Titel: Tenk
Skrywer: Pieter Stoffberg
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904885
Dit sou maklik wees om oorlog te beskryf as die bloedige resultaat van toksiese mans se hormonale veglus en smagting na mag – en na vroue en kinders as die enigste slagoffers van oorlogvoering.
Maar dis nie so eenvoudig nie. Die werklikheid is inderdaad bloediglik kompleks.
Tenk deur Piet Stoffberg handel oor Operasie Modulêr wat in die laaste drie maande van 1987 in Angola uitgevoer is. Dit is gegrond op onderhoude met die werklike rolspelers sowel as op dagboeke, memoires en militêre joernale. Die rolspelers “vertolk” ook hulself in die boek.
Die boek was deel van Stoffberg se MA in kreatiewe skryfkuns aan die UV, en is duidelik deeglik nagevors. Stoffberg het groot moeite gedoen om die feite, terme en oorlogsprosedures haarfyn te beskryf. Dit is indrukwekkend, maar in een stadium het dit gevoel asof ek ’n suiwer verslag oor oorlogvoering lees en nie ’n boek oor vlees en bloed nie. Dit was asof die skrywer nie genoeg vertroue gehad het om sy kreatiewe vryheid te gebruik om die gebeure meer loslittig en kreatief te omskryf nie. Dit sou dalk beter gewees het om ’n uiteensetting van die prosedures en operasie vir ekstra leeswerk en agtergrond afsonderlik in die boek te plaas en ons dan reguit bos toe te vat met die storie self.
...
Onder die strak feite pomp die harte van regte mense, dié soldate wat probeer oorleef in ’n oorlog waaraan hul geen skuld het nie maar wat hulle noodgedwonge moet voer. Daar is die kapelaan wat die troepe mieliepap so saam met die sielskos voer ...
...
Maar …
Dan bars skermutselings los, en die bloed begin te vloei en sypel deur die woorde. Die karakters begin die oorlog aan hul lyf te voel en die leser word ingetrek in ’n uiters spannende verhaal. Agter die rigiede weermagprosedures en ironies oulike Afrikaanse diername vir oorlogsmasjinerie, soos Ratel, Buffel, Cheetah, Kwêvoël, Olifant, Rinkhals en Ystervark, skuil die heilige drie-eenheid wat die soldate altyd op die gevegslinies vergesel: Die Dood, Vrees en Hoop.
Onder die strak feite pomp die harte van regte mense, dié soldate wat probeer oorleef in ’n oorlog waaraan hul geen skuld het nie maar wat hulle noodgedwonge moet voer. Daar is die kapelaan wat die troepe mieliepap so saam met die sielskos voer, Pietie de Villiers wat sonder weermagopleiding na die gewondes op die grens moet omsien, en my gunsteling, Abrie Ahlers, wat sy swanger meisie belowe dat hy met haar sal trou voordat sy die lewe aan hul seun skenk.
Dood, vrees en hoop – wat hand aan hand loop met lewe, moed en wanhoop – word sterk uitgebeeld en is ’n deurlopende tema. Almal wéét hulle kan doodgaan, maar niemand wil daaroor praat of dink nie. Maar wanneer die koeëls begin fluit en die manskappe begin val, word dit al hoe moeiliker om Dood, en natuurlik Vrees, te ignoreer. “Die vyand het in sy lyf geklim en die naam van die vyand is naakte vrees.”
Die ander teenpool van oorlog is natuurlik vrede. Dit is die afwesigheid van vrees, vertel die kapelaan aan Abrie. Vrede is egter nié wanneer bedreigings soos oorlog afwesig is nie, verduidelik die kapelaan, maar vrede is die teenwoordigheid van God. Abrie kan egter nie vat kry hieraan nie. Ja, hy weet van God, maar hoe kan dié hom help om nie bang te wees nie?
Nee, besluit Abrie: “Wanneer mens in digte mis kyk, moet jy net aanhou stap. As jy lank genoeg stap en aanhou beweeg sonder om moed te verloor, sal jy daardeur kom en sien wat aan die ander kant is.”
Die emosionele kant van die soldate word sterk belig – jong seuns wat ook maar net bang is, pa’s en eggenotes en gewone mense wat aan die diep bloederige kant ingegooi word. En die harde realiteit van die oorlog stoomroller die leser die hele tyd soos ’n tenk.
Die beskrywings is meesterlik en werklik. “Vlieë is die vyand. Hulle broei uit in die kadawers wat orals in die veld rondlê … In die verrottende vleis raak hulle berserk in orgies van voortplanting en lê triljoene eiers in die oop wonde … Die lug raak dik van hulle. Hulle is orals. Vlieë is die vyand …”
En: “Ahlers is in die middel van ’n Salvador Dali-skildery: die lawaai, die stank van diesel en kordiet en sweet, en die angs wat alledaags geword het, alles surrealisties. Nes die dood. Die lukraak dood. Want hier kan enigeen terugkom in ’n lyksak. As die manne getrakteer word op braaivleis, spring Ahlers dan ook skreeuend op aandag, middelvinger in die lug: “Gladiators! You who are about to die, salute PW-fucking-Botha and eat your steak.”
...
Oorlogvoering is nie ’n man-ding nie, dis ’n magsding. En die slagoffers is enigeen wat in die oorlog betrokke is. En ja, die soldate is ook slagoffers. Uit en klaar.
...
Wat ons terugbring by die sogenaamde toksiese manlike brutaliteit van oorlog. Ja, dis maklik om te sê dat dit mans is wat bloedlustig oorlog voer. Maar kyk mens na die geskiedenis, is dit nie waar nie.
In 1982 het die destydse Britse premier, Margaret Thatcher, haar ystervuis gewys toe Argentinië die Falkland-eilande binnegeval het. Sy het persoonlik beveel dat die Argentynse oorlogskip Belgrano gesink word. Altesame 300 seesoldate is dood.
Park Geun-hye, Suid-Korea se eerste vroulike president, het van 2013 tot 2017 ’n aggressiewe bewind gevolg en het gedreig om Noord-Korea summier te verwoes sou hulle ’n kernaanval loods. Sy is later uit die kussings gelig weens korrupsie, maar in Amerika het ’n ander kwaad kat haar naels gewys: Hillary Clinton, wat in eens die Amerikaanse minister van buitelandse sake was, het president Barack Obama oorreed om oorlog teen Libië te voer.
Oorlogvoering is nie ’n man-ding nie, dis ’n magsding. En die slagoffers is enigeen wat in die oorlog betrokke is. En ja, die soldate is ook slagoffers. Uit en klaar.
Die meeste van my vriende wat op die grens was, is nou 60 en ouer. Oor 40 jaar is die meeste Grenssoldate en hul stories dood. Dié dat boeke oor die Grensoorlog, hetsy fiktief of feitelik, so belangrik is. Want hierdie dikwels geestelik gewonde mans se stories is deel van die hartseer geskiedenis waar leiers steeds met menselewens speel.
Dié boek is ’n belangrike een. Dis goeie leesstof en die beskrywings is meesterlik. Ek sien uit na ’n volgende boek met ’n ander tema uit die skrywer se pen.
Kommentaar
Wonderlik geskryf. So na aan die waarheid wat die manne beleef het. En waarvoor? Die eer van ons SANW? Die verneukery van Kissinger-hulle? Ek vra maar net!