Buit deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

  • 0

Buit
Dibi Breytenbach
Kwela
ISBN: 9780795710605 

“When plunder becomes a way of life for a group of men living together in society, they create for themselves in the course of time a legal system that authorizes it and a moral code that glorifies it.” – Frėdėric Bastiat, The law (6).

Quissengue, Mosambiek. Dertien vrouens en kinders word koelbloedig deur die machababo’s, terroristebendes bestaande uit ’n mengelmoeskardoes van plaaslike insurgente, buitelanders, djihadiste en opportunistiese misdadigers vermoor.

Die Krugerwildtuin, Suid-Afrika. Markus Gerlach en Domingos Magadzi, sekuriteitsoperateurs op ’n teenstropingspatrollie, is betrokke in ’n skietvoorval. Drie lyke later vlug hulle te voet na die Mosambiekgrens, 30 kilometer daarvandaan, uit vrees dat hulle andersins weens moordaanklagte onwillige gaste van die Suid-Afrikaanse Departement van Korrektiewe Dienste sal word, en van verblyf in Afrika-tronke het hulle oorgenoeg gehad.

Scottville, in die noorde van Suid-Afrika. Phoebe Maritz is besig om haarself en haar loopbaan te herdefinieer: “Na ’n leeftyd van vet en onsigbaar wees, is sy dun” (10). As plattelandse verslaggewer by die Scottville Herout is haar hoop op daardie een, groot storie wat haar immer ontwyk. Op persoonlike vlak lyk die toekoms ook belowend: Sy het ’n afspraak met ’n aantreklike man by die plaaslike Pig ’n Whistle. Ene Markus Gerlach.

Moronimasi, Mosambiek. Noah Johnson is kriewelrig. Die opdrag wat hy en sy span kontrakteurs van International Strategic Solutions ontvang het, was eenvoudig: die beveiliging van hulle kliënt, ’n Amerikaanse filantroop wat ’n superkerk in Dallas verteenwoordig. Maar in plaas van verblyf in ’n hotel in die toeristemekka Palma bevind hulle hulle nou in hierdie spookdorp suidwes daarvan, sonder elektrisiteit en met slegs bouvalle, ’n plaaslike dronklappolisiebeampte en ’n maer straatbrak as geselskap. Sy tweede in bevel, Thad Zaleski, het boonop ontydig siek geword en moes in ’n kliniek opgeneem word, en gerugte dat die gevreesde machababoleier, Chupa-sangue, die drinker van bloed, met die een oog en die swart tande, en sy bende in die omgewing terreur saai, dra geensins by tot sy gemoedsrus nie.

Net buite Scottville. ’n Egpaar is gyselaars in die kloue van drie ekstremiste wat Suid-Afrika vanuit Londen onwettig via Maputo binnegesluip het. Mehdi, weliswaar in ’n mate aan die wroeg met sy gewete, en Ayesha is bereid om te doen wat ook al deur die imam  vereis word; enigiets vir die herstel van die Kalifaat se grondgebied in Sirië en Irak en die opkoms van die Islamitiese Staat. Ishmael se motiewe is minder edel – sy sadistiese streep wat hom reeds as kind diere laat martel het, jubel in die teenwoordigheid van potensiële marteling en bloed wat vloei.

Cabo Delgado, Mosambiek. Krúk kan slegs vaagweg ’n tyd onthou toe hy homself as menslik beskou het, voordat die adder in sy kop hom tot ’n kannibalistiese reeksmoordenaar gereduseer het. ’n Ylbevolkte gebied waar lyke ’n alledaagse gesig is, is die ideale jagveld vir hom: “Want die area is steriel geskiet ná die jarelange burgeroorlog” (57). Onsigbaar, versteek, wag hy sy kans af vanuit die skadu’s.

............
In hierdie hardebaard Afrika-spanningsroman word al die bovermelde drade geleidelik ineengevleg; die hoofstukke is kort en die pas moordend vinnig.
..............

In hierdie hardebaard Afrika-spanningsroman word al die bovermelde drade geleidelik ineengevleg; die hoofstukke is kort en die pas moordend vinnig. Die tegniek om verskeie hoofkarakters in verskillende situasies beurtelings aan die leser bekend te stel het tot gevolg dat daar nie werklik ’n sentrale hoofkarakter is nie; die leser is ewe betrokke by verskeie karakters en dus ewe geïnteresseerd in al die oënskynlik losstaande storielyne.

