Donker water deur Martin Steyn: ’n resensie

  • 0

Titel: Donker water
Skrywer: Martin Steyn
Uitgewer: Lapa (2024)
ISBN: 9781779860064

“Ontspan,” paai die uitgewer my. “Hierdie boek is glad nie soos sy ander boeke nie. Dis net effe grusaam, ek belowe.”

Ek is ’n fan van Martin Steyn se werk, moenie my verkeerd verstaan nie, maar sy Swartval het my so bang gehad, ek kon dit net stuk-vir-stuk klaar lees – soos ’n kind wat ’n horror movie deur haar vingers kyk.

Ek word egter verseker dat hierdie boek nie ’n krimi of riller soos sy vorige boeke is nie. Jy sal dit kan hanteer, word ek gepaai. Dit is meer ’n coming of age-boek oor twee jong mans se ervarings by die polisie se duikeenheid.

Wag. Die polisie se duikeenheid?

My reaksie was dieselfde as dié van een van die hoofkarakters, Alex Steytler, as sy beste vriend, Marcel Pyper, hom meedeel dat hulle twee by die polisie se duikeenheid moet aansluit:

 “Maar hulle duik lyke uit.”

“Hulle duik nie net lyke uit nie, man. Hulle soek bewysstukke en doen ander goeters ook wat met water te doen het.”

“... maar hulle duik hoofsaaklik lyke uit.”

Presies! My instink het ten hemele geskreeu dat hierdie nie jou gewone volwassewordingsverhaal gaan wees met ’n paar wyse lewenslessies nie.

Ek was reg.

........
Soos Steytler, is ek grillend in die duisterwater-onderwêreld ingesleep, en soos Steytler kon ek myself eenvoudig net nie wegskeur uit die sterk storiestrome van dié briljante boek nie.
........

Soos Steytler, is ek grillend in die duisterwater-onderwêreld ingesleep, en soos Steytler kon ek myself eenvoudig net nie wegskeur uit die sterk storiestrome van dié briljante boek nie.

Vertrou nou maar vir my. Lyke word inderdaad uitgehaal. Regdeur die boek. Aanhoudend en slymerig, stinkend, herhalend. Die enigste keer wat waterverminkte lyke nie in detail beskryf word nie, is reg aan die begin van die boek – wanneer ’n treintrap beskryf word – waar die trein die slagoffer bokant sy heupe middeldeur gesny het, maar sonder bloeiende liggaamsdele want die treinwiele “sny en seël”.

Een keer – wat vir my byna ’n verligting was, is ’n wapen in die hawe herwin – ’n herinnering dat duikers ook help om misdaad op te los (lyke en wapens dra forensiese inligting met hul saam).

Die beskrywings is so akkuraat en hartverskeurend grusaam dat ek in die middel van die boek – lykvoos soos die duikers self – moes asemskep. Ook my eetlus het verdwyn. Wat wel nie verdwyn het nie, was my belangstelling in die boek en my lus om verder te lees.

Steyn is ’n goeie skrywer bekend vir sy deeglike navorsing en een wat meesterlik en byna moeiteloos unieke beskrywings skep soos wat hy sy storie vertel – dié van twee boesemvriende en polisiemanne wat die stasies en treine patrolleer totdat die meer avontuurlike van die twee, Pyper, besluit dat hulle albei polisieduikers moet word.

Al is hierdie nie ’n krimi nie, gebruik hy wel die bekende resep van “ernstige” versus “komiese” polisieman wat deesdae so gewild is onder krimi-skrywers, maar Pyper is oorspronklik snaaks, soos die feit dat hy ’n vrees het vir hansworse nadat “’n clown my in Makro gejaag het toe ek klein was. Hy het die make-up en die hare en die fokken neus en die hele outfit aangehad”.

Boonop kom Pyper ook uit ’n gesiene huis, maar hy wil nie ’n uroloog soos sy pa word nie. Die gevolge is glo net te verskriklik – “’n pa-en-seun-pielpraktyk – Pyper en Pyper – ons doen piele.”

Daarteenoor is Steytler die nors teenoor Pyper se nar, die stil, diep tipe wat eerder sal rekenaarspeletjies speel as regte verhoudings aanknoop – heel moontlik vanweë die feit dat sy ma se keuse in mans bedenklik was en hy nooit sy regte pa leer ken het nie.

........
Wat die boek uniek en ’n moet-lees maak, is die feit dat dit alles geskied in die uiters fassinerende duikersmilieu waarvan die meeste van ons maar min weet.
........

