
Die gawe van groen deur Elmarié Dercksen (Lapa, 2023)
Titel: Die gawe van groen
Skrywer: Elmarié Dercksen
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9781776358335
As jy dalk een van daardie vroue is – soos ek – wat wonder waarom jou drome van geluk nooit deur ’n huwelik bevredig is nie, bied Die gawe van groen dalk net die antwoord.
Meer hieroor later, want hierdie is tog ’n resensie.
Die gawe van groen, Elmarié Dercksen se debuutroman, voer die leser weg na ’n wêreld waar die binneland besig is om te verdor. Dan hoor die koning van Ghatra in die noorde gerugte van ’n reënkoningin met mag oor die water. Hy stuur ’n bruidskat na die jong maagd, Sati, se pa. As sy weer sien, is sy op ’n wa op pad na ’n nuwe toekoms, haar enigste bondgenote haar diensvrou, Manan, wat meer soos ’n ma is, en ’n jong soldaat, Djimon, met wie sy ’n hegte vriendskap begin ontwikkel.
Waar vorige resensente die groen geheim van Sati se gawe omseil het, gaan ek my verstout om die geheim te verklap aangesien Die gawe van groen reeds langer as ’n jaar gelede uitgereik is.
........
Waar vorige resensente die groen geheim van Sati se gawe omseil het, gaan ek my verstout om die geheim te verklap aangesien Die gawe van groen reeds langer as ’n jaar gelede uitgereik is.
........
Die gawe is dat Sati uiters intense en genotvolle orgasmes beleef wat die aarde se ondergrondse water na die oppervlakte toe bring. Dus nie ’n tradisionele reënkoningin nie, maar eerder ’n wateropwekker. Hoe meer orgasmes en seksuele plesier sy kry, hoe meer water, hoe geiler die aarde, hoe groter die kans op oorlewing. Geen wonder dus dat ’n koning haar teen ’n reusagtige bruidskat by haar pa koop nie – want dié gawe is goud werd.
Alhoewel die natuur en die plantname herinner aan Afrika, strek hierdie verhaal oor verskillende eeue, kulture en tradisies heen – want hierdie is elke vrou se storie wat al vir eeue lank uitspoel saam met die getye van die see op patriargale kuslyne wêreldwyd.
Sati se gawe wat water en dus lewe voortbring, is simbolies van elke vrou se potensiële gawe van voortplanting, om lewe binne haar te laat groei en daaraan geboorte te gee. Dit is ’n gawe wat mans nie het nie, maar wel benodig, omdat ’n erfgename (natuurlik verkieslik manlik) uiters belangrik is om die patriargie te laat voortbestaan.
Dy aan dy hiermee is vroulike seksualiteit wat nog altyd deur mans begeer, bewonder en soms self gevrees word. Soos die maan, is ook vroulike seksualiteit geheimsinnig, maar dit kan ook magtig wees – Luna beheer die getye, en vroulike seksualiteit kan ook die man beheer. Sati word dan ook geleer: “Ma het altyd gesê die pad na ’n man se hart loop g’n deur sy maag nie, dis sommer onsin, dit loop deur sy broek.” (169)
........
Teenoor die sagte magiese energie van die maan as simbool van die vrou, stel Dercksen die son met sy vermoë om die aarde tot die dood toe te verskroei as die manlike teenpool. Sáám kan son, maan en water lewe skep. As die balans egter versteur word, kan die gevolge fataal wees.
........
Teenoor die sagte magiese energie van die maan as simbool van die vrou, stel Dercksen die son met sy vermoë om die aarde tot die dood toe te verskroei as die manlike teenpool. Sáám kan son, maan en water lewe skep. As die balans egter versteur word, kan die gevolge fataal wees.
