Tronke bedreig ons dogters: ’n resensie van Anthony Molyneaux se Last blue ride

  • 1

...
Deur anders na misdadigers te kyk, verontmenslik ons hulle.
...

Last blue ride: The Hannah Cornelius story
’n Dokumentêre film deur Anthony Molyneaux
Genre: Ware misdaad
Die film bekyk die verkragting van en moord op Hannah Cornelius, die poging tot moord op haar vriend Cheslin Marsh, en die nommersbendes se houvas op misdadigers.
Te sien op Showmax vanaf 1 April 2022, kyk die voorprent.

...
Foucault wys daarop dat te min personeel in tronke gemaak het dat ons gevonniste misdadigers nou dophou met gesofistikeerde apparaat en geboue, in plaas daarvan om hulle te rehabiliteer. In Suid-Afrikaanse tronke is die oorlading só enorm dat gesofistikeerde dophoustelsels gewoon nie bestaan nie. In die plek daarvan word ons tronke deur bendes bestuur.
...

Die titel van Anthony Molyneaux se film is ontleen aan die blou Citi Golf waarin Hannah Cornelius en haar vriend Cheslin Marsh gesit het toe hulle aangeval en in die einste motor ontvoer is.

Die motor het aan Hannah se ouma behoort, en sy het telkens die skurke gevra om haar geld en selfoon te neem, maar om asseblief haar ouma se motor aan haar terug te gee.

Dit sou egter haar laaste rit wees; sy was ‘n gevangene in die blou motor tot sy vermoor is.

Molyneaux neem die kyker op Hannah se laaste rit deur ’n soortgelyke blou motor met ’n hommel te volg terwyl dit die presiese roete ry wat sy gery het; ook word die motor gevolg op die spore van haar aanvallers nadat hulle beheer van die blou Golf geneem het.

Telkens word die hommel se beeld onderbreek met beeldmateriaal van kringtelevisie wat die aanvallers op verskillende plekke in en om Stellenbosch waargeneem het.

Dit skep ’n nabyheid, ’n onmiddellikheid wat die angsrit nie bloot beskryf nie, maar angswekkend werklik maak.

Die kyker sien hoe Hannah haar vriend na sy huis neem; ons sien hoe die mans nader loop, hoe hulle die deur oopruk ...

Later sien ons hoe van die beskuldigdes kitsbanke besoek om geld te trek.

Ons sien hoe Marsh eers aangeval en agtergelaat word – die aanvallers het gedink hy is dood.

Ons sien hoe die aanvallers Hannah na ’n afgeleë plek neem waar hulle haar om die beurt sou verkrag – hierdie besonderhede word die kyker gelukkig gespaar.

Van daar sien ons hoe sy vir oulaas in die blou motor aankom op die plek waar sy uiteindelik vermoor sou word.

Ons beleef inderdaad haar laaste baie blou rit.

Van daar sou die moordenaars nog ’n vrou beroof voor ’n baie opmerksame speurder die Golf sou sien en agternasit.

Sy briljante optrede sou maak dat die daders binne ure ná Hannah Cornelius se moord agter tralies was.

Tronke is die begin, nie die einde nie

As ’n mens fiksie lees, is die oomblik wanneer die skuldige in hegtenis geneem word, dikwels die einde. Almal is gelukkig. Die skuldiges is vas.

In die werklikheid is sake egter veel anders.

Ten eerste moet die daders verhoor word en die hof moet bevind dat die staat bo redelike twyfel sou kon bewys dat hulle skuldig is.

Dan moet hulle gevonnis word.

En dan?

Wat gebeur dan met hulle in die tronk?

Molyneaux fokus die kamera op hierdie vraag in die tweede deel van die film. Dit is waarom ek Last blue ride sonder meer aanbeveel. Had hy by die inhegtenisname gestop, sou dit sensasiesoekery wees – al is die kamerawerk hoe goed en die regie hoe slim.

Gelukkig is Molyneaux bereid om die baie moeilike, en ongewilde, vrae te vra oor hoekom die skuldiges dit gedoen het en, meer nog, wat nou met hulle in die tronk gaan gebeur.

Baie dekades gelede het ek ’n stuk navorsing oor die tronkstelsel gedoen en ek sal nie sommer vergeet wat een van Nicro (National Institute for Crime Prevention and the Reintegration of Offenders) se werkers gesê het nie. Hy het beweer tronke is universiteite vir misdaad. Jy gaan in vir winkeldiefstal, leer daar hoe om huisbraak te doen; gaan sit vir huisbraak en kom uit as vragmotorkaper; sit vir vragmotorkaping, kom uit en pleeg moord.

Nicro doen baie, ontsettend baie, maar die oormag in Suid-Afrikaanse tronke is geweldig.

In die tronk word ’n misdadiger basies gedwing om by een van die nommers aan te sluit. Jou pad deur die range word deur misdaad gekoop.

’n Tronk is veronderstel om ’n plek van rehabilitasie te wees, maar in alle eerlikheid is dit die teenoorgestelde. ’n Enorme aantal misdadigers beland uiteindelik weer in die tronk – dikwels vir misdade wat erger is as dit waarvoor hulle die vorige keer gesit het.

Last blue ride ondersoek die rekord van die misdadigers wat Cornelius vermoor het. Hulle was in die tronk en weer uit; in en uit; een van hulle was reeds ’n generaal in die 28’s toe hy betrokke was by Hannah Cornelius se laaste blou rit.

Verskeie onderhoude met voormalige bendelede, kriminoloë en joernaliste help die kyker om te verstaan hoe daardie rit in die Golf eintlik ook ’n laaste rit was vir die misdadigers – dit was die kulminasie van hulle opleiding in die land se tronke.

Drie van hulle gaan lewenslank sit – en hulle gaan nou weer die “professore” word wat jong misdadigers kan oplei ...

Dink net.

Carla van der Spuy se boeke Mens of monster en Bloed op haar hande wys hoe gereeld mense wat as jongelinge in die tronk beland het, later verlig is wanneer hulle weer in die tronk aanland – daar voel hulle veilig, daar word hulle gereken vir hulle status as misdadigers.

...
Hierdie bendes bied ’n heenkome aan jongmense, maar maak van hulle beter misdadigers, nie beter mense vir die lewe buite die tronk nie.
...
Die gesin van die slagoffer

Molyneaux gaan nog verder. Hy ondersoek die nadraai van die misdaad vir die gesin van die slagoffer.

Dit is ook aangrypend. Die veteraanjoernalis Julian Jansen, met wie ’n onderhoud gevoer word in Last blue ride, sê dat die toespraak wat Cornelius se pa voor vonnisoplegging, gemaak het, hom baie diep getref het. Dele daarvan kan in die film gehoor word.

Cornelius se gesin het ’n fonds begin om misdadigers te ondersteun, juis om die siklus van geweld te breek.

Sou daar ’n beter vangnet wees wat jong misdadigers kan rehabiliteer en terugplaas in die samelewing as volwaardige mense, sou Hannah Cornelius vandag waarskynlik geleef het.

Foucault en die ontstaan van tronke

Michel Foucault het in 1975 ’n besonder interessante boek geskryf met die titel Surveiller et punir : Naissance de la prison, wat in Engels vertaal is as Discipline and punish: The birth of the prison.

Die tronk is ’n redelik onlangse verskynsel in die menslike bestaan. Vir baie jare is kriminele (hetsy met of sonder deeglike verhore) gewoon doodgemaak of ernstig aangerand.

Die geweld wat teen mