Buit: ’n onderhoud met Dibi Breytenbach

  • 0

Foto van Dibi Breytenbach: Izak de Vries; foto’s van die Toyota US Woordfees-logo's: https://woordfees.co.za/

Buit
Dibi Breytenbach
Kwela
ISBN: 9780795710605 

Dibi Breytenbach praat met Naomi Meyer oor Dibi se jongste boek, Buit.

Dibi, baie geluk met die verskyning van hierdie bloedstollende boek. Hoe het Buit oor jou pad gekom?

Ter agtergrond: Ek móét skryf. Dit is nie elke dag vir my ewe lekker nie, maar vir almal in my omgewing se sieleheil is dit maar beter dat ek aan’t skrywe bly. Veral my gesin verkies dit so, omdat ek andersins vir hulle werk uitdink om te doen. Of ’n algemene irritasie raak. Of so iets. Daar is baie waarheid in die ou uitdrukking dat ledigheid die duiwel se oorkussing is.

Toe ek derhalwe destyds klaar was met Stom gode, het ek begin karring aan ’n manuskrip waarin die karakter Sombra die hoofrol sou speel. Lesers wat Stom gode gelees het, sal onthou dat hy aan die einde van die roman oor die grens na Mosambiek vlug om vervolging vir ’n misdaad wat hy in KwaZulu-Natal gepleeg het, vry te spring. Ek het beplan om die storie van sy lewe in Mosambiek verder te neem. Hoekom ek dit aan myself gedoen het, weet nugter alleen, want ek was in my hele lewe nog nooit daar nie en moes geweldig begin oplees oor die land.

Min of meer dieselfde tyd – terwyl ek reeds besig was met navorsing vir die nuwe roman – het die insurgensie in Mocimboa da Praia in Augustus 2020 gebeur. Dit was uiteindelik die prikkel wat die roman gelei het na die storie soos hy nou daar uitsien. Destyds was daar – en daar is nog steeds - gerugte van ISIS-betrokkenheid by die insurgensie in omloop. Verder was daar, sover my kennis strek, nog nie eintlik iets oor die konflik geskryf nie en die djihadistiese element was vir my besonder interessant. Ek het begin oplees en navorsing doen en die storie het maar van daar af sy loop geneem en organies in regte tyd parallel met die gebeure in Mosambiek ontwikkel.

............
Ek het begin oplees en navorsing doen en die storie het maar van daar af sy loop geneem en organies in regte tyd parallel met die gebeure in Mosambiek ontwikkel.
.............

Hoe het jy jou navorsing oor Mosambiek gedoen?

Die kanse dat ek ooit in Mosambiek sou uitkom, was besonder skraal. Ek moes alles gaan navors, van hoe die paaie lyk tot watse klere die mense daar dra. Ek het aanvanklik vreeslik baie opgelees – of altans, probeer oplees – oor die land, en spesifiek die noordelike Cabo Delgado-provinsie. Ek het egter gou agtergekom dat kontemporêre inligting oor die area en spesifiek die insurgensie maar skraps was, aangesien die Mosambiekse regering op daardie stadium – ek dink dit is nog steeds die geval – joernaliste die area verbied het en hulle selfs in die tronk gegooi het. Daarby is radio- en televisiestasies ook gesluit.

Beskikbare informasie op die internet was net so yl. Ek kon byvoorbeeld vir ’n hele paar maande nie ’n Google Maps-soektog doen oor die kusdorp Palma en die aangrensende Total-gasinstallasie by Afungi nie, want die gebied was uitgeblok gewees – ek neem aan om sekuriteitsredes. Of Google het ook gesukkel om uit te pluis waar die plek is. (Ek terg.) Wat ook al die rede daarvoor was, dit was ’n enorme frustrasie. Ek het dit selfs op ’n stadium oorweeg om maar die manuskrip te laat vaar as gevolg van die gebrek aan inligting. En ek wou nie ’n storie uit my duim suig nie, want die omgewing en die konflik waaroor ek geskryf het, was nie fiktief nie. Daarby het ek ook niks geweet van privaat militêre kontrakteurs, insurgente of buitelandse hulporganisasies nie, en van joernalistiek nog minder.

