Maalkolk: 'n onderhoud met Marie Lotz

  • 0
Marie Lotz werk haar hele lewe lank met woorde: as redigeerder, teksskrywer en persklaarmaker van mediese verslae. In 2021 verskyn haar eerste speurroman, Roofdier; in 2022 volg Polsslag; en vanjaar is die nuutste, Maalkolk, op die rak.

Skaars ’n paar weke nadat Maalkolk vrygestel is, skryf sy op sosiale media dat haar drie boeke op die top 4-verkoper-speurromanslys op Amazon pryk: Maalkolk eerste, Roofdier tweede en Polsslag in die vierde plek. Maalkolk is ook onder die topverkopers by Media24 vir Augustus. 

In Maalkolk is Alek Strauss nog net so hardekwas soos voorheen. Die oomblik toe hy egter sy pasgebore babadogtertjie in sy arms hou, vermuwwe sy hart. Die vreugde is egter van korte duur, want dieselfde middag is daar ’n dringende oproep van brigadier Jack Mabuza. Eensklaps voel dit vir Alek asof sy hele wêreld inmekaar tuimel. ʼn Middeljarige man is met ’n jaggeweer doodgeskiet. Wie sou die grusame Woestynroos-moorde wou naboots?

Wanneer die speurders drie dae later in die Magaliesberg op die moordtoneel van ʼn jong vrou staan, is hulle opnuut verbysterd. Forensiese bewyse dui daarop dat die twee moorde met mekaar verband hou. Boonop word telkens tekens van Strauss se oorlede mentor, kolonel André Malherbe, op die tonele gelaat. 

Intussen is Anele Vilakazi onderweg na die Wildekus om ’n saak te ondersoek waar ʼn tiener met ʼn kruisboog doodgeskiet is. Sal Strauss en sy span die skuldige kan stuit voor dié moordenaar sy volgende teiken bereik?

Stefaans Coetzee skryf in ’n resensie dat hy “aanvanklik skepties was of dié relatiewe nuweling in die krimi-genre kon verbeter op haar vorige boek, maar Maalkolk het my opnuut uitgeboul”.

Ek kon ook nie die boek neersit nie. Dis my eerste kennismaking met Marie Lotz se skryfwerk, maar Polsslag en Roofdier is beslis nou op my leeslys.


Marie, hoe voel hierdie top plekke op boekelyste?

Maryke, dis ongelooflik. Ek is die lesers innig dankbaar. Elke skrywer bereik seker soms ʼn punt waar jy wonder of die harde werk die moeite werd is. Vroegoggend, bedags en laataand se bloedsweet. Want dis letterlik hoe dit vir my voel. Ek is een van daardie skrywers wat moet herskryf en herskryf en herskryf. En nogmaals herskryf. Die Afrikaanse boekmark is betreklik klein, dus weet ʼn mens jy gaan nie sakke vol geld uit boekverkope maak nie. Vir my gaan dit dus oor die gevoel van iets skep, daardie magiese genoegdoening wanneer die eindproduk is wat jy gehoop het dit sal wees.   

.....
“Vir my gaan dit dus oor die gevoel van iets skep, daardie magiese genoegdoening wanneer die eindproduk is wat jy gehoop het dit sal wees.”   
.....

Jy is ’n Gautenger gebore en getoë. Jou speurromans speel almal in en om Pretoria en KwaZulu-Natal af. Hoe belangrik is dit vir jou as skrywer dat jou boeke plekspesifiek korrek en plekgeanker is? Is dit belangrik vir jou om die omgewing persoonlik te ken waaroor jy skryf?

My eerste drie romans het inderdaad in en om Pretoria en in KwaZulu-Natal afgespeel, en ʼn groot gedeelte van Roofdier in Limpopo. Dis vir my belangrik om plekspesifiek te wees, ja, maar ek het ook ’n rukkie gelede vir ’n leser gesê daar is soveel aanskoulike plekke in Suid-Afrika dat ek graag dié wat minder gereeld in boeke voorkom, in my boeke wil gebruik. Om die omgewing te ken vergemaklik dit aansienlik vir ʼn skrywer. Tog voel ek dit behoort jou nie aan bande te lê nie. Jy kan wel  ʼn milieu kies wat jy nie so goed ken nie. Die internet met al sy hulpmiddele is die wonderlikste uitvindsel ooit!

Misdaadstories raak nou jou forté – of is dit vir nou wat jy geniet, maar dink jy vorentoe aan ander genres?

Ek twyfel of ek ooit misdaadfiksie as genre sal laat vaar. Die hele ondersoekproses en die raaiselagtigheid daaromheen fassineer my te veel. Tog sou ek graag êrens in die toekoms ʼn historiese roman wou skryf. Verder geniet ek ʼn goeie riller, en as dit ʼn psigologiese riller is, des te meer. Ek sal waarskynlik nog in die toekoms my hand daaraan ook waag.