Wat die boek uniek en ’n moet-lees maak, is die feit dat dit alles geskied in die uiters fassinerende duikersmilieu waarvan die meeste van ons maar min weet. Steyn het tydens navorsing vir Swartval met ’n polisieduiker gepraat oor lykherwinning en so is die idee van hierdie boek gebore toe dié duiker hom ook aan ander duikers voorgestel het en hulle meer as bereid was om hul stories te deel – wat dan ook in die boek verskyn.

Jy leer van die toutegnieke en handgebare wat hulle gebruik, die feit dat dit ’n sielkundige truuk is om die lyksak reeds gereed te maak omdat dit jou in die ingesteldheid sal plaas dat die lyk wel gevind sal word. Lyke word dan ook op spesifieke maniere in die sak gebêre.

Dan is daar die feit dat ’n liggaam sink en dan eers weer begin dryf wanneer die lyf vol gas is. Iets waarvan die sangomas maar alte bewus van is wanneer hulle geslagte hoenders drie dae later eers op die strand offer om die lyke kamstig te help opduik.

Mens besef ook gou dat water nie altyd die see of riviere is nie. Dit kan ook damme, hawens, rioolwerke en mangate (manholes) wees. Polisieduik is ook allesbehalwe ’n Little Mermaid-ervaring in tropiese water. Die sig is dikwels swak of heeltemal afwesig en jou “skat” gewoonlik ’n erg ontbinde lyk.

Twee ander “karakters” staan sentraal teenoor Pyper en Steytler – Water en Dood.

Die water is iets wat neem, maar ook teruggee, en dit word gou duidelik dat baie duikers dit as hul taak – en ja, voorreg – sien om ’n slagoffer aan sy mense te kan terugbesorg sodat die rituele van die dood voltrek kan word en sluiting, sowel as berusting kan plaasvind.

Water is sterker as die liggaam. Water vernietig en die lewe binne water vreet en verteer vlees. Een slagoffer se pa wonder of die see die mens straf weens besoedeling en die oorvissery.

........
Die dood kan nie beheer word nie, maar hoe jy die gevolge van dood hanteer, kan die mens wel beheer – en dit is waar die duikers inkom – nie net om misdaadinligting na die oppervlak te bring nie, maar ook om die slagoffers se geliefdes te help om sin te maak uit iets sinneloos.
........

Die ander karakter is die dood. Dood wat neem en net mooi niks teruggee nie. Die duikers werk natuurlik met die dood se slagoffers, maar hulle werk ook in dood se omgewing waar hy voortdurend oor hul skouer loer en in hul oor fluister: Jy gaan doodgaan.

Die joeter. Dié stem wat in die duiker se kop klim as hy alleen in die donker waters is en hom vertel dat hy nie gaan oorleef nie. Die vrees vir die dood wat teen jou kom vasgroei soos mos.

Die karakters filosofeer dan ook oor die dood met Pyper wat dit duidelik stel dat hy nog nie gereed is om dood te gaan nie. Hy wonder of almal se tyd voorafbepaal is. Steytler voel weer dis soos die lotto, en dat niemand ’n spesifieke tyd het om te sterf nie.

Alhoewel dié vraag nooit in die boek beantwoord word nie, staan dit wel soos ’n paal bo water uit: Die dood kan nie beheer word nie, maar hoe jy die gevolge van dood hanteer, kan die mens wel beheer – en dit is waar die duikers inkom – nie net om misdaadinligting na die oppervlak te bring nie, maar ook om die slagoffers se geliefdes te help om sin te maak uit iets sinneloos.

Steytler en Pyper beleef verskeie ervarings en oorwinnings in die duikwêreld. Dan gryp die noodlot in. Die verhaal word meer menslik, die emosies rou en persoonlik. Skuld en vergifnis word die nuwe rolspelers soos wat die karakters self moet sin maak van die dood as tragedie hulle persoonlik aan die hand kom vat.

Ek was meegevoer deur die storie van twee vriende, twee verskillende lewensuitkyke en een besluit wat alles vir altyd verander.

Ek beveel die boek hoog aan as jou drang na interessante en goeie leesstof sterker is as jou ingewande.

Lees ook:

Martin Steyn (1976–)

Losprys deur Martin Steyn: ’n resensie

Boekresensie: Swartval deur Martin Steyn

Resensie: Skuldig deur Martin Steyn

Rustig soos ’n landmyn, ’n resensie van Bettina Wyngaard se Lokval

The profiler diaries 2 deur Gérard Labuschagne, ’n resensie

Dood, vrees en hoop: ’n resensie van Tenk deur Pieter Stoffberg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top