............
Gelukkig beskik ek oor ’n besonder sterk masochistiese ingesteldheid. Ek is ook verskriklik nuuskierig. Die twee eienskappe saam is ’n dodelike kombinasie wat vir eindelose slapelose nagte sorg.
.............

Gelukkig beskik ek oor ’n besonder sterk masochistiese ingesteldheid. Ek is ook verskriklik nuuskierig. Die twee eienskappe saam is ’n dodelike kombinasie wat vir eindelose slapelose nagte sorg. En ek beskik ook oor ’n goeie skeut vermetelheid. Ek glo aan vra. As die persoon vir wie jy vra, vir jou nee sê, is jy nie slegter af as voordat jy gevra het nie. En as die persoon ja sê, is jy beter daaraan toe. Ek het besluit om te gaan soek na mense wat kennis van die area het. Uiteindelik het ek op die spoor kon kom van ’n paar engele sonder wie se hulp Buit nooit sou gebeur het nie.

Die storie het vlerke gekry toe ek kontak maak met Hendrik Hancke van Rapport. Hy was een van die eerste joernaliste wat destyds oor die moontlike ISIS-betrokkenheid by die insurgensie in Mocimboa da Praia geskryf het. Ek het hom uit moedeloosheid gekontak op ’n stadium toe ek gereed was om tou op te gooi en hom gevra of hy iemand ken wat iets weet van Mosambiek af wat bereid sal wees om met my te praat. Hy het my verwys na Joe van der Walt van Focus Group. Joe is ’n internasionaal gerekende kundige oor die veiligheidsituasie in Mosambiek.

Sy hulp was onontbeerlik en het gehelp om aan Buit die realisme te verleen wat dit het. Hy en die mense wat daar vir hom werk, het my deurlopend voorsien van kaarte, leesstukke, Go Pro-video’s, foto’s, video’s en dies meer. Daarby het hulle ook baie van die tonele wat ek geskryf het, nagegaan vir feitelike korrektheid. Joe het my ook gehelp om die omgewing van Cabo Delgado akkuraat te beskryf, met sensoriese waarnemings soos reuke en temperatuur, voëlgeluide en dies meer. Baie van die dinge waaroor ek in Buit geskryf het, is in regte tyd geskryf parallel met die gebeure daar danksy die inligting wat Focus Group aan my verskaf het.

Wat die hoofkarakter, Markus Gerlach, se geskiedenis as verkennersoldaat betref, het ek die hulp van twee legendariese voormalige verkennersoldate, of recce’s, soos hulle in die volksmond bekend staan, oudmajoor Jack Greeff en oudluitenant Menno Uys (onderskeidelik van 1 en 5 VK), gehad. Jack was ook die sektorveldwagter van die Nwanetsi- en Letaba-areas van die Krugerwildtuin. Sy kennis oor die gebied het baie gehelp met die beskrywings van Markus Gerlach se wilde vlugtog deur die wildtuin en die suidelike dele van Mosambiek.

..........
Tussen Jack en Menno het ek geweldig baie geleer, nie net oor boskuns of operateurstrategieë nie, maar ook die soort inligting gekry wat ’n mens nie in boeke kry nie. Hoe dit voel om alleen vir weke op jou eie in ’n vyandige omgewing te werk, hoe ’n mens die spanning en verveling wat daarmee gepaardgaan, verwerk. Hoe dit voel om met ’n valskerm uit ’n vliegtuig die nag in te spring sonder om te weet of jy veilig gaan wees as jy geland het.
.............

