![]() |
Sêgoed van Martin Steyn: "Die skrywer is maar die koord wat stories aanmekaar bind." (Books LIVE) Vir wie skryf hy? "Eerstens vir myself (anders sal dit 'werk' wees). Vir mense wat lief is vir misdaadstories, veral die polisie-prosedurele soort. Maar ek dink nie dit is ’n voorvereiste nie; enigiemand is welkom!" (Volksblad, 18 Augustus 2014) Martin se literêre invloede: "Stephen King is die rede hoekom ek begin skryf het en hy bly vir my ’n rolmodel. Marita van der Vyver het my gewys ’n mens kan goed en lékker in Afrikaans skryf. Tana French skryf so mooi en liries, ek sal haar inkopielys lees. En Jodi Piccoult se vermoë om deur verskillende karakters se oë na dieselfde situasie te kyk, is ’n aspirasie." (Volksblad, 18 Augustus 2014) Wat was vir hom die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? "Ek dink nie so aan ’n storie terwyl ek dit skryf nie. Ek laat dit net kom. Hoe minder ek bewustelik inmeng, hoe meer natuurlik en 'reg' voel dit. Ek is wel bewus van karakterisering, veral wat die belangrike karakters betref, want dit was altyd ’n area van kritiek in my skryfwerk. So dit is iets waarna ek oplet. En navorsing is vir my baie belangrik, want ek mik altyd vir realisme." (LitNet) "Skryf voel nie vir my soos werk nie, so daar is nie regtig ’n rede om ’n 'blaaskans' (na ’n boek klaar is) te vat nie. Buitendien, om met ’n splinternuwe storie te begin, is een van die opwindendste oomblikke van skryf!" (LitNet) Wanneer skryf hy? "Daar word slegs in uitsonderlike gevalle vroeg in die oggend geskryf. Laat in die nag, daarenteen, is baie waarskynlik. Maar ek het nie vasgestelde ure nie. Dit hang af wat daardie dag gedoen moet word. Dit hang ook af wat in die storie aangaan, want soms moet ek eers iewers gaan uitvind wat in hierdie spesifieke omstandighede sal gebeur. En soms is die volgende deel van die storie net nog nie reg om te kom nie." (LitNet) Oor die hele ervaring van boeke skryf: "Die hele ervaring is wonderlik. Ek het jare en jare daaroor gedroom om ’n publiserende skrywer te wees en die werklikheid is baie beter as wat ek gedink het! En ek is baie dankbaar vir die lesers, vir hulle ondersteuning, hulle terugvoer, hulle opgewondenheid. Sonder die lesers is niks hiervan moontlik nie." (Books LIVE) Raad vir voornemende skrywers: "Moenie opgee nie. Klop by ’n kenner aan om jou skryfwerk te help slyp. Iets soos die Skryf ’n roman-kursus, waar jy ’n tutor het wat na jou manuskrip kyk en terugvoer gee terwyl jy dit skryf. Of stuur jou manuskrip aan ’n manuskripontwikkelaar soos Madri Victor. Luister na hierdie mense se raad en kritiek. Kritiek deur ’n kenner is baie waardevol vir ’n skrywer en ’n geleentheid om te groei. Gryp dit aan. En moenie opgee nie." (Books LIVE) Hoe sien Martin Steyn die rol van die skrywer vandag, veral in Afrikaans? "Om goeie stories te skryf wat mense wil lees. So eenvoudig soos dit. Ek hoor by Izak de Vries (bemarker by LAPA) dat die plaaslike mark van omtrent driekwart Engels, kwart Afrikaans tien jaar terug na amper helfte-helfte gegaan het. Daar is baie Afrikaanssprekendes wat lees, boeke lees, en wat graag goeie stories in Afrikaans wil lees. ’n Skrywer kan allerhande goed byroer – veral in misdaadfiksie is daar baie kwessies wat jy kan ondersoek – maar ’n leser koop ’n fiksieboek om vermaak te word. ’n Leser sê: 'Vat my hand en neem my op ’n avontuur.' Dis die fiksieskrywer se rol." (Books LIVE) "Ek sê gewoonlik ek skryf misdaadfiksie, en ek dink aan my boeke as polisieboeke, omdat ek uit die polisie se oogpunt skryf. Dis police procedurals. Maar ek wil dit nie regtig in ’n boksie druk en ’n etiket daarop plak nie, want ek gaan waar die storie my heen neem, ongeag enige genre-grense." (Open Book 2015) Oor die karakters van sy speurders: "Kyk, ek het nie gaan sit en dink aan al die fiktiewe speurders en uitgewerk hoe ek een kan maak wat anders is nie. Dis maar die uitvloeisel van my belangstellings, die speurkarakter wat na my toe gekom het. Én dis vir my lekker om ’n manlike karakter te skryf wat net lief is vir sy vrou. Dis wat ek die meeste van Menck hou." (Open Book 2015) "Ek plot nie my romans nie, maar vertrou die skryfproses. Omdat ek self nie weet wat gaan gebeur nie, geniet ek die avontuur. Die karakters ontwikkel ’n lewe van hul eie. Terwyl ek navorsing doen, hoor ek hulle dikwels praat." (Vrouekeur, 23 Oktober 2015) "Ek dink dis ’n goeie ding om te moet werk en sukkel om jou doel te bereik. Dit bou karakter, jy leer daaruit en wanneer jy jou droom verwesenlik, waardeer jy dit baie meer. Baie keer wanneer ek Donker spoor in ’n boekwinkel sien, streel ek oor die rugkant, want ek onthou hoeveel dit geverg het." (Vrouekeur, 9 Maart 2018) Martin doen moeite om sy boeke by bekendstellings te teken: "Dis die minste wat ek kan doen vir iemand wat bereid is om ’n kans met een van my boeke te waag. Boeke is nie goedkoop nie en daardie persoon gaan ’n stuk van sy of haar lewe in my storie deurbring. Maar dis ook vir my lekker. Dis lekker om mense te ontmoet en die lekker om ’n leser se boek te teken." (Vrouekeur, 9 Maart 2018) Hoe voel hy daaroor dat sy naam in dieselfde asem as Deon Meyer s’n genoem word, vra Carla van der Spuy: "Dit gaan oor die boeke, nie oor my nie. Ek wil hê elke boek se gehalte moet hoog wees en ek wil hê mense moet dit lees. ’n Groot kop help nie een van die twee nie. My naam is net belangrik omdat dit die brand is, omdat dit die herkenbare ding is wat voor op elke boek staan. Dis soos Levi’s of Coca-Cola. En ek wil hê die brand moet groot wees en vir gehalte staan. Maar dis nie vir my belangrik dat mense my op straat herken nie. Dis vir my belangrik dat hulle in my stories se wêrelde wegraak. Want dis hoekom ek begin skryf het, omdat dit vir my so lekker was om in Stephen King se wêrelde weg te raak." (Vrouekeur, 9 Maart 2018) Wat is dit oor die misdaad- en speurgenres wat vir hom aanloklik is? "Daar is die plesier om die storie te sit en skryf, om die speurders op die moordtoneel neer te sit en te kyk wat hulle doen, om hulle te volg terwyl hulle die spoor volg, om te sien wat uiteindelik gaan gebeur. Die navorsing, veral wanneer ek met speurders en forensiese deskundiges gaan praat, is ’n uitstekende bonus." (aan Naomi Meyer op LitNet) Hoe maak hy seker sy werk is vars en oorspronklik? "Ek skryf aan die idees wat my interesseer en opgewonde maak. Ek volg die karakters en die storie en kyk wat gebeur. Dis vir my ’n baie organiese proses wat hoofsaaklik iewers uit my onderbewussyn kom. Om te probeer vars en oorspronklik te wees, sal die hele proses onnatuurlik maak, soos plastiek. Ek vertel net die storie so goed ek kan – en hoop vir die beste." (LitNet) Oor navorsing: "Goeie navorsing is altyd belangrik, want dit maak jou storie geloofwaardig. (…) Die probleem is natuurlik mens raak soms meegesleur met al die wonderlike, interessante dinge wat jy leer en uitvind en sien dat jy álles in jou storie wil gebruik. Dis veral vir my ’n probleem (want ek sal dit alles wil lees!), maar mens moet onthou jy skryf ’n storieboek. Soos Wilna Adriaanse vir my gesê het: 'die navorsing moet nooit sigbaar wees nie'. Maar dis nie altyd maklik nie." (LitNet) |
Gebore en getoë
Martin Steyn is in 1976 in Goodwood in die suidelike voorstede van Kaapstad gebore. Hy is die jongste van twee kinders en sy suster, Annelize, is tien jaar ouer as hy.
