
Boekvoorblad: https://lapa.co.za/die-gawe-van-groen; foto van Elmarié Dercksen: https://ngkbloubergstrand.co.za/bedieningspan/
Die gawe van groen
Elmarié Dercksen
LAPA Uitgewers
ISBN: 9781776358335
Elmarié Dercksen praat met Naomi Meyer oor Elmarié se debuutroman, Die gawe van groen.
Elmarié, jy skryf helder soos water; die beelde is nooit troebel nie. Skryf jy nog altyd? Begin voor.
In my kinderdae het ek die hele tyd geskryf, as ek nou terugdink. Later het musiek my lewe oorgeneem en dit was vir lank my eerste keuse. Die terugkeer na skryf voel nou vir my baie natuurlik. In my daaglikse werk is woord en begrip belangrik en ’n mens slyp jou vaardighede oor baie jare en op verskeie maniere. Maar skryf vir die omvang van ’n roman moes ek my doelbewus op toespits. Die laaste amper sewe jaar het ek hard gewerk om elke dag te skryf, en nie net teologie nie, maar kreatief.
Kom ek vra jou oor die omslag: Deur wie is dit ontwerp en hoe het dit gekom dat hy hiervoor verantwoordelik was?
Mense dink skrywers besluit oor alles, maar die ontwerper is deur die uitgewer aangestel. Hy was baie opgewonde oor die regte egte illustreerder wat vir hierdie voorblad ingespan sou word. Ek was nog meer opgewonde toe ek hoor dis my eie susterskind, Casper Schutte. Hy is ’n ontwerper van beroep en ek dink hy is geniaal. Die voorblad is vir my uniek en pragtig!
Wat was die sneller vir jou verhaal? En wanneer het jy net geweet jy moes dit skryf?
A, snellers. Terugskouend kan ’n mens dit vereenvoudig, en daar was beslis ’n aha-oomblik ten opsigte van die konsep; ’n oomblik van helderheid, asof iets my tref. Dit het gevoel of ek nie sou kon omdraai nie, of die verhaal eenvoudig moes uit. Maar dit is ook meer kompleks. Ek het pas ’n meestersgraad voltooi en moes kies tussen verdere studie of die dapperder keuse: die roman. Ek het gekies om kreatief te skryf met dieselfde dissipline as vir ’n tesis en elke dag ten minste ’n bladsy te voltooi – ek sou oor iets begin skryf, al het Sati my nie kom haal nie. Daardie einste meestersgraad het gehandel oor gender en gesondheid en die inhoud van die studie – vir my lewensbelangrik – het beslis ’n invloed gehad op die keuse van die verhaal. Miskien meer soos ’n beker wat oorloop as ’n sneller. Ek het ’n metafoor vir seksualiteit as kommoditeit gesoek, en Sati het verskyn.
Jou storie speel nou af en dit speel nie nou af nie. Is dit historiese fiksie? Plaas die verhaal asseblief vir lesers in ’n tydvak.
Die kort antwoord is: voor buskruit. Daar is nie gewere in die storie nie. Dit was dikwels my baken. Historiese fiksie soos wat skrywers dit meesterlik uitvoer met jare se intense navorsing, is hierdie beslis nie. Daar is nie geskiedenis in nie (hoewel ons almal weet dat hierdie verhaal, in verskeie vorme, al miljoene kere in die werklike lewe afgespeel het). Ek sou dit eerder, versigtig, historiese fantasie noem; maar dit voldoen ook nie aan die vereistes vir die fantasie-etiket nie. Ek weet nie. Kudos aan die uitgewer wat die visie gehad het om te glo in ’n verhaal wat nie maklik in ’n genre pas nie.
Ek moet iets vra oor die magiese realiteitskomponent van jou verhaal. Jy is immers ’n dominee, dit kan nie anders nie. En Sati met die gawe. Daar is ’n spiritualiteit aan hoe jy skryf. Wil jy iets hieroor sê? Hoe jou daaglikse werk jou skryfwerk beïnvloed, jou agtergrond en jou belangstelling in waarmee jy besig is.
Ek het beslis doelbewus gewerk aan die magiese realisme. Daardie element in literatuur het my van jongs af betower. Miskien sê dit inderdaad iets van hoe ek leef: Geloof is mos ook inbeelding, gestalte gee.
..........
My spiritualiteit het deur my lewe toenemend meer gegrond geword, en die spel tussen sienlike en onsienlike, aards en geestelik al hoe meer verweef.
..............
My spiritualiteit het deur my lewe toenemend meer gegrond geword, en die spel tussen sienlike en onsienlike, aards en geestelik al hoe meer verweef. Net soos Sati: Haar lyf en haar gawe is een.
