Open Book 2015: Beyers de Vos vra Martin Steyn oor Skuldig en spanningslektuur.
- Watter verantwoordelikheid het misdaadskrywers as hul geweldstonele skryf? Waar trek mens die streep?
Ek glo mens moet geweld realisties beskryf, soos wat dit is. So ook – eintlik veral – die gevolge van die geweld. Regte geweld is nie “romanties” nie; dis lelik en erg en dit veroorsaak skade. Die fisieke skade word baie keer relatief gou gesond; dis die emosionele skade wat bly en mense verander. As die slagoffer dit nie oorleef nie, het dit ’n dramatiese impak op die mense wat lief is vir daardie persoon. Geweld verander lewens. Selfs iemand soos Alison Botha, met die innerlike krag om letterlik haar ingewande op te tel en pad toe te kruip om te oorleef, wat deur daardie aand se gebeure gewerk het en vandag ander mense motiveer, was nog steeds bang toe sy vroeër vanjaar hoor haar aanvallers kom in aanmerking vir parool.
Maar daar is ’n streep en dit lê voor sensasie. En hoe meer realisties jy skryf, hoe belangriker is dit dat die geweld funksioneel moet wees. American History X is ’n fliek wat die balans baie goed reggekry het. Daar is ’n toneel waar mense kom om by die hoofkarakter se motor in te breek. Hy hardloop uit met ’n pistool, skiet die een dood en laat die ander een die sypaadjie byt, waarna hy sy kop trap. Dis erg en dis steurend, juis omdat dit realisties en sonder sensasie uitgebeeld word. Dis ’n fliek met ’n baie sterk boodskap en die realistiese geweld en die gevolge daarvan maak die impak groter.
- Wat is dit oor die misdaad- en speurgenres wat vir jou as skrywer aanloklik is?
Dit het begin met ’n fassinasie met reeksmoordenaars. Ek wou weet wat gebeur dat hierdie mans, wat net soos ons lyk, hierdie verskriklike dinge doen. Profielsamestelling interesseer my ook baie, en ek wou weet hoe hulle by die afleidings uitkom. Gevolglik het ek baie oor reeksmoordenaars en profielsamestelling gelees, en die sielkunde is fassinerend. Toe ek daaroor begin skryf, en navorsing oor die polisie begin doen, het hierdie deel my net so aangegryp. Ek het ’n diep belangstelling in die psiges van geweldsmisdadigers en die mense wat baklei om geregtigheid vir die slagoffers te kry, in polisiewerk en forensiese ondersoeke.
Dan is daar ook die plesier om die storie te sit en skryf, om die speurders op die moordtoneel neer te sit en te kyk wat hulle doen, om hulle te volg terwyl hulle die spoor volg, om te sien wat uiteindelik gaan gebeur. Die navorsing, veral wanneer ek met speurders en forensiese deskundiges gaan praat, is ’n uitstekende bonus.
- Dit lyk asof die lyne tussen sogenoemde “genre”-fiksie en “literêre” fiksie besig is om te verdwyn. Stem jy saam met dié stelling en watter gevolge dink jy het dit vir die misdaadgenre?
Ek het nie veel belangstelling in klassifikasies en genres en subgenres nie. Dit maak nie vir my saak nie. Ek wil ’n goeie storie met geloofwaardige karakters lees, wat verkieslik ook goed geskryf is, of dit nou Pet Sematary (Stephen King) is, of Dark Places (Gillian Flynn), My Sister’s Keeper (Jodi Picoult), To Kill a Mockingbird (Harper Lee), Lord of the Flies (William Golding) of The Hobbit (JRR Tolkien). Ek het in elk geval ook nie formele opleiding om regtig te weet wanneer wat waar inval nie.
(Ek sê gewoonlik ek skryf misdaadfiksie, en ek dink aan my boeke as polisieboeke, omdat ek uit die polisie se oogpunt skryf. Dis police procedurals. Maar ek wil dit nie regtig in ’n boksie druk en ’n etiket daarop plak nie, want ek gaan waar die storie my heen neem, ongeag enige genre-grense.)
- Dink jy die misdaadgenre is veral relevant in Suid-Afrika, meer as in ander lande?
Miskien. Maar ek weet nie hoeveel van ons oor “regte” Suid-Afrikaanse misdaad skryf nie. Sake soos die Modimolle-monster, Griekwastad en Oscar Pistorius is oral op die voorblaaie en gryp almal se verbeelding aan, maar dis nie regtig verteenwoordigend van die tipiese Suid-Afrikaanse geweldsmisdaad nie. My twee boeke ook nie, alhoewel beide ’n kernprobleem van ons samelewing aanraak: dat baie mans nie die nodige respek vir vroue het nie en glo dis oukei om ’n vrou te gebruik vir hulle woede, fantasieë, swak selfbeeld of wat ook al.
