Resensie: Skuldig deur Martin Steyn

  • 0


Skuldig
Martin Steyn
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799373608

Een swaeltjie maak nou wel nie ’n somer nie, maar Martin Steyn se Skuldig herbevestig die skrywer se enorme talent. Ons sit hier met niks minder nie as ’n kandidaat vir Krimi van die jaar 2015. Ek erken uit die staanspoor dat ek Steyn se debuutroman, Donker spoor, in dieselfde klas ag as ander kragtige debuutwerke uit die pen van Suid-Afrikaanse krimiskrywers soos Deon Meyer (Feniks), Karin Brynard (Plaasmoord) en Rudie van Rensburg (Slagyster). Wat Steyn egter met Skuldig vermag, is om die rateltaai dog deernisvolle vertelling, balans tussen eksposisie en innerlike handeling, en raakvatkarakterisering van sy debuut aan te vul met ’n ietwat meer beweeglike benadering tot die skep van spanning: hier worstel speurder en leser saam oor die komplekse antwoorde op yslike morele kwessies wat tot die donkerste dieptes van die menslike psige spreek. Skuldig is, soos Donker spoor, beslis nie vir sensitiewe lesers bedoel nie, en dit is allesbehalwe ontspanningslektuur. Ek is dit wel met Coenraad Walters eens dat die roman uiters leesbaar en bevredigend is.

Anders as met Donker spoor, wat ook geworstel het met die vraagstuk van ekstreme geweld teen vroue, is die vraag nie presies hoe ver onmenslikheid en brutaliteit teenoor ander in die samelewing kan strek nie, maar eerder hoe (1) die gewone mens ’n morele oordeel kan vel – in ’n konteks waar morele verval oënskynlik oorheers – teenoor dié wat buite die gereg optree wanneer die persone self of hul geliefdes slagoffers van misdaad is, en (2) die skeidslyn(e) tussen geregtigheid en weerwraak, skuld en boetedoening, sedeloosheid en aanspreeklikheid, verantwoordelikheid en vergelding, tot die ekstreem vervaag.

Die stelselmatige moorde op ’n uitverkorene groep “skuldiges” wat gedwing word om die woord “skuldig” in hul eie bloed te skryf voor hulle tereggestel word, is die basiese beginsel waarom die roman se proseselemente wentel. Met die uittrede van adjudant Jan Magson het adjudant Colin Menck nou die taak om die senior vennoot te wees en leiding aan die ondersoek te verskaf terwyl hy sy vennoot, die meer inpulsiewe en veel minder berekende en ervare adjudant Derek Winters, in toom probeer hou.

Net soos met Magson en Menck destyds is die dinamika tussen die ouer Menck (41) en jonger Winters (26) ’n standvastige anker vir die (wankelende) lyn van geregtigheid wat die twee speurders deurentyd tussen mekaar oopkloof. Winters is voortvarend en seker van sy saak, glo vas dat daar sekere skeidslyne is wat nie durf oorskry word nie. Teen die einde van die roman sal sy oortuigings ook in alle erns onder die loep kom. Menck, pa van twee, een helfte van ’n gelukkige en romantiese huwelik met vrou Cathy, is die spreekwoordelike hartklop van die roman: soos wat die ondersoek vorder – noukeurig, byna forensies in Steyn se oog vir besonderhede, met ’n reeks slim draaie en kronkelpaaie, waar Menck se lewe nie net twee keer bedreig word nie, maar ook gespaar word, en ’n karakter uit Menck se verlede ’n integrale deel van die verbluffende finale derde van die roman vorm – vereenselwig die leser hom met die innerlike wroeging wat Menck ervaar, asook sy menslikheid en feilbaarheid. Sy wroeging is ook die leser se wroeging.

Steyn neem die meesterlike en uiters dapper besluit om die motiewe agter die moorde op ’n bepaalde tydstip vir die speurders (en die leser) bekend te maak, maar om dan ’n uitmergelende verdere beproewing op te stel, een wat ook geweldige emosionele trefkrag bied. Die antwoorde op die “wie?” en die “hoe?” is beide van kardinale belang, en loop die leser trompop. Dis hardebaardskrywe hierdie.

Die skerp humor (wat deurgaans aanwesig is), die ewewigtigheid waarmee die skrywer sy karakters skets, die gespierde aksietonele en die berekende spel wat die skrywer met sy lesers speel, het my telkemale aan Meyer se Infanta laat terugdink. Dit is juis in daardie meesterlike, komplekse roman dat lesers gekonfronteer word met die aktualiteit van misdaad en die wyse waarop skeidslyne tussen goed en kwaad, ryk en arm, ras en klas, slagoffer en skuldige omvergewerp geword.

Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel en doelbewus met meer vrae as antwoorde laat. Steyn maak dit dan ook herhaaldelik so vir ons duidelik: swart en wit as grense of skeidslyne wat menslike gedrag betref, is eenvoudig ’n mite, ’n mite wat vir slagoffers van misdaad uiteindelik bitter min genoegdoening of heling kan bring.

Met Skuldig het Steyn bewys dat hy vir geen plaaslike skrywer hoef terug te staan nie, en dat die hoë verwagtinge hom geensins in die toekoms van stryk sal bring nie. Dit is dus die tipe krimi wat lesers net soveel soos Deon Meyer se Ikarus (indien nie meer nie) sal boei, maar ook met nuwe oë na ons komplekse samelewing sal laat kyk. Dit is hierdie dimensie wat Skuldig – uitdagend, intelligent, insiggewend – vir my die lees en herlees die moeite werd maak. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ’n uitgewer hierdie wêreldklas skrywer se boeke begin vertaal en die oorsese regte verkoop. Steyn is hier om te bly.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top