
Boekomslag en foto van Marie Lotz: NB-Uitgewers
Polsslag
Marie Lotz
Human & Rousseau
ISBN: 9780798182942
Marie Lotz praat met Naomi Meyer oor Marie se jongste boek, Polsslag.
Marie, woorde is jou werk, het ek met die lees van die eerste sinne van Polsslag besef. Het jy toe jy Afrikaans en Sotho studeer het, reeds geweet jy wil skryf ook?
Die ideaal om ’n boek te skryf was van jongs af daar. As kind het ek gedurig my eie stories in my kop gefabriseer nadat ek byvoorbeeld een van Cor Dirks se Uile-boeke gelees het. Op universiteit het ek beslis óók aan boekskryf gedink, maar in daardie stadium was daar net te veel ander dinge wat my aandag opgeneem het. Die saadjie het jare later eers ten volle ontkiem toe my werkgewer van ’n uitgewery waar ek agt jaar as redakteur werksaam was, eendag in my kantoor ingestap en gevra het wanneer ek ’n boek gaan skryf.
.............
Die saadjie het jare later eers ten volle ontkiem toe my werkgewer van ’n uitgewery waar ek agt jaar as redakteur werksaam was, eendag in my kantoor ingestap en gevra het wanneer ek ’n boek gaan skryf.
..............
Daarna het dit my nóg vyf jaar geneem om tot die groot stap oor te gaan.
Dit moet nuttig wees om ’n pa te hê wat iets van die polisie en prosedures af weet! Hoe het jy die res van die navorsing gedoen - byvoorbeeld oor juwele? Van watter temas wat in jou boek ter sprake kom, het jy reeds iets geweet en vir watter daarvan moes jy by ’n kundige aanklop?
Ja, my pa se ervaring as moord-en-roof-speurder kom nogal met tye handig te pas. Dit wat ek nie van ondersoekprosedure kan navors nie, vra ek hom.
..........
Ja, my pa se ervaring as moord-en-roof-speurder kom nogal met tye handig te pas. Dit wat ek nie van ondersoekprosedure kan navors nie, vra ek hom.
............
Ek wou van die begin af iets van die kunste by hierdie boek inkorporeer, want ek is baie lief vir die kunste. Juweelontwerp was vir my die perfekte platform, omdat die slypproses van edelstene en daarna die eindelike ontwerp van ’n juweelstuk my nog altyd fassineer. Ek het indringend nagevors oor edelstene, toe eindelik op die swart opaal besluit vir die Polsslag-storielyn. Nie net omdat dit ’n uiters skaars en duursame steen is nie, maar ook vanweë die ingewikkelde ontginningsproses. Nadat ek op ’n spesifieke juweelstuk vir elke karakter besluit het, het ek na juweelontwerpe op die internet gaan kyk en daarna my eie ontwerpe uitgedink. Dit was een van die bevredigendste dele van die skryfproses tot dusver.
Wat betref die temas: Ek kyk graag dokumentêre reekse waar ek meer oor die forensiese sy van polisiewerk te wete kan kom. Dus weet ek waarskynlik ietwat meer daarvan as van patologie byvoorbeeld. Laasgenoemde speel óók ’n beduidende rol in my boeke, dus moet ek maar altyd ’n mediese spesialis raadpleeg. ’n Mens kan ook net sóveel op die internet navors. Dis ’n veld waar ons as leke maklik kan misinterpreteer wanneer ons nalees.
Drie lyke, en ’n verdagte wat as die drie-uur-moordenaar bekendstaan. Dis ’n raaisel wat ’n leser wíl oplos. Hou jy self van die oplos van raaisels? Jy skryf nou spanningsverhale - lees jy dit ook graag?
Ek geniet altyd ’n “whodunnit”, want ek pluis graag uit wie die skuldige is voor die skrywer dit blootlê. Dis lekker om as leser uitgedaag te word en te wonder oor die ontknoping. Min kry dit reg om my tot die einde om die bos te lei. As dit wel gebeur, is ek behóórlik uit die veld geslaan. Spanningsverhale was nog altyd my gunstelingleesstof vir ontspanning, maar ek moet bieg, vandat ek self skryf, kom ek min daarby uit. As ek wel die tyd het, verslind ek skrywers soos Tess Gerritsen, Ian Rankin en Karin Slaughter se boeke. Ek lees minder Afrikaanse misdaadfiksie, want dit is geneig om my eie skryfstyl te beïnvloed.
Dis vir my opvallend dat jou karakters ’n persoonlike binneverhaal het wat hulle elk by die misdade betrokke maak. Het jy vooraf ’n uiteensetting en karakterstudie van jou karakters vir jouself neergeskryf? En het jy die storie se intrige daarvolgens beplan? Of eers die plot en daarna die karakters?