Raak dit nie moeiliker om met nuwe spanningslyne vorendag te kom nie? 

Glad nie. Dis vir my die maklikste deel van skryf. In die navorsingsproses lees ʼn mens dinge raak wat daardie nuwe saadjie vir ʼn volgende storielyn laat ontkiem. Andersins lê daar ʼn leeftyd van indrukke in my onderbewussyn wat ook in die leesproses na die oppervlak gebring word en as inspirasie dien. Boeke wat ek gelees, of films wat ek gekyk het. Ware dokumentêre programme. Verder sorg my verbeelding vir die res.

.....
In die navorsingsproses lees ʼn mens dinge raak wat daardie nuwe saadjie vir ʼn volgende storielyn laat ontkiem. Andersins lê daar ʼn leeftyd van indrukke in my onderbewussyn wat ook in die leesproses na die oppervlak gebring word en as inspirasie dien.
.....

Hoe verhoed jy dat mense boeke begin vergelyk en fout vind met die storie of diepte van karakters?

Nadat die roman geskryf is, deurloop dit ʼn hele proses by die uitgewer. Keurverslae word ingedien, die redakteur lewer haar/sy insette, en as die skrywer dit eindelik alles in oorweging geneem, aanpassings gemaak en herskryf het, kom die taalversorger en proeflesers aan die beurt. Natuurlik hoop ʼn mens dat die foute daarna uitgeskakel sal wees. Dis egter nie gewaarborg nie. Ek tob nie te veel daaroor of lesers gaan foutvind of nie. Dis maar ʼn subjektiewe ding. Daar sal altyd iemand wees wat van ʼn mens se werk hou, en dié wat dit minder geniet. Smaak verskil.

Alek Strauss – vertel my van jou keuse van ‘n top speurder wat ’n gerehabiliteerde seksverslaafde is? Waar kom die idee vandaan en was dit pret om hom te skep? Was sekere dele van sy skerp sin vir ongeregtigheid geskoei op jou pa se loopbaan as moord-en-roof-speurder?

Ek wou van die begin af nie die stereotiepe held in misdaadfiksie skep wat alles volgens die reëls doen nie. My karakters moet realisties wees; lesers moet met hulle kan vereenselwig. Dus begaan Alek Strauss foute. In Roofdier is hy grootliks ʼn antiheld; in Polsslag begin die karakter groei toon, en in Maalkolk is die omwenteling duidelik sigbaar. Strauss sal egter nooit heeltemal foutloos wees nie. Hy gaan nog op baie tone trap. Wat betref die seksverslawing: Ek hoor so dikwels mense sê die hele alkoholisme-ding in misdaadfiksie is al deurgetrap. Dis dalk waar, maar die realiteit is dat speurders onder ongelooflike werksdruk en spanning verkeer. Daarby aanskou hulle byna daagliks ontstellende en grusame tonele. Dis waarom so baie van hulle ’n uitlaatklep soek om dié spanning te hanteer. Strauss is geen uitsondering nie. Maar die seksverslawing spruit ook voort uit sy verlede, uit sy agtergrond as weeskind en die ma wat hulle versaak het. Dit was beslis bevredigend om die karakter te skep. Sonder dat ek dit beplan het, het my pa se sin vir geregtigheid wel ʼn rol gespeel in die skep van die karakter. Dis maar deel van die indrukke wat in my onderbewussyn gaan setel het.

Baie skrywers sê die karakters vertel later self die storie in jou kop en laat jou nie toe om woorde in hul mond te lê nie. Is dit ook so in jou geval?

Ongetwyfeld. Veral Ilse Liebenstein skryf voortdurend self haar karakter en dialoog. In Roofdier het ek iets heeltemal anders vir haar beplan, maar sy het vasgeskop soos ʼn steeks donkie. Ilse wou nie die moordenaar wees nie.

Hoe gemaak as jy begin skryf oor ’n karakter in sy derde boek – hoe gee jy net genoeg om vreemdelinge wat nie die vorige twee gelees het nie, op hoogte te bring, maar nie lojale lesers te verveel nie? 

Dis vir my een van die moeilikste fasette van boekskryf. Daar is geen maklike resep nie. Hoewel ek probeer om dit wat in die eerste twee boeke afspeel, nie te bederf vir lesers wat met Maalkolk begin nie, moes ek genoeg agtergrond van Strauss en Ilse se verlede gee om hul verhouding in perspektief te stel. Dieselfde geld vir Strauss se werksverhouding met kolonel André Malherbe. Ek probeer egter altyd om nie die sleutelgebeure rondom die ondersoek en die ontknoping in vorige boeke bloot te lê nie.