Tussen Jack en Menno het ek geweldig baie geleer, nie net oor boskuns of operateurstrategieë nie, maar ook die soort inligting gekry wat ’n mens nie in boeke kry nie. Hoe dit voel om alleen vir weke op jou eie in ’n vyandige omgewing te werk, hoe ’n mens die spanning en verveling wat daarmee gepaardgaan, verwerk. Hoe dit voel om met ’n valskerm uit ’n vliegtuig die nag in te spring sonder om te weet of jy veilig gaan wees as jy geland het. Menno, wat tans in Nigerië werk, het my ook op die spoor gebring van Ayelala, die Yoruba-godin wat in Buit ’n kardinale rol speel.

Wat betref die akademiese agtergrond waarop Buit betrekking het, was ek gelukkig om die hulp van die formidabele verdedigingskonsultant en medeskrywer, Helmoed-Römer Heitman, te kon hê. Benewens sy kennis van die militêre en politieke omgewing het hy ook ’n ongelooflik skerp oog vir perspektief. Hy het baie gehelp om tonele wat andersins kontensieus kon gewees het, in die konteks van die insurgensie so te plaas dat dit sinvol met die res van die storie versmelt het.

Afgesien van dié menere se hulp (ek dink hulle slaak almal ’n sug van verligting dat die boek uiteindelik op die rakke is, aangesien ek hulle geteister het met navrae) het ek ook hulp van mense in die wêreld van privaat militêre kontrakteurs gehad. Hulle verkies om anoniem te bly. Dié here het my op die spoor van die uitbuiting van die mense van Afrika gesit as gevolg van die eerstehandse ondervinding wat hulle in baie van die konflikgeteisterde gedeeltes van die kontinent gehad het. Ek het dit opgevolg met leeswerk.

Uiteindelik was die navorsing ’n mengsel van persoonlike onderhoude met kundiges, leeswerk en aanlyn navorsing.

’n Wit skrywer wat oor konflik in Afrika skryf is ’n waagstuk. Waar kom jou karakters vandaan?

Die skryf van Buit was tot ’n baie groot mate vir my ’n herkalibrering van my Afrikaanskap. Ek dink dat die pennie, soos die Engelse sê, na ’n geleidelike ontwaking vir die eerste keer behoorlik gedrop het dat ek ook ’n deel van hierdie kontinent is. Hoe meer ek geskryf het, hoe kwater het ek geword. Vir die eerste keer het die diepte van die skade wat deur kolonialisasie aan die kontinent aangerig is en steeds aangerig word, tot my merg deurgedring. Trevor Noah stel dit goed – dat ons vir ’n baie lang tyd in Africa Lite gebly het. En dat ’n mens met die skryf van ’n boek soos Buit by Afrika proper ingelyf word.

............
Die skryf van Buit was tot ’n baie groot mate vir my ’n herkalibrering van my Afrikaanskap. Ek dink dat die pennie, soos die Engelse sê, na ’n geleidelike ontwaking vir die eerste keer behoorlik gedrop het dat ek ook ’n deel van hierdie kontinent is. Hoe meer ek geskryf het, hoe kwater het ek geword. Vir die eerste keer het die diepte van die skade wat deur kolonialisasie aan die kontinent aangerig is en steeds aangerig word, tot my merg deurgedring.
..............

Buit het heelwat karakters – meer as wat ek aanvanklik gedink het daar gaan wees! Die vroulike hoofkarakter, Phoebe Maritz, lê my nogal na aan die hart. Sy is ’n vrou met bagasie. In haar jonger dae was sy morbied vet gewees. Dit het haar sosiaal onbeholpe gelaat. Ongeveer twee jaar voor die gebeure in Buit het sy begin draf. Teen die tyd dat die verhaal begin, is sy klein en skraal. Dit bots met haar verterende ambisie om ’n gerekende joernalis te word, want almal onderskat haar. Sy word aangespreek as “skattebol” en “sweetheart” en word veral deur mans gering geag. Hoe sy die chauvinisme oorkom om uiteindelik die storie van ’n leeftyd te skryf, vorm ’n groot deel van die verhaal. Ek het baie deernis vir vrouens wat hulle vrou staan in ’n manswêreld – miskien omdat ek dit self vir ’n baie lang tyd gedoen het.