Die name van jou karakters maak van hulle mense buite ’n spesifieke kultuur. Hoe het jy op jou hoofkarakters se name, Sati, Manan, Djimon en Ghatra, besluit? (Het jy ook vooraf geweet wat hulle name sou beteken?)
Jy is reg, die name is deel van die bou van ’n kultuur wat nie bestaan nie. In hul verskeidenheid het sommige name wortels in bestaande of vervloë kulture, ander het eietydse assosiasies wat ek glo lesers mee sal resoneer, en dikwels gaan dit oor hoe dit klink – ek leef met my ore. Die slim taalkundiges verklaar hoe klanke onomatopeïes sin maak: Ek dink na oor wat die karakter na die verhaal bring, oor watter eienskappe hulle beskik, en dan moet die naam daarby pas, reg voel.
..........
Die slim taalkundiges verklaar hoe klanke onomatopeïes sin maak: Ek dink na oor wat die karakter na die verhaal bring, oor watter eienskappe hulle beskik, en dan moet die naam daarby pas, reg voel.
.............
Hulle ry op ’n wa deur ’n dorre landskap, maar dis nie noodwendig die Voortrekkers nie. Hoe sien jy hulle voor jou eie geestesoog?
Waens met osse is deel van vele volke se geskiedenis, maar vir Afrikaanses het dit beslis sentimentele betekenis. (Ek was ontsteld oor al die kuns en handwerk in Australië met windpompe op – vir hulle is dit hul eie. Ek wou die hele tyd sê dis ons s’n!) Die ossewa bring ’n element van nostalgie en bekendheid na die verhaal, en hopelik bring die verhaal vir die ossewa ’n stukkie “magic”. Die Afrikaanse taal en die ossewa hou van mekaar; dit werk. Maar nee, hulle is nie die Voortrekkers nie.
Dis ’n reis deur ’n land(skap), dis ’n reis na binne. Het jy reg aan die begin geweet waarheen die reis sou wees? Die eenvoud en skoonheid van die slot geken?
Ja, ek het by die einde begin. Sati se ontwikkeling is vir my argetipies, en die binnereis se eindpunt is die punt van die storie.
Ek ken jou goed genoeg om te weet dat jy die verhaal geskryf het as vrou wat definitiewe idees oor feminisme en vroueregte het. Tog beskryf jy die soldate (die werkermiere) en manskarakters wat sekere opdragte uitvoer ook net as mense wat vasgevang is in ’n sisteem. Mense, dus, nie monsters nie. Het jy hieroor nagedink? Oor die troebelheid van goed en kwaad?
Ek dink dag en nag daaroor na. Die verhaal wys hoe sisteme (in hierdie geval patriargie) mense gevange hou – die mans ook. Ek wou dit nie beantwoord nie, maar hoop die verhaal werk met die vrae van die troebelheid van goed en kwaad.
.........
Sisteme kan tegelyk werk, om goeie redes, én die bose in die vesels verweef hê. Dit maak ’n groot verskil in wie se hande die mag lê, en hoe lyk die diskoerse en dinamika as die mag skuif? Is die liefde kragtig genoeg om dit te doen?
.............
Sisteme kan tegelyk werk, om goeie redes, én die bose in die vesels verweef hê. Dit maak ’n groot verskil in wie se hande die mag lê, en hoe lyk die diskoerse en dinamika as die mag skuif? Is die liefde kragtig genoeg om dit te doen?
Jy is ’n dominee en jy beskryf die lyflike in jou verhaal – nie net die geestelike nie. Het jy gedink oor hoe mense op jou verhaal sal reageer? Of dit vir jou blootstellend is om te skryf in jou werkshoedanigheid?
Dit is blootstellend, ja. Maar hoe gemaak? Ek beleef ’n groot behoefte by mense na integrasie, na singewing oor die geestelike/beestelike, juis omdat ons religieuse opvoeding én ons materialistiese kultuur in die verlede ons dit ontneem het. Die verhaal vra ook vrae oor die aard van lyflike dinge: Is dit goed of kwaad? Of is dit maar net groen? Behalwe vir die verweefdheid van gees en vlees, die gegrondheid in myself waarna ek netnou verwys het, het daar wonderlike teologie in die laaste dekades verskyn wat ons help om tegelyk beliggaamd en geestelik wakker te leef. Ek sou ’n doktorale proefskrif hieroor kon skryf. Toe spin ek eerder ’n storie. Maar ek het my ma ’n duisend keer gewaarsku.
Vertel my van die gawe in die verhaal en hoe dit in jou kop gevorm het. Was dit áltyd die gawe van groen? Of het dit eers later so gevorm, en ook die titel van die verhaal?
..........
Dit was altyd die gawe van groen; dit was van die begin af die konsep.
.............