Die meeste van die karakters in jou boeke worstel met ’n gekompliseerde verlede. Waar kom hierdie agtergrondkennis vandaan en hoe belangrik is dit vir jou dat hulle almal uit eie reg ook eintlik ’n hoofkarakter kan wees?

Dis maar grootliks my verbeelding. ’n Prentjie wat ek inkleur omdat ek wil hê dit moet interessant wees. Dis nie altyd moontlik om almal se lewenstories in een boek te vertel nie; daar is net te veel. Maar ek het besluit ek wil met elke nuwe boek een of twee karakters (buiten Strauss) se lewensverhaal uitlig. In Roofdier het ek begin om Ilse se storie te vertel en dit in Polsslag voortgesit. In Maalkolk was dit Nadiya Patel en Anele Vilakazi s’n. So word hulle elkeen ʼn  hoofkarakter uit eie reg. Lesers het ook maar hul gunstelinge. Om ander karakters se verhaal óók op die voorgrond te plaas, verhoog die leesgenot.

.....
Nadat ek vir nege jaar lank met boeke by ’n uitgewer gewerk het, het ek die skeppende element intens gemis toe ek mediese en regsverslae by ’n sielkundepraktyk begin redigeer. Dís toe ek besluit het ek gaan saans en vroegoggend voor werk Roofdier begin skryf.
.....

Jy het die afgelope drie jaar groot naam gemaak as spanningskrywer. Hoeveel druk plaas sukses op jou?

ʼn Mens sal seker maar altyd wonder of die volgende boek goed ontvang gaan word. Daarom probeer jy verbeter op dit wat jy vantevore gedoen het. ’n Mens wil tog nie jou lesers teleurstel nie. Ek het myself egter al goed ingestel om nie te veel hieroor te peins nie. Dit kort my kreatiwiteit in. 

Wie lees eerste jou manuskrip en wie se insette weeg die swaarste vir jou?

My seun. Eintlik is hy deurentyd in die skryfproses betrokke. Hy het ʼn fyn aanvoeling vir die genre, en baie oorspronklike idees. Dis ʼn fees om met hom oor ’n storielyn te gesels. Sy insette weeg beslis vir my die swaarste, want hy is pynlik eerlik en hy probeer nooit my gevoelens spaar nie. Die keurders se opinie is ook vir my van onskatbare waarde. Ek het oneindig baie by hulle geleer.

Hoe hanteer jy kritiek, of slegte resensies, en neem jy dit ter harte met die volgende manuskrip?

Aan die begin was dit moeilik. ’n Mens leer egter om ’n ysterjas aan te trek, net die kommentaar te absorbeer wat jy voel werklik gronde het. Uit elke resensie het ek iets wys geword en dit in daaropvolgende boeke toegepas. Resensies is ook maar subjektief, al was dit nie die resensent se bedoeling nie. Hulle is mense; hul eie voorkeure kan daardie finale indrukke beslis beïnvloed.

Ons is nou al bevoorreg om elke jaar ’n nuwe spanningsroman uit jou pen te kry. Word dit makliker of moeiliker om die volgende een te skryf?

Dit hang van die storie af. Maalkolk s’n was moeilik en ek het gedurig herskryf. Met Roofdier was ek onervare – moes met tye hele hoofstukke skrap en van voor af begin. Van die drie romans was Polsslag vir my die maklikste een. Die Marlia Heystek-storielyn het net vanself gevloei. 

Wat het jou die pen laat optel vir daardie eerste een en hoe moeilik om in ‘n reeds oorvol krimimark met iets uniek en vars vorendag te kom?

Ek was bloot in ’n fase van my lewe waar die tyd ryp was. Nadat ek vir nege jaar lank met boeke by ’n uitgewer gewerk het, het ek die skeppende element intens gemis toe ek mediese en regsverslae by ’n sielkundepraktyk begin redigeer. Dís toe ek besluit het ek gaan saans en vroegoggend voor werk Roofdier begin skryf. ’n Mens probeer maar voortdurend iets uniek skep, en dis nie altyd maklik nie. Lesers vind in elk geval aanklank by dié skrywers wie se skryfstyl hulle geval, of waar iets in die storie persoonlik met hulle praat.  

Waaraan werk jy volgende?

Ek het ’n nuwe kontrak geteken om voort te gaan met die FSO-reeks. Alek Strauss en sy spanlede gaan dus vir nog ’n rukkie by julle wees. Boek vier vorder goed.

Lees ook:

Polsslag: ’n onderhoud met Marie Lotz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top