
https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780624093213
Die verkeerde vrou
Irma Venter
Tafelberg
ISBN: 9780624093213
Irma Venter praat met Naomi Meyer oor Irma se Die verkeerde vrou.
Hallo Irma, baie geluk met die verskyning van Die verkeerde vrou. Ek wil jou vra oor die titel. Ek het ’n paar keer, terwyl ek die boek gelees het, gewonder watter vrou dit is wat verkeerd is. En die dubbelsinnigheid van "verkeerd". Was dit jou werkstitel van die begin af? Het jy ook geweet, van die begin af, wat dit sou beteken?
Ek sukkel gewoonlik met titels, maar hierdie ene het maklik gekom. Die idee van die verkeerde vrou is drieledig in die boek. Ek wil nie te veel verklap nie, maar dit koppel aan identiteit en gedrag, laasgenoemde veral ook aan die groter samelewing se idee van hoe die “regte vrou” dan kastig sal optree.
Met die nuwe boek waaraan ek nou werk, sukkel ek al weer met die titel, so dit voel meer bekend.
Hoe werk die skryfproses vir jou? Weet jy reeds aan die begin wat die misdaad/misdade en die uitkoms is? Wat weet jy, wat beplan het, wat ontdek jy, terwyl jy skryf?
Ek besluit eerstens op die oorhoofse misdaad wat gaan gebeur. Daarna het ek nou al geleer dat ek karaktergedrewe boeke skryf, wat beteken dat ek my karakters moet vertrou om op hierdie misdaad te reageer op ’n manier wat vir hulle werk.
Soms verras hulle my en beweeg die storie na ’n meer onbekende terrein, maar tog voel dit nooit vreemd nie. Dis nooit asof ek nie weet wat om te doen as ons nou almal skielik op hierdie nuwe plek beland nie.
Jou karakters wil ook die beste/opwindendste/slimste storie/lewe hê, as dit sin maak. Mens leer om daardie proses te vertrou.
...........
Jou karakters wil ook die beste/opwindendste/slimste storie/lewe hê, as dit sin maak. Mens leer om daardie proses te vertrou.
.............
Jou hoofondersoeker in die meeste van jou boeke is nie ’n speurder nie. Meestal wel joernaliste. Op die spoor van stories. Die sake kom dus oor haar pad, want dis wat met stories gebeur. Maar sy hoef dit teoreties nie op te los nie, sy moet net daaroor skryf. Tog raak sy daarby betrokke en hier trek jy jou leser (baie effektief!) met jou saam. Hulle eie persoonlike lewens veroorsaak dat hulle die storie nie net skryf nie, maar dat die storie hulle intrek. In die meeste van jou vorige boeke verskyn sekere van die latere hoofkarakters in volgende boeke as newekarakters. Hoe beplan jy jou karakters? Skryf jy eers vir jouself hulle eie stories neer voor jy met die boek(e) begin?
Karaktergedrewe misdaadstories beteken mens moet ’n sterk basiese storielyn en sterk karakters hê. Dit is hoogs frustrerend om ’n boek te lees waarin ’n wonderlike karakter rondstaan in storieriool. Dis asof jy wens die skrywer het net ’n bietjie meer moeite gedoen om hierdie karakter iets meer opwindends te gee om te doen.
..............
Karaktergedrewe misdaadstories beteken mens moet ’n sterk basiese storielyn en sterk karakters hê. Dit is hoogs frustrerend om ’n boek te lees waarin ’n wonderlike karakter rondstaan in storieriool. Dis asof jy wens die skrywer het net ’n bietjie meer moeite gedoen om hierdie karakter iets meer opwindends te gee om te doen.
................
Ek het van die begin van my loopbaan af weggeskram van polisieprosedureverhale, omdat ek nie wou vasgevang raak in wat die polisie mag en nie mag doen nie. Dis vir my veel interessanter om ook ’n bietjie in die grys kant van die gereg rond te krap – in dit wat moontlik kan gebeur, of dan glad nie gebeur nie.
So, die kort antwoord: Ek beplan my karakters deeglik, met gedetailleerde agtergrondstories en sterk voorkeure en afkere. Hulle hou my geselskap vir die 18 tot 24 maande wat ek die boek skryf en hulle mag my nie verveel nie. As hulle my gaan verveel, gaan ek die leser verveel, en om die leser te verveel is eenvoudig ontoelaatbaar.
Jy is joernalis by onder andere Mining Weekly. a) Hoe kan jou eie kundigheid as joernalis jou help om realisities oor die joernalistieke professie te skryf? b) Waar kry jy tyd om boeke te skryf as jy verantwoordelik is vir joernalistiek skryf ook?
