Titel: Blinde gode
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799398212
In haar vyfde misdaadriller laat Breytenbach twee gebeure in ’n knap jukstaposisie afspeel. Aella O’Malley – die karakter wat reeds in Dowe Gode geskep is – is weer die hoofkarakter en is bevorder tot bevelvoerder van Opathe se speurtak.
Aella sleep ’n verlede saam – sy het ’n intieme geliefde verloor en is verraai deur ’n goeie kollega wat as ’n stroper en moordenaar ontmasker word. Dit strem haar geestelik en liggaamlik terwyl sy al haar kragte nodig het om die moord op ’n landdros te ondersoek.
Aella se taak word goed opgesom met hierdie aanhaling: “Te veel is soos om deur stroop te swem. Dit trek jou na die bodem en plak aan jou vel. Te veel is te veel is te veel.”
Sy word te hulp gesnel deur Erwin Bjilsma wat deur die president aangestel is om in ’n kommissie te dien wat die korrupte strafregstelsel moet ondersoek. Hy beweeg saam met haar en moet die korrupsie en gebrekkige ywer onder geregsdienaars en landdroste saam met haar beleef en daaroor verslag doen. Dit vorm ’n groot deel van die storie. Vir lesers wat ingelig is oor die swak dienslewering en korrupsie wat dreig om van die land ’n mislukte staat te maak, is daar nie veel nuut nie, wel ’n beklemmende bevestiging. Die gebrek aan respek vir die regstelsel, die rondslomp, burokratiese prosesse, binnegevegte, seksisme en rassisme word genadeloos deel van die riller.
Haar ander hulp is Christophe Blanc van Interpol, wat ’n herverskyning uit die vorige boek maak. Daar ontwikkel ’n verhouding tussen hulle wat enduit deel van die verhaal uitmaak en verwagtinge by die leser skep.
Nes van Aella se ondersoeke is kolonel Alex MacLachlan belas met ’n ondersoek na die renosterstropery tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Hy moet ’n magtige sindikaat ontbloot en raak ’n getuie van die koelbloedige moord op twee stropers.
Soos ’n goeie riller tel hierdie een stoom op ná ’n goeie ontknoping. Die wapen waarmee die moord gepleeg is, word met drie ander misdade op verskillende plekke verbind. Wat is die verband tussen hierdie moorde en die een op die landdros? Dit laat O’Malley en MacLachlan saamwerk en lei tot verrassende ontdekkings wat almal opgevolg moet word.
Breytenbach het haar reeds as een van die land se beste krimiskrywers gevestig en bou in Blinde Gode voort op haar reputasie. Die skrywer is self ’n aanklaer en bedank in haar outeursnota ’n klomp kenners wat almal bydra tot haar gesaghebbende en gedetailleerde ontleding van die regstelsel en haar beskrywing van misdaadtonele en nadoodse ondersoeke.