Brenda Barrow is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.
Uitsaaidatum: 26 Maart 2024
Die binneland in – nog stories en reise
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg (2023)
ISBN: 9780624094517
Die nuutste aanbod deur die alombekende skrywer Dana Snyman is weer eens ’n bundel kort sketse (91 om presies te wees), met die titel Die binneland in – nog stories en reise.
Die lokteks som dit so op: “Dana Snyman reis land-in op soek na sekerheid en lig. In die nadraai van die pandemie, met beurtkrag, oorlog in Oekraïne [en in Gaza, kan mens ongelukkig hierby voeg] en die politiek, begin mense moed opgee, ook oor hulself. Maar Dana vind hoop, liefde – en geloof.”
Dana gaan met die leser op ’n baie wyd uiteenlopende draai deur ons land, veral die platteland, en hy is altyd nuuskierig oor die kleinste plekkie en die geringste mens, wat hy dan aan ons bekendstel op sy kenmerkende fyn getekende manier sodat ons dáár is saam met hom, hetsy in ou Andries se huisie in die Blou Kamp op Soebatsfontein of die Kazungula-grenspos met sy onrusbarend bekwame immigrasiebeamptes, of by die Ystervark Pub and Grill, of by Flip se braailapa met sy verroeste padtekens teen die muur en sy gedienstige vrou Makkie wat slaai en broodjies aandra in die agtergrond. Daar is moedelose jeugliefde en tiekieboksoproepe, ongemaklike skyfiesaande in sitkamers, wegwedstryde met die skool se rugbyspan en die reuk van Deep Heat, windbukse en stokiepantoffels, sy ma se voosgevatte ou Kook en geniet, ’n varing in ’n verfblik – niks ontglip Dana se oog of sy geheue nie.
........
Daar is ’n verlange na dit wat was en nie meer is nie wat grens aan ampermoedeloosheid en troosteloosheid, en dit het die woorde van ’n karakter in Haruki Murakamo se After dark by my laat opkom: “Memories are perhaps the fuel that people burn to keep them alive.”
........
Hy besoek plekke soos die Groot Marico-area, waar hy terugloop op die spore van die sg Jerusalemgangers (wat eweneens hulle eie lig en sekerheid gesoek het in tye van storm en drang), en gaan maak ’n ietwat neerdrukkende draai in Nkandla, waar hy laas in 2011 was. Die nostalgie loop sterk deur hierdie boek, en dis dikwels herinneringe aan ’n tyd toe dinge anders was, voor die agteruitgang en verval wat die skrywer nou oral opmerk, toe instellings soos die spoorweë, poskantoor en plattelandse banke nog goed gefunksioneer het. Daar is ’n verlange na dit wat was en nie meer is nie wat grens aan ampermoedeloosheid en troosteloosheid, en dit het die woorde van ’n karakter in Haruki Murakamo se After dark by my laat opkom: “Memories are perhaps the fuel that people burn to keep them alive.”
........
Dana Snyman is ook terdeë bewus van die gevare verbonde aan hierdie soort nostalgiese terugreis na die verlede.
........
Maar Dana Snyman is ook terdeë bewus van die gevare verbonde aan hierdie soort nostalgiese terugreis na die verlede; hy verwoord dit só in die treffende “Votum”, wat amper as ’n soort kredo kan dien vir talle Suid-Afrikaners, veral nou in die koorsagtige aanloop tot die algemene verkiesing. Die hele stuk is een uitgebreide vraag, met die refrein “Wat van ons?” Ek haal enkele frases aan: “Wat van ons, wat ontnugter en kwaad is maar wat ons nie wil oorgee aan bitterheid, haat en wanhoop nie? ... Ons wat op 17 Maart 1992 in die laaste wit referendum ja gestem het vir ’n nuwe bedeling. Ons wat ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika wou hê met ’n Grondwet wat almal in die land se regte waarborg? … Ons wat soms hunker na die geborgenheid van ’n skoon, veilige woonbuurt in 1977 maar besef nostalgie kan ’n dwelm wees wat jou ander se swaarkry en verdriet laat minag en vergeet … Wat van ons?”
Die karakters en plekke en situasies is dikwels baie herkenbaar en bekend – jy ken hierdie soort mense en was al by baie van die plekke, of soortgelyke plekke, en daar is heerlike humor in die boek, soos in die stuk oor die byname wat op skool uitgedeel is – ’n baie maer kind was byvoorbeeld slegs bekend as KGB (vir “kop, gat en bene”). Maar Snyman betree soms ook uiters persoonlike, ongemaklike en selfs pynlike terreine, byvoorbeeld in die skets getitel “Saal 22”, wat verwys na die psigiatriese afdeling van die ou 1 Militêre Hospitaal by Voortrekkerhoogte. Hierdie onthutsende terugflits na sy tyd in die weermag eindig met die gelaaide sin: “Dít is die begin van ’n storie wat ek nog nie gereed is om te vertel nie.”