Hy word groot in Somerset-Wes, begin daar skoolgaan en matrikuleer in 1994 aan die Hoërskool Hottentots-Holland.
Op sy webwerf skryf Martin dat hy nie van jongs af lief was vir lees nie, maar wat hy baie geniet het, was "om storielyne uit te dink, of dit nou Lego-mannetjies, karretjies, houtgewere of sommer net my verbeelding was. Ook maar goed, want met ’n suster van amper tien jaar ouer en sonder vandag se magdom tegnologie, moes ek gereeld myself vermaak."
Vandat Martin ongeveer 16 jaar oud was, was dit sy droom om stories te skryf, "en nie net stories opmaak nie, die hele skrywerslewe," vertel hy aan Volksblad (18 Augustus 2014). "Die sit en skryf, die navorsing, en die manuskrip-tot-boek-proses saam met die uitgewer en die interaksie met lesers. Ek wil dit graag vir die res van my lewe doen."
Martin het ook as tiener John Irving se The world according to Garp present gekry en dit het hom gestimuleer om verder te lees, vertel hy aan Dirk Jordaan. (Beeld, 1 Oktober 2016)
Martin vertel verder op sy webwerf dat hy op vyftienjarige leeftyd een van Stephen King se boeke in hulle plaaslike biblioteek uitgeneem het. Hy en vriende het baie van gruwelprente gehou – hulle het onder andere gereeld na die video’s van Nightmare on Elm Street gekyk – en Stephen King was vir hom ’n bekende naam as gevolg van sy rolprente. Hy het The dark half uitgeneem en was dadelik ’n aanhanger. Die volgende paar jaar het hy feitlik net King se boeke gelees.
Hy vertel verder: "Dit was terwyl ek IT gelees het wat die skryfsaadjie in my ontkiem het. My eerste storie was 'Vengeance', 26 handgeskrewe bladsye en ’n pot waarin ek alles van duiwelsaanbidders tot ruimtewesens bymekaar geroer het. Dit was nie besonder wonderlik nie, maar ek was verlief. Ek het nog kortverhale begin skryf. Almal gruwel- of bonatuurlike stories, en party was nie te sleg nie. ’n Droom is so stilweg gebore: ek wou ’n skrywer wees."
By Stephen King het hy ook die kinderlike plesier van ’n goeie storie geleer en hoe belangrik gewone, egte karakters is, vertel Martin verder aan Elmari Rautenbach (Volksblad, 17 Augustus 2016): "Hy is ook die bron van een van my gunsteling-aanhalings: 'It’s the tale, not he who tells it'."
Verdere studie en werk
Dit was eers ná skool dat Martin in Afrikaans begin skryf het. "Sommer net. Uit nuuskierigheid. En toe skryf ek so lekker, die storie word my eerste vollengte roman. Dit was ook nie besonder wonderlik nie, maar ek het ontdek hoe lekker dit is om in Afrikaans te skryf – veral dialoog – én dit was ’n bewys dat ek ’n hele boek kan skryf. Dit lyk soos ’n verskriklike hoeveelheid bladsye om vol te maak wanneer jy dit vir die eerste keer aanpak."
Martin het ook sewe ware misdaad-verhale aan Crime Library, ’n CourtTV-webwerf, verkoop. Hulle het onder andere Moses Sitole, die verkragting en poging tot moord op Alison en die Sizzlers-moorde in Seepunt as onderwerpe gehad.
Uit al hierdie belangstellings, soos byvoorbeeld vampiere wat sy "gunsteling-gruwelingkreatuur" was, het ook ander fassinasies ontwikkel. Hy het ’n intense belangstelling in reeksmoordenaars ontwikkel. Hy vertel self verder: "Die groot verskil tussen reeksmoordenaars en vampiere is dat reeksmoordenaars bestaan. Hulle beweeg tussen ons. Hulle lyk soos ons. Mense soos Jeffrey Dahmer en Ted Bundy was vir my geweldig interessant. Ek wou weet hoekom hulle so word. En dis toe dat ek ware-misdaadboeke begin lees het," vertel hy aan Riette Rust (Vrouekeur, 23 Oktober 2015).
Martin gaan studeer aanvanklik BRek aan die Universiteit van Stellenbosch, maar hoe langer hy studeer het, hoe meer het hy besef dit is nie wat hy wil doen nie. Hy wou ook in Kanada gaan werk sodat hy genoeg geld kon maak om voltyds te skryf, maar na agtien maande het hy besluit om sy studies in ’n besigheidsrigting te groet. En om eerder sielkunde deur Unisa te studeer.
Hy wou ook nog meer oor die denkpatrone van misdadigers uitvind en het dus kriminologie ook geneem. Onder krimonologie het penologie (tronkstudie) en profielsamestellings geresorteer en dit was ook vir hom interessant, vertel hy aan Books LIVE: "Dit was eerder sielkunde wat my verlei het – ek was in ’n stadium oorgehaal om ’n kliniese sielkundige te word, maar skryf was maar nog altyd my droom."
Hy behaal dan ook sy honneursgraad in sielkunde. En toe begin hy sy eerste misdaadroman skryf, maar besef gou dat dit nie so maklik is om gepubliseer te word nie. Hy stuur sy manuskrip aan uitgewers en die keurverslae kom die een na die ander terug met positiewe kommentaar, maar daarna altyd die onvermydelike "maar".
En toe kom hy op ’n dag op die skakel van die South African Writer’s College se "Skryf ’n roman"-kursus af. Wat hom opgeval het, is dit feit dat jy saam met elke module ’n gedeelte van jou storie aan jou mentor stuur. En dit is hier waar Wilna Adriaanse in Martin se lewe ingekom het.
Hy begin skryf aan sy roman vir die kursus en onder die titel Donker spoor begin hy die storie vertel van die middeljarige speurder wat die moorde op die tienermeisies moet ondersoek. Wilna begin raad en hulp gee en sy is die een wat Martin se skryfwerk in die regte rigting gestuur het. "Haar ondersteuning hou nie saam met die kursus op nie; sy bly in my manuskrip glo."
Martin neem die woorde van een van die keurders, "Skryf is herskryf; skryf is deurgaan en regmaak", ter harte en die manuskrip is deur ’n hele paar weergawes. Hy pos dit aan LAPA Uitgewers en toe die e-pos van Cecilia Britz in 2013 op sy rekenaar deurkom, word Martin se droom waar. Sy eerste misdaadroman, Donker spoor, word gepubliseer en al die harde werk was die moeite werd, want in September 2014 word dit gekies as LAPA se Lekkerlitboek vir die maand en kom dit tweede ná Chanette Paul se Lekkerlitboek van die jaar in 2014. Dit word ook met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur vir 2015 bekroon.
Chanette Paul, manuskripontwikkelaar by Lapa, het in haar opsomming as volg oor Donker spoor geskryf (Volskblad, 3 September 2018): "Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ’n manuskrip soos met hierdie een. Dis ’n grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid – die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte. (…)
"Ek kan nie aan een speurkarakter dink wat my al ooit so ontroer het soos Mags nie. En hou veral daarvan dat hy nie die suiplap en rokjagter is wat al ’n cliché geword het nie. Die persoonlike demone wat hy beveg is eg menslik en oorspronklik aangebied."
In Donker spoor leer die leser die twee speurders, Jan "Mags" Magson, middeljarig en al ietwat afgestomp, en die jonger, effe meer entoesiastiese Colin Menck ken. Hulle is verantwoordelik vir die ondersoek na ’n reeks grusame moorde op hoërskoolmeisies in die Durbanville- en Bellville-omgewing.
Op LitNet skryf Jonathan Amid oor Donker spoor en Martin Steyn se gebruik van twee speurders: "Eerder as om slegs een speurfiguur vir die leser aan te bied, gewoonlik in die speurgenre dan ook telkemale ’n man wat met alkoholisme worstel of ’n rokjagter is, is dit hier allermins die geval: Mags en Menck is ’n dinamiese duo wat mekaar uitstekend aanvul: van kameraadskap, ondersteuning en humor tussen die twee is daar oorgenoeg.
"Menck is die jonger inspekteur wat daarvan oortuig is dat sy vrou hom probeer manipuleer met haar keuse van vleisgeregte en dat sy dogter Casey met niks minder as ’n perd tevrede sal wees as troeteldier nie. Dit is, vir alle praktiese doeleindes, die grootste kopsere in sy lewe.
"Mags se lewe sien heeltemal anders daar uit: ná sy vrou se stryd teen kanker, wat hy deur middel van genadedood beëindig het, was sy seun, Hannes, van hom vervreem. Hannes het aan Christien verloof geraak en sedertdien nie ’n woord met sy pa gepraat sedert hulle in die buiteland woon nie. Hannes verwyt sy pa vir die manier waarop sy ma dood is, en een van die roman se vele sterkpunte is die sonderlinge wyse waarop Steyn die kwessie van genadedood opper. Die onderwerp word nie net in ’n paar paragrawe nugter beskou nie, maar word ’n integrale deel van Steyn se besinning oor die waarde van elke mens se lewe. Wat is erger: Om te sterf? Of om agter te bly?
"Mags se verhouding met sy vrou Emma, met besonderhede soos haar teenkanting teen vuurwapens, en die janfiskaal wat sy elke dag kos gegee het, asook voorbeelde van haar deernis vir ander, word met sensitiwiteit weergegee. Dit verleen beslis ’n ekstra dimensie aan Mags se verhaal. Mags is nie ’n Bennie Griessel nie, maar ook nie ’n Thys Krige nie. Hy is alledaags, maar daar is iets mensliks en spesiaals aan dié man met sy diep groen oë. Mags se worsteling met die wanhoop, ellende en trauma wat met die dood gepaard gaan, asook die amperse onmoontlikheid om van geliefdes afskeid te neem en sodoende aan te beweeg, word ’n donker hoogtepunt te midde van die moordondersoeke.
"Wanneer Mags, verpletter, selfmoord oorweeg en die reg op vergifnis vir sy rol in sy vrou se dood bepeins, is jy daar saam met hom. Hy spandeer aande op sy eie met sy dienspistool, en hierdie tonele is intens in hul treffende eenvoud. Enigiemand wat al intense verlies ervaar het, kan met Mags se trauma identifiseer. Daar is verstáán hier. Te midde van ’n ondersoek wat hom tot die uiterste beproef, ontvang Mags berading."
Amid beskryf Donker spoor as ’n "digverweefde tapisserie wat geleidelik vir die leser oopgevou word" en die roman as ’n "debuutwerk wat ondersoek instel, maar nie preek nie. Steyn krap die rofies af, hy dolwe grafte om, maar hy bly nugter in sy aanslag. Daar is niks sensasioneel of oordadig te vinde nie – ’n pluimpie vir die skrywer, wat sy navorsing en kennis oor sy onderwerp laat tel.
"Donker spoor is uit die staanspoor ’n naatlose vermenging van die speurroman/polisieroman en die forensiese ondersoek. Steyn se aanslag is berekend maar nooit kil nie, intelligent maar nie vertonerig nie, verwikkeld sonder om oordadig aan te doen. Sy roman is ook kenmerkend van ’n belangstelling in die psigopatologie van geweld en die afbreek van sosiale norme en morele waardes. Steyn blyk te vra: Wat is een mens se lewe werd in vandag se Suid-Afrika?
"Dit sit beslis nie in elke genrefiksieskrywer se broek om ’n roman te skryf waar die bose en die goeie, die verrotte en die onskuldige, die waarheid en die skyn, met ewewigtigheid en omslagtigheid teenoor mekaar gestel word nie. Net so sou ’n roman wat beide die perverse moord vir plesier en die uiters omstrede genadedood teenoor mekaar stel, ’n bitter sekure hand verg. En dis presies wat Steyn vir die leser bied.
"Dat die goeie eindelik oor die bose uittroon, al is dit slegs tydelik, is beslis nie ’n swakplek of ’n ongeloofwaardige wending in die verhaal nie, ten spyte van die feit dat die genre self die herstel van orde en die vooropstelling van hoop en die skuldige wat aan die pen ry verwelkom, selfs daarop aandring. Daar is min verheerliking van die speurfigure, maar ook nie ’n eindelose gehamer oor die korrupsie van die land en sy polisiediens nie.
"Steyn onderskat nie die leser nie. Hy probeer ook nie om die leser in elke hoofstuk met vergesogte 'red herrings' op ’n dwaalspoor te bring nie. Anders as gewoonlik in die genre – een wat vinnige aksie en warrelwindvertelling beklemtoon – is die hoofstukke baie langer as in die deursnee-misdaadroman.
"Die roman is amper 400 bladsye lank, met slegs 19 hoofstukke. Baie min misdaadskrywers kies hierdie roete, wat dalk net afstuur op ’n stadiger manier van lees op die ou einde: al wil jy weet wat volgende gebeur, wil jy glad nie deur die storie jaag nie. Inteendeel, jy wil elke bladsy, elke paragraaf, elke sin, met die nodige respek vir die skrywer se vernuf en oordeel behandel. Langer hoofstukke gee ook vir die skrywer die kans om die pas net ’n rapsie stadiger te maak waar nodig, om die leser se aandag op sekere elemente, karakters of besonderhede te fokus, en om die hoof- en newekarakters sodoende genoeg kans te gee om asem te skep – om voor ons oomblikke van die alledaagse, krisisoomblikke, of oomblikke van groei en besinning te beleef.
"Steyn se titel is ook op sy kop, en bied verskeie interpretasiemoontlikhede. As leser kan ons die 'spoor' van die titel as tekens, bewyse en roetes karteer – duidelike of sigbare spore, asook die onsigbare spore wat menslike gedrag en aksies agterlaat. Daar kan ook spore van aanvoeling, intuïsie en ervaring wees, spore in die vorm van bewysstukke en leidrade en doodloopstrate, forensies sowel as emosioneel, en in die verwantskappe en verhoudings tussen verskeie karakters."
