Titel: Lokval
Skrywer: Bettina Wyngaard
ISBN: 9781415211090
Uitgewer: Umuzi
Ek het ’n nuwe doenlysie. Ek wil ’n sluipmoordenaar word, duur whiskey drink, klasse neem in marteling en vieslike seksoortreders se watsename afsny en in hul keel afdruk.
Dis natuurlik alles die skrywer Bettina Wyngaard se skuld. Sy het hierdie wreedaardige drange, soos die afgryslike roosbome in haar karakters se tuine, in my kop geplant.
Die sluipmoordenaar Natalia wat in Bettina se nuwe Lokval verskyn, is my nuwe gunstelingkarakter. Dis hoe sy aan die leser voorgestel word: “Natalia borduur, rustig soos ’n landmyn.”
En ja, Natalia is inderdaad knap met die naald – op ’n uiters grillerige manier.
Wat ’n vrou.
Natalia is die perfekte teenpool vir die hoofkarakter, Nicci de Wee, wat intussen uit die SAPD bedank het en nou ’n privaatspeurder is. Nicci is die deurlopende karakter in Bettina Wyngaard se reeks krimi’s (Vuilspel, Slaafs, Jagter) en ons ontmoet haar weer waar sy besig is om haar nuwe kantoor uit te verf saam met haar ou regterhande, Blackie en Henk.
Nicci is ’n koelkopvastrekker van kriminele, ja, maar daar is krake. Te veel mense na aan haar is reeds dood in haar vorige ondersoeke. Haar verhouding met haar geliefde, Sally, is standvastig, maar die res van haar vriendskappe is aan die wankel. Die verf is nog letterlik nat aan haar nuwe kantoormuur of sy word gevra deur ’n voormalige klant om ’n internasionale sindikaat, wat vermoor en verkrag vir wins, vas te trek.
Dis hier waar Natalia in die prentjie kom. Elke keer as Nicci en haar span een van die boosdoeners in die netwerk in hul visier het, slaan sy op ’n skrikwekkend simboliese manier toe en los saam met ’n spesiale koeël kriptiese boodskappe vir Nicci en haar span.
Die man in die gemakstoel is nog steeds amper onthoof. Dit lyk asof net genade en ’n stukkie rugstring sy kop aan sy lyf hou. Wie ook al die kantoor binnegeval het, het heelwat aandag aan hom bestee. Daar is snywonde aan sy bors. Twee van sy vingers is gebreek en staan teen onmoontlike hoeke gebuig. In die plek van party vingernaels is net bebloede beddings. Dis pynlik om selfs net daarna te kyk. Die man het nie meer ’n broek aan nie.
Die tema, mensehandel, is donker. Tog is daar genoegsame humor (al hang die grappies aan die galg) om jou aan die lees te hou. Byvoorbeeld, nadat die span op die onthoofde en ontmande lyk afkom, merk Henk op:
Ek wed jou dis ’n vrou. G’n man sal dit aan ’n ander man doen nie. Hulle bars half histeries uit van die lag. Kan jy dink wat gaan Karoolsie sê wanneer hy dit sien? Nou is hulle definitief histeries.
’n Dag voordat ek Lokval begin lees, ontmoet ek die skrywer self. Bettina het die ondeundste glimlag. “Ah, die moeilikheidmakers,” glimlag ’n bemarker senuagtig as sy vir my en Bettina saam gewaar. Bettina het ’n skerp intellek, ewe vlymskerp humor en ’n geenfilterhouding wat deur gesonde verstand in toom gehou word.
Sy was vir jare ’n prokureur en vind baie van haar idees in werklike kriminele sake. Mensehandel is werklik – nie net tussen Suid-Afrika en die buitewêreld nie, maar ook tussen plaaslike plekke in die land self. Die leiers van hierdie sindikate is ook dikwels vooraanstaande leiers van die gemeenskap, aldus Bettina. Dis ook die geval in die boek.
Die storielyn is goed en Bettina trek al die drade styf bymekaar en ’n mens kan eenvoudig net nie ophou lees nie. Wat ek waardeer, is dat al is die marteling en moorde van die boosdoeners tot in die fynste, grieselrigste detail beskryf, sy die seksmisdade genadiglik grootliks aan ons eie verbeelding oorlaat en dit met die nodige respek hanteer.
As vrou het ek die boek verskriklik geniet. Ek is mal oor spanningsverhale en aksierolprente waar vroue in beheer is en genoeg mag het om slagoffers te help. Natalia was vir my die glansryke weergawe hiervan en in my kop lyk sy net soos ons eie Charlize Theron. Blond en dodelik met ’n Russiese aksent, natuurlik.
Hierdie boek is ’n lekkerlees, spannende boek.
Die navorsing en fassinerende inligting in die boek het my beïndruk. Agter in die boek onder bedankings noem sy hoe heerlik die whiskey-navorsing was en ek moet noem dat ek daardie duur whiskey tot in my kiewe kon voel. As jy die boek lees, sal jy dit ook neersit met nuwe kennis van koeëls, skerpskutammunisie, kripto en die donker web.
Die beskrywings is ook deeglik, en die karakters wyd uiteenlopend en interessant. Die einde sal jou bevredig, maar die deur word wel op ’n skrefie gelaat vir ’n opvolger wat ek beslis sal lees. Ek het nie die vorige boeke onder oë gehad nie, maar dit is nie nodig nie en jy kan dit alleenstaande lees. Die reekslesers sal weer die drade van die volgende boeke maklik kan optel met die lekkerte van iemand wat ou vriende en “herinneringe” tussen die bladsye raakloop.
Onthou hoe Natalia aan die begin beskryf is? Wel, dis hoe ek vir Bettina Wyngaard sal opsom: “Bettina skryf, rustig soos ’n landmyn.”
Kommentaar
Baie goeie resensie!