Ek het ook ’n baie sagte plekkie vir Markus Gerlach. Net soos Phoebe is hy iemand met ’n geskiedenis – ’n oudverkenningsoldaat wat teenstropingswerk op kontrakbasis in die Krugerwildtuin doen. Markus probeer, net soos baie Afrikaanse mans van sy generasie, vir hom ’n nis uitkerf in ’n vinnig veranderende Suid-Afrika, ’n situasie wat hom verwar: “Hy is van verbygaande aard. Die laaste geslag van Afrika se laaste pioniers. So het hy geleer. Of koloniste. So het hy gehoor.” Markus is ’n edel, anachronistiese siel wat probeer om die regte ding te doen in ’n omgewing waar gawe ouens tweede kom.

Ek het ook ’n besondere, baie spesiale sagte plek vir Domingos Magadzi, Markus se vriend en vertroueling uit die Bosoorlog. Domingos is ’n Mosambieker wat nog al die jare aan Markus se sy is. Hy is ongelooflik lojaal, is Markus se regterhand en sielebroer. Hierdie vriendskap is geskoei op soortgelyke vriendskappe wat werklik bestaan en aan my beskryf is. Nog een van die talle teenstrydighede van Afrika.

’n Karakter wat vir my baie interessant was om te skryf, was die sadistiese reeksmoordenaar Krúk. Hy is eintlik ingeskryf as metafoor vir die verwoesting van Afrika en die geringskatting van Afrika se mense deur die magtige lande van die wêreld. Hy is geskoei op kannibalistiese Amerikaanse reeksmoordenaars soos Jeffrey Dahmer en Ed Gein. Ek het heelwat leeswerk oor dié onderwerp moes doen en my gehou by wat Robert Ressler en John Douglas van die FBI, wat pioniers op die gebied van kriminele profilering was, gesê het: Om suksesvol met of oor ’n reeksmoordenaar te kommunikeer, moet jy dink soos wat hý dink, nie soos wat jý dink nie. Alhoewel dit ’n besonder donker ondervinding was, dink ek tog dat dit gewerk het wat betref die karakter wat ek geskep het.

...............
Om suksesvol met of oor ’n reeksmoordenaar te kommunikeer, moet jy dink soos wat hý dink, nie soos wat jý dink nie. Alhoewel dit ’n besonder donker ondervinding was, dink ek tog dat dit gewerk het wat betref die karakter wat ek geskep het.
................

Paul Fryer was net so interessant om te skryf, hoofsaaklik as gevolg van die fassinerende navorsing wat ek oor hom moes doen. Hy is ’n privaat militêre kontrakteur, en dis ’n wêreld wat vir die meeste van ons oningewydes maar bra opaak en grys is. Ek was bevoorreg genoeg om te kon gesels met mense wat hierdie soort werk regoor Afrika doen, en was getref deur die bykans amorele pragmatisme wat daarmee gepaard gaan. En tog ook deur die groot hoeveelheid goeie werk wat onder die radar deur dié mans – omtrent almal van hulle is mans – gedoen word.

 Dan is daar die geradikaliseerde djihadiste uit Croydon. Om hulle karakters effektief te kon skets, moes ek geweldig gaan oplees oor die radikalisering van veral jong mans in Westerse lande. Dit was op sy eie ’n ontstellende reis, omdat dit so maklik gebeur en verwarde jongmense uiteindelik vir ideologiese doeleindes deur siniese fundamentaliste misbruik word. Daar is ’n toneel in Buit waar ’n ontvoerde gyselaar om die lewe gebring word. Dit word verfilm vir latere verspreiding op die internet. Dié toneel is ontleen aan ’n werklike ISIS-insident, en die toespraak wat daar gelewer word, is geskoei op die een wat tydens die teregstelling van die Amerikaanse joernalis James Wright Foley die wêreld ingestuur is.

Wat kon jy uitvind van die situasie in Mosambiek – en hoe dit nou daar lyk?

