Op 2 Oktober plaas LitNet Akademies ’n stuk oor speurwerk en die daling in vragmotorkapings. Maar wat van plaasmoorde?
Dibi Breytenbach skryf spanningsverhale. In ’n ander lewe werk sy egter in die maag van die staat se pogings om boewery vas te vat. Haar vierde roman, Dowe gode, bevat ’n insident waar jong boere se woede oorkook. Hulle gryp ’n verdagte in ’n plaasmoordsaak en rand hom gewelddadig aan.
Izak de Vries het haar ingevra na aanleiding van Dinsdag 6 Oktober se insident waar woedende boere ’n polisiestasie beskadig het en ’n polisiebakkie aan die brand gesteek het.

Foto verskaf
Dinsdag 6 Oktober het die plaasboere in Senekal amok gemaak by die hofverskyning van die verdagtes in die moordsaak van Brendin Holmer. Jy skryf fiksie, maar is in ’n ander lewe betrokke by regsprosesse teen geweldenaars. In Dowe gode skets jy ’n voorval wat byna profeties is van wat op wat Dinsdag gebeur het. Wil jy iets sê oor die rede waarom jy so ’n voorval beskryf het?
Ek bly op die platteland en werk in die voorste linies in die geveg teen misdaad. Uit hoofde van my werk, kom ek gereeld in aanraking met die slagoffers van geweld. Deur die jare is die landbougemeenskap in my onmiddellike omgewing swaar getref deur ’n vlaag plaasaanvalle; ’n verskriklik ding op enige plek, en meer so in ’n klein distrik waar almal almal ken. Ek beskik nie oor die woordeskat om die gemeenskaplike magteloosheid, woede en desperaatheid wat so ’n aanval in sy vaarwater los te beskryf nie.
Ek het Dowe gode in 2017 geskryf na aanleiding van die voorvalle wat ek reeds genoem het. Op daardie stadium was die landbougemeenskap in my distrik op breekpunt. Die mense – boere en plaaswerkers – het gevoel dat daar nie ag geslaan word op hulle vrese nie, dat niemand vir hulle luister nie en dat niemand omgee of hulle aangeval word of nie. Die toneel waarna jy verwys is geskoei op die desperaatheid van die slagoffers soos wat ek dit oor die jare ervaar het.
Jou speurder, Aella O’Malley, het ’n mate van simpatie met die woedende boere, maar dreig ook om hulle summier in hegtenis te neem – ’n bietjie soos Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, nou doen. Bemoeilik sulke vigilante-optrede wel die staat se saak teen die geweldenaars?
Vigilante optrede kan nooit goedgepraat word nie. Ek het persoonlik al belewe hoe mense die reg in eie hande neem en onskuldige mense hulle lewens as gevolg van die soort optrede verloor. Ek het ook al meer as een keer ervaar hoe belowende sake in die wiele gery word as gevolg van die ingryping van mense wat die versoeking nie kon weerstaan om die probleem self uit die weg te ruim nie. Die wiele van geregtigheid draai baie, baie stadig, maar hulle draai tog. Daarvan getuig die knap ondersoekwerk en vinnige arrestasies van beskuldigdes soos dié in die saak van Brendin Horner en die lang vonnisse wat opgelê word vir hierdie misdrywe.
Jy skryf moordstories in ’n land waar moord hoogty vier. Hoekom?
’n Goeie vraag waaroor ek nog nie regtig gedink het nie. Miskien is dit vir myself ’n manier om my gees te suiwer, te ontlaai. So iets. Ek weet nie regtig nie. ’n Storie gebeur mos maar. Dalk sê dit verskriklike goed van wat in my onderbewussyn aangaan! Bygesê, moet ek byvoeg dat die hoe van die oplossing van die moorde in my stories nie vir my so belangrik is as die hoekom nie. Misdaadondersoek is ’n baie prosaïese proses wat net soos enige ander wetenskaplike proses essensieel vervelig vir die oningewyde is. Ek stel meer belang in die menslike aspek van die voorval. Wat gee aanleiding tot ’n bepaalde optrede? Wat in ’n mens se psige veroorsaak dat jy die keuse maak om ’n ander leed aan te doen? En glo my, dis presies wat dit is. Mense kies om misdaad te pleeg. Dit gebeur nie per ongeluk nie.
