Bemarker, skrywer, pa, tweedekansgryper: ’n onderhoud met Stefaans Coetzee

  • 0

Stefaans Coetzee is een van my gunstelingmense en dat hy ’n boekmens is, is natuurlik ’n groot bonus. Hy is ’n moderne Suid-Afrikaner wat met verskeie werke die pot aan die kook hou. Hy bied ’n radioprogram, LeesD!T, aan saam met Salomé Kotzé. Hulle twee reël ook die Klerksdorp Boekefees saam. Die Klerksdorp Boekefees is Stefaans se breinkind wat nou hierdie jaar vir die vyfde keer aangebied word.

Hy het sy eerste resensies vir die Klerksdorp Rekord geskryf, en daarna het hy verskeie resensies vir Beeld, LitNet en Rapport geskryf. Hy skryf ook vir Taalgenoot en Lééf-tydskrif.

Van sy kortverhale het al in Huisgenoot verskyn en binnekort is daar ook een in Rooi Rose. Hy was betrokke by die samestelling van Grysberg en Sewe keer sondig.

Sy nuutste werk, Sel ses, het pas verskyn.

Ek het van Stefaans bewus geraak nadat ek sy boek Onbeskryflike genade gelees het en ’n resensie op my blog geplaas het. Ons het daarna Facebook-vriende geraak en ek het hom op sosiale media leer ken as ’n mens wat lief is vir Afrikaans, Afrikaanse skrywers en skryf. Vandag kan ek ook sê wanneer ek skryfraad nodig het, is hy my call-a-friend.

In ’n onderhoud met Delia du Toit, vir Sarie van 3 November 2023, het jy gesê jy het net een wens. Het die wens darem al waar geword of verander?

Dit is ’n reis wat tans in ’n boek afspeel. Moontlik ’n Christelike dagboek.

In die onderhoud met Izak de Vries, nadat jy vroeër vanjaar as Smaakmaker van die Jaar aangewys is, het jy gesê dat jy nie ’n resensie skryf van ’n boek waarvan jy nie hou nie. As jy dus nou ’n ent weg gelees het aan ’n boek en besluit jy hou nie daarvan nie, stop jy om dit te lees of lees jy dit ten minste klaar?

Met Eloïse Wessels by die Smaakmaker-geleentheid

Nee, sodra ’n boek my verloor, sit ek hom neer. Ek weet dit klink hard, kras, maar daar is te veel boeke en te min tyd. Ek het onlangs, met ’n opdragresensie, weer in die slagyster getrap en dit berou.

Jy is ook ’n skryfmentor. Wat kwalifiseer jou as ’n mentor vir voornemende skrywers?

Ondervinding. Dit is regtig moeilik om ’n boek uit te gee; ek mentor aspirantskrywers tot op publikasie. Leer hulle hoe die proses werk, van keurverslae tot boekbekendstellings. Ek leer hulle dus uit my foute en suksesse.

Om aan te sluit by my vorige vraag – sou jy verkies dat voornemende skrywers na jou toe kom met ’n reeds voltooide verhaal wat jy kan evalueer of wil jy van nuuts af begin met die proses saam met die persoon?

Ek werk met albei. Ek verkies egter ’n blanko papier, met die ooreenkoms dat die skrywer nie halfpad mag ophou nie. Die voordeel hiervan is dat ons in ’n hoofstuk nuwe beginsels leer en dit dan in die volgende hoofstuk copy en paste. Teen die 5de/6de hoofstuk raak die beginsels tweede natuur, dan vloei alles vinniger.

In die meeste gevalle moet ons met ’n voltooide manuskrip in elk geval alles oorskryf. Ywerige skrywers gee egter nie om om te herskryf nie. Die voordeel hiervan is dat ek dan die hele storie in my kop het en weet hoe ek dit wil verander.

Jou resensies is baie eerlik en reguit, en in goeie smaak. Ek het nog nooit ’n negatiewe woord teenoor die skrywer self uit jou pen gelees nie. Dink jy die skrywers waardeer jou eerlikheid en sien dit in die lig waarmee jy dit bedoel?

Ek hoop so. Ek weet hoeveel harde werk in ’n boek ingaan. Ek probeer wel die kritiek – voorstel? – sag oordra.

Ek luister so gereeld soos ek kan na gesprekke wat jy lei en/of lees jou boekresensies. Ek het ook onlangs ’n aanlyn werkswinkel bygewoon waar jy die besoeker was. Dit staan vir my uit dat jy passievol is oor Afrikaanse boeke en graag soveel moontlik daarvan deel op sosiale media, te same met jou resensies. Sou jy sê jy is ’n boekbemarker, ’n skrywer of albei? Waar gaan die meeste van jou energie in?

Ek is eerstens ’n boekbemarker. My droom is om voltyds boeke en skrywers te bemark. Om met skrywers te werk wat talent het, maar wat ’n bietjie skaafwerk kort. Ek is wel gelukkig dat ek toevallig ook kan skryf. As ek eendag voltyds vir uitgewers kan werk, sal ek ophou skryf. Ek dink nie die publiek besef wat bemarkers soos Eben Pienaar alles vir die boekbedryf doen nie, of Johan van Naledi. David Morrell het gesê: Inhoud tel nie meer nie, maar bemarking wel.

