Titel: Sel ses
Skrywer: Stefaans Coetzee
ISBN: 9781991256980
Uitgewer: Naledi
...
Ek beveel die boek vir alle siele aan – sensitief én onsensitief. Komaan, druk jou vinger in die kragprop. Jy weet jy wil.
...
Ek was al in die tronk. Pollsmoor. Niks kan jou voorberei op hoe dit voel as daardie staaldeure agter jou toegaan nie; die tronk met sy vrot asem wat in jou oor fluister soos wat jy dieper in sy ingewande inbeweeg: Verwyderd. Ontneem. Verlate. Dood.
Basies: Jy is geheel en al gefok.
Ek was in Pollsmoor net vir ’n dag. Dit was deel van ’n mediabesoek en ek onthou die depressie wat my daarna gevange gehou het. Die meeste mense wat daar instap, kom nie sommer gou weer uit nie en wát word uiteindelik vrygelaat – monster of mens?
Monster of mens.
Dít is een van die sentrale temas van Stefaans Coetzee se fiksiebundel, Sel ses, waar hy die seldeure oopruk en lesers ’n blik bied op wat werklik binne ’n tronk gebeur.
Dit vertel die verhaal van Roux Steyn, ’n gevangene wat ’n moordvonnis uitdien en dan in ’n Netflix-dokumentêr geprofileer word as een van die gevaarlikste gevangenes in ’n Suid-Afrikaanse gevangenis. Roux is deel van die tronk se Eastside-bende en waar die ander bende, Westside, verkrag en “tronkhoere” skep, staan Eastside se lede knie-diep in die bloed (moord en roof). Weens die komplekse bendestelsel in die tronke, het Coetzee besluit om fiktiewe bendes te gebruik.
Roux regeer sy sel (sel ses) met ’n ysterhand en daar is ook ’n sterk gerug wat loop dat hy ’n man se hart uitgesny en geëet het – blykbaar ’n ritueel om manlikheid te bewys wat soms wel in tronke plaasvind.
Roux word egter binnekort geëvalueer vir parool. Die tronksielkundige, Rukhsana, gaan met hom ’n ooreenkoms aan – een jaar sonder geweld en parool is syne. Hoe oorleef jy egter vir ’n jaar in die tronk waar geweld nie net die eenheid is waarmee handel gedryf word nie, maar ook al taal is wat tronkvoëls verstaan?
Een ding dryf hom egter om te probeer – sy dogter, Samantha. Hy ontvang ’n brief van haar. Sy het op haar ma se sterfbed uitgevind van Roux en dat hy as kind mishandel is deur sy pa. Nou wil sy hom besoek.
Om parool te kry is een ding. Om parool te oorlééf is egter ’n gans ander storie. Soos wat Roux wonder: “Waarvoor huis toe gaan? Al sing die kerkbroers soos die apostels in die Bybel totdat die tronkmure inmekaar tuimel, wil hy bly, want sy familie is hier binne.” Die tronkbewaarder met die bynaam Skoolhoof waarsku dan ook: “Parool beteken nie vryheid nie – dis net ’n tou waarmee hy homself gaan hang.”
Te midde van Roux se stryd met homself en die paroolvooruitsig, begin iemand die gevangenes af te maai in wat blyk reeksmoorde eerder as bendeverwant te wees.
Sel ses kom met twee waarskuwings: Die eerste, “nie vir sensitiewe lesers nie”. Daar is ook ’n verdere nota: “Die tronk is nie ’n plek vir teddiebere nie. Druk jou vingers in die kragprop en sit die krag aan.” Dit waarsku die leser vooraf dat hierdie boek glad nie soos Coetzee se mees onlangse boek, Onbeskryflike genade, is nie.
Voor ek begin met die ontledende deel van die resensie, eers ’n erkenning: Ek het een van die hoofstukke in Sel ses, naamlik “Almal se hoer”, saam met Stefaans geskryf vir ’n vorige kortverhaalbundel, Sewe keer sondig. Reeds by die skryf van die storie – wat grootliks klaar geskryf was toe ek as mede-skrywer ingespring het – het ek gevoel dat die vloekwoorde en dikwels skokkende gebeure presies net so moet bly. Hierdie is tog nie ’n sprokiesverhaal nie en die karakters is geharde misdadigers. Noudat ek die boek in sy geheel gelees het, hou ek steeds by my mening.
Die boek moet beslis in die konteks gelees word as geskryf deur iemand wat inderdaad self tyd agter tralies deurgebring het. Coetzee het 18 jaar en ses maande van ’n 40 jaar lange tronkstraf op aanklag van terrorisme en sabotasie uitgedien en is tans al nege jaar op parool – daar is dan ook nege stories vir elke jaar dat hy vry is.
Fiksie is die boek wel, maar die werkinge van en situasies in die tronk is nié uit die duim gesuig nie. Alhoewel Coetzee nie die boek in die tronk self geskryf het nie, val hierdie boek vir my in die tronkliteratuur-genre, waar ’n huidige of voormalige gevangene ’n outobiografiese of fiktiewe werk skryf as katarsis.
Met Sel ses slaag Coetzee daarin om die trauma en vrees wat hy ervaar het, tussen die geskrewe woord vas te vang – daar waar dit nou sin maak en hom nie meer kan seermaak nie. Dit was veral noodsaaklik dat Coetzee – wat begin naam maak as ’n goeie skrywer – hierdie tronkverhale moes “pleeg” en dié narratief op papier moes sit, sodat hy uiteindelik kan aanbeweeg en ’n nuwe narratief van sy eie keuse kan skryf – sowel as nuwe genres!