Die patriargale wêreld is ’n ongenaakbare een – dit is ’n stelsel wat nog steeds nie vernietig is nie – ondanks die onregverdigheid, wanbalans en chauvinistiese chaos wat dit skep. Sati besef haar plek in hierdie wêreld maar alte goed. “Vroumense kyk anders na die wêreld. Ons is gedurig uitgelewer aan die mans.” (22)
Selfs vandag nog moet ’n moderne vrou haar plek ken. Vryheid van beweging mag ons dalk hê, maar vroue is nie orals veilig nie. Misdaad dwing ons ironies terug na die simboliese kombuis van huis en haard, maar selfs daar kan gevaar skuil. Dít weet ons egter.
Vroue was nog altyd ’n kommoditeit, ’n melkkoei as’t ware; haar lyf iets wat geruil kan word vir geld. Of dit nou is om kinders te verwek, of vir seksuele misbruik. Oor die eeue heen is meisies verkoop as bruide. Kinderbruide is steeds ’n gebruik in sekere Moslem-kulture. Europa se koninkryke is gebou op die handel in vroue wat geldryke moes laat saamsmelt en koninklike erfgename in die lewe moes bring.
My ma het altyd gespot, of dalk gemaan, dat elke vrou op ’n goudmyn sit. Dit kan egter ook ’n landmyn wees wat kan ontplof in jou gesig. Dit is dan juis op dié aspek waarop Dercksen sterk fokus en wat hierdie boek so anders en waardevol maak.
As daar een ding is waarin die meeste mans belangstel, is dit dié goudmyn of gawe tussen ’n vrou se bene. Sati, soos baie vroue voor en ná haar, besef dat haar gawe haar lewe gaan bepaal – dit kan haar ’n man, ’n huwelik, ’n toekoms besorg, maar dit kan ook teen haar draai.
Soos menige jong vrou wat met drome en hoop uit die beskerming van haar ouerhuis die wye wêreld invaar, besef Sati gou (95): “Die wêreld is hard, dis ’n manswêreld, en sy met haar sagtheid en vroulikheid en gawe is heel uit plek, en heel weerloos.” Die weerloosheid en magteloosheid wat vroue ervaar in ’n wêreld wat gerig is deur en vir mans, word hartverskeurend werklik deur Dercksen uitgebeeld. “Ons vroumense se lewens ken mos nie regverdig nie, Kintie.” (111)
........
Die skrywer skroom nie weg van die drieledigheid van die vrou se “nat driehoek” nie. Dié vagina is terselfdertyd ’n gawe, ’n bron van oorlewing, maar dit kan haar ook in gevaar stel in ’n wêreld waar verkragting en sekshandel gepleeg word deur dié toksiese mans wat in patriargale omgewings uitbroei.
........
Die skrywer skroom nie weg van die drieledigheid van die vrou se “nat driehoek” nie. Dié vagina is terselfdertyd ’n gawe, ’n bron van oorlewing, maar dit kan haar ook in gevaar stel in ’n wêreld waar verkragting en sekshandel gepleeg word deur dié toksiese mans wat in patriargale omgewings uitbroei.
Dercksen beskryf ook die verraad wat ’n jong meisie soms kan voel as sy besef haar pa is deel van hierdie patriargie, baat selfs daaruit, maar doen nie noodwendig iets om dit te vernietig en so sy dogter se lewe meer regverdig te maak nie.
Mans vat die glans, die genot, die lewe is vir hulle eenvoudiger, net kos en paar en slaap en geld en dan weer paar, hulle werk met ander dinge as ons. Skielik lyk Pappa ook anders, nie meer soos die skattige werfhondjie wat sy in haar kop het as sy aan hom dink nie, maar ’n man [...]. (161)
Daarby ook die ontnugtering wat ’n jong vrou kan ervaar as sy besef dat daar nie altyd liefde op eerste oogopslag is nie en dat die sogenaamde prins op die wit perd eerder wil vry en ry as om haar ’n sprokieseinde te bied.
Daar is wel hoop. Ook vir Sati. Sy hoor die koning is ’n goeie man en dis gou duidelik dat hy weet wat hy doen en die seksuele bevrediging wat sy onder sy bekwame hande ervaar, laat water orals uitspuit – beide ondergronds en tussen Sati se bene.
