Buit: ’n onderhoud met Dibi Breytenbach

“Die skryf van Buit was tot ’n baie groot mate vir my ’n herkalibrering van my Afrikaanskap. Ek dink dat die pennie, soos die Engelse sê, na ’n geleidelike ontwaking vir die eerste keer behoorlik gedrop het dat ek ook ’n deel van hierdie kontinent is. Hoe meer ek geskryf het, hoe kwater het ek geword. Vir die eerste keer het die diepte van die skade wat deur kolonialisasie aan die kontinent aangerig is en steeds aangerig word, tot my merg deurgedring.”