Danksy die konstante inligting wat ek van Joe af ontvang het, het dit gou vir my duidelik geword dat die situasie in Mosambiek onderskat word en hopeloos onderspeel word deur die res van die wêreld, insluitend Suid-Afrika. Daar word al sedert 2017 deur ortodokse imams in die omgewing van Mocimboa da Praia en Palma alarm gemaak oor djihadistiese elemente wat vreemd aan die omgewing is. Die regering in Maputo het die inligting tot 2020 doodgesmoor. Die aanval op Mocimboa da Praia het die bedreiging vir die eerste keer wêreldkundig gemaak. Selfs toe was die regering se reaksie ontoereikend. Die insurgente was meer, beter bewapen en beter gedissiplineer as die regeringstroepe. Soldate wat veronderstel was om die dorp te beskerm, is letterlik die see ingedryf en moes daar gered word.

Die insurgente is goed georganiseerd en strategies berekend. Die inval in Palma in Maart 2021 was uiters goed beplan. Insurgente het die distrik weke voor die tyd binnegesypel en wapens en toerusting in en rondom die dorp versteek. Toe die oomblik aanbreek, is die dorp gelyktydig van binne en buite sowel as die see aangeval. Helikopters van die Dyck-groep, wat op daardie stadium ’n kontrak met die Mosambiekse Polisiemag gehad het om te help om die insurgensie onder bedwang te bring, is aangewend om oorlewendes te red aangesien die Mosambiekse regering nie oor die kapasiteit beskik het om dit te doen nie.

Wat ook duidelik geword het, is dat die oorsake van die insurgensie nie alleen in fundamentalisme gevind kan word nie. Die mense van die omgewing is tot ’n baie groot mate die slagoffers van siniese kommersiële uitbuiting en ontoereikende regeringsbeleid – amper soos die seerowers in Somalië wat vissermense was voordat die oseaan in en om die Golf van Aden so leeggevang is deur buitelandse vistreilers dat die Somaliërs hulle tot seerowery moes wend om ’n bestaan te maak.

..............
Wat ook duidelik geword het, is dat die oorsake van die insurgensie nie alleen in fundamentalisme gevind kan word nie. Die mense van die omgewing is tot ’n baie groot mate die slagoffers van siniese kommersiële uitbuiting en ontoereikende regeringsbeleid – amper soos die seerowers in Somalië wat vissermense was voordat die oseaan in en om die Golf van Aden so leeggevang is deur buitelandse vistreilers dat die Somaliërs hulle tot seerowery moes wend om ’n bestaan te maak.
................

Daar is geweldig groot olie- en gasontwikkelings in die omgewing van Palma wat veronderstel is om miljarde dollar die land te laat invloei. Bitter min, indien enige van daardie geld vind sy pad terug na die mense van Cabo Delgado. Min mense is bewus van die gedwonge verskuiwings wat met die ontwikkelings gepaardgaan. Van hierdie vissermense word kilometers die binneland in geskuif, wat hulleuiteindelik ontneem van die vermoë om vir hulleself te sorg en in baie gevalle hoegenaamd te oorlewe. Die vlieënier in Buit, Alberto Monteiro, stel dit só: “As ek ’n Makhuwa of ’n Mwani was wat doodgaan van die honger omdat buitelanders en politici my lewe onder my uitsteel, sou ek ook die moer in gewees het.”

Ek het ook ontdek dat die insurgente beweeglik is. Toe ek twee jaar gelede aan Buit begin werk het, was die aanvalle gesentreer in die omgewing van die Mosambiek-Tanzaniese grensgebied. Deesdae gebeur dit etlike kilometers weg van die Pemba – omgewing naby Matoro, meer as 400 km suid. Deesdae gebeur dit in die Pemba-omgewing, meer as 400 km suid. Wat ook duidelik is, is dat die Suid-Afrikaanse regering hopeloos swak ingelig is of doelbewus die erns van die insurgensie verswyg. Op 18 Augustus verklaar president Ramaphosa in die parlement dat hy bly is om te sien dat die situasie in Cabo Delgado verbeter het. Dié sentiment word  ’n week later deur ons minister van buitelandse sake, Aaron Motsoaledi, geëggo. Die waarheid – en dit kom van inligting op grondvlak – is egter dat niks verbeter het nie. Inteendeel. Die aanvalle eskaleer. Die jongste insident waarin burgerlikes vermoor is en infrastruktuur verwoes is deur insurgente met ISIS-identifikasiemerkers, was op 16 September in die Nangade-provinsie.