Misdaad is maar net iets wat mense fassineer. Hoeveel misdaadskrywers is daar nie in die Skandinawiese lande nie, en in vergelyking met ons is daardie lande amper misdaadvry. Wat wel ’n faktor in die Suid-Afrikaanse konteks is, is iets wat Peet Venter en Rudie van Rensburg al genoem het, dat Suid-Afrikaners ’n begeerte het om te sien dat die misdadigers gevang en gestraf word, dat geregtigheid geskied, al is dit dan nou ook fiktief. Want Inge Lotz se moordenaar loop nou nog vry rond. Shrien Dewani is terug Engeland toe. Niemand is nog gearresteer vir die De Zalze-moorde nie.
- Aangesien misdaad so ’n populêre genre is en daar soveel keuses beskikbaar is, hoe maak jy seker jou werk is oorspronklik/vars?
Ek skryf aan die idees wat my interesseer en opgewonde maak. Ek volg die karakters en die storie en kyk wat gebeur. Dis vir my ’n baie organiese proses, wat hoofsaaklik iewers uit my onderbewussyn kom. Dit word ook deur navorsing beïnvloed, wat regtig in die omstandighede van die storie sal gebeur, wat in Suid-Afrika moontlik is. Om te probeer om vars en oorspronklik te wees, sal die hele proses onnatuurlik maak, soos plastiek. Ek vertel net die storie so goed ek kan – en hoop vir die beste. 😉
Wat wel in my guns tel, is dat ek met ’n vreemde paadjie by misdaadfiksie uitgekom het. My agtergrond is gruwelverhale, veral dié van Stephen King. My invloede toe my skryfstyl begin vorm het, was ook nie juis wat mens “tradisioneel” sal noem nie – flieks soos Pulp fiction en Heat het my byvoorbeeld laat besef hoe vermaaklik en aangrypend goeie dialoog kan wees. Ek het sielkunde en kriminologie op universiteit studeer. En tot onlangs toe het ek hoofsaaklik ware misdaad gelees eerder as misdaadfiksie.
- Die karakter van die speurder is ’n belangrike figuur in die misdaadgenre, maar ’n karakter wat maklik in ’n cliché kan verander. Hoe skryf jy só ’n karakter wat kan uitstaan tussen ander soortgelyke karakters?
Ek is veral geïnteresseerd in die gewone speurder, wat sy werk doen en dit goed probeer doen. Ek is ’n groot aanhanger van The mentalist en het Patrick Jane vreeslik geniet, maar ek wil nie regtig oor die briljante speurder skryf nie. Daar is ook nogal ’n neiging dat goeie fiktiewe speurders altyd stukkend moet wees, en ek is self ’n groot Jo Nesbo-leser en ek hou van ou Harry Hole. Maar ek wil eerder oor daardie gewone speurder skryf van wie mens amper nooit lees nie. Dit kom waarskynlik van al die ware-misdaad-lesery af. Ek sien dit ook as ek met regte speurders gaan praat. Natuurlik is die werk van ’n polisieman uniek en stresvol, en dit lei tot drankprobleme en egskeidings en selfs geweld. Maar daar is ook speurders wat saans nugter huis toe gaan, na ’n vrou en kinders toe, en dis hierdie speurder wat my interesseer.
Kyk, ek het nie gaan sit en dink aan al die fiktiewe speurders en uitgewerk hoe ek een kan maak wat anders is nie. Dis maar die uitvloeisel van my belangstellings, die speurkarakter wat na my toe gekom het. En dis vir my lekker om ’n manlike karakter te skryf wat net lief is vir sy vrou. Dis wat ek die meeste van Menck hou.
- Hoe belangrik is navorsing, veral ivm byvoorbeeld polisieprosedures?
Goeie navorsing is altyd belangrik, want dit maak jou storie meer geloofwaardig. As dit reg aangewend word, maak dit ook jou storie interessanter. Vir die skrywer is daar die potensiaal om byvoorbeeld die binnekant van die lykshuis te sien, of uit te vind hoe ’n misdaadtoneel geprosesseer word by iemand wat hierdie werk doen, en dan kan jy dit aan die leser wys. Daar is baie Amerikaanse en Britse polisiereekse, maar hoe werk hierdie ondersoeke in Suid-Afrika?
Wat polisieprosedures betref, hang dit af van die skrywer en die soort boek wat hy of sy wil skryf. Vir my is dit baie belangrik, want ek skryf police procedurals. Ek skryf uit die polisie se oogpunt en ek mik vir soveel outentisiteit as moontlik. Aan die een kant maak dit die gevoel van realisme hoër, maar aan die ander kant interesseer dit my net geweldig baie. Ek wil weet hoe word al hierdie goed gedoen, hoe verwyder ’n patoloog ’n koeël uit ’n slagoffer se brein, hoe word daardie koeël aan ’n spesifieke vuurwapen gekoppel.
Die probleem is natuurlik mens raak soms so meegesleur met al die wonderlike, interessante dinge wat jy leer en uitvind en sien dat jy álles in jou storie wil gebruik. Dis veral vir my ’n probleem (want ek sal dit alles wil lees!), maar mens moet onthou jy skryf ’n storieboek. Soos Wilna Adriaanse vir my gesê het, die navorsing moet nooit sigbaar wees nie. Maar dis nie altyd maklik nie.
Martin Steyn is in September by die Open Book-fees in Kaapstad te sien. Besoek Open Book se webwerf vir nog besonderhede en vir die fees se volledige program.