Titel: The profiler diaries 2
Skrywer: Gérard Labuschagne
ISBN: 9781776390359
Uitgewer: Penguin
’n Profileerder is iemand wat al die legkaartstukke van ’n misdaadtoneel, die inligting in die dossier, en ander getuienis bymekaar probeer pas om een prentjie te vorm – dié van ’n moordenaar.
Hoe lyk ’n moordenaar? Wel, hy kan lyk soos ek en jy. Op die oog af ’n doodgewone mens, maar doodgewoon kan gewoon jou dood beteken.
Só reken prof Gérard Labuschagne, kliniese sielkundige, profileerder en kriminoloog, in sy nuutste boek The profiler diaries 2. In dié boek konsentreer hy op ses sake waar die moordenaar(s) wel aangekeer en in die hof skuldig bevind en gevonnis is.
Profilering is deur dr Harvey Schlossberg, voormalige direkteur van die sielkundige eenheid van die New Yorkse polisiedepartement, beskryf as beide ’n kuns en ’n wetenskap. Uit die professor se vertellings is dit duidelik dat hy dié kuns tot ’n wetenskap vervolmaak het.
The profiler diaries 2 is ’n uitstekende bron van inligting oor hoe ondersoeke en die hof werk. Dit bied ook ’n ysingwekkende insig oor reeksmoordenaars wat my ongemaklik gelaat het.
Volgens die professor is daar nie ’n boksie waarin ’n reeksmoordenaar kan pas met ’n spesifieke persoonlikheid of agtergrond nie, wat dit moeilik maak om dié spesie betyds te eien.
Die ander probleem met reeksmoordenaars is dat niemand weet hoekom hulle moordenaars word nie, en daarom is dit moeilik om hulle “te genees”, meen Labuschagne.
Volgens hom kan hulle nie gerehabiliteer word nie en hy het bewyse van reeksmoordenaars wat vrygelaat is net om weer te moor.
Wat my as leser verder slapelose nagte besorg het, is die feit dat enigeen ’n reeksmoordenaar se slagoffer kan word. In Suid-Afrika, reken Labuschagne, is dit dikwels desperate werkloses wat geteiken word. Die maklikste is om ’n valse advertensie vir ’n werkaanbod te plaas en dan die onskuldige werkaansoeker na sy dood te lei.
...
Die boek is interessant, goed geskryf en insiggewend. Ek beveel dit aan. Dit het my wel nog meer paranoïes gemaak oor moontlike misdaad.
...
In sy boek bied Labuschagne ook ’n unieke perspektief op die doodstraf en die kwessie van parool.
Volgens hom sal die doodstraf op sigself nooit as afskrikmiddel dien nie. Dit is eers as die voornemende misdadiger bang is vir suksesvolle speurwerk, vervolging en gevolglike inhegtenisname en effektiewe vonnisoplegging, dat hy twee keer sal dink voordat hy ’n misdaad pleeg.
Hy stel dit ook duidelik dat hy geen vertroue in paroolrade het nie en dat dié rade dikwels dit wat ’n regter wou bereik het met die vonnisoplegging, ongedaan maak.
Hoekom is dit so belangrik dat die oortreder berou moet toon, vra hy. Net omdat jy gerehabiliteer is, beteken dit nie jy kan nou vrygelaat word nie. Jy mag eers die tronk verlaat as jy voldoende gestraf is. Punt en klaar, is hoe Labuschagne dit stel.
’n Ander middel tot ’n doel wat ’n tweeledige swaard is, reken hy, is ’n beskermingsbevel. Hy stel dit duidelik dat dit ’n stuk papier is – iets wat net mooi niks gaan beteken waar daar diep gesetelde emosies by betrokke is nie. Volgens hom sal ’n beskermingsbevel slegs werk as die persoon teen wie jy beskerm moet word, baie het om te verloor of indien daardie persoon rasioneel kan redeneer.
...
Dit is juis wat so interessant is. Plat gesigte in plastieksakke, ontbindende lyke, en vreesaanjaende laaste oomblikke word byna saaklik beskryf.
...
Die boek het by my ’n respek gelaat vir dié soort polisiebeampte wat tot elke uiterste sal gaan om ’n volledige ondersoek te doen en die misdadiger aan te keer.
So is daar Phillip Bekker wat tydens ’n ondersoek in die sekswerkerreeksmoorde besluit het om swart plastieksakke wat in die verdagte se woonplek gevind is, te laat toets om te sien of die afskeurmerk (wat ’n spesifieke patroon sou hê), ooreenstem met die plastieksak wat om een van die slagoffers se kop vasgebind was.
Dis nie die geval dat Labuschagne doekies omdraai oor sommige polisiebeamptes en -afdelings se vaardighede nie. Hy beskryf die SAPD se hantering van bekruipingsake as dié van ’n olifant hoog op kokaïne met ’n bus op sy rug vasgemaak.
Ek het ’n paar dinge uit die boek geleer: As jy dalk ooit in kookwater beland, onthou dat ’n spontane skulderkenning nie toelaatbaar is in die hof nie. Dit moet ’n geskrewe skulderkenning wees wat slegs plaasgevind het nadat die ondersoekbeampte of landdros seker gemaak het dat die skulderkenning uit vrye wil geskied het en dat jy bewus is van die gevolge van jou skulderkenning.
Ek weet ook nou wat die gemiddelde aantal steekwonde in Suid-Afrikaanse moordsake is.
Hier is ook iets wat ons almal in gedagte kan hou: Die meeste slagoffers van misdaad was besig om iets te doen wat hul naasbestaandes reken “hulle nooit sou doen nie”...
As ’n skrywer van rillers was ek nog altyd meer geïnteresseerd in die profileerder as in die moordenaar. Wat my betref, is reeksmoordenaars maar net dit. Soos wat die skrywer Pieter P Fourie dit stel: “A monster does what monsters do.”
Maar wat sal iemand noop om elke dag saam met van die wêreld se gevaarlikste mense te werk? Ek het ’n ander bekende profileerder dr Micki Pistorius se boeke ook gelees en wat my by haar opgeval het, was die rou, uiters-emosionele vertellings en manier hoe sy haar eie vreemde persoonlike eienskappe openbaar het. Alhoewel beide profileerders van mening is dat reeksmoordenaars uit die samelewing verwyder moet word, reken Pistorius dat sy reeksmoordenaars verstaan. Labuschagne maak weer nie sulke stellings nie.
Anders as Pistorius is Labuschagne meer terughoudend, minder emosioneel en meer geneig tot kil eerder as dramatiese beskrywings van afgryslike tonele.
Dit is juis wat so interessant is. Plat gesigte in plastieksakke, ontbindende lyke, en vreesaanjaende laaste oomblikke word byna saaklik beskryf. Dan is daar ook die interessante feitjie dat hy ’n moordwapen (’n mes) geraam en in sy studeerkamer gehang het.
Die boek is interessant, goed geskryf en insiggewend. Ek beveel dit aan. Dit het my wel nog meer paranoïes gemaak oor moontlike misdaad en ek verbeel my nou gereeld ek hoor iemand wat by my huis probeer inbreek.
Ek kan ook nie die geraamde mes uit my gedagtes kry nie.