Nee, ek het die raamwerk van die plot en subplot neergestip en toe die wese van die karakters daarrondom ontwikkel. Eintlik maak ek nooit vooraf karakterstudies nie. Hulle word van nuuts af geskep en groei saam met die storie. Van ’n sekere punt af skryf die karakters hulself. Ek dink dit sal ook maar van boek tot boek afhang of ek die intrige om die karakters beplan, of andersom. Dis net vir my belangrik dat ek karakters lewensgetrou skets. Daarom sorg ek dat ek die nodige opleeswerk gaan doen wanneer ek byvoorbeeld ’n karakter van ’n ander etnisiteit skep. Selfs die Strauss-karakter is nie altyd maklik om te skryf nie, omdat hy ’n redelike alfaman is. Die feit dat ek egter uit ’n agtergrond kom waar ek dikwels polisiemanne gesien het (beide my broers was ook speurders), maak dit waarskynlik vir my effens makliker.
Van beplanning gepraat: Sit jy die storie hoofstuk vir hoofstuk vir jouself uiteen? Of volg jy die liggie so in die mynskag af en beplan net kort entjies vooruit?
Ek het vooraf ’n goeie raamwerk van die storie in my kop, maar dit werk nie vir my om hoofstukke uitvoerig te beplan nie. My skryfwyse is te instinktief en organies; daar is net te veel wat ’n rol speel. Ek lees gedurig iets raak wat my van plan laat verander, dink na wanneer ek klaar is met ’n toneel, en vind soms ’n interessanter scenario, óf my navorsing bring rigtingveranderings. Ek word selfs deur die karakters gelei. In misdaadfiksie is dit soos ’n domino-effek. Alles wat jy verander, beïnvloed ’n klomp ander gebeure in die boek, wat lei tot ’n eindelose herskryfproses.
............
In misdaadfiksie is dit soos ’n domino-effek. Alles wat jy verander, beïnvloed ’n klomp ander gebeure in die boek, wat lei tot ’n eindelose herskryfproses.
..............
Ek probeer dus maar om nie te ver vooruit te beplan nie en ek weet ook nooit hoe my boeke gaan eindig nie. Met Polsslag het ek ’n goeie idee gehad, maar met Roofdier het daardie laaste hoofstuk op die nippertjie uit die waas gestap.
Ek sien dat jou werk behels dat jy forensiese verslae in ’n sielkundepraktyk help proeflees/taalkundig versorg. Jou karakters is fyn nagevors en die misdaadaspek van die verhaal ook. Bied jou persoonlike werksomgewing vir jou baie inspirasie vir die stories?
Ek werk eintlik saam met bedryf-, opvoedkundige en kliniese sielkundiges en redigeer die mediese of regsverslae van spesialiste wat ingewin word om kliënte se sake in ’n hof te belig wanneer daar ’n regsgeding ontstaan. Dus werk ek nie soseer met forensiese verslae nie. My werksomgewing het eintlik niks met my misdaadfiksieromans te doen nie, hoewel ek moontlik as gevolg van die blootstelling aan mediese taal baie meer vertroud geraak het met terme en prosedures. My inspirasie kom grotendeels uit my alledaagse bestaan – iets wat ek raaklees in nuusgebeure, ’n film wat ek gekyk het, of ’n gesprek wat ek met iemand gevoer het. My boeke is altyd ’n kombinasie van ’n klomp dinge wat in my onderbewussyn gaan setel het.
Daar is so baie misdaad in hierdie land. Wat inspireer mens om daaroor te skryf, en so passievol daarby, en waarom dink jy boonop mense lees so baie en graag misdaadverhale in ’n land deurdrenk van bloed?
Deur gewelddadige fiksie te skryf erken ’n misdaadfiksieskrywer dat daar iets bestaan soos onmenslike wreedheid, en dit gee aan my as skrywer die geleentheid om dit te bestudeer. In Suid-Afrika veral is ons baie ingestel op geweld; ons is deeglik bewus van die gruweldade wat deur misdadigers gepleeg word. Om sin te maak daaruit, wend ons ons tot kuns en fiksie. Vir my is dit egter belangrik dat die geweld en grusaamheid in my fiksie nie sinloos is nie. Dus poog ek om nie eendimensionele slagoffers te skep wat bloot daar is met die doel om doodgemaak te word nie. Slagoffers moet ’n stem hê sodat die leser die effek van die misdaad kan voel en met die slagoffer kan empatiseer.
............
Ek glo lesers lees graag misdaadfiksie omdat hulle geregtigheid wil sien geskied. Dit gebeur nie altyd in die werklike lewe nie. Verder glo ek lesers geniet dit ook om uit te pluis wie die skuldige(s) is. Daar was die afgelope jare ’n aansienlike verskuiwing in die misdaadfiksielandskap.
...............