Amid beskryf die geweld in Donker spoor as "eksplisiet en grusaam" maar deurentyd in goeie smaak. Die roman is ook enduit "gefokus: na aan ’n meesterstuk waar langsame kronkelings en insigte oor die psigopatologie van ons beleërde samelewing skouers skuur met sekure, spanningsvolle, seningrige skrywe wat bewys dat daar meer as een manier is om lewens te neem. Steyn se geslypte styl – realisties maar nie kil of afsydig nie – asook sy oog vir besonderhede, sy ystergreep op die klein sowel as groot oomblikke van die vertelkuns, is verblydend. Hier voer 'showing' oor 'telling' die botoon.
Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly, ’n teks wat heelwat meer uitdagend as gewone genrefiksie blyk te wees."
Martin vertel aan Books LIVE dat die hele proses om Donker spoor gepubliseer te kry, ’n lang proses was, vanaf die kursus onder leiding van Wilna Adriaanse, die eerste voorleggings en die keurdersverslae, LAPA en Chanette Paul se aanbevelings totdat dit eindelik gepubliseer is. Hy is dus tevrede met die boek, hoewel hy weet dat dit nie perfek is nie.
Books LIVE wou ook weet hoe ’n mens ’n moordenaar skep wat nie net boos is nie: "Dis belangrik om te onthou dat elke mens grys is. Geen mens is heeltemal sleg nie en geen mens is heeltemal goed nie. Ted Bundy het meer as dertig vroue vermoor, waarvan ons weet. Hy was ’n psigopaat, sonder empatie, sonder ’n gewete. Op pad na die elektriese stoel toe, het hy nog probeer om sy slagoffers te gebruik om sy lewe te red. En tog het hy in ’n stadium saam met Ann Rule by ’n krisislyn gewerk. Wat ook al sy redes was om daar betrokke te wees, die feit bly staan, sy het langs hom gesit terwyl hy mense se lewens gered het."
Oor sy skepping van speurders as gewone mense ook, brei Martin as volg uit: "Ek dink die truuk is om mense te skryf en nie karakters nie. Mense maak foute. Mense het nie die luukse om voor ’n rekenaarskerm te sit en te dink, 'Hoe sal ek nou in hierdie situasie optree?' nie. Baiekeer is die situasie nou en jy moet optree, jy moet ’n besluit neem sonder dat jy noodwendig al die gevolge in ag kan neem. En dan is daar nog die emosie van die oomblik ook. Ek is ook baie meer geïnteresseerd in ’n gewone speurder. Met die uitsondering van Patrick Jane (The Mentalist) staan briljante speurkarakters my nie regtig aan nie. Daar is hierdie wonderlike sin in Homicide van David Simon: 'The homicide detective endures.' Dis die soort speurder wat my interesseer. Die ou wat elke dag inkom en sy werk doen. Hy is nie altyd lus nie. Hy sien nie elke leidraad raak nie. Hy breek nie elke verdagte nie. Partykeer loop hy in die verkeerde rigting. Partykeer weet hy nie waarheen om te loop nie. Maar hy hou aan en hy probeer sy bes om geregtigheid te kry vir daardie persoon wat nou ’n nommer op ’n moorddossier is. Terwyl hy weet hy gaan dit nie noodwendig regkry nie.
"Die regte magic gebeur wanneer daardie karakter begin leef. Ek was ’n ruk terug in die Paarl vir navorsing en terwyl ek in die gebou rondkyk, begin Mags en Menck met mekaar praat. So hier staan ek en grinnik soos ’n idioot vir die stemme in my kop. Maar dis wat skryf so intoxicating maak."
In Rapport van 7 September 2014 skryf Johan Smith: "Martin Steyn verras met sy debuut, Donker spoor. En met ’n oorvloed speur- en misdaadverhale wat deesdae in Afrikaans verskyn, is hierdie ’n vars 'bloedspoortjie' in hierdie genre. (...) Hierdie is ’n emosioneel uitmergelende mallemeulerit, en net wanneer jy dink die karretjie is op ’n gelyke vlak, kom die volgende afgrond, maar jy wil nie afklim nie. Ek kan nie wag om te sien wat volgende uit hierdie belowende skrywer se pen gaan verskyn nie."
En in Beeld van 28 Julie 2014 skryf Riaan Grobler dat Martin Steyn ’n nuwe naam in die misdaad-spanningsgenre is wat dopgehou moet word en hoewel die storie vir Grobler ’n bietjie resepmatig is, is dit vir ’n debuut stewig en oorspronklik.
Martin is self die vertaler van Donker spoor in Engels wat in 2017 onder die titel Dark traces gepubliseer is. In 2018 ontvang Martin die gesogte Kirkus Star review vir hierdie vertaling. Kirkus Reviews is een van die groot Amerikaanse tydkskrifte wat boekresensies doen en om ’n Krikus Star te ontvang, is elke skrywer se droom.
Hieroor vertel Martin aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 9 Maart 2018): "Dit beteken Mags se storie werk op ’n universele vlak, selfs vir lesers in ’n vreemde land waar daar elke jaar duisende misdaadromans verskyn. En dis ’n baie lekker gevoel."
"Mense dink jy verskyn met jou eerste boek net op die toneel en dit gaan goed en jy is ’n oornagsukses. Miskien as jy in Alaska bly en die nag hou ses maande aan!"
Nadat die Engelse vertaling op die Frankfurtse boekemark voorgelê is, het Lapa se agent, Catrine Wessels, in 2018 die vertaalregte van Donker spoor aan ’n Turkse uitgewer verkoop.
Martin het nie sy ondersteuners lank laat wag op sy volgende naelbyttreffer nie. In 2015 verskyn Skuldig, weer by LAPA. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet hoekom hy Skuldig geskryf het: "Wel, die idee, die beeld van ’n hand wat daardie sewe letters in bloed teen ’n muur skryf, was onweerstaanbaar! Daar was veral twee (ander) dinge wat my aangetrek het. Die idee het net eendag in my kop ontkiem. Dit was nie soos die reeksmoordenaar in Donker spoor wat ontstaan het omdat ek ’n regte moordenaar se storie gelees het en sy persoonlikheid en sielkunde fassinerend gevind het nie.
"Die moordenaar in Skuldig is ook heeltemal anders as die reeksmoordenaars wat my so interesseer. Hy is ’n huurmoordenaar. Waar reeksmoordenaars vir hulle eie plesier moor, maak hy dood om iemand anders tevrede te stel. Soos reeksmoordenaars voer hy ook ’n ritueel met die slagoffers uit, maar dit kom nie van hom af nie. Hy doen dit namens iemand anders. Die storie vra ook ’n interessante vraag, maar dis iets wat self ontdek moet word."
Skuldig se manuskrip was alreeds geskryf voordat Martin sy eerste manuskrip van Donker spoor aan LAPA voorgelê het, dus was dit nie vir hom moeilik om sy tweede spanningsroman te skryf nie. "Daar was net ’n paar 'oop' gedeeltes waarvoor ek nog navorsing moes doen," vertel hy verder aan Meyer. "Natuurlik wonder mens hoe die tweede boek ontvang sal word, veral omdat ou Mags van Donker spoor nie weer ’n hoofkarakter is nie. En die tweede boek is natuurlik belangrik, want dit moet bewys dat die eerste een nie net ’n vloekskoot was nie. Mens wil ook nie die lesers wat bereid was om ’n kans op jou debuut te waag, teleurstel met die opvolg nie."