Jou laaste drie boeke, Dowe gode, Blinde gode en Stom gode wat in November verskyn, het ’n sterk ekotema. Telkens is daar die onderbou van die vigilante wat moeg raak vir die staat se gesloer. Ek het reeds Stom gode gelees. Dit gaan mense ontstel wanneer die “waarheid” aan die dag kom, net soos Blinde gode nogal ontstellend was oor die regsdienste. Aella O’Malley is die een wat probeer om wet en orde te handhaaf, en tog ook begin twyfel of sy kans sien. Hoe moeilik is dit vir die polisie om op die dun blou lyn van geregtigheid te loop, selfs al wanhoop hulle ook?
Ek is in die bevoorregte posisie om saam met uiterse knap en toegewyde speurders te werk. Hoe die manne (hulle is omtrent almal manne) hulle werk onder die omstandighede gedoen kry, is ’n wonder. Hulle werk hulle half dood. Maar ja. Ek wil nie spekuleer oor hoe hulle daarin slaag om daardie balanseertoertjie uitgevoer te kry nie. Die baie arrestasies van polisiemanne wat hulself skuldig maak aan misdaad is ’n aanduiding dat daar van hulle is wat die dun, blou lyn in die skande steek.
Laastens. Die mense wat jou bronne is in die boeke, van hulle sal jy nooit in die openbaar noem nie, hulle lewens sal in gevaar wees. Ons het die ander dag gesien hoe maklik ’n speurder soos luitenant-kolonel Charl Kinnear vermoor kan word. Soms wonder ek hoeveel fiksie jy in jou boeke sit en hoeveel van die werklikheid jy moet verbloem om fiksie te skep?
Nie te veel nie. Ons lewe in ’n gruwelike samelewing wat deur top joernaliste ontbloot is as ’n werklikheid waar misdadigers hoogty vier. Moord is ’n werklikheid, renosterstropery is ’n werklikheid. Die bedrog en diefstal wat daarmee gepaardgaan om die misdade te verdoesel, is ook ’n werklikheid. Die feit dat ’n mens in ’n posisie is waarin ’n mens oor ’n dieper kennis van die misdade beskik, is uit die aard van die saak van hulp. My karakters is deurgaans fiktief. Ons samelewing is blootgestel aan ernstige kriminele aktiwiteite. As ek as skrywer kan help om dit deur my stories te belig, voel ek dat ek ’n klein deel doen in die bekamping daarvan. Daarby doen ek ook baie navorsing, weet hoe ’n polisieondersoek werk en het al na baie, baie slagoffers geluister. Ek is ook in die bevoorregte posisie om toegang te hê tot eksperts wat my help met die verfyning van tonele. Misdaad en die oplossing van misdaad is ernstige onderwerpe en voel ek is dit aan die professionele ondersoekers en slagoffers verskuldig om seker te maak dat wat ek skryf geloofwaardig is.
Lees ook:
Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie


Kommentaar
Uiters knap resensie.
Izak se vrae en Dibi se antwoorde lees soos 'n droom.
Hoeveel van enige verslag kan mens glo? Hierbo vertel die onderhoudvoerder van die boere van Senekal wat "amok gemaak het." 'n Ander verslag, geillustreer met videos, wys polisievoertuie wat roekeloos in die skare boere injaag, en hoe die verskanste polisiemanne skokgranate en traangas tussen hulle gooi. In die hof het die polisie op die enkele ongewapende boere teenwoordig gevuur. Was provokasie van die "woedende boere" die doel? Die polisie se minister het in New Castle die boere gedreig dat hulle nie moet kla as hulle seerkry nie.
As 'n skrywer (en Litnet) nie hierdie ander realiteit belig nie, kry dit 'n plek in die narratief van ons misdaaddeurdrenkte samelewing wat enersyds aanhits, en andersyds afstoot. Ek hoop Izak en Dibi dink hieraan. En hoe maklik hulle aan "seerkry" in ons boeregemeenskap aandadig kan raak.
Dankie Dirk!