Antoinette Coetzee is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.
Uitsaaidatum: 7 Mei 2024

Titel: Donkertyd. My naam is Tina
Skrywer: Mariël le Roux
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637002974
Ons lewe in ’n tydvak waarin geweld teenoor vroue en kinders in die kollig is. Die invloed wat hierdie tipe gedrag op ’n jong kind het, is ook te wyte aan die ondersoekende lig van die media oorbekend. Soveel dat ek, en ek vermoed baie ander, redelik selektief lees en kyk na nuusgebeure. Wanneer hierdie tipe gedrag egter as ’n narratief aangebied word met karakters wat vir die leser lewend word, is die impak veel groter as sensasionele gebeure wat die nuus haal. In hierdie geval loop die leser werklik soos die Amerikaanse spreuk sê, “a mile in his moccasins”. Mariël le Roux laat die leser stap op ’n manier wat die hart subtiel aanraak.
Die verhaal begin só:
My ma het die grootste sonde van haar tyd gepleeg. Sy het ’n man in haar jongmeisielyf ontvang en daarom was dit haar skuld toe sy swanger word. Toe doen my pa die eerbare ding en trou met haar en verniel haar vir die res van haar lewe met sy tong. My naam is Geertina Joubert. Ek is vyf jaar ná die kind van my ma se sonde, my broer Sarel, gebore. Die mense na aan my noem my Tina. My pa, daarenteen, volhard met Geertina.
En dan eindig dit met:
Ek kan haar (vertel) dat daar nie net boelies en varke om haar is nie. Haar vertel dat dit tyd neem om ontslae te raak van haar woede. Dat sy die wêreld anders sal sien wanneer sy eendag haar deur ’n bietjie wyer oop kan maak. Maar ook dat die spoke nooit wegraak nie. Vir haar moet die seisoene nog eers ’n paar keer verbyskuif voor sy my sal glo.
Die ek-verteller is Tina. Haar opperste bullebak-pa, Servaas, swakkeling-ma, Annie, en ouer broer Sarel voltooi die gesin. ’n Baie disfunksionele gesin waar suutjies trap en mond hou die norm is.
........
Mariël le Roux laat die leser stap op ’n manier wat die hart subtiel aanraak.
........
Die pa se boeliegedrag word deur Annie weggepraat deur “Vergewe hom maar. Sy kindertyd was donker.” Die leser verwag dat die patroon hom gaan herhaal. Maar alhoewel Tina soos haar ma lyk en aan dieselfde tipe verbale geweld blootgestel word, kry sy dit tog reg om nie te gaan lê nie. Hierin word sy veral gehelp deur haar broer, Sarel. Hy kry self baie swaar en ly geestelik en fisiek onder sy pa. Maar hy is soos ’n kurkprop wat altyd boontoe dobber. Nié dat dit sonder baie moeite, lyding en opoffering gepaard gaan nie. Tina ly meestal in stilte. Sy koester nie die gewelddadige tipe wrokke wat die leser amper wil hê sy moet nie. Haar hart bly sag. Sy kan nie haar droom verwesenlik om ’n veearts te word nie, maar probeer om genesing te bring deur te verpleeg. Sy bou skanse om haarself, maar hoe ondoeltreffend dit is, word duidelik wanneer haar besoek aan Auschwitz ’n buitengewoon ontellende reaksie by haar ontketen. Hierdie selfbeskermingsinstink veroorsaak dat sy moeilik vriende maak en maklik glo dat niemand in haar belangstel nie.
Oujaarsaande dien as merkers in die verhaal. Immer is daar ’n partytjie in ’n skuur op ’n plaas. En altyd is die laaste lied “Goodnight Irene”. Met Servaas wat elke jaar met ’n ander vrou styf teen die blad dans. Die nuwe jaar is nooit “Heppie op die Nuwe Jaar” soos Bettie, die huishulp, groet nie.
Bettie en Willem is van die konstant goeie mense in Tina se lewe. Van boelies en varke het sy baie ondervinding. En, so voel dit, met elke nuwe jaar is die vooruitsig maar droef. Die eerste teken is toe sy sommer van standerd 1 af in die koshuis gestop word omdat haar pa nie heen en weer met haar wil ry nie. Selfs in haar tweede jaar as verpleegster gryp ’n dokter op Oujaarsaand in die donker na haar. Sy ontsnap en dink: “Ek stamp hom in Pa se kamp in. Op die buurman se plaas het Pa nou net die laaste dans van die jaar gedans, flits dit deur my kop. Ek wonder wie hierdie jaar sy Irene was vir wie naggesê moes word.”
........
In hierdie verhaal vind ons karakters wat lewe. Sommige van hulle gaan die leser erg omkrap. Verveel gaan hulle jou nie. En van hulle sal jou laat hardop lag, al voel jy dalk om hul te klap.
........
Letsels bly en Tina sukkel om van haar verlede te ontsnap. Haar reis van onskuldige sewejarige dogtertjie op die mooi Bolandse plaas, Die Laagte, tot middeljarige vrou is ’n lange, en meestal donker. Boonop is sy in ’n beroep waar sy eerstehands die ellende van armoede en bendegeweld ervaar. Die beskrywing van ’n jong meisie wat geboorte skenk en die inval van ’n bende in die hospitaal daarna, ruk aan die hart. Die skrywer het lank verpleeg- en verloskunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap doseer. Hierdie beskrywings is outentiek en plaas die soeklig op die komplekse probleme waarmee daar in ons samelewing geworstel word.
In hierdie verhaal vind ons karakters wat lewe. Sommige van hulle gaan die leser erg omkrap. Verveel gaan hulle jou nie. En van hulle sal jou laat hardop lag, al voel jy dalk om hul te klap. Veral Miriam, een van Servaas se “gelukkies”, word treffend geskets. Sarel vertel vir Tina van Miriam, wat verontwaardig is oor haar broer wat kaal in die bed met iemand betrap is:
“Pa kan net ‘jus’ en ’nou’ in Engels sê,” lag ek.
“En ek sê jou, Miriam vaar nie veel beter nie,” voeg Sarel by. “Maar toe sy eers snikkend sê: ‘My poor baby bradder, naak in de dark’, en Pa vat haar hand in syne vas, toe maak ek myself baie ongewild ...”
“Het Pa Engels gepraat?” vra ek so tussen my amper histeriese lagbuie deur.
“Natuurlik. Hy was heeltemal wel ter tale. “Wie hêf kettels hier on De Lowness, ôlso,” spot Sarel.
Mariël le Roux het kort voor haar skielike heengaan in 2023 vir haar kleindogter, Emma, geskryf: “Eendag, wanneer jy jou eie roman skryf, onthou jou leser – jou leser is die belangrikste karakter in jou storie.”
Lesers sal ingetrek en meegevoer word deur hierdie storie van die vyf geslagte Albrechts op die Bolandse plaas. Die skrywer het beslis haar eie raad gevolg.
Donkertyd. My naam is Tina word uitgegee deur LAPA-uitgewers.
Lees ook:
FMR-resensie: Die mooiste meisie van Genua deur Ilja Leonard Pfeijffer