Na twee weke – twéé weke – van gewelddadige insidente in Nampula, val IS-Moz (ISIS Mosambiek) op 15 September 2022 ’n FADM – pos (FADM: die Mosambiekse Verdedigingsmag) in Nkoe in die Macomia distrik aan. Sestien soldate word gedood en ’n groot hoeveelheid wapens en ammunisie word gebuit. Die volgende dag aanvaar IS-Moz verantwoordelikheid en publiseer hulle ’n hele aantal foto’s aanlyn. Ek het van die foto’s gesien en die skokwaarde bly groot.

Die onmiddellike voorspelling is dat aanvalle in die volgende weke gaan voortduur in ’n hele aantal distrikte in Cabo Delgado, juis as gevolg van die insurgente se hoë mobiliteit in die omgewing. En daarvan lees ’n mens omtrent niks in die koerante nie, omdat die Mosambiekse regering nog steeds probeer om óf die inligting te smoor, óf ’n alternatiewe narratief daar te stel.

Watter dele van die storie het jy vooruit geplot en wat het organies gebeur?

Die grootste gedeelte van die boek het organies gebeur – en dit was die rede hoekom ek sekere dele omtrent vyf honderd miljoen keer moes oorskryf. Net sodra ek reg was om die manuskrip voor te lê vir keuring, het daar iets nuuts in Mosambiek gebeur wat die storielyn beïnvloed het. As ek nou deur die boek blaai, wonder ek self hoe ek kopgehou het. Wat wel gewerk het, is skemas en kleure, maar ook net tot op ’n punt. En baie, baie ure. Daarby het ek myself vreeslik met die karakters, die land en die storie betrokke gevoel. Buit was ’n vreeslik intense skryf omdat dit so met een voet in die werklikheid staan. Die skeidslyn tussen storie en werklikheid het naderhand so vervaag dat dit eintlik ongesond was.

..........
Buit was ’n vreeslik intense skryf omdat dit so met een voet in die werklikheid staan. Die skeidslyn tussen storie en werklikheid het naderhand so vervaag dat dit eintlik ongesond was.
..............

Het die feit dat aspekte van die Mosambiek-gebeure op die werklikheid gegrond was, sake vir jou vergemaklik?

Ja en nee. Die storie self is fiksie. Die agterdoek is feit. Dit was vir my belangrik om die verhaal so na aan die waarheid te hou as wat ek kon omdat ek ’n verantwoordelikheid gevoel het teenoor die mense wat deur daardie verskriklike geweld geraak word. Hulle lewens het nie duimsuigery nodig nie.

..............
Ja en nee. Die storie self is fiksie. Die agterdoek is feit. Dit was vir my belangrik om die verhaal so na aan die waarheid te hou as wat ek kon omdat ek ’n verantwoordelikheid gevoel het teenoor die mense wat deur daardie verskriklike geweld geraak word. Hulle lewens het nie duimsuigery nodig nie.
...............

Die proloog van Buit is byvoorbeeld geskoei op ’n video van ’n werklike teregstelling in Cabo wat op die gekonfiskeerde selfoon van ’n machababo, of insurgent, gevind is. Ek het dit ingeskryf as ’n blyk van respek aan die vrouens en kinders wat in daardie voorval doodgeskiet is. Ek het gevoel dat hulle nie vergeet mag word nie en ek voel steeds so. Ek kon die voorval egter ook haak aan die karakter van Chupa-sangue, wat ’n groot gedeelte van die storie uitmaak en hulle relevansie uitbrei na die res van die verhaal. Die voorval word byvoorbeeld opgehaal wanneer die militêre kontrakteurs daarna verwys wanneer hulle na spore gaan soek in die dorpie waar nog ’n liederlike moord plaasvind, en word geëggo wanneer vyf meisies in ’n inisiasieskool aangeval word.