Ek staan baie vroeg op en probeer so 1 000 woorde ’n dag skryf, of wat ook al ek kan inpas vir die dag. As die storie lekker loop, is dit redelik maklik. As dit sukkel, is dit ’n absolute nagmerrie.
Die dissipline is belangrik – ek moet skryf al is ek nie lus nie.
Daarna begin my gewone werksdag – een waaroor ek nog steeds baie opgewonde raak. Ek ontmoet interessante mense en beland in interessante situasies. Wat meer kan mens vra?
My agtergrond as joernalis was en is onontbeerlik vir my loopbaan as skrywer. Dit leer my oor mense, oor wat hulle motiveer, oor die leuens wat hulle vertel en die wonderlike dinge waartoe hulle in staat is. Dit leer mens ook skryf – om by die punt te kom en teen tyd te skryf. Om ’n punt aan die einde van die sin te sit en die volgende sin te skryf.
............
My agtergrond as joernalis was en is onontbeerlik vir my loopbaan as skrywer. Dit leer my oor mense, oor wat hulle motiveer, oor die leuens wat hulle vertel en die wonderlike dinge waartoe hulle in staat is. Dit leer mens ook skryf – om by die punt te kom en teen tyd te skryf. Om ’n punt aan die einde van die sin te sit en die volgende sin te skryf.
..............
As mens hierdie proses dan na boeke vertaal, moet daar net een of twee dinge bykom. Jy moet besef die doel is nou om te vermaak en nie in te lig nie, en dat fiksie nou jou vriend is.
Wie is jou gunstelingmisdaadskrywers en lees jy self ook skrywers van misdaad met spesiek vroulike vigilante-ondersoekers? (Ek sien Pharos praat van burgerwakers, maar dit voel nie vir my soos ’n doeltreffende vertaling vir spesifiek jou joernaliskarakters nie – hulle het persoonlike redes vir hulle betrokkenheid by die stories, of wat dink jy?)
Ek hou van die term “burgerlike ondersoeker”. Dit handel oor die soeke na geregtigheid want die bestaande justisie-agentskappe is nie voldoende nie, of hulle ag wat gebeur het nie as voldoende misdadig nie (stalking byvoorbeeld).
Suid-Afrika se misdaadoploskoers is besonder laag. Dis rype teelaarde vir vigilante-tipe boeke, al begeer ons almal ’n beter justisiesisteem.
............
Suid-Afrika se misdaadoploskoers is besonder laag. Dis rype teelaarde vir vigilante-tipe boeke, al begeer ons almal ’n beter justisiesisteem.
..............
Ek lees misdaadverhale van regoor die wêreld. Italië, Nederland, Japan, die VK, Skandinawië, dit maak nie saak nie. Die karakters maak ook nie saak nie, maar ek het wel ’n sterk afkeer van “girl”-boeke waar die vrou tipies aan een of ander sielkundige afwyking ly.
’n Sterk vrouekarakter is waar jy vir jou vrouekarakter die grootste knuppel in die vertrek gee, haar toestemming gee om dit te gebruik, en dit eers teen die laaste bladsy terugvra.
Met ander woorde, jy is nie bang vir vroue met mag nie, en dit skrik jou nie af as hulle dit gebruik nie.
Dis my gunstelingtipe boek – om te lees én te skryf.
"Vrydagnag in Johannesburg en Lila Olofssen het verdwyn," staan op die voorblad van die boek. Kon net sowel ’n koerantopskrif gewees het, of die eerste sin van ’n koerantberig (effens anders verwoord). Ons sien elke dag sulke opskrifte. Hoe maak jy hiervan ’n misdaadstorie vir Suid-Afrikaners wat sulke stories die heeltyd sien, wat al suf is en nie meer lus om van misdaad te hoor nie. En tog: stories wat mense intrek dat hulle dit juis wil lees?
Ek skryf misdaadverhale sonder bloed. Ek het geen begeerte om mense verder te martel of om myself te teister met gedetailleerde tonele van pyniging en seerkry nie. Ek wil ook nooit die misdaad verheerlik nie en fokus daarop om die slagoffer en die familie, al is dit fiktief, te respekteer. Iewers daar buite het iets soortgelyks gebeur en het iemand ontsaglik seergekry. Ek wil dit nooit uit die oog verloor nie.
Ek fokus op die raaisel; die worsteling tot by die oplossing, met die begrip dat daar ’n bietjie liefde/romanse/humor teenwoordig mag wees, want die doel van my skryfwerk is om mense te vermaak, niks anders nie.