Tronkliteratuur is ’n noodsaaklike genre omdat dit ’n stem en sigbaarheid aan gevangenes verleen. Sel ses skets die werklike omstandighede van tronklewe en daar word nie weggeskram van die verkragtings, moorde en korrupsie wat plaasvind nie.
Die insig wat gebied word op die taal en kultuur van die tronk maak die boek al reeds die moeite werd om te lees.
Jy word ingelig oor die bendekultuur, hoe die gevangenes moet leer om te “up” – basies om kontraband in die anus te versteek – en ook van die verskillende wapens wat in die tronk gemaak word soos ’n skerpgemaakte perdehoef of selfs ’n skerpgemaakte tandeborsel, of liniaal, waarom daar bande gedraai word vir ’n stewige handvatsel. Liniale word egter ook gebruik as bottermesse en ou tandepasta-buisies as lepels.
Jy leer ook dat wasbakke verdeel word in een vir “bek en lyf” en die ander vir skottelgoed en dat ’n lemoensak vol seep vir ’n goeie lyfskrop sorg. Daar is selfs ’n handige huishoudelike wenk hoe om kokkerotte te vang – jy smeer ’n leë mayonnaise-bottel vet en gooi broodkrummels in. Die boek is verder deurtrek met interessante tronktaal soos kroon vir geld, piemp vir klik of uitpraat en mapoesa (tronkbewaarders) en salute (groet). Ek sou egter graag ’n lysie in die boek wou sien met die tronkwoorde en hul betekenis.
In Sel ses is Coetzee se skryfstyl en aanslag baie spesifiek – tronkstyl as’t ware. Die sinne is meestal staccato, kort en gestroop van te veel beskrywings en byvoeglike tierlantyntjies. Dit skep ’n gefragmenteerde, gespanne atmosfeer wat regdeur die boek opbou tot ’n uiteindelike klimaks aan die einde. Persoonlik sou ek die staccato afgewissel het met meer omvattende beskrywings wat tyd, plek en atmosfeer aandui, want die staccato-styl kan ’n storie soms so laat spoed optel dat jy die draad daarvan kan verloor.
Ja, die boek is deurspek en bespat met vloekwoorde en bloed, maar beslis nie veel meer as in jou gemiddelde krimi nie. Coetzee bewys homself as ’n uiters multi-talentvolle skrywer wat hom in verskillende genres en tegnieke kan laat geld. Hy het ook ’n unieke manier van dinge beskryf: “Meteens storm Kriek die sel binne. Hy lyk soos ’n kakkerlak wat met Doom gespuit is. Lippe oopgebars, oë opgeswel. Sy hemp sit skeef. Boonste twee knope af. Hyg soos ’n ou man op ’n jong bokkie.” Of lees net hoe die gay gevangene Domestos homself beskryf: “Kyk. My polse hang so slap, ek kan ’n sirkel met ’n liniaal trek.”
Te midde van al die drama, bloed en reeksmoorde, het Roux, met sy misdadige hardgebaktheid, wel in my hart geklim, veral as mens uiteindelik besef waarom hy in werklikheid sy vonnis uitdien. Empatie sou wel vinniger ontstaan het as dié onthulling vroeër plaasgevind het. Jy begin selfs hoop die ou maak dit, want vir ’n sogenaamde monster (volgens sy vonnis en die gemeenskap) is hy ook maar net ’n mens wat streef na liefde en aanvaarding.
Wat ons bring by mens versus monster. Ons almal het ’n donker kant, in ’n mindere of meerdere mate. Voed jy egter die mens of die monster? Maak die feit dat jy nie ’n moord gepleeg het nie, maar elke dag karaktermoord pleeg op Facebook, nie ook van jou ’n monster nie, al is dit in ’n mindere mate? Hoe ver sal jy jouself oorgee aan die monster binne jou as daar nie wette was nie?
Ook – is daar regverdiging vir monsterwording, en is dit die gemeenskap, wat dikwels die monsters self skep, se reg om monsters te veroordeel? Interessant genoeg is dit nie net die gemeenskap wat veroordeel nie, maar die gevangenes self. Daar word verwys na die moord op pedofiele en kinderverkragters in die gevangenisse en Roux maak homself skuldig aan oordeel as hy beveel dat ’n veroordeelde pedofiel gehang word. Oordeelvelling en strafoplegging kan natuurlik afgryslike gevolge hê as ’n persoon eintlik onskuldig is – iets om in gedagte te hou noudat daar so baie stemme in SA opklink ten gunste van boendoehowe en die doodstraf.
Sel ses is ’n belangrike boek wat kwellende vrae opper. Skep die gemeenskap nie dalk die monsters en die tronk vervolmaak hulle net nie?
Ek beveel die boek vir alle siele aan – sensitief én onsensitief. Komaan, druk jou vinger in die kragprop.
Jy weet jy wil.
Lees ook:
Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride
Bemarker, skrywer, pa, tweedekansgryper: ’n onderhoud met Stefaans Coetzee
Breyten Breytenbach se vroeë en tronkpoësie: ’n vergelykende stilistiese ondersoek