............
Die ruimte waarbinne die roman afspeel, is uiters relevant. Dit beskryf die tragedie van ’n Afrika verkrag en beroof deur buitelanders; ’n 21ste-eeuse verskroeide-aarde-kolonisasie.
..............

Die ruimte waarbinne die roman afspeel, is uiters relevant. Dit beskryf die tragedie van ’n Afrika verkrag en beroof deur buitelanders; ’n 21ste-eeuse verskroeide-aarde-kolonisasie: “Dis soos die Wilde Weste. Die mense is soos hiënas om ’n karkas. Plunder. Enigiets het ’n prys: hout, renosterhoring, olie, robyne. Almal roof saam. Amerikaners, Italianers, die Franse” (153). ’n Suid-Afrikaanse lid van Johnson se eenheid stel dit onomwonde: “Die wêreld is skynheilig oor Afrika ... Die mense van Afrika word hoogstens voorwaardelik gehelp ... Alles onder die voorwendsel dat dié mense hulp nodig het. Hulle gaan nog steeds dood van die honger. Die enigste verskil is dat hulle die vermoë en hulpbronne verloor om vir hulleself te sorg. Soos kinders, vir altyd afhanklik van ’n groter broer om hulle te help” (240).

Die ironie van sy optrede teenoor die straatbrak, simbolies van sy bovermelde tirade, is opvallend. Tydens hulle verblyf in Moronimasi gee hy aandag aan die stomme dier, voer hom selfs, maar met sy vertrek gooi hy bloot vir hom ’n been as afskeidsgeskenk en laat hom weer eens aan sy eie ellende oor.

Breytenbach is reeds gevestig en bekend as spanningsromanskrywer, maar met Buit bereik sy nuwe hoogtes. Dis ’n briljante, hartverskeurende, skrikwekkend realistiese en insiggewende roman oor Afrika en sy mense. Deeglike navorsing, bevestig deur die insluiting van ’n indrukwekkende bronnelys, verseker dat selfs die kleinste besonderhede outentiek en realisties is. Van die tale wat deur die onderskeie karakters gepraat word (Engels, Krio en Pretoguês), die skrille kontras tussen die volbespreektheid van Palma vir die Kersseisoen en die lae-intensiteit-burgeroorlog wat daarnaas woed, die desperaatheid van die plaaslike bewoners, die verwysing na die “koffie uit die geel-en-bruin blik – ’n Suid-Afrikaanse produk wat na skottelgoedwater proe ...” (187), tot die insluiting van die potensiële bedreiging vanuit ekstreme Islam-geledere (waarteen De Wet Potgieter ook in sy Black widow, white widow (Penguin Random House 2014) gewaarsku het), en die Wes-Afrikaanse bygeloof in Ayelala, bly die spanning snaarstyf en die leser deurentyd bewus van die bedreiging van naderende onheil.

...........
Breytenbach is reeds gevestig en bekend as spanningsromanskrywer, maar met Buit bereik sy nuwe hoogtes. Dis ’n briljante, hartverskeurende, skrikwekkend realistiese en insiggewende roman oor Afrika en sy mense.
.............

’n Vinnige internetsoektog na skrywers van Afrika-spanningsromans lewer grootliks manlike skrywers op (Deon Meyer, Michael Stanley, Wilbur Smith, Tony Park, Leye Adenle, ea), met Margie Orford as die enigste vroulike vermelding, en slegs Engelse publikasies. Jaco Wolmarans se Bos, Skag en Ivoor verdien ongetwyfeld ook ’n plek op die lys.

..............
Lesers wat tot op hede geglo het dat slegs voormelde skrywers die stukkende, maar enigmatiese Afrika lewendig kan beskryf, kan gerus Buit aanskaf en ook die outeursnota lees – dit bevestig die belang en relevansie van hierdie grootse roman.
.............

Lesers wat tot op hede geglo het dat slegs voormelde skrywers die stukkende, maar enigmatiese Afrika lewendig kan beskryf, kan gerus Buit aanskaf en ook die outeursnota lees – dit bevestig die belang en relevansie van hierdie grootse roman.

  • Buit word uitgegee deur Kwela, ’n druknaam van NB-Uitgewers (ISBN 978-0-7957-1060-5), en is ook in elektroniese formaat (ISBN 978-0-7967-1061-2) beskikbaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top