Wat ons bring by die erotiek in Die gawe van groen. Dercksen se erotiese beskrywings is pragtig en raak. Dit sal ook beslis seksuele onderstrominge by die leser veroorsaak. Die verloop van die seksuele omgang tussen haar en koning Ghatra word haarfyn en meesterlik vertel, en self die posisie van die G-kol (vir dié mans wat nog steeds nie weet nie) en kunnilingus word hemels lekker en goed beskryf.
Sy kop sak donker en sy hande en lippe kry mekaar in die blink driehoek; hy trek die krulhaartjies eenkant toe, sy lek vind die gladde krummel. Wat gebeur? Sy het nie geweet dat dit kan nie. Maar dit maak soveel sin: soene op die ander lippe, sy mond warmer as die son. (163)
Interessant is dat die spuitende orgasme wat sy bereik (ook bekend as squirting) as “piepiedruppels” beskryf word, terwyl baie navorsing daarop dui dat die vloeistof wat voortgebring word deur sommige vroue tydens orgasme glad nie urine is nie.
Iemand het gevra of ek dink die boek is “te veel”. Ek is dalk die verkeerde mens om te vra, want ek voel jy kan nooit te veel bestemmings, doelwitte, drome en orgasmes bereik nie. Daar was wel soms “te min”.
........
Waarom is sekere vroue so ongelukkig in ’n huwelik as dit nog altyd was waaroor hulle gedroom het? Dit is Sati wat die raaisel slim oplos: “Was dit haar droom? ’n Verlowing, die eerste stap na ’n man en kinders? Nee. Die droom was net liefde [...].” (226)
........
Hoewel Sati noem dat sy nie seker is of sy aan die koning mag raak nie, is die gebrek aan sy seksuele bevrediging deur haar opvallend. Sy raak nooit aan hom nie. Dalk het die skrywer gevoel ’n onervare maagd sou huiwer, maar sou ’n magtige koning wat haar lyf gekoop het, nie dalk in die passie van die oomblik haar hand na sy plesierplekke gelei het nie? Ek was ook nie te jolig oor die gebruik van die woordjie krummel vir klitoris nie, maar elke diertjie het maar sy eie plesiertjie en maniere van beskryf en dis nie asof ek al met ’n beter naam vorendag gekom het nie.
Ek sou ook graag meer van die koning se innerlike emosionele binnewêreld wou lees en dan ook meer van Sati se eie seksuele begeertes. Aangesien ’n opvolg aan die einde van die boek aangekondig word, sal dit die ideale geleentheid wees om nou meer te konsentreer op Sati se emosionele en seksuele groei en hoe sy dan ook leer om die manlike seksualiteit onder hande te neem en beheer uit te oefen.
Wat ons bring by die vraag oor waarom baie vroue se drome juis in ’n huwelik kan verbrokkel. Huwelike in ons wêreld word dalk nie meer gereël nie, maar mense trou dikwels nog steeds weens eensaamheid, sosiale druk, vir finansiële sekerheid en om ’n gesin te begin. Hierdie boek, en die teologiese en spirituele wysheid waaroor Dercksen beskik, bied die antwoord, wat eintlik tragies eenvoudig is. Waarom is sekere vroue so ongelukkig in ’n huwelik as dit nog altyd was waaroor hulle gedroom het? Dit is Sati wat die raaisel slim oplos: “Was dit haar droom? ’n Verlowing, die eerste stap na ’n man en kinders? Nee. Die droom was net liefde [...].” (226)
Die gawe van groen is ’n belangrike boek in die feministiese landskap en dalk die eerste voorbeeld van femifilosofiese erotiek in Afrikaans.
Lees ook:
Almal moet kan vlieg: ’n resensie van Heks deur Dibi Breytenbach
Kommentaar
Dit is 'n baie, baie goeie resensie van hierdie boek. Dankie!
Ek het dit baie geniet om dit te lees. Ek sou graag wou die boek aankoop. Die vrou in my vind 'n vriendin in Sati. Ons twee sou lekker klets. En skinder. Van die mans natuurlik!