Titel: Middernag
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180542
Met die verskyning van Sidney Gilroy se eerste roman, Klikbek, was lesers en resensente dit eens dat dié skrywer ’n aanwins vir die Afrikaanse misdaadgenre is.
In Middernag ontmoet ons weer vir sersant Solly Mthembu, Parkwegstasie se bulhond. Al kom hy ietwat onervare voor, en al is hy ’n hakkelaar, laat los hy nie as hy eers ’n saak beetgekry het nie.
Speurder Sollie word ontbied om vir kaptein Maartin Brummels in die noordoos-Vrystaat te gaan help met die oplos van ’n afgryslike moord. Die verminkte oorskot van ’n vierjarige is in die koelhouer van ’n Frutti Tutti-roomyskarretjie in Harrismith gevind.
Intussen plaas Sollie se vrou, Nyandi, wat swanger is met hul tweede kind, finansiële druk op hom. Hy gaan uitgawes aan wat hy nie kan bekostig nie.
Wanneer Sollie op die misdaadtoneel kom, herinner hy homself voortdurend daaraan dat die kind in die roomyskarretjie nie sý kind is nie. Maar later dink hy: Sy wás dalk nie my kind nie, maar sy ís nóú.
Harrismith is ’n stil, plattelandse dorp. Maar soos een van die karakters dit stel: “Die Vrystaat het twee gesigte, sersant. Soos yin en yang. Die een is die Hilux-bakkies en die mielielande en Grey-kollege ... maar as die klok middernag slaan . . . weet jy tot wat julle mans in staat is.”
Buiten om na die tyd van die nag te verwys, verwys die romantitel ook na ’n kat met die naam Middernag. Die kat is ’n simbool van donkerte. Dit wat hy aandra, dra by tot die grusaamheid van die verhaal.
Brummels en Sollie ontmoet ’n reeks eiesoortige karakters wie se morele kodes meestal buite die aanvaarbare val. Dit sluit Meisie Swart in. Sy word beskryf as “’n kort, dik vrou in ’n japon wat eens pienk was”. Sy maak poppe en is nie net eensaam nie, maar ly ook aan ernstige depressie.
Ivor Groesbeek ly weer aan posttraumatiese stresversteuring. Mia Louw is ’n verloopte sangeres wat blind voorkom, en Kid Koel ’n baie jong ster wat reeds ’n ma is en dwelms gebruik.
Soos die moordsaak vorder, vermoed Sollie dat hy vroeër in sy lewe ook met die Universitas Slagter, die siek psigopaat wat op Vrystaatse kinders teer, te doen gekry het.
Middernag se temas is swaar en donker. Dit vra vrae oor ons as samelewing, dwelmmisbruik, kindermishandeling en die seksbedryf.
Die sersant, sy kollegas en die patologiespan is in ’n wedloop teen tyd gewikkel. Wanneer nog kinders vermoor word, trek die net om die moordenaar al stywer.
Daar is onderstrominge van georganiseerde misdaad en Sollie moet elke truuk wat hy ken, inspan om die skuldige aan die pen te laat ry
Die roman is grieselrig en daarom nie vir sensitiewe lesers bedoel nie. Die storielyn hou jou verkwikkend aan die raai. Tot heel aan die einde.
Middernag bevat ’n liefdeskinkel tussen onwaarskynlike geliefdes wat ’n geskiedenis deel.
Mens lees lekker aan die karakters en hul voorkoms. Kolonel Bester is “’n vriendelike man met ’n breë gesig, wenkbroue wat soos ’n afdak oor sy deegagtige neus hang en ’n stewige handdruk. Plooie lê gegroef oor sy voorkop. Die steil hare, wat lyk asof hy dit self geknip het, is netjies plat gekam. Sy stem is diep en donker.”
Alles in hierdie misdaadroman werk. Nie net die spanningslyn en die karakters nie, maar ook die perspektiefwisseling, die beskrywing van die milieu, die intrige én die navorsing oor onder meer psigopatie en patologiese prosedures.
Gaan gryp die roman so gou moontlik van die rak af.
- Bespreking vir FMR Boekkeuse onder redaksie van Amanda Botha. Uitgesaai 20 Januarie 2021.