
Titel: Heks
Skrywer: Dibi Breytenbach
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802836
Is ’n vrou regtig ’n heks? Wel, dit hang af wie haar so noem: syself, of haar eks ...
Heks, nou ook die titel van Dibi Breytenbach se nuutste boek, was oor die eeue heen nog altyd ’n handige uitskelterm in die manlike mond. Dit is dalk meer ordentlik as bitch, feeks en hoer, maar ook uiters gevaarlik, omdat die etiket van heks vanaf die Middeleeue tot selfs vandag toe nog (in Afrika-lande, ook Suid-Afrika) ’n vrou se doodsvonnis kan beteken.
Vanuit die vroulike narratief word die heks egter heeltemal anders beskou. In die vrouemond, en spesifiek uit Dibi Breytenbach se skrywe, ontplof die woord nie as ’n kragwoord nie, maar eerder as ’n kragtige woord wat sinspeel op die vrou se innerlike magiese mag.
Heks wyk af van Breytenbach se gewone krimi’s en die riller Buit wat haar mees onlangse boek was voor Heks. Dit is altyd ’n waagstuk wanneer ’n skrywer gevestig en boonop gewild is in ’n spesifieke genre en dan die hand waag aan iets heeltemal anders. Breytenbach het egter suksesvol daarin geslaag om ’n pragtige en deurdagte boek te skryf wat, so voorspel ek, die Griet skryf ’n sprokie van haar generasie gaan word.
In Heks ontmoet ons die verteller wat ’n bestaan maak as vryskutskrywer. Sy is vasgekeer in ’n ongelukkige huwelik met G met wie sy jonk getrou het omdat hulle gedink het sy is swanger – maar teen die tyd dat hulle besef dis bloot ’n vals alarm, is die knoop reeds deurgehaak. Sy beskryf haar huwelik soos volg:
Niks in die wêreld is bestand teen verwering nie. Tyd en die banaliteit van die alledaagse torring die onsigbare bande wat mense bind los, veral as dit van die begin af maar lossies geknoop is. Uiteindelik bly daar bloot toiings van die oorspronklike oor. Een oggend staan jy op en staar in die oë van jou eggenoot en merk in hom die eggo’s van dieselfde leegte as in joune.
Hierteenoor is sy in ’n buite-egtelike verhouding met M, wat sy ontmoet het toe sy die bemarkingsbrosjure geskryf het vir sy batebestuurmaatskappy:
M draai op sy rug. Sy naakte lyf is afgeëts teen die beddegoed in die vroeë môrelig. ’n Middeljarige lyf, een wat deur die meule gemaal en anderkant uitgespoeg is. Hy lyk jonger wanneer hy slaap. Die gordyn tussen sy jonkmanskap en sy middeljare skuif opsy, die harde lyne om sy mondhoeke versag en net voor dit lig word, wanneer die oggendskaduwees uit die slaapkamer begin wyk, verbeel ek my ek kan die seun sien wat hy veertig jaar gelede was.
Sy het drie reddingsboeie waaraan sy vasklou in haar stormagtige huwelik:
- Die inkantasie van die woordjie egskeiding wat sy te bang is om hardop te sê, maar wat haar tog soos ’n towerkleed teen haar man se bitsige tong beskerm;
- haar belangstelling in die Griekse en Oos-Europese mitologie wat haar meevoer;
- en haar minnaar M, wat haar meesleur op ’n ontdekkingstog van haar lyf, siel en uiteindelik haar hart.
M staan vir Minnaar en G is die voorletter van haar man se naam. Dit word so gebruik om hul identiteit te beskerm, omdat sy aan die begin van die boek skuldig en sondig voel oor die feit dat sy owerspel pleeg.
Op die televisie in haar huis, wat reeds ’n maritale slagveld is, speel ’n ander oorlog af – dié in Oekraïne – waar die aanvalle deur Rusland haar aangryp. Oekraïne – en spesifiek Konotop – is dan ook een van die geboortelande van die heks, soveel so dat ’n vrou tydens die onlangse Russiese besetting van Konotop die Russiese soldate stormgeloop en hulle met impotensie vervloek het nadat sy hulle vertel het dat elke tweede vrou in Konotop ’n heks is.
Soos wat Breytenbach skryf:
Daardie tyd, in die verre, duistere verlede, was Kijif ’n stad van hekse, in die ou taal bekend as die відьми, die widmi. Dit is vandag steeds ’n stad van hekse.
In ’n wêreld waar hekse vervolg is en tot redelik onlangs tot ’n karikatuur afgewater is in die Westerse kultuur, sluit Breytenbach haar aan by die moderne millennium-neiging om die heks te sien as die feministiese simbool van vroulike krag en vergelding.
Soos wat Kristen J Sollee dit stel in Witches, sluts, feminists: Conjuring the sex positive (2017):
What’s occurring now, with the fourth wave of feminism crashing, is that many female artists are using occult images, ritual gestures, and witch iconography to not only connect to the divine, but to continue to make space for themselves in a field which is still dominated by men.
Dié muntstuk het egter ook ’n ander kant. ’n Heks was nog altyd die oorkoepelende simboliek van ’n magiese vroulike mag wat nie inpas by die konvensies nie. Sollee merk op dat die vrou selfs vandag uitgeskel sal word as ’n heks as sy selfondersoek instel en konvensies bevraagteken.
