praktisyns verantwoording doen in verband met hulle rol in die uiteindelike stroop van renosters nie, poog Roslyn om die vraagstelling op die spits te dryf. Sy vertoon haar naels aan een van die praktisyns en probeer hom tot insig dwing deur te verduidelik dat renosterhoring uit dieselfde nuttelose stof as haar naels bestaan: keratien. Die navorsers stel uiteindelik vas dat wilde renosterhoring gebruik word om uitermatige hoë koors te breek en bloeding te stop. Die horing word in water geweek, in dun skywe gesny, waarna dit in die son gedroog word. Uit desperaatheid loods Roslyn haar eie ondersoek en doen haarself voor as kliënt wat “die renosterhoringkonkoksie” (37) wil bekom. Sy vertoon selfs haar dagboek waarin die formule (aangehaal uit Die kompendium van Materia Medica, saamgestel deur Li Shizhen, ’n praktisyn wat vanaf 1518 tot 1593 geleef het) vir die wilde renosterhoring- en Rehmannia-dekoksie aangeteken is (38). Roslyn poog om die TCM-praktisyn te skok deur ’n foto van ’n stropingstoneel aan hom op te dring. Alhoewel die grafiese detail van die dooie renoster inderdaad skokkend is, word sy deur die praktisyn weggejaag terwyl hy ’n vloek oor haar uitspreek.

 

  1. Slot

Vir my lê die krag van Decima in die multifokale perspektiewe van karakters wat naatloos afgewissel word, asook die uitdagende uitbeelding van die dierekarakters, en meer spesifiek, die swartrenosterkoei Decima. Die roman vertoon elemente van die fabel, omdat die dierekarakters oor die vermoë beskik om te praat. Dit is ook een van die dierekarakters, naamlik Skalpie die kransaasvoël, wat die “slotwoorde” in die roman uiter waar hy hom in empatie met Decima afsonder om in “díe eensaamste van plekke vertroosting” te soek. Skalpie vertolk die rol van onheilsdier, omdat hy meestal die een is wat ’n stropingstoneel aandui en homself verlekker in die verrottende vlees van die dooie dier. Mettertyd bevriend hy vir Decima, omdat hy besef dat hulle as bedreigde spesies tog iets gemeen het en uiteindelik weerhou hy hom daarvan om Decima se karkas as aasdier te besoek. ’n Toenemende ekologiese bewussyn en stygende empatie vir dierelewens is ’n opvallende aspek van die roman wat die leser tot refleksie en die vra van indringende vrae algaande die stroping van diere soos renosters en olifante dwing.

Ziyanda Nelson trek die aandag van die leser, omdat sy die goeie in mense uitbeeld. Sy beywer haar vir die beskerming van bedreigde spesies. Die twee navorsers, Roslyn Lung en Leigh-Ann Biggs, voorsien die leser van interessante agtergrondinligting oor die geskiedenis van die stroping van diere vir sogenaamde medisinale gebruike, sonder om te verval in wetenskaplike feite. Dit is moeilik om heeltemal afsydig te staan teenoor die twee stropers, Athule Bomvana en Frankie van der Merwe. Beide van hulle ontlok ’n mate van simpatie by die leser, omdat hulle onder andere met finansiële uitdagings gekonfronteer word. Dit is egter die toneel waartydens die stroping plaasvind wat dit onmoontlik maak om simpatie met die twee karakters te behou.

As elegie kom die klaaglied en hartseer oor die verlies van twee geliefde moeders sterk na vore: Die afsterwe van die verteller se ma, asook die afsterwe van die mitiese renosterkoei Decima. Met die skryf van Decima bewys Eben Venter weer eens sy vaardigheid as begaafde skrywer. Alhoewel Venter heelwat tyd in die buiteland deurbring, is sy boeke steeds gewortel in die Suid-Afrikaanse werklikheid. Sy kennis van die isiXhosa-kultuur word naatloos met die verhaalgebeure geïntegreer om ’n oortuigende, oorspronklike, mitiese gegewe daar te stel. Met die herlees is ek oortuig dat die verhaal bloot vir ontspanning gelees kan word, maar dat dit ook oor al die elemente van ’n wêreldklasroman beskik wat dit, myns insiens, voorwaar ’n waardige wenner van die kykNET-Rapport-prys sal maak.

 

Geraadpleegde bronne

Coetzee, J.M. 2003. Elizabeth Costello: Eight Lessons. Londen: Secker and Warburg.

Coleman, L. en J. Clark. 1999. Cryptozoology A to Z. The encyclopedia of loch monsters, Sasquatch, chupacabras, and other authentic mysteries of nature. New York: Fireside.

Roos, H. 1998. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik, pp. 21–117.

Roothman, L. 2015. Transliggaamlikheid, kriptosoölogie en dieresiele in Kikoejoe (Etienne van Heerden, 1986), Die olifantjagters (Piet van Rooyen, 1997) en Dwaalpoort (Alexander Strachan, 2010). MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

 

Lees ook:

Die soektog na ’n middeweg in die bekamping van wildmisdaad: ’n blik op bestaande reguleringsmaatreëls en die integrasie van aanvullende oplossings

Tweespraak van Yves T’Sjoen met Eben Venter: "Aan die vrese het egter niks verander nie"

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top