Titel: Dowe gode
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799389814
Skrywers van misdaadfiksie strompel soms met 'n onoortuigende slot. Breytenbach maak nie dié fout nie. Dowe gode se slot is meesterlik geskryf en gemotiveer en is met reg die klimaks.
Die boek begin met 'n plaasmoord en hou van die begin af jou aandag. Daar is baie grillerige besonderhede van die patologiese ondersoeke en die leser kry ook inligting oor dinge soos vingerafdrukke en polisieprosedure onderwyl die hoofondersoeker en haar span vergeefs na die motief vir die dood van 'n pa en seun soek.
Die skrywer gee in haar outeursnota erkenning aan die bydrae van mense wat daagliks met misdaad te doen het en dis duidelik dat haar beskrywings die kennis van ons beste speurders dra. Hier is niks duimgesuig nie; die ongevoeligheid teenoor 'n erg beseerde rasgenoot, politiek, afguns, haat, vrees en bygeloof is die ontstellende werklikheid waarmee ons vandag te kampe het.
Lesers mag dalk dink of voel dat die belangeloosheid en onbeholpenheid van swart polisiepersoneel en hul vyandigheid teenoor wit speurders oordrewe is. Die skrywer is self 'n aanklaer van beroep en het my verseker dat dit ongelukkig nie so is nie. Hoe daar enigiets uitgerig word, is 'n raaisel.
Die hoofkarakter en -ondersoeker is Aella – dit beteken “warrelwind” – O'Malley, 'n vrou wat self deur diep waters gaan ná die dood van haar lewensmaat. Die skrywer se keuse van die ander karakters is in die kol: 'n speurder met baie ondervinding, 'n ondersteunende swart ondersoekspan en 'n Fransman wat gesekondeer is om teen die stroping van renosters te help en met verbasing ondervind hoe ondersoeke in Suid-Afrika uitgevoer en gedwarsboom word.
Dis ook lekker om dialoog in verskillende tale te sien. Dis getrou en ongesuiwer en elke karakter se stem is uniek.
Liefhebbers en kenners van klassieke musiek sal ook waardering hê vir die wyse waarop Bach se Matteuspassie en Orff se musiek in die teks ingewerk is.
Dowe gode is Breytenbach se vierde misdaadboek en span die kroon. Sy het geen moeite met haar navorsing en haar teks ontsien nie. Dit wys op elke bladsy.
Kommentaar
Die pragtige melodieuse ritme van haar natuurbeskrywings en die trant van die storieverteller, versag die grusaamheid van die plaasmoord en die haglikheid en hopeloosheid van die geswoeg teen korrupsie en 'n onbetroubare stelsel, wat die Staat genoem word.