Martin het ook glad nie gesukkel om Skuldig te skryf nie: "Skuldig was ’n maklike geboorte. Dit was ’n idee wat baie mooi gevorm na my toe gekom het, titel en alles. Dis nie hoe dit gewoonlik gaan nie. Gewoonlik het ek maar ’n vae idee van wat gaan gebeur en dit raak helderder hoe verder ek skryf. Met Skuldig het ek van die begin af geweet waaroor alles gaan, hoe die storielyn min of meer gaan loop, en dit was ook een van die min stories waar die einde gebeur het soos ek dit aan die begin gesien het. Natuurlik was daar nog steeds die lekker om al die besonderhede in te kleur."
In Rapport van 2 Augustus 2015 is JB Roux vol lof vir Skuldig: "In Skuldig gee Magson nou klas by ’n polisiekollege. Sy plek word deur Colin Menck ingeneem, wat ’n kleiner rol in Donker spoor gespeel het. Menck is ’n gebore speurder wat nie twak vat nie, maar andersins is hy, verfrissend genoeg, ’n doodgewone man met ’n gelukkige, stabiele gesinslewe sonder ’n drankprobleem of diepliggende demone.
"Iemand word in Skuldig in sy huis in die kop geskiet – nadat sy hand gesny en hy gedwing is om 'skuldig' met sy eie bloed teen die muur te skryf. Wat was die motief? Wie is die moordenaar? En as die slagoffer wel skuldig is, waaraan?
"Dit is die kraaines wat Menck en sy sidekick, Winters, moet ontrafel en vinnig ook, want nog moorde word gepleeg. Aktuele kwessies soos gewelddadige seks en ’n gebrekkige regstelsel word betrek.
"Skuldig laat die bladsye onder jou vingers ritsel. Steyn weef ’n web van intrige en net sodra jy vermoed hy het hom in ’n hoek geskryf, gebeur daar iets. Die roman draf teen ’n maklike pas en die dialoog is flink. Die navorsing is omvattend, sonder dat die skrywer onnodige feite in die leser se keel afdwing. Steyn het daarby die vermoë om iets in ’n enkele sin raak op te som. (...)
"Skuldig is so goed geskryf dat die storie sy foute oorleef. Die boek eindig met twee lekker cliffhangers, wat ’n mens reeds na ’n opvolgroman laat uitsien. Steyn blaas in die nek van die puik spanningsromanskrywer Chris Karsten, veral wat die bestendige gehalte van sy romans betref."
In Volksblad (6 April 2015) meen Coenraad Walters dat meer ervare lesers van misdaadromans ook Skuldig sal geniet: "Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy speurtogte."
Ook Jonathan Amid skryf op LitNet baie vleiend oor Skuldig. Hy meen dit kan ’n kandidaat wees vir krimi van die jaar 2015. Hy meen dat wat Steyn met Skuldig regkry, "is om die rateltaai dog deernisvolle vertelling, balans tussen eksposisie en innerlike benadering, en raakvatkarakterisering van sy debuut aan te vul met ’n ietwat meer beweeglike benadering tot die skep van spanning: hier worstel speurder en leser saam oor die komplekse antwoorde op yslike morele kwessies wat tot die diepste donkerste dieptes van die menslike psige spreek. Skuldig is, soos Donker spoor, beslis nie vir sensitiewe lesers bedoel nie, en dit is allesbehalwe ontspanningslektuur. Ek is dit wel met Coenraad Walters eens dat die roman uiters leesbaar en bevredigend is. (...)
"Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel en doelbewus met meer vrae as antwoorde laat. Steyn maak dit dan ook herhaaldelik so vir ons duidelik: swart en wit as grense of skeidslyne wat menslike gedrag betref, is eenvoudig ’n mite, ’n mite wat vir slagoffers van misdaad uiteindelik bitter min genoegdoening of heling kan bring.
"Met Skuldig het Steyn bewys dat hy vir geen plaaslike skrywer hoef terug te staan nie, en dat die hoë verwagtinge hom geensins in die toekoms van stryk sal bring nie. Dit is dus die tipe krimi wat lesers net soveel soos Deon Meyer se Ikarus (indien nie meer nie) sal boei, maar ook met nuwe oë na ons komplekse samelewing sal laat kyk. Dit is hierdie dimensie wat Skuldig – uitdagend, intelligent, insiggewend – vir my die lees en herlees die moeite werd maak. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ’n uitgewer hierdie wêreldklas skrywer se boeke begin vertaal en die oorsese regte verkoop. Steyn is
Oor sy karakters in Skuldig verduidelik Martin meer uitvoerig aan Books LIVE: "Ek hou van gewone mense. Menck is nie ’n uitsonderlike speurder nie. Hy weet nie sommer met die intrapslag wie is skuldig en wie nie. Hy het sy ervaring, sy instink en watter leidrade ook al beskikbaar is en hy werk daarmee totdat dit hopelik iewers heen lei. Hy is ’n grys karakter, wat nie altyd die regte besluit neem of die beste opsie kies nie, maar hy is ’n getroue polisieman wat meestal sy bes doen om ’n saak op te los en geregtigheid te probeer kry vir die slagoffer. Soms is dit moeilik, want moordsake is ook nie altyd swart en wit nie.
"Verder is Menck gelukkig getroud, hy is lief vir sy vrou, lief vir sy kinders, al sukkel sy verhouding met sy tienerseun maar ’n bietjie. Hy het nie ernstige persoonlike probleme of demone nie. Nie alle polisiemanne is geskei en sukkel met drank of vroue of geweld of die een of ander sielkundige eksentrisiteit nie. Dit interesseer my om te sien hoe hierdie ’normale' speurders hulle werk doen, hoe hulle hierdie gruwelike moorde ondersoek en dit hanteer.
"Menck kom natuurlik uit Donker spoor, waar hy ou Mags (die hoofkarakter) se partner was. Hy sit nou met ’n nuwe partner, die jonger Derek Winters, en die twee het mekaar nog nie gevind nie. Winters wou graag EGM toe kom om groot moordsake te ondersoek. Hy is in sy middel twintigs, ongetroud, en nog nie baie lank in die Kaapse metropool nie. Winters is eintlik nogal ’n gekompliseerde mens. Daar lê nog interessante tye voor."
Oor hoe hy sy navorsing aanpak, vertel Martin aan Books LIVE dat dit ’n kombinasie van leeswerk en gesprekke met mense behels. Sy eerste stap is om oor die betrokke onderwerp te lees voordat hy met deskundiges op die spesifieke gebied gaan gesels. "Ek probeer om, sover dit moontlik is, ’n realistiese, Suid-Afrikaanse storie te vertel. En daarvoor is ek afhanklik van speurders en forensiese deskundiges wat bereid is om hulle kennis en ondervinding met my te deel.
"Met die Jehovasgetuies het ek al die inligting op hulle webwerf gekry. Hulle het nogal ’n besondere deeglike webwerf – wat selfs in Afrikaans beskikbaar is. Ek het ook met ’n Getuie gaan praat. Ek het vir hom verduidelik presies waarvoor ek die inligting wou hê, juis omdat ’n karakter hulle organisasie uitbuit, en hy wou nie deel wees daarvan nie. Wat my toe laat nadink het. Maar uiteindelik het ek gevoel die Jehovasgetuies word regverdig behandel in die boek – een kry ook die geleentheid om hulle saak te stel.