Dit was altyd die gawe van groen; dit was van die begin af die konsep. Maar die titel het nogal heelwat heen-en-weer geverg. Ek wou ’n titel hê wat die vryheid van reis en die verlies aan onskuld aandui, maar dit wou net nie werk nie. Op die ou end hou ek baie van die titel; dis vir my liries en duidelik tegelyk.
Ek reis saam met jou deur die landskap van fakkels, van kastele, met hekwagters en bewakers. Dis ’n roman wat in ’n ander dimensie afspeel. Hoe het jy navorsing hieroor – oor die ruimte – gedoen? Of het jy dit geskep?
Die kort antwoord is: Ek het dit geskep. Maar daar is ook meer. Fantasie word gewoonlik verbind met Europa-agtige omgewings en selfs die gedetailleerde wêrelde en kaarte daarvan herinner aan die Middeleeuse verstaan van die kontinent en die Britse Eilande. Afrikaans is ’n Afrikataal en die wêreld wat ek wou skep, wou net nie vlot in enigiets anders as ons landskap nie. Die werklikheid van droogte is aan ons so goed bekend. En die plantname! Ek is totaal verlief op die inheemse name van ons plante. Daar was ’n langpad-motorfietsreis deur die Noord-Kaap en ’n langverlof-trippie tot in die Richtersveld. Ek kan nou ’n kaart teken van Sati se reis. Dit is Suid-Afrika, en ook nie.
’n Mens lees so baie van hoe Sati na Pappa verlang, en van haar gevoelens vir Djimon. Hoe was jou ondervinding om te skryf oor iemand ver weg verwyderd van jou en om dan te skryf oor ’n binnewêreld wat aan jou behoort? Is dit makliker om ver weg te staan en dan so baie van jouself te verklap? Of is dit nie wat jy gedoen het nie?
Hoe beskryf ’n mens dit, die intieme kennis van ’n karakter? Dis waar, dis tegelyk naby en ver. ’n Hoofkarakter dra vanselfsprekend baie van ’n skrywer se lewenservaring en perspektiewe, en tog bly dit iemand anders – iemand wat jy as skrywer goed leer ken, iemand wat geïntegreer tot hulself optree. Vreemd en opwindend.
Reis jy nog steeds saam met Sati? Waarheen reis sy nou?
Ek het intussen al ander werk voltooi met ander karakters, maar ja, nou is ek en Sati weer saam. Sy reis om water te bring, sy leer die stad en die binneland ken; maar sy reis ook na ’n nuwe verstaan van haarself. Sati leer nuwe dinge van wat dit beteken om die gawe van groen te dra.
Die reis sal nog vervolg. Of is aan’t vervolg. Is ek reg?
Die skryf van ’n opvolg is ’n unieke uitdaging. Ek dink nie ’n mens moet dit probeer doen as dit nie beter gaan wees as die eerste aflewering nie. Maar ek is opgewonde!
Sommer iets ekstra. Bonusvraag. Ek hoor klanke van Margaret Atwood in hierdie boek. Wie lees jy graag?
Dit is jou skuld, of is dit tot jou krediet? Middelnegentigs en ek was aan’t vassit oor wat om te lees, verveeld met alles. Jy het Atwood voorgestel, en ek het alles verslind! Ja, dit het beslis ’n diepgaande invloed op my gehad. Ek hou baie van die Suid-Amerikaners se vertaalde werke, en ek het ’n paar jaar gelede die magiese realisme van die briljante Murakami ontdek. Ek bewonder Winterbach vir die frustrasie wat sy in my veroorsaak en Eben Venter vir sy kragtige verskeidenheid. Ek lees tans Skepsel van Willem Anker; dis vars.
Kommentaar
Ek sal die boek self moet lees, want ek kom nie mooi agter waaroor dit régtig gaan nie. Maar veels geluk: ons het beslis meer spirituele praktisyns nodig om oor die lewe te peins en kreatief daarmee om te gaan. Eintlik behoort dit makliker te wees vir hulle as vir ander: die Bybel is tog immers versamelde woorde, sinne, paragrawe, bladsye en boeke, vol van stories, insigte, konsepte, verlangens, metafore, beelde en verbeeltenisse. Mens moet daaraan kan proe. En dan word dit meestal voorgestel as die waarheid. Maar DIE WAARHEID is eintlik mos maar bloot illusies wat in woorde vasgevang kan word in enkele en enkelvoudige, altyd onvoltooide waarhede. Dominees verstaan dit òf goed (lig) òf uiters swak (duister). Die woord het immers mens geword, en tussen ons kom woon, en ’n erfenis nagelaat wat ons nou nog mee worstel om verstaanbaar uit te lê, sodat die naastes dit ook verstaan. Ten slotte: ek bewonder mense wat die moed het om te skryf. Dit verdien om gelees te word. Dankie Elmarie