Boekresensie: Swartval deur Martin Steyn

  • 6

Foto van Martin Steyn: Naomi Bruwer

Titel: Swartval
Skrywer: Martin Steyn
Uitgewer: Lapa, 2016
ISBN: 9780799380910

Die boek se stofomslag waarsku dat dit nie vir sensitiewe lesers bedoel is nie. Neem hierdie waarskuwing ernstig op, maar moenie die boek afskryf daaroor nie. Want geweld teenoor vroue, die emosionele aftakeling wat dit meebring en die uitwerking daarvan op ons samelewing en diegene wat die misdade en moorde moet oplos, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Die boek is nie ontspanningslektuur nie; dis eerder ’n kykie in die wêreld van versteurdes se lewens en wat hulle só geskend het dat hulle heeltemal emosieloos die dade pleeg wat ander skok.

Swartval vertel die storie van Claire Winters, wat een warm Maartdag by haar motor deur ’n man met klein vaalbruin oë – die oë van iemand wat nie reg is nie – ontvoer word met ’n mes teen haar keel.

Haar brein jaag net so vinnig soos haar hart. Dis hy. Die een wat die blomme op haar kar gelos het. Hy het teruggekom. En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat. Vir haar.

Sy word iewers afgesonderd in ’n sementsel gevange gehou. Sy het verskeie male probeer om weg te kom, maar elke keer was hy ratser as sy. Toe sy uitbreek en voor die ouer vrou kom, het sy gehoop dis alles verby, maar tevergeefs. Haar ontvoerder se ma was deel van die plan.

Later plaas sy haar hoop op haar speurderbroer. Hy weet wie die man is wat haar ontvoer het. Hy het hom al gekonfronteer; weet waar hy woon en wat sy naam is. Maar nog ’n lang, donker dag eindig met ’n toebroodjie en ’n glas water en Derek kom nie.

Sy herleef weer haar kinderdae in Robertson, hoe Derek die leer vir haar houvas het dat sy kan vrugte pluk uit die bure se lukwartboom. Hoe hy moet sorg dat haar brein nie in daardie sementkelder omval nie.

Claire besef hierdie keer sal sy haarself moet red. Voordat haar verstand heeltemal in die swart van die kelder oplos. Sy breek uit die kelder, maar hy vang haar weer.

En die ma is nog meer ongenaakbaar as hy.

Die enigste uitweg is deur haar ontvoerder. Want hy het die kelder se sleutel. Sy besef dat hy ’n behoefte het aan ’n normale verhouding met iemand anders; dat ook hy deur die ma verag word.

Maar net toe sy dink sy begin vordering maak, vind Claire uit waarvoor sy regtig aangehou word.

Vir sy debuut, Donker spoor – die produk van ’n kreatieweskryfkursus van die South African Writers’ College – het Martin Steyn in 2015 ’n ATKV Mediaveertjie vir spanningslektuur ontvang. Daarna volg Skuldig, wat vertel van die stelselmatige moorde op ’n uitverkore groep “skuldiges” wat gedwing word om die woord “skuldig” in hul eie bloed te skryf voor hulle tereggestel word.

Al drie boeke ontgin die psige van reeksmoordenaars en die samelewing se morele oordeel. Steyn se studies met die hoofvakke sielkunde en kriminologie kom nuttig te pas met die ontginning van sy hoofkarakters.

Donker spoor vertel van ’n reeksmoordenaar wat sy slagoffers, hoërskoolmeisies wat in die noordelike voorstede van Kaapstad skoolgaan, aanhou, verneder, geestelik aftakel, seksueel misbruik en eindelik vermoor deur hulle op te hang.

Die skrywer meld in sy skrywersnota dat Claire se storie nie maklik was om te skryf nie – dat dit makliker was om te skryf oor wat in ’n outopsie van ’n tienermeisie gebeur as “om saam met Claire ontvoer en aangehou te word”.

“Ek het waremisdaadboeke begin lees omdat reeksmoordenaars en -verkragters my interesseer, omdat ek wou weet hoekom hulle só word.”

Hy skryf dat oorleef net die eerste deel is. “Daarna kom die stukke optel om weer heel te word, ’n stryd wat selfs meer van daardie innerlike krag verg.”

Hy het baie navorsing gedoen om Claire ’n geloofwaardige karakter te maak en storie te gee.

Die boek laat jou aanvanklike weersin in die ontvoerder later amper in ’n tipe simpatie verander. Want ook hy is ’n slagoffer. Maar die foltering waardeur Claire vir die res van haar lewe sal gaan, bring jou gou terug na die werklikheid.

Die skrywer se taalgebruik en beskrywings maak die situasie werklik in jou oë. Jy ervaar die vrees wat Claire in die donkerte ervaar; haar kortasem sonder haar asmapompie laat jou bors saamtrek.

Martin Steyn is goed met woorde; maar beter met spanning en vrees.

  • Vir elke kopie van Swartval wat verkoop word, word ’n persentasie aan Rape Crisis Helderberg geskenk. Steyn vra om donasies om ’n verskil te maak in vroue se lewens wanneer hulle regtig hulp nodig het.
  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Reinette Rautenbach

    Ek het al drie boeke gelees. Almal was uitsonderlik goed geskryf. Hoop daar volg nog baie.

  • Uitstekend geskryf. Ek kon die boek nie neersit nie. Teen die einde van die boek pla die vermenging van Afrikaans en Engels deur die verpleegster net 'n bietjie. Ek weet daar is mense wat so praat en dit lyk of die skryfskole dit aanmoedig. Die vraag is net, hoe bevorder ons goeie Afrikaans op hierdie manier? Hoekom kon karaters in 1940 en 1965 Afrikaans praat, maar in 2017 moet dit Engikaans wees?

  • Die beste! James ek dink skrywers moet dalk tred hou met die feit dat ons nou in 2017 lewe; dis hoe mense nou praat! Martin se navorsing is PUIK! Hierdie is fliekmateriaal ook!

  • Ek wil net op Brenda se opmerking reageer. Karel Schoeman word deur baie as die grootste romanskrywer in Afrikaans beskou. Dit is bekend dat hy gekant was teen taalvermenging. Maar hy het seker ook nie tred gehou met die feit dat hy tot in 2017 geleef het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top