Daar is baie maniere vir mense om te sterf (het jy ooit HBO se Six feet under gekyk byvoorbeeld?). Maar tog is daar nie een sterfte wat dieselfde is nie. Of hoe? Hoe werk die uitdink van die stories vir jou – is jy in die skoene van die misdadiger, of van die een wat gesterf het? Wie ken jy die beste, of wat sien jy?
Dis ’n interessante vraag. Ek reken ek staan in die skoene van my hoofkarakters. Ek sien dit die eerste keer saam met hulle. Ek kyk deur hulle oë en probeer voel wat hulle voel. Dis hulle emosies wat ek intiem moet kan weergee en waarmee ek die beste vertroud moet wees.
Hierdie boek is die opvolg van Minder as niks, wat binnekort op Netwerk24 as reeks te siene sal wees. Is dit vir jou ’n natuurlike uitvloeisel van ’n boek – ’n kort reeks / iets op ’n skerm? Dink jy baie visueel as jy ’n boek skryf? Wat het jy met die Netwerk24-reeks te doen gehad – was jy betrokke by die skep hiervan en het jy al episodes hiervan gesien?
Ek het nog nie episodes gesien nie, nee, en ek was nie werklik betrokke nie. Ek het egter die vervaardigers ontmoet, en Trix Vivier, wat die rol van Ami Prinsloo gaan speel.
Ek dink enige skrywer hou daarvan om hulle werk in soveel vorme as moontlik vergestalt te sien. Dis ’n natuurlike uitvloeisel van jou behoefte om stories te vertel, en die vorm maak nie noodwendig saak nie.
Ek dink mens moet ook weet dat enige visuele reeks nie 100% jou boek gaan verteenwoordig nie. Boekstories het nie begrotings nie. Dit kan op ruimteskepe 100 jaar in die toekoms afspeel bloot omdat die skrywer so besluit het. Om dit te verfilm? Dis ’n ander, veel duurder saak.
Ek vertrou volkome dat Wyrd Films en die wonderlike rolverderling hulle bes sou gedoen het om ’n uitstekende produk daar te stel. Wat ek reeds gesien het, lyk fantasties, met die wete dat dit ’n interpretasie van die boek is, en nie 100% die boek soos dit gedruk is nie.
Ek kan ook nie by so ’n gebeurtenis vashaak nie. My taak is om te skryf. Meer spesifiek, my taak is om die volgende Ami Prinsloo-boek vir my lesers te skryf.
Ek weet daar word navorsing gedoen oor vroueskrywers in die algemeen en of hulle gelyke behandeling kry as manlike skrywers, veral van krimiboeke. Het jy enige gedagtes hieroor, of is die skryf van die boeke vir jou so bevredigend dat jy nie te veel hieroor dink nie. Is die skryf van die boeke vir jou bevredigend/lekker? Of is dit moeilik en donker? Want jy moet op donker plekke gaan delf, dis nie altemit nie.
Ek dink manlike skrywers kry nog dikwels veel meer aandag as vroulike skrywers. Dit waaroor mans skryf, word, oor die algemeen (in die media ingesluit), as van meer waarde geag as die materiaal waaroor vroue dikwels skryf (misdaadverhale inkluis). Verhoudingsromans verkoop tipies veel, veel meer as oorlogsboeke, maar (nog) ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog of die Bosoorlog sal byvoorbeeld ’n volbladresensie kry, terwyl ’n 300-bladsy-verhoudingsboek kwalik ruimte en aandag sal ontvang.
Daar word ook dikwels aangeneem dat manlike skrywers beter verkoop, en dat die aandag dus geregverdig is, terwyl die werklike syfers ’n heel ander storie vertel.
Daar is altyd kos, musiek en kuns in jou boeke. Wat geniet jy om persoonlik te doen, behalwe om misdaadboeke te skryf?
Kuns in al sy vorme te geniet, lekker kos te eet en musiek te luister! Ek voel ook sterk dat daar kunsvorme is wat nog meer onsigbaar is as skryf, en as ek enigsins kan help om ander kunsvorme en kunstenaars te bemark, wil ek dit graag doen.
Jy is by die Woordfees te sien in gesprek met Dibi Breytenbach. Waaroor gaan julle praat?
Ons praat oor ons nuwe boeke – Dibi oor Buit en ek oor Die verkeerde vrou. Kom luister gerus. Ek weet Dibi het oneindig baie navorsing vir Buit gedoen. Jou hare sal rys ...
Lees ook:
Toyota US Woordfees 2022 is "Wild": ’n onderhoud met Saartjie Botha

