Biebouw-resensie: Donker spoor deur Martin Steyn

  • 1

Titel: Donker spoor
Outeur: Martin Steyn
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799369656

Koop Donker spoor by Kalahari.com

Stephen King se The Dark Half het Martin Steyn geïnspireer om te begin skryf. So ook het sy fassinasie met reeksmoordenaars soos Jeffrey Dahmer hom genoop om waremisdaad-boeke te begin lees. Na universiteit, waar Steyn se hoofvakke sielkunde en kriminologie was en hy sy honneurs in sielkunde behaal het, het hy sewe waremisdaad-verhale aan Crime Library, ’n CourtTV-webwerf, verkoop. (Hulle het onder meer gehandel oor Moses Sithole, die verkragting en poging tot moord op Alison, en die Sizzlers-moorde in Seepunt.) Donker spoor het vervolgens ontstaan as deel van ’n kreatieweskryfvaardigheidskursus van die South African Writers’ College wat hy onder die leiding van Wilna Adriaanse met meriete geslaag het.

Donker spoor se misdaadondersoek behels die jag op ’n reeksmoordenaar wat sy slagoffers – hoërskoolmeisies wat in Durbanville, Bellville en Brackenfell skoolgaan – genadeloos in aanhouding verneder, geestelik aftakel, seksueel misbruik en eindelik vermoor deur hulle op te hang.

Die verhaal begin op ’n Sondagmiddag, 9 Maart 2014, wanneer die liggaam van ’n hoërskoolmeisie buite Durbanville ontdek word: sy was gehang, in ’n brutale vorm van teregstelling, en die patoloog, Sinette Kilian, ken die storie. Sy onthou ’n soortgelyke geval wat redelik onlangs plaasgevind het. Die leser word onmiddellik bedag gemaak op die feit dat daar in besonder ’n skaarste is aan moordslagoffers wat gehang word.

Inspekteur Jan “Mags” Magson (middeljarig, “old school”, aanvanklik min lus vir die reeksmoorddossier) en inspekteur Colin Menck (jonger, minder ervare, ietwat meer opgewek wat die eerste oogopslag betref) moet saam die moordenaar vastrek. Hulle moet sou gou as moontlik ’n greintjie orde probeer herstel na die moorde, wat stelselmatig van die eerste moord na ’n handvol toe uitkring. Dit is uiteindelik, tesame met ander geloofwaardige bewysstukke en getuienis, ’n enkele blonde haar wat die knoop vir die speurders deurhaak.

Soos wat die ondersoek momentum begin opbou, besef die leser algaande presies hoe moeilik dit kan wees om moordsake op te los, en watter emosionele aftakeling dit ook bring vir dié wat die bose moet hokslaan. Wanneer twee meisies binne twee dae verdwyn, is die gort gaar. Die vertelling versnel, die spanning hoop tot ’n mate op dat elke nael op ’n vinger flenters gekou is. Sal hulle die meisies kan betyds kan opspoor? Is daar enigsins nog hoop?

Sonder om veel te verklap, onder die verdagtes tel dié op die volgende lys: die “vreemde”, skugter onderwyser wat briewe vir leerders gee en wat voorheen met ’n leerder ’n seksuele verhouding gehad het; die afwykende swembadskoonmaker wat meisies afneem; die lede van die band Ystersaag, met die kil, arrogante hoofsanger, Kempen Luckhoff.

Almal is geloofwaardige verdagtes; elkeen sou moontlik die moordenaar kon wees. In hierdie pakkende riller is daar egter uiteindelik een figuur wat al die ander grieselrige siele behoorlik in die skadu stel wat boosheid betref. Soos Alice Sebold dan ook in haar bekende The Lovely Bones noem: “Murderers are not monsters, they're men. And that's the most frightening thing about them.”

Eerder as om slegs een speurfiguur vir die leser aan te bied, gewoonlik in die speurgenre dan ook telkemale ’n man wat met alkoholisme worstel of ’n rokjagter is, is dit hier allermins die geval: Mags en Menck is ’n dinamiese duo wat mekaar uitstekend aanvul: van kameraadskap, ondersteuning en humor tussen die twee is daar oorgenoeg.

