Losprys deur Martin Steyn: ’n resensie

  • 1

Losprys
Martin Steyn
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 
9780799390889

’n Kind is weg. ’n Stewige losprys roep, en so begin ’n week van onverdunde hel – gepak met onderhandelinge, die gejaag agter leë leidrade aan en verskillende agendas wat ontvou tussen Llandudno en Mitchells Plain in die Kaap.

Die storie draai om Steven, ’n jong stil seun van die welgestelde Amerikaanse paartjie Heath en Donna Gordon, wie se roetinemiddagstappie na die rotse op ’n ontvoering uitloop. Beperkte beeldmateriaal op die omgewing se sekuriteitskameras, ’n vermiste tuinier en gedokterde samoesas is van die leidrade wat die span deskundiges van die polisiediens moet gebruik. Intussen wag die Gyselaaronderhandelingseenheid vir die gevreesde oproep van die verdagte om ’n losprys te beding.

Steyn se boeke getuig van deeglike navorsing en bevat interessante karakters. In Losprys word die leser blootgestel aan die binnewerke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens – kompleet met die onderliggende frustrasies, magteloosheid en politiek wat taakmagte, die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid en die Gyselaaronderhandelingseenheid beleef. Die leser besef gou dat ’n menseroofscenario ’n groep gespesialiseerde persone vereis wat die verantwoordelikheid van lewe en dood op hulle gefrustreerde skouers moet kan dra, en dat geduld, deursettingsvermoë, hoop en kennis nodig is om ’n gyselaarsdrama suksesvol te ontlont.

Verskeie karakters se verhale vervleg met die hoofgyselaarsdrama en verleen sodoende diepte en tekstuur aan die boek. Die intensiteit van die oplos van moordsake word beklemtoon en leidrade wat spook, veroorsaak dat polisiebeamptes persoonlike verantwoordelikhede afskeep. Daar is byvoorbeeld adjudant Enzo Ariefdien wat streef om geregtigheid te laat geskied, terwyl die stof dik voor sy eie voorstoep lê. So ook is posttraumatiesestressindroom duidelik in die optrede van die primêre onderhandelaar, Karla Blackenberg, wat verskeie geraamtes in ’n destruktiewe en dramatiese kas probeer oorwin, maar bewys dat dit soms nie moontlik is om die druk van die ongenaakbare werk wat sy verrig, teë te sit nie.

Die boek bied talle verrassings – een daarvan is dat daar moontlik nie slegs een kind vermis is nie, wat die storie ’n interessante wending gee. Jou eie morele kompas speel ook woer-woer as jy gekonfronteer word met die ongeregtigheid wat ’n sekere demografie van Suid-Afrikaners beleef – want klas- en rasverskille in Suid-Afrika is beslis die teelaarde waarop die verhaal gebou is.

Daar is verskeie verdagtes, en jy vind dat jy self speurder speel met karakters se motiewe, modi operandi en hul emosionele besluitneming. Regverdig die doel die middele wanneer ’n magtelose ouer of randfiguur enigiets sal doen om geregtigheid te laat geskied?

Is daar ’n skakel met Steven se broer en sy bruin vriendin wat ’n koffiewinkel bedryf in Houtbaai? Is daar ’n moontlikheid dat oorsese besigheidsreuse suur is na ’n besigheidstransaksie wat skeefgeloop het? Of is die eenvoudige karboef skuldig?

Naamgewing in die boek is in sekere opsigte problematies. Alhoewel die name van karakters wel ’n etnisiteit of kulturele sein wil stuur, kan foneties soortgelyke of moeilike name en plekke soos Ariefdien, Lubambo, Llandudno, Ruhling, Raweena, Rashad en Roshaan uitspraak bemoeilik in jou gedagtes of selfs lei tot verwarring van karakters. Die tempo is ook aanvanklik stadig, maar mettertyd tel die verhaal spoed op soos wat leidrade ondersoek word en speurkonneksies gemaak word.

Hierdie boek byt en hy klou – jy word meegesleur met die spannende jagtog, die ontrafeling tot op die klimaks en ontknoping. Die slot belowe ’n sug van verligting, of ’n mistroostige “nee!”. Steyn sit gemaklik in sy misdaadskryfvel en hy het daarin geslaag om ekstra spanning en diepte aan ’n gyselaarsdrama te verleen deur ’n slim toevoeging van sosiale kommentaar as interteks. Die grond lê braak vir die ontwikkeling van nuwe stories vanuit Losprys en sy karakters.

Hierdie is Steyn se vierde spanningsroman. Sy boek Donkerspoor is reeds in Engels vertaal en ’n Turkse vertaling is moontlik in die pyplyn.

  • 1

Kommentaar

  • Marie Dantuma

    Sjoe ek het sopas die week Martin Steyn se DONKER SPOOR, SKULDIG en SWARTVAL, klaar gelees. Nou gaan ek eers asemskep en weer terug om te kyk of ek LOSPRYS te lees kan kry.

    Wat n ongelooflike SKRYWER. Ek sit heeltyd met my asem opgehou terwyl ek lees!

    Dankie vir soveel leesgenot !

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top