........
Snyman betree soms ook uiters persoonlike, ongemaklike en selfs pynlike terreine, byvoorbeeld in die skets getitel “Saal 22”, wat verwys na die psigiatriese afdeling van die ou 1 Militêre Hospitaal by Voortrekkerhoogte. Hierdie onthutsende terugflits na sy tyd in die weermag eindig met die gelaaide sin: “Dít is die begin van ’n storie wat ek nog nie gereed is om te vertel nie.”
........
Dit is duidelik dat die titel van die boek ook verwys na ’n reis binne in homself in. Hy stel dit dan ook heel duidelik in die skets getitel “Binnetoe”, waar hy ’n skildery van die Duitse skilder Ben Willikens getitel Nagmaal betrag. Die skildery, wat in gesprek tree met Leonardo da Vinci se beroemde Die laaste Avondmaal, verteenwoordig vir hom ’n kamer wat “’n plek van stilte geword [het] om my lewe in te betrag en binnetoe te reis”.
En uiteindelik is dit miskien ook diep binne-in homself waar hy die sterkste hoop en sekerheid en troos vind. Teen die einde van die bundel verwoord hy hierdie insig as volg: “Na 60 leer ek hoe om met onsekerheid saam te leef, nie ’n moedelose desperate onsekerheid nie – ’n hoopvolle onsekerheid omdat jy besef ons ken nou ten dele en verstaan ten dele, eendag sal dit anders wees. Die heelal is omgewe en deurdrenk deur die Groot Misterie.” Laasgenoemde het hy (ook só, met hoofletters) in ’n vorige skets so beskryf: “Al meer het ek die behoefte na waardige rituele en ’n mistieke belewenis van God, wat iewers op die reis vir my die Groot Misterie geword het … ’n stil gemoed in ’n stil kerk of in die veld.” Die “hoopvolle onsekerheid” waarna hy verwys, word ook weerspieël in die treffende gedig van Jehuda Amichai, “The place where we are right”, waar die digter onsekerheid en twyfel vergelyk met ’n mol wat grense oopbreek en omdolwe in ons denke, wat ons wil aanspoor om oor moeilike grense heen onsself in ander se skoene te plaas en hulle te probeer verstaan. Hy sluit die boek dan ook af met die roerende “Slotgebed”, opgedra aan al die toegewyde en eerlike mense van ons land wat op hulle verskillende maniere probeer om dinge heel te maak en reg te maak, te laat vlot en groei en floreer. Hy sluit dit so af: “Open my oë, dat ek dit nie sal miskyk en vergeet elke keer wanneer ek dink of sê of skryf daar is geen hoop meer vir hierdie land nie.”
Alhoewel dit beslis nie netjiese antwoorde of veel gerusstelling verskaf vir die groot en dringende vraagstukke van ons land en ons tyd nie (en ’n siniese leser mag dalk selfs meen dat hoe meer die hoop kwyn, hoe sterker moet die geloof werk), sal Dana Snyman se boekstawing van sy reis op soek na hoop, geloof en liefde ’n empatiese en boeiende metgesel bied vir lesers wat, soos hy, twyfelend en soekend in hierdie baie onrustige tye is.

Hierdie land. Daar is iets aan Suid-Afrika: 56 skrywers vertel
Skrywers: Verskeie
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2023
ISBN: 9781485313793
Hierdie land – daar is iets aan Suid-Afrika is eweneens ’n bundel kort sketse oor Suid-Afrika, uitgegee deur Protea Boekhuis. 56 bekende Suid-Afrikaanse skrywers is gevra: Wat is vir jou uniek en kosbaar aan Suid-Afrika? Wat laat jou verlang? Wat laat jou lag? Wat maak jou trots?
Die resultaat is hierdie begeesterde hutspot van ’n bundel, ’n heerlik opbeurende, snaakse en nostalgiese leeservaring waarin die skrywers ’n oorvloedige verskeidenheid antwoorde op hierdie vrae verskaf. Daar is die verwagte elemente wat op lieflike en oorspronklike maniere besing word, soos die Krugerwildtuin, ons wonderbaarlike natuurskoon (daar is byvoorbeeld 130 verwysings na verskillende berge in die teks) en ryke verskeidenheid diere, ikoniese streke en plekke en landmerke wat strek so wyd soos van die Karoo, korbeelhuise, die Boland en sy wingerde, Tsitsikamma (waaroor Carina Stander twee pragtige verse bygedra het) tot by die Wieg van die Mensdom, Aasvoëlkop en Pretoria. Oor Pretoria is daar twee bydraes, baie verskillend van aard: een ’n strak vers deur Joan Hambidge oor die Pretoria van haar kinderjare wat nou heel anders daar uitsien, onder meer as gevolg van “die geskiedenis herskryf deur die oorwinnaar, met ander helde in hul heldeakkers”, en die ander nostalgiese jeugherinneringe van Nicol Stassen, waarin hy na die Pretoria van sy studentejare, die Pretoria van Koos du Plessis, soos hy dit noem, verlang. Lesers van ’n sekere ouderdom sal sekerlik ook gewilde eetplekke soos die Meet and Eat en die Spur by Sterland onthou!