"Die navorsing is vir my belangrik, maar dis ook net regtig lekker. Mens ontmoet interessante mense, sien interessante plekke, leer interessante dinge. En jy besef ook dat dit maar net gewone mense is wat hierdie werk doen, wat probeer om geregtigheid te kry vir die slagoffers van misdaad."
Martin skryf die oplewing in die gewildheid van spannings- en misdaadlektuur toe aan die soort stories wat in die genre vertel word. "Karakters in lewensgevaar. Stukkende helde. Interessante boosdoeners. Donker dade. Die konfrontasie tussen goed en sleg. Dis stories wat aandag trek en emosie uitlok. Daar gebeur dinge, sigbaar en agter die skerms. Daar is raaisels en wendings. Die situasies is oor die algemeen moontlik, al is dit dalk ’n bietjie oordrewe. En jy kan in ’n veilige plek saam met die karakters deur hierdie gevaarlike gebeure gaan.
"Mense hou daarvan om ’n mate van spanning te ervaar. Dit laat jou lewend voel. Een van die dinge wat gebeur wanneer mens spanning ervaar, is dat endorfien vrygestel word. Die doel is om jou te help om vrees en pyn te oorkom, maar dit veroorsaak ook ’n effens euforiese gevoel. Wanneer jy ’n spannende boek lees of ’n riller kyk, ervaar jy ook spanning as jy jou inleef. Jou liggaam ervaar die simptome van spanning, maar omdat jy weet jy is veilig, is dit nie so erg nie. Maar jy kry nog steeds jou endorfien-'high'." (Books LIVE)
Beyers de Vos het vir Martin tydens Open Book 2015 uitgevra oor die verantwoordelikheid wat die skrywer van misdaadverhale het in die beskrywing van geweldstonele. Martin se antwoord hierop is dat hy glo die skrywer moet geweld beskryf soos wat dit is. "So ook – eintlik veral – die gevolge van die geweld. Regte geweld is nie 'romanties' nie; dis lelik en erg en dit veroorsaak skade. Die fisieke skade word baie keer relatief gou gesond; dis die emosionele skade wat bly en mense verander. As die slagoffer dit nie oorleef nie, het dit ’n dramatiese impak op die mense wat lief is vir daardie persoon. Geweld verander lewens. Selfs iemand soos Alison Botha, met die innerlike krag om letterlik haar ingewande op te tel en pad toe te kruip om te oorleef, wat deur daardie aand se gebeure gewerk het en vandag ander mense motiveer, was nog steeds bang toe sy vroeër vanjaar hoor haar aanvallers kom in aanmerking vir parool.
"Maar daar is ’n streep en dit lê voor sensasie. En hoe meer realisties jy skryf, hoe belangriker is dit dat die geweld funksioneel moet wees. American History X is ’n fliek wat die balans baie goed reggekry het. Daar is ’n toneel waar mense kom om by die hoofkarakter se motor in te breek. Hy hardloop uit met ’n pistool, skiet die een dood en laat die ander een die sypaadjie byt, waarna hy sy kop trap. Dis erg en dis steurend, juis omdat dit realisties en sonder sensasie uitgebeeld word. Dis ’n fliek met ’n baie sterk boodskap en die realistiese geweld en die gevolge daarvan maak die impak groter."
Wat vir Martin as skrywer aangetrek het tot die skryf van misdaad- en speurverhale, was aanvanklik sy fassinasie met reeksmoordenaars. Hy wou agter die redes kom wat hulle tot sulke gewelddadige misdade gedryf het. "Profielsamestelling interesseer my ook baie, en ek wou weet hoe hulle by die afleidings uitkom. Gevolglik het ek baie oor reeksmoordenaars en profielsamestelling gelees, en die sielkunde is fassinerend. Toe ek daaroor begin skryf, en navorsing oor die polisie begin doen, het hierdie deel my net so aangegryp. Ek het ’n diep belangstelling in die psiges van geweldsmisdadigers en die mense wat baklei om geregtigheid vir die slagoffers te kry, in polisiewerk en forensiese ondersoeke.
"Dan is daar ook die plesier om die storie te sit en skryf, om die speurders op die moordtoneel neer te sit en te kyk wat hulle doen, om hulle te volg terwyl hulle die spoor volg, om te sien wat uiteindelik gaan gebeur. Die navorsing, veral wanneer ek met speurders en forensiese deskundiges gaan praat, is ’n uitstekende bonus."
Vir Martin is goeie navorsing een van die elemente wat ’n storie meer geloofwaardig kan maak. As dit reg gebruik word, kan dit jou verhaal ook interessanter maak. Hy verduidelik verder aan De Vos: "Vir die skrywer is daar die potensiaal om byvoorbeeld die binnekant van die lykshuis te sien, of uit te vind hoe ’n misdaadtoneel geprosesseer word by iemand wat hierdie werk doen, en dan kan jy dit aan die leser wys. Daar is baie Amerikaanse en Britse polisiereekse, maar hoe werk hierdie ondersoeke in Suid-Afrika?
"Wat polisieprosedures betref, hang dit af van die skrywer en die soort boek wat hy of sy wil skryf. Vir my is dit baie belangrik, want ek skryf police procedurals. Ek skryf uit die polisie se oogpunt en ek mik vir soveel outentisiteit as moontlik. Aan die een kant maak dit die gevoel van realisme hoër, maar aan die ander kant interesseer dit my net geweldig baie. Ek wil weet hoe word al hierdie goed gedoen, hoe verwyder ’n patoloog ’n koeël uit ’n slagoffer se brein, hoe word daardie koeël aan ’n spesifieke vuurwapen gekoppel.
"Die probleem is natuurlik mens raak soms so meegesleur met al die wonderlike, interessante dinge wat jy leer en uitvind en sien dat jy álles in jou storie wil gebruik. Dis veral vir my ’n probleem (want ek sal dit alles wil lees!), maar mens moet onthou jy skryf ’n storieboek. Soos Wilna Adriaanse vir my gesê het, die navorsing moet nooit sigbaar wees nie. Maar dis nie altyd maklik nie."
De Vos wou ook by Martin weet hoe hy seker maak dat sy werk oorspronklik bly, veral in hierdie tyd waarin die misdaadgenre so gewild is. Martin se reaksie is dat sy temas dié is waarin hy belangstel en waaroor hy opgewonde kan raak: "Ek volg die karakters en die storie en kyk wat gebeur. Dis vir my ’n baie organiese proses, wat hoofsaaklik iewers uit my onderbewussyn kom. Dit word ook deur navorsing beïnvloed, wat regtig in die omstandighede van die storie sal gebeur, wat in Suid-Afrika moontlik is. Om te probeer om vars en oorspronklik te wees, sal die hele proses onnatuurlik maak, soos plastiek. Ek vertel net die storie so goed ek kan – en hoop vir die beste.
"Wat wel in my guns tel, is dat ek met ’n vreemde paadjie by misdaadfiksie uitgekom het. My agtergrond is gruwelverhale, veral dié van Stephen King. My invloede toe my skryfstyl begin vorm het, was ook nie juis wat mens 'tradisioneel' sal noem nie – flieks soos Pulp fiction en Heat het my byvoorbeeld laat besef hoe vermaaklik en aangrypend goeie dialoog kan wees. Ek het sielkunde en kriminologie op universiteit studeer. En tot onlangs toe het ek hoofsaaklik ware misdaad gelees eerder as misdaadfiksie."