Soos ek ook reeds gesê het, het die werklikhede – my eie en die storiewerklikheid – naderhand so met mekaar verstrengel geraak dat dit ongesond geraak het. Buit is grootliks in die nag geskryf wanneer ek my besig gehou het met die oorlogsgebeure. In die dag het ek voortgegaan met my eie werk, wat noue kontak met die slagoffers van ernstige en geweldsmisdrywe behels. Op ’n manier was daar ’n wisselwerking tussen die twee werklikhede wat ek dink bygedra het tot realistiese aard van die storie.

..............
Buit is grootliks in die nag geskryf wanneer ek my besig gehou het met die oorlogsgebeure. In die dag het ek voortgegaan met my eie werk, wat noue kontak met die slagoffers van ernstige en geweldsmisdrywe behels. Op ’n manier was daar ’n wisselwerking tussen die twee werklikhede wat ek dink bygedra het tot realistiese aard van die storie.
...............

Van die donker ure was baie ontstellend omdat ek die realiteit van die oorlog baie naby aan myself ervaar het. Ek is vertroud met die misdaadlandskap. Oorlog is ’n milieu wat vir my vreemd is. Ek het enorme respek ontwikkel vir mense wat pal in hierdie omgewing werk. Behalwe inligting soos die video waarvan ek hier bo melding maak, is ’n verdere voorbeeld die nag van 23 tot 24 Maart 2021 toe Palma tot ’n val gekom het. Ek het toegang gehad tot die Mozambique Hotline wat Focus Group begin het om inligting oor die situasie in Cabo Delgado aan veiligheidsgroeperinge te kommunikeer. Toe die aanvalle op Palma begin, het mense daar die groep gebruik om kollegas en familielede te soek. Die angs en spanning wat dié mense deurgegaan het, was skrikwekkend om te hoor.

Die onvoorspelbaarheid van die situasie in Cabo het egter die organiese vloei van die verhaal befoeter. Soos ek reeds gesê het, moes ek die manuskrip ’n hele paar keer oorskryf. Net sodra ek gedink het dat ek die storie min of meer keuringsgereed het, sou iets gebeur wat die storielyn heeltemal omverwerp en eintlik onmoontlik maak. En hoe meer ek geskryf en geleer het, hoe belangriker het dit vir my geraak om dit lewensgetrou te skryf. Die hele proses was ’n enorme leerkurwe waarvoor ek baie dankbaar is.

Hoe kry jy dit reg om te skryf tussen jou werk en jou gesin deur?

Soms wonder ek self! As ’n mens nie tyd maak vir skryf nie, sal daar nie tyd wees nie. Ek skryf gewoonlik tussen twee-uur en sesuur in die oggend en probeer ongeveer 2 000 woorde in daardie tyd pen. Mense vra my gereeld hoe ek dit regkry om so in die nag te werk. Al wat ek kan sê, is dat ek nie baie slaap nie. My hele familie sukkel met slaaploosheid – pa, ma, sibbe – en nou sien ek, tot my groot ontsteltenis, my dogter ook. En dan staan ek maar op en skryf. Dit is in elk geval baie meer uitputtend om rond te rol as wat dit is om iets te gaan doen. So teen die tyd dat die son opkom en almal ’n mens se aandag nodig het, is die skryfwerk afgehandel.

Help ’n storie om die waarheid te verwerk?

Ek weet nie. Ek sukkel geweldig om Buit uit my gestel te kry, baie meer as die vorige twee trilogieë. Die probleem met hierdie waarheid vir sover dit op die storie betrekking het, is dat daar nie ’n einde is nie. Dinge in Mosambiek hou aan en aan gebeur. By herhaling. En die onmenslikheid raak vir my ook erger. So ja, ek kan nie regtig sê nie.