In Sewe keer sondig het jy drie kortverhale onderskeidelik saam met Erla Diedericks, Ferdie Swanepoel en Annerle Barnard geskryf. “Almal se hoer” en “Deep Heat” het beide ’n tronkagtergrond en die taalgebruik wat eie is aan die tronkbewoners, word vrylik in die kortverhale gebruik. Eerstens is daar woorde wat nie algemeen deur mense gebruik word nie, maar dis ook nie onbekend aan selfs die stiff upper-lippers nie. Ek vra nou die volgende vraag tong in die kies, want niemand is perfek nie. Hoe vereenselwig jy dié taalgebruik met die feit dat jy ook soms die Woord bring by kerke/geleenthede? Tweedens, gaan alles wat jy in die toekoms skryf in ’n tronkmilieu afspeel?

Kom ek antwoord jou laaste vraag eerste. Sel ses is die afsluiting van my tronkervaring. Daar is uiteraard ’n paar goedjies al in die pyplyn waarvan lesers nie weet nie, maar ek het met my Huisgenoot-kortverhale reeds begin om my hoofkarakter, Roux Steyn, op parool in te span. Ek het baie gegroei – genees – sedert my troue en David se geboorte. Ek het ook al die tronk afgeskryf. Dit is wel ’n ervaring wat ek wou deel. Ek hoop lesers lees verby die geweld en sien die mense raak.

Ek het met die taal en geweld geworstel. In my eerste kortverhaal het ek soos ’n “dominee” geskryf; die kortverhaal kon nêrens kom nie, omdat dit ongeloofwaardig was. Dieselfde kortverhaal, aangepas, staan tans sterk in Sel ses. Ek bewonder vir Bettina Wyngaard en Madelein Rust wat die twee een kon maak.

Stefaans en sy vrou Deirdré

Jy is nou al 9 jaar ’n vry man en ek kon aflei dat veral die begindae nie maklik was nie. Hoekom maak soveel ex-lifers dit nie, maar jy doen?

Dit is die groot geheim. Ek doen nie. Ek sukkel ook. Dit is baie moeilik om oor te begin ná bykans twee dekades uit die samelewing. Die verskil is:

  1. dat ek die tweede helfte van my vonnis gebruik het om in my toekoms te belê. Al die kanse wat ek nou kry kan ek gebruik, want ek het hard gewerk om my te bekwaam.
  2. Misdaad is nie by my ’n opsie as die lewe druk nie – God is. En ek sê dit sonder die kerksousie.

Jou lewe sien seker baie anders daarna uit as wat jy in jou wildste drome sou kon dink. Mens sou sê jy het sukses behaal as mens dink waar jy begin het. Beskou jy jouself as suksesvol omdat jy ’n skrywer is of waarom?

Ek dink nie “skrywer” maak iemand ’n sukses nie. Dit is ’n vals identiteit. Ek is ’n man en pa en dit maak my ’n sukses. Ek is gelukkig dat ek soos Herman Charles Bosman (wat ook in die tronk was) kan skryf, maar wat van al die ander eks-gevangenes wat volkome in die samelewing aanpas, maar nooit bekendheid verwerf deur ’n talent wat daar buite is nie?

Op 26 Augustus is Sel ses op sosiale media bekendgestel en dit lyk of heelwat mense reeds positief daarop reageer. Wat was jou doel met Sel ses?

My grootste inspirasie vir Sel ses was die film Tsotsi. Ek het nie van die hoofkarakter gehou nie. Uiteraard hijack hy en daar was ’n stukkie waar hy die hond skop. Op die ou einde toe word hy doodgeskiet en toe huil ek. Toe wonder ek wat sou gebeur as ons ’n storie skep met iets wat ons almal veroordeel. Ek noem spesifiek twee goed in die boek. (Ek wil nie te veel weggee van die boek nie.) In die begin gebruik ek dit om die leser se aandag te vestig op die hoofkarakter. In so ’n mate dat hulle van hom hou. Later doen hy iets en hy vra iets soos: Here, hoekom oordeel mense mekaar? Dis wat ek met Sel ses wou uitbring met dit. Tsotsi was die inspirasie vir dit om mense te bevraagteken in ’n wêreld wat ek die beste ken. As ek byvoorbeeld ’n township goed geken het, sou ek uit ’n township-oogpunt geskryf het. Dit moes uit my eie raamwerk wees om ’n monster te skep van wie mense kon hou, bewonder en later te kon wonder: Is hy reg?

Wat is volgende vir jou? Ek verstaan daar is ’n nuwe boek of drie in die pyplyn? Ons sal verstaan as jy nie te veel kan weggee nie, maar kan jy ons dalk so ’n klein kykie daarna gee?

Bandiet 27 is my eerste krimi wat ek reeds in die tronk geskryf het. Ek hoop dat dit in 2025 die lig kan sien. Ek werk uiteraard aan ’n paar saamskryf-projekte en ’n paar goedjies waaroor ek nie nou veel wil sê nie. Maar ek doen, wanneer ek kan, ongelooflik baie navorsing oor die bemarking van boeke.

As man en pa (met drie katte) sweet ek om vir my gesin die beste te gee. Ek hoop om aan te hou om God se boodskap van hoop, genade en liefde oor te dra.

Dis vir my ’n voorreg dat ek aan jou ’n paar vrae kon vra, met vrae wat niemand anders jou nog ooit gevra het nie. Dankie, Stefaans, dat jy my so geduldig en volledig antwoord.

Lees ook:

Smaakmakers? In gesprek met Stefaans Coetzee oor sy toekenning

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top