In 2016 verskyn Swartval in die boekwinkels en Jonathan Amid begin sy resensie in Rapport (15 Januarie 2017) soos volg: "Martin Steyn se derde krimi is ongetwyfeld die vreesaanjaendste, spannendste riller uit die korpus van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat in 2016 uitgereik is." (…)
"Swartval verteenwoordig die getuigskrif van ’n skrywer wat ontstaan as eweknie/opvolger vir die ontslape meester van die sogenaamde Nordic Noir, die Sweedse skrywer, dramaturg en humanitêre figuur Henning Mankell. Soos Mankell op sy beste (…) skoei Steyn sy meedoënlose dog simpatieke blik op verskillende wyses waarop geweld manifesteer in ’n samelewing wat gedurig aan die verander is."
Die sentrale figuur in Swartval is Claire, ’n ontkleedanseres. Sy word ontvoer en, skryf Amid, "haar stryd om oorlewing, en haar fisieke en psigiese foltering aan die hand van haar ontvoerders is die grondslag vir Steyn se virtuose skryfvertoning."
"Swartval is ’n aanklag teen die ineenstorting van die gesinslewe weens wreedheid en emosionele aftakeling, en ’n kloustrofobiese, maar ongelooflike uitbeelding van die geweldslagoffer. Dit is ’n onverskrokke misdaadriller wat die leser trakteer op eerstehandse ervarings van verkragting.
"Swartval is die derde grensverskuiwende roman uit Steyn se pen, maar is vars omdat die skrywer bereid is om meer as die genrekontrak met die leser na te kom: dié Steynkrimi bied die verruklike kombinasie van herkenbare skryfstyl, haarfyn plot, geloofwaardige karakters, puik navorsing, galgehumor, gekombineer met uiters onthutsende terugflitse en liriese beskrywings, en die houvas van die verlede op die hede.
"Swartval is meer as net ’n roman wat jy lees; dit is ’n onvergeetlike belewenis."
Ook Pieter Steyn (Beeld¸ 22 Augustus 2016) is beïndruk met Martin Steyn en Swartval. Hy beskryf die krimi as ’n "sielkundige spanningsroman wat jou boei, jou hart laat klop, jou woedend maak, ’n traan in die hoek van jou oë laat opdam – kortom, jou die hele spektrum van emosie laat ervaar."
"Die spanningslyn word van die eerste bladsy af snaarstyf gespan, verloor effens en kortstondig momentum, maar tel weer op dat jy nie kan wag vir die volgende sin, paragraaf en bladsy nie. In die skrywersnota en bedankings aan die einde van die boek word bevestig waarvan jy voortdurend tydens die lees van die roman bewus was: Steyn se deeglike navorsing."
"Hy bedank kenners en betrokkenes uit die professionele velde wat in die boek aangeraak word. Goeie navorsing is duidelik in die geloofwaardigheid van die tonele en gebeurtenisse. Steyn is beslis een van Afrikaans se voorste spanningsromanskrywers."
Martin verduidelik aan Elmari Rautenbach (Volksblad, 17 Augustus 2016) meer oor Swartval: "Dit word uit die perspektief van die hoofkarakter vertel wat dit persoonliker maak. Dis nie net die geweld/misdaad wat ondersoek word nadat dit gebeur het nie, maar ons beleef dit ook in die hier en nou sáám met die hoofkarakter."
Hy lê ook die verband uit tussen die titel, Swartval, en die storie daarvan: "Dit gaan oor ’n jong vrou, Claire, wat uit haar lewe gegryp word en in ’n kelder aangehou word. Daar is die letterlike swart van die kelder, want daar is nie lig tensy die ontvoerder dit inbring nie, en dis ’n val, want sy is daarin vasgevang."
"Die swart van die kelder word amper ’n entiteit. Dit voel partykeer vir Claire soos iets wat op haar vel kom sit; of sy vir ewig daarin sal wegval, en sy moet baklei dat haar geestelike gesondheid nie in die swart oplos nie."
Oor die verkragtingstema spreek Martin hom as volg uit: "Ek het hierdie tema gebruik juis omdat dit my so ontstel. Toe ek besluit het dis wat die storie gaan wees, wou ek ook hê dit moet ’n skop in die maag wees; ’n naakte weerspieëling van so ’n situasie, so goed as wat ek dit kan regkry. Daar is sóveel geweld teen vroue in Suid-Afrika, soveel verkragtings. Verkragting word grootliks as ’n vroulike probleem gesien, terwyl dit eintlik ’n manlike probleem is. Ons is die probleem. Mans moet betrokke raak. Ons moet leer wat dit aan ’n vrou doen." (…)
"Ons – mans – moet begin kwaad raak oor verkragting. Ek is nie iemand wat op ’n platform kan spring en mense opsweep nie, maar ek kan skryf. Ek het my bes gedoen om as ’n man hierdie storie uit ’n vrou se perspektief te skryf en te wys wat gebeur – ook ná die tyd, want verkragting het ’n blywende impak op ’n vrou."
Rautenbach wou ook by Martin weet hoe hy die sensitiewe gegewe van verkragting hanteer, maar steeds daarin slaag om die gruwelikheid daarvan oor te dra. Martin antwoord: "Die wreedheid van geweld behoort nie verdoesel te word nie. Regte mense staan nie op en gaan net met hul lewe aan soos akteurs op TV nie. Mense moet besef watter verwoestende effek seksuele geweld op ’n mens het. Die uitdaging was om ’n balans te handhaaf tussen die beskrywing van geweld en die binnewêreld van Claire, want dis waar die menslikheid intree; dis waar die betekenis van die geweld ontbloot word. Dis waar ons emosioneel betrokke raak."
Oor sy fassinasie met reeksmoordenaars verduidelik Martin aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 9 Maart 2018) dat hy nog altyd in "donker dinge" belanggestel het: "Ek weet nie hoekom nie. Ek was van kleins af lief vir gruwelstories. Toe ontdek ek reeksmoordenaars en hulle is baie erger as vampiere, want hulle bestaan regtig. Die meeste staan nie uit nie; inteendeel, hulle lyk doodnormaal. Maar hulle jag mense, mense wat hulle nie ken nie, mense wat niks aan hulle gedoen het nie. Hulle jag mense net vir die plesier daarvan. Ek wou weet hoekom. Dus het ek oor reeksmoordenaars en oor profielsamestellings begin lees."
Martin vertel verder aan Van der Spuy: "’n Reeksmoordenaar kry nie bevrediging uit moord nie, maar uit die uitvoering van sy spesifieke fantasie. (…) Dis ’n drang wat opbou en bevredig moet word en dit moet op ’n spesifieke manier bevredig word."
In 2018 verskyn Martin se volgende roman, Losprys, en weer skryf hy oor (vir hom) ’n ander tipe misdaad, naamlik ontvoering. Die verhaal het sy ontstaan in ’n werklike voorval gehad – die ontvoering van die tienerseun van ’n ryk Nederlandse gesin in Kaapstad. Die ontvoerders het ’n losprys geëis en die gyselaaronderhandelaars is by die gesin se lewe ingetrek.
"Ek het toevallig ’n regte polisieonderhandelaar ontmoet," vertel Martin aan Sarie (Maart 2019), "wat my aan daardie ou saak laat dink het. Die kans om oor onderhandeling te skryf, die proses, die sielkunde daaragter, was onweerstaanbaar. En die ander elemente, die karakters en hul motiewe het mooi in plek geval."