Dit is ook wat die hoofkarakter in Heks begin doen. Sy vra haar af:
En ek? Wie is ek? Soms wonder ek ook. Vrou. Moeder. Skrywer, ten dele. Kos- en koffiemaker. Wasgoedwasser. Owerspeler. Dit is alles dinge wat ek doen. Maar wie ek ís?
Sy begin al hoe meer haar innerlike heks te ontgin deur haar instink te vertrou en te besef dat sy dalk nie die wêreld kan verander nie, maar dat sy wel die onreg in haar onmiddellike realiteit kan aanspreek.
Een so ’n onreg is die ongerymdhede wat sy bespeur by The Red Storm Company vir wie sy bemarkingskopieë moet skryf, dan besef sy dat giftige bestanddele in hul grimeermiddels gebruik word. Soos die skoonheidsredakteur van ’n vrouetydskrif dit stel: “Hulle sê lipstiffie is soos wors. As jy weet hoe dit gemaak word, gaan jy dit nie eet nie.”
Daar is dus verskeie verhale wat afspeel in Heks: sprokies en mitologie, die Oekraïense oorlog, haar huwelik wat besig is om te verbrokkel, haar verhouding met M, ook die Red Storm-intrige. Wat alles saambind, is hierdie vraag: Gaan sy bloot ’n toeskouer bly, soos wat sy is wanneer sy na die oorlog kyk op haar televisie, of gaan sy ’n heks wees en iets daadwerkliks begin doen?
Heks is egter nie net ’n roman oor hekswording, selfgelding en vergelding nie; dit is ook ’n liefdesverhaal – dié van haar en M, M die altyd ontwykende wat vanweë sy beroep die wêreld vol reis en self ook getroud is. Sy vergelyk hul verhouding met die dramaturg, Aristofanes, se vertelling in Plato se Simposium van die kragtige, endogene, ronde skepsels, man én vrou, wat eens op aarde was en toe deur ’n jaloerse Zeus geskei en vervloek is om vir altyd rond te dwaal op soek na hul ander helfte.
Sal sy die moed hê om uit haar huwelik te stap waar sy voortdurend emosioneel mishandel en deur woordmissiele gebombardeer word? Soos wat Breytenbach dit stel:
Die liefde is skoon en rein en onskuldig. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Die liefde ís. So sê Ela Spence, Barbara Cartland, die tannie van die biblioteek en die Bybel. Tog is daar iets duisters aan die liefde. Die Grieke, my ma en die noodlot weet alles daarvan.
’n Huwelik is egter uit die aard van die saak voetstoots. Jy teken die kontrak met al daai persoon se skete ook.
Die hoofkarakter oorweeg talle oplossings. Sy voel egskeiding het ’n klad aan verbonde. Tot die dood jul skei, is tog vir ewig. Maar wat as dood veroorsaak kan word deur moord?
Moord. Dit dra ligter aan lettergrepe as egskeiding. Die woord lê in my kies soos ’n suurklontjie, terselfdertyd lekker en sleg. Weduwee. ’n Status met ’n sekere wrang waardigheid, sonder die skandmerk wat aan ’n geskeide vrou kleef.
Sy probeer ook haar huwelik halfhartig te red deur haar halsstarrige eggenoot te verlei: “Maar, en dit sal enige skrynwerker beaam, ’n stukkende meubelstuk spyker ’n mens nie reg nie.”
Teenoor haar emosioneel verwoestende verhouding met G, vol verwyte, aantygings en skelwoorde, staan haar vervullende verhouding met M. Die skrywer waag haar hand aan liefdestonele, haar beskrywing van die weerloosheid van die middeljarige manlike liggaam is pragtig, maar sy gaan nie te veel in seksuele detail in nie, want soos die verteller dit stel: “Die gordyn sak diskreet, want niemand praat oor middeljarige seks in ’n swembad nie.”
Ten einde laaste is Heks ’n roman oor iemand wat opstaan teen wat sy beskou as die voortdurende oorlogvoering teen die vrou – deur die gemeenskap, maatskappye en mans – alles in die naam van die strewe om die “perfekte vrou” te wees: chemies ten opsigte van skoonheidsprodukte wat haar lewe in gevaar kan stel, onderdrukkende sosiale eise soos gestel deur die godsdiens en moraliteit, en deur sekere mans wat vroue elke dag op brandstapels van geweld vernietig.
Genoeg. Ek is klaar geboelie. Ek sien die heks van Konotop met haar wilde oë voor die tenks uit Rusland. Die handjievol soldate op Slangeiland. Heksemoed.
Dit verg moed en dapperheid om op te staan teen boelies. Sal ons heks dit regkry?
Heks is ’n boek wat ek hoog aanbeveel. Dis poëties meesterlik geskryf, deeglik nagevors en sal jou terselfdertyd inlig, laat dink en meevoer – presies wat ’n goeie boek moet doen.
Lees dit gerus en laat jou innerlike heks vry. Soos wat die heksekarakter Elphaba sê in Wicked: “Everyone deserves a chance to fly.”


Kommentaar
Wonderlik Erla!
Baie geluk weereens, Dibi. Jy’s enig! Mag daai besem sterk en ver vlieg - net nie af val nie!