Jou storie lewer kommentaar op stories. Het jy ook hieroor nagedink toe jy geskryf het?

Miskien onbewustelik. Buit se navorsing was vir my ’n openbaring in dié opsig dat ek verskriklik diep gedelf het in die feite wat heeltemal buite my verwysingsraamwerk was en dit die gordyn gelig het oor ’n agterdoek waarteen ek as skrywer eintlik aanvanklik baie selfvergenoegd geskryf het.

..........
Buit se navorsing was vir my ’n openbaring in dié opsig dat ek verskriklik diep gedelf het in die feite wat heeltemal buite my verwysingsraamwerk was en dit die gordyn gelig het oor ’n agterdoek waarteen ek as skrywer eintlik aanvanklik baie selfvergenoegd geskryf het.
..............

Die Engelse praat van “self-indulgence”. Verwaand, miskien, want die storie is mos ver en die karakters denkbeeldig. Die manuskrip het egter vir my evangelie geleer. Soms moet ’n mens nie te veel weet nie. Ek het my voorgeneem om my in die toekoms op romanses toe te spits.

Jy skryf in jou erkennings oor kerkbasaars. Wil jy iets daaroor sê?

Ek gesels graag oor kerkbasaars. Daar is iets aan die geure en klanke daarvan wat ’n mens terugneem na ’n eenvoudiger tyd, ’n tyd van minder dringende behoeftes. Die geur van kaneel by die pannekoektafel. Die tannies wat gesels oor ’n koppie tee met ’n stuk tuisgebakte koek in ’n kleinbordjie met ’n silwer koekvurkie wat uit die kerk se kombuis kom. Die lekkergoedtafel met sy fudge, klapperys en tuisgemaakte limonade. Gekleurde springmielies. Die ooms wat by die braaivleis- en potjiekosvure staan en alles bespreek van die land se politiek tot die prys van saadmielies en wanneer dit eendag gaan reën. Sakkie-sakkie-musiek in die agtergrond. Die geur van houtrook. Tombola. Skyfskiet. ’n Vet ponie wat met ’n leiriem aan ’n halter om en om die kerksaal gelei word en waarop net die heel kleinstes mag ry. En die poedingtafel. Daar is iets aan basaarpoeding wat ’n mens nêrens anders kry nie. Reënboogjellie saam met malvapoeding in ’n wit polistereenbakkie met custard oor. Regte, dik, eerlike custard met klonte in ’n glasfles met ’n tjip uit sy oor, goud en glansend sonder die selfbewuste oorsoet loperigheid van boksievla. Daar is iets vlietends en nostalgies aan ’n kerkbasaar. En hartseer. Want die tannies word ouer en die ooms gaan dood en die kinders gaan weg. Vir hoe lank ons nog die vreugdes van ’n plattelandse basaar gaan ervaar, is ’n ope vraag. Maar tot dan ondersteun ek elkeen wat ek kan.

Jy en Irma Venter is by die Woordfees, is ek reg?

Jip, ek en Irma Venter – ons twee Misdaadsusters, sien ek – gesels op 14 Oktober om 16:00 oor ons boeke met Nadine Petrick. Ek sien verskriklik uit daarna. Ek en Irma het al baie gesels, maar mekaar nog nooit ontmoet nie. Ek het enorme waardering vir haar werk en sien uit na ’n heerlike kuier. Ek sien net so uit daarna om die Kaapse lesers te ontmoet. Dit gaan wonderlik wees!

Irma Venter en Dibi Breytenbach praat in Misdaadsusters op 14 Oktober 2022 om 15:30 in die Boektent met Nadine Petrick oor hul jongste boeke.

Lees ook:

Moerstaāl: ’n gesprek met Loit Sōls

Toyota US Woordfees 2022 is "Wild": ’n onderhoud met Saartjie Botha

Kaap: ’n onderhoud met Hans Pienaar

Senekal: Vigilantes, speurders en die stadige aksie van regsake

Buit deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

Die verkeerde vrou: ’n onderhoud met Irma Venter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top