Menck is die jonger inspekteur wat daarvan oortuig is dat sy vrou hom probeer manipuleer met haar keuse van vleisgeregte en dat sy dogter Casey met niks minder as ’n perd tevrede sal wees as troeteldier nie. Dit is, vir alle praktiese doeleindes, die grootste kopsere in sy lewe.

Mags se lewe sien heeltemal anders daar uit: ná sy vrou se stryd teen kanker, wat hy deur middel van genadedood beëindig het, was sy seun, Hannes, van hom vervreem. Hannes het aan Christien verloof geraak en sedertdien nie ’n woord met sy pa gepraat sedert hulle in die buiteland woon nie. Hannes verwyt sy pa vir die manier waarop sy ma dood is, en een van die roman se vele sterkpunte is die sonderlinge wyse waarop Steyn die kwessie van genadedood opper. Die onderwerp word nie net in ’n paar paragrawe nugter beskou nie, maar word ’n integrale deel van Steyn se besinning oor die waarde van elke mens se lewe. Wat is erger: Om te sterf? Of om agter te bly?

Mags se verhouding met sy vrou Emma, met besonderhede soos haar teenkanting teen vuurwapens, en die janfiskaal wat sy elke dag kos gegee het, asook voorbeelde van haar deernis vir ander, word met sensitiwiteit weergegee. Dit verleen beslis ’n ekstra dimensie aan Mags se verhaal. Mags is nie ’n Bennie Griessel nie, maar ook nie ’n Thys Krige nie. Hy is alledaags, maar daar is iets mensliks en spesiaals aan dié man met sy diep groen oë. Mags se worsteling met die wanhoop, ellende en trauma wat met die dood gepaard gaan, asook die amperse onmoontlikheid om van geliefdes afskeid te neem en sodoende aan te beweeg, word ’n donker hoogtepunt te midde van die moordondersoeke.

Wanneer Mags, verpletter, selfmoord oorweeg en die reg op vergifnis vir sy rol in sy vrou se dood bepeins, is jy daar saam met hom. Hy spandeer aande op sy eie met sy dienspistool, en hierdie tonele is intens in hul treffende eenvoud. Enigiemand wat al intense verlies ervaar het, kan met Mags se trauma identifiseer. Daar is verstáán hier. Te midde van ’n ondersoek wat hom tot die uiterste beproef, ontvang Mags berading.

Steyn lig deur wyse van verskeie voorbeelde uit presies hoe algemeen dit is dat vrouens aan hul mans, hul base, of meisies aan hul intieme genote, se genade oorgelaat is. Besonder treffend en hartseer is die geval van ’n jong meisie wat ’n nuwe lewe vir haarself probeer skep met ’n vreemdeling wat sy op die internet ontmoet het. Dit kom eindelik uit dat haar ma haar nie teen seksuele misbruik deur haar baas beskerm het nie, omdat sy bang was om haar werk te verloor. So ook is daar die voorbeeld van die dogter wat vir haar pa ’n brief skryf van ’n familielid wat hom op haar afdwing en haar daaroor afpers.

Hierdie seksuele geweld en manipulasie van wat as die “swakker geslag” beskou word deur baie mans is teen dié tyd so bekend aan elke man en vrou wat in hierdie land woon, tog het Steyn se vertellings deernis en insig. Die patriargie is duidelik nog met ons in 2014. Dit blyk nie gou te verander nie, want die meeste gevalle van seksuele misdrywe in families word steeds onder die mat in gevee. Die roman maak lesers ook bewus van die innerlike krag van vroue, wat veral in die laaste derde van die vertelling sterk deurskemer.

Dis opmerklik dat Steyn se verhaal ook ’n goue draad het waar hy deur sy twee speurfigure die laat kapitalisme se obsessie met handelsmerke oopvlek. Daar word ligtelik besin oor ’n groot verskeidenheid produkte, en ek wil nie vir voornemende lesers die tong-in-die-kies-plesiertjies hiervan verklap nie. Dit is wel een van die elemente wat die roman se diepte en breedvoerige aanslag versterk en dit meer as net ’n “straightforward” spanningsroman maak.

Die media word deurgaans by die moordondersoek betrek. Een van die ouers van ’n slagoffer plaas ’n brief aan die moordenaar, ’n ander bied ’n groot losprys aan. Die name van Leigh Matthews en Inge Lotz word deur Steyn ingewerk. Aanlyn kletskamers en tiener-angs in sy verskillende gedaantes word hier met vernuf in die verhaallyne verweef. Steyn is in voeling met die genre – hy weet presies hoe om spanning te fabriseer, hoe om sy karakters eg en oortuigend te skets, hoe om die leser enduit te boei met ’n roman wat by tye besonder grieselrig en ontstellend is. Veral ouers se pyn en lyding, hul verwonding, word hartverskeurend uitgebeeld.

Hier is ’n digverweefde tapisserie wat geleidelik vir die leser oopgevou word. Wat is die donker vir óns? Waar lê óns vrese? Wat maak ons nog bang, in ’n era waar elke gruwelmisdaad die volgende oortref, waar ons daagliks met die dood gebombardeer word? Wanneer wet en orde omvergewerp word deur misdaad, deur veral gewelddadige misdaad, kan ons probeer om met behulp van die beste misdaadfiksie ’n beter blik op ons samelewing te verkry. Hier het ons ’n debuutwerk wat ondersoek instel, maar nie preek nie. Steyn krap die rofies af, hy dolwe die oop grafte om, maar hy bly nugter in sy aanslag. Daar is niks sensasioneel of oordadig te vinde nie – ’n pluimpie vir die skrywer, wat sy navorsing en kennis oor sy onderwerp laat tel.

Donker spoor is uit die staanspoor ’n naatlose vermenging van die speurroman/polisieroman en die forensiese ondersoek. Steyn se aanslag is berekend maar nooit kil nie, intelligent maar nie vertonerig nie, verwikkeld sonder om oordadig aan te doen. Sy roman is ook kenmerkend van ’n belangstelling in die psigopatologie van geweld en die afbreek van sosiale norme en morele waardes. Steyn blyk te vra: Wat is een mens se lewe werd in vandag se Suid-Afrika?

Dit sit beslis nie in elke genrefiksieskrywer se broek om ’n roman te skryf waar die bose en die goeie, die verrotte en die onskuldige, die waarheid en die skyn, met ewewigtigheid en omslagtigheid teenoor mekaar gestel word nie. Net so sou ’n roman wat beide die perverse moord vir plesier en die uiters omstrede genadedood teenoor mekaar stel, ’n bitter sekure hand verg. En dis presies wat Steyn vir die leser bied.

Dat die goeie eindelik oor die bose uittroon, al is dit slegs tydelik, is beslis nie ’n swakplek of ’n ongeloofwaardige wending in die verhaal nie, ten spyte van die feit dat die genre self die herstel van orde en die vooropstelling van hoop en die skuldige wat aan die pen ry verwelkom, selfs daarop aandring. Daar is min verheerliking van die speurfigure, maar ook nie ’n eindelose gehamer oor die korrupsie van die land en sy polisiediens nie.

Steyn onderskat nie die leser nie. Hy probeer ook nie om die leser in elke hoofstuk met vergesogte “red herrings” op ’n dwaalspoor te bring nie. Anders as gewoonlik in die genre – een wat vinnige aksie en warrelwindvertelling beklemtoon – is die hoofstukke baie langer as in die deursnee-misdaadroman.

Die roman is amper 400 bladsye lank, met slegs 19 hoofstukke. Baie min misdaadskrywers kies hierdie roete, wat dalk net afstuur op ’n stadiger manier van lees op die ou einde: al wil jy weet wat volgende gebeur, wil jy glad nie deur die storie jaag nie. Inteendeel, jy wil elke bladsy, elke paragraaf, elke sin, met die nodige respek vir die skrywer se vernuf en oordeel behandel. Langer hoofstukke gee ook vir die skrywer die kans om die pas net ’n rapsie stadiger te maak waar nodig, om die leser se aandag op sekere elemente, karakters of besonderhede te fokus, en om die hoof- en newekarakters sodoende genoeg kans te gee om asem te skep – om voor ons oomblikke van die alledaagse, krisisoomblikke, of oomblikke van groei en besinning te beleef.