Oor die karakters in Losprys vertel Martin aan Sarie dat meeste van sy karakters, ook dié in sy vorige boeke, ’n manier het om sommer net op te daag. "Mags van Donker spoor en Enzo van Losprys het net 'opgedaag'. (…) My karakters word ook beïnvloed deur regte mense, polisielede met wie ek praat, misdadigers oor wie ek lees, my agtergrond in sielkunde. Stukkies en brokkies wat bymekaarkom."
"Ek doen altyd moeite met die misdadiger, veral ’n reeksmoordenaar, maar destyds met Mags het ek geweet hy is naby aftree, sy vrou is onlangs dood ná ’n kankerstryd, sy verhouding met sy seun is nie lekker nie, hy is in rou en nukkerig. Dit was dit, en ook een van die probleme met die manuskrip. Ek moes Mags leer ken terwyl ek geskryf het. Deesdae bestee ek meer tyd om die hoofkarakters se persoonlikhede te deurdink sodat ek hulle beter ken voordat ek ’n woord skryf. Ek en veral Enzo en Karla het eers saam gesit voor ek aan Losprys begin skryf het."
Martin verel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 22 Februarie 2019) dat hy dit baie geniet het om adjudant Losper se karakter te skep – "sy persoonlikheid, sy manier van praat. Die karakters (in Losprys) was oor die algemeen maar taamlik nukkerig, soos tieners wat net in hul kamers wil sit en musiek luister en nie deel van die gesinsaktiwiteite wil wees nie.
"Maar Losper het op die toneel gekom en net gedomineer. Ek kon skaars met die tik byhou wanneer hy praat, en hy praat aanmekaar. Ek het ’n sterk spesmaas hy was eintlik besig met ’n oudisie vir ’n boek van sy eie."
"Losprys handel oor oor die ontvoering van ’n Amerikaanse rykmanskind van Llandudno en die rolspel tussen die span speurders, polisielede en ander persone wat aan die saak werk, skryf Ronel." (Rooi Rose, Desember 2018).
"Adjudant Ariefdien (’n baie genotvolle karakter) verkies byvoorbeeld moorde. Want dan hoef hy nie nog vir ’n verdwene, lewende mens se lewe verantwoordelik te wees nie. Ook in die span is Adjudant Karla Blanckenberg en die veeleisende kaptein Lubambo. Dit klink dalk nie na ’n spannende whodunnit nie, maar glo my, dit is moeilik om neer te sit."
Nel is ook die resensent in Beeld (19 November 2018) en sy skryf: "Deur Steyn se oë leer jy ook Mitchells Plain beter ken. Toe hy destyds begin belangstel het in regte reeksmoordenaars en oor hulle begin lees het, was dit so 1993 -'94. En in Januarie 1994 is seuns se lyke in die duine by Mitshells Plain ontdek. ’n Klomp. Uiteindelik het hulle daardie maand 11 lyke gekry. Steyn het die saak gevolg. In die proses het Mitchells Plain vir hom meer as net ’n woongebied geword." (…)
"Daar is ook goeie, en duidelik persoonlik ervaarde, beskrywings van areas soos Imizamo Yethu en ander townships. Dit is een van Steyn se bykomende sterkpunte: sy manier om met ’n valkoog die omgewing waar te neem en die leser te laat voel dat sy of hy dáár is. Dit is landskappe wat dien as die ideale agtergrondpalet vir die raaiselagtige en duistere gebeure.
"’n Mens sukkel soms om te onthou wat die verskillende karakters doen, maar dit vervaag teenoor die drama wat afspeel tussen die hoofkarakters, die onderhandelaars en die skatryk Gordons, wie se seun Steven die ontvoerde is."
"Die boek volg sy eie pas, en verskil in toon effe van sy vorige boeke, maar dit is die karakters en hul dialoog wat jou bybly en vasgeklou hou. ’n Mens kan Steyn beslis benoem as die outeur wat die beste sielkundige rillers in Afrikaans skryf, Hy sit die sielkunde voor die riller."
"Martin Steyn se vierde en indrukwekkendste roman tref jou soos ’n trosbom," begin Jonathan Amid se resensie in Rapport (11 November 2018). "Dit sal van leser tot leser verskil, maar daar is verskeie geleenthede wat ’n mens eenvoudig laat steier. En dit verg veel meer as die opstapeling van lyke, die beskrywing van gruwels of die manipulasie van gebeure en emosies om die soort emosionele deurbraak en verbintenis te bewerkstellig wat Steyn met reëlmaat in sy romans vermag."
Amid gaan voort: "Losprys verteenwoordig Steyn se interpretasie van polisieprosedure-as-gyselaarsdrama, een wat aanvanklik afspeel in ’n klein paleis in Llandudno. Die legkaartstukke is uiteindelik legio, maar die kern behels die ontvoering van ’n tienerseun, Steven Gordon, en ’n ontvoerder wat ’n losprys van R20 miljoen van sy ryk Amerikaanse ouers eis. (…)
"Bewaar die siel wat die wipwarit van Losprys se plot op die lappe bring! Die groot wending is niks minder as briljant nie en stel Steyn in staat om die werk wat hy oor die bevraagtekening van die kontoere en karakter van skuld, verwantwoordelikheid en aandadigheid in veral Skuldig en Swartval gedoen het, tot nóg groter hoogtes te voer. (…)
"Oordeelkundigheid, fyn waarnemings, maksimale funksionele waarde vir elke gekose hoof- en newekarakter asook ’n sterk prosastyl is almal teenwoordig. Steyn vermy sekere tonele wat lesers sou verwag, soos kort en gekursiveerde afsonderlike hoofstukke wat óf van die ontvoerde óf die ontvoerde Steven as verteller gebruik maak. Vergeet daarvan – hierdie skrywer hou daarvan om oor die lyne in te kleur." (…)
"Losprys verteenwoordig ’n nuwe hoogtepunt in die skrywer se oeuvre. Bes moontlik is dit ook ’n nuwe baken van uitnemendheid waarteen toekomstige plaaslike pogings in dié genre gemeet sal word. Dié literêre trosbom sal geeneen onaangeraak laat nie."
Intussen sien al Martin se getroue (en ook nuwe) lesers uit na sy volgende naelbytstorie.
Publikasies:
Publikasie |
Donker spoor |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9870799369656 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Speurroman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Skuldig |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9870799373608 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Speurroman |
Pryse toegeken |
ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2016 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Swartval |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799380910 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Spanningsroman |
Pryse toegeken |
Benoem vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2017 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Losprys |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780799390889 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Spanningsroman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Artikels oor Martin Steyn beskikbaar op die internet
- Britz, Elretha: Roman in Turks vertaal
- Buitendach, Samantha: "’n Moordenaar is ook maar net ’n mens met beweegredes": Drie krimiskrywers gesels oor die genre
- Dark Traces by Martin Steyn to be published in Turkish translation
- De Vos, Beyers: Open Book 2015: Martin Steyn oor Skuldigen spanningslektuur
- De Vries, Izak: US Woordfees 2016: Die skrywer as morele agent – feit of fiksie?
- Jordaan, Dirk: Hy skryf ter wille van die storie, nie die leser
- Kopskote: Martin Steyn
- Lategan, Leana: Steyn stel gruwelvrate nie teleur
- Mari: Hoekom is spanningslektuur so gewild? Martin Steyn blameer endorfiene
- Martin Steyn
- Meyer, Naomi: Tien vrae: Martin Steyn oor Skuldig
- Prins, Jo: SA skrywer met groot prys vereer
- Rautenbach, Elmari: Roman ’n wekroep oor verkragting
- Turke kan binnekort dié Afrikaanse boek geniet
Martin Steyn se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2016-02-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.