Daar is egter ook minder voorspelbare bydraes – oor byvoorbeeld begrafnisse, begrafniskos en begraafplase. Gielie Hoffman se “Dit was nou ’n lekker begrafnis” beskryf op treffende wyse hoe tradisionele begrafnisse, en veral plaasbegrafnisse, mense omvou het in liefde en ondersteuning, met melktert en koeksisters en vleispasteitjies vir die innerlike versterking, en hoe onder andere die grendelstaat dit na ’n kliniese en eensame ervaring verskraal het. Verwysings na melktert en boeretroos en biltong in die boek is vanselfsprekend, maar selfs die nederige toebroodjie kry hier sy tydjie in die son, en na die lees van Andries Bezuidenhout se lieflike “Eier-mayonnaise- begrafnistoebroodjies” kyk mens met nuwe oë na hierdie ou verversingsvoetsoldaat.
Daar is vele bittersoet bydraes wat mens bybly, soos Gerda Taljaard se “Ode aan ’n begraafplaas”, wat ’n roerende vertelling is van haar eksentrieke tant Sisca wat alleen in die buitewyke van Waterval Onder in ’n bouvallige ou huis gebly het en ure lank in die begraafplaas daar rondgedwaal het.
........
Ek het my verlustig in die bydraes oor paaie en die ryke verskeidenheid woorde wat ons het om hierdie essensiële verskynsel mee te benoem: agterpaaie, grondpaaie, bergpaaie, kortpaaie, plaaspaaie, slingerpaaie, sinkplaatpaaie, tweespoorpaaie, en sekerlik nog heelwat ander.
........
Ek het my verlustig in die bydraes oor paaie en die ryke verskeidenheid woorde wat ons het om hierdie essensiële verskynsel mee te benoem: agterpaaie, grondpaaie, bergpaaie, kortpaaie, plaaspaaie, slingerpaaie, sinkplaatpaaie, tweespoorpaaie, en sekerlik nog heelwat ander.
In Michele Meyer se treffende “Per pad” bely sy dat, rammelpaaie en slaggate ten spyt, sy nog steeds wil bly ry “agter die bekoring [aan] van lang ente pad soos steenkoolswart lint wat strek tot waar ek nie verder kan sien nie”. Paaie word vir haar soos spatare wat oor die lyf van ons uitgestrekte land span, van die wegtrek uit Pretoria op die aorta van die N1, later deur Noordwes die Noord-Kaap binne, verby plekke met kosbare name soos Spoegrivier, Handjieskraal, Vonkelfontein, Bruintjieshoogte en Moedverloor. Sy ry met die padkaart op die skoot, een van daardie onwenniges wat so moeilik opvou, soos sy dit stel, en skryf van ’n dwergmuishond wat iewers, iewers “swaaigat oor die pad stap”.
Daniel Hugo se “Kaskar en kombi”, oor die vervoermiddels van sy grootwordjare in Windhoek, laat mens weer met groot nostalgie verwonderd oor die mate van vryheid en ongebondheid waarmee sommige van ons grootgeword het. Veral die dinge wat met kaskarre aangevang is, het, met terugskouing, gegrens aan katastrofale roekeloosheid, maar dinge was toe vanselfsprekend baie anders. Presies hoe anders blyk uit sy kostelike beskrywing van hoe sy geduldige en vreeslose ma hom en sy sibbes leer bestuur het, van hulle 10de verjaarsdag af en sodra hulle voete die pedale kon bereik, in een van die familie se reeks kombi’s. Hierdie bestuurlesse, haas ondenkbaar vandag, het plaasgevind op ’n Sondagmiddag op een van Windhoek se stil sandpaadjies terwyl sy pa besig was om sy preek vir die aand voor te berei.
Ook Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, of gewoon het, se perspektief kom ter sprake, soos in Renée Rautenbach Conradie se “Verlange”, waarin sy onder die grys hemel van Parys hunker na die helder sterre en kleure en veral klanke van hierdie land: die Bosveldvisvanger se getjier-tjier-tjier, die geluide en klanke van nagapies, hiënas en jakkalse, watervalle, donderslae en, as unieke bonus, die baie tale van hierdie land wat “soet op die oor val”.
Hierdie is maar net ’n bolangse proesel van wat die leser te wagte kan wees, want die bundel bevat talle juwele, en die kort sketse is ideaal vir snuffellees soos die leser se beskikbare tyd en gemoed, hetsy Vonkelfontein of Moedverloor, bepaal.
Dis beslis die lees, en herlees, werd!
Lees ook:
FMR-resensie: Donkertyd. My naam is Tina deur Mariël le Roux