Steyn se titel is ook op sy kop, en bied verskeie interpretasiemoontlikhede. As leser kan ons die “spoor” van die titel as tekens, bewyse en roetes karteer – duidelike of sigbare spore, asook die onsigbare spore wat menslike gedrag en aksies agterlaat. Daar kan ook spore van aanvoeling, intuïsie en ervaring wees, spore in die vorm van bewysstukke en leidrade en doodloopstrate, forensies sowel as emosioneel, en in die verwantskappe en verhoudings tussen verskeie karakters.

As ek Donker spoor met die spoor van ander plaaslike misdaadrillers moes vergelyk, sou ek die moontlike invloed van Meyer se Feniks en Infanta en Venter se Ou bloed, opper. Die roman het agter telkemale vir my dieselfde gevoel tuisgebring as wat ek jare gelede, en toe ook weer destyds, gehad het met die kyk van David Fincher se meesterlike Seven, waar inspekteurs Mills en Somerset (Brad Pitt en Morgan Freeman) ’n verbete stryd teen ’n reeksmoordenaar voer. Fincher se film is ’n sielkundige riller wat ook deur die mees ontstellende en grusaamste geweld gekenmerk word, en so is dit ook met Donker spoor.

Die geweld in die roman is by tye eksplisiet en grusaam, ’n donker spoor van sy eie, alhoewel sover moontlik in goeie smaak in die geval van Steyn se werk, en dit is swaar om dit te beleef. Jy voel die slagoffers se pyn, of dit nou die meisies is wat ly of die ouers daarna. Die ervaring is deurgaans bitter intens, die spanning van die inspekteurs erg tasbaar vir die leser. Die aksie voel gegrond in die geloofwaardige en die werklike. Die leser word nie die verterende effek van die dood op die liggaam gespaar nie. Die spoor van die dood is donker, wyd verspreid, van Mags se Emma se kankerstryd tot die dood van die moordenaars se slagoffers, van die klaarblyklike dood van die moordenaar se gewete en sy gebrek aan menslikheid tot die dood van onskuld wat die roman so afgerond dokumenteer.

Donker spoor is enduit gefokus: na aan ’n meesterstuk waar langsame kronkelings en insigte oor die psigopatologie van ons beleërde samelewing skouers skuur met sekure, spanningsvolle, seningrige skrywe wat bewys dat daar meer as een manier is om lewens te neem. Steyn se geslypte styl – realisties maar nie kil of afsydig nie – asook sy oog vir besonderhede, sy ystergreep op die klein sowel as groot oomblikke van die vertelkuns, is verblydend. Hier voer “showing” oor “telling” die botoon.

Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly, ’n teks wat heelwat meer uitdagend as gewone genrefiksie blyk te wees. Hier is dit belangrik om ook melding van Fanie Viljoen se onlangse Pleisters vir die Dooies te maak, ’n gepaste voorbeeld van Lapa se bereidwilligheid om sowel die middelmoot-literatuur as transgressiewe letterkunde ’n kans te gee.

Vir die aanhanger van misdaadfiksie soos ek is die opbloei van misdaadfiksie deur plaaslike skrywers natuurlik iets om oor opgewonde te raak. Waar dit vir lank net Deon Meyer was wat besliste erkenning en aansien van die plaaslike resensente en mark geniet het, het ’n skrywer soos Rudie van Rensburg met sy kragtige Slagyster en onlangse Kopskoot gewys dat daar ook ander is wat die leser se tyd en kontantbelegging sal regverdig. Met Donker spoor is dit Martin Steyn wat lesers enduit regop gaan laat sit. Dit is ’n letterkundige kunswerk vir nóú, maar dit stippel ook ’n ander waarheid vir ons uit: hierdie tipe riller het nie ’n vervaldatum nie.

  • 1

Kommentaar

  • Estelle Engelbrecht

    Daar is heelwat los drade aan die einde, of my boek kort 'n paar bladsye. Ek het die boelk baie geniet, maar voel die einde is teleurstellend. Gaan daar 'n vervolg wees? Of is dit maar net die einde?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top