Ek glo lesers lees graag misdaadfiksie omdat hulle geregtigheid wil sien geskied. Dit gebeur nie altyd in die werklike lewe nie. Verder glo ek lesers geniet dit ook om uit te pluis wie die skuldige(s) is. Daar was die afgelope jare ’n aansienlike verskuiwing in die misdaadfiksielandskap. Toenemend meer vrouens lees misdaadfiksie, en waar manlike skrywers jare gelede die toneel oorheers het, geniet veral vroulike lesers dit nou om ook boeke van vroueskrywers te lees. Vrouens is fyn ingestel op misdaad omdat hulle meer blootgestel voel en dikwels gebeure in misdaadfiksiestories met iets in hul persoonlike lewe vereenselwig.
Ek het nou-nou gevra oor die karakters en of jy hulle so volrond vir jouself uiteensit voor jy begin skryf. Wie se polsslag klop vir jou die hardste in hierdie verhaal – wie is jou karakters vir wie jy die meeste omgee?
Ongetwyfeld Marlia Heystek s’n. Van al die karakters wat ek nog geskep het, het sy die meeste deernis in my ontlok. Sy is ’n doodgewone mens, die spreekwoordelike “meisie van langsaan”. Hoewel sy besonder talentvol is, hou sy van die eenvoudige dinge in die lewe en haar bestaan wentel om haar kind. Marlia is ook ’n goeie voorbeeld van iemand wat haar lewe lank deur mense omring was, maar ondanks dit steeds eensaam is.
Die Alek Strauss-karakter sal my altyd na aan die hart lê. Ek dink nie almal verstaan hom dadelik nie. Hy is ’n antiheld en óók maar ’n produk van sy verlede, maar hy probeer homself voortdurend daaruit ophef en ’n beter mens wees. Sy groei as karakter is hopelik waarneembaar in Polsslag, en in boek drie sal ek wil hê hy moet ’n volronde karakter wees.
Ook die Ilse Liebenstein-karakter is vir my belangrik. Sy het eindelik heeltemal anders ontwikkel as wat ek aanvanklik met haar beoog het. Ilse het haarself geskryf. Dit was bevredigend om in Polsslag vir lesers ’n insig in haar psige en diepere wese óók te gee, van hoekom sy op sekere maniere optree.
Ek bly by die karakters in jou boek, want hulle is die mense wat die leser so betrokke maak by die storie. Ken jy sommige van hulle in die werklike lewe? En as jy hulle as skrywer leer ken het, voel jy of jy steeds ’n pad saam met hulle stap? Sowaar, dié boek se karakters het elk ’n polsslag en die leser voel dit aan.
My karakters is suiwer fiktief. Daar is natuurlik altyd iemand in ’n mens se lewe wat êrens ’n blywende indruk gelaat het. Van daardie persoon se eienskappe sal in die een of ander karakter gestalte vind. My karakters sal egter nooit op ’n enkele persoon gebaseer word nie, maar eerder ’n kombinasie wees van verskeie mense. Die res sal deur my verbeelding ingekleur word.
Ek sal ’n pad saam met die meeste van my karakters kan stap, ja. Ek probeer hulle só skep dat lesers hulle met hulle kan vereenselwig – karakters wat foute begaan en tekortkominge het, maar wat bereid is om daaraan te werk. Met draadwerk en al geniet ek dit om die Strauss- en Liebenstein-karakters te sien ontwikkel en elkeen se persoonlike reis mee te maak.
Het jy aan die begin van die verhaal reeds geweet wie die misdaad gepleeg het? En die titel van die boek?
Met Polsslag het ek vooraf besluit dit gaan nie ’n “whodunnit” wees nie, maar dat ek die leser in die moordenaar se kop wil plaas. Al hoe ’n skrywer dit regkry, is om intensief oor werklike moordenaars en psigopatie te gaan nalees.
..........
Met Polsslag het ek vooraf besluit dit gaan nie ’n “whodunnit” wees nie, maar dat ek die leser in die moordenaar se kop wil plaas. Al hoe ’n skrywer dit regkry, is om intensief oor werklike moordenaars en psigopatie te gaan nalees.
.............
Ek het ’n redelik goeie idee gehad van wat die antagonis moet wees, hoewel hy ook maar saam met die storie en intrige ontwikkel het. Eindelik het ek met ’n baie meer komplekse karakter geëindig as waarmee ek begin het.
Ek begin gewoonlik skryf met ’n voorlopige titel in gedagte, want ek kan nie die teks neerpen voor ek nie ’n titel boaan my dokument het nie. Dit verander later, gewoonlik waar een van die karakters die perfekte iets sê of doen wat lewe gee aan die titel. In hierdie trilogie het ek besluit al drie titels gaan uit agt letters bestaan en daar sal woordspeling in elkeen wees. Roofdier is voor die hand liggend, maar dit sinspeel ook op mense wat mekaar meedoënloos uitbuit. By Polsslag het dit oor die slagoffer se polsslag gegaan wat stil raak, maar die titel impliseer ook die wyse waarop die moordenaar sy slagoffers skend. Oor boek drie se titel gaan ek nie nou iets verklap nie, behalwe dat dit weer uit agt letters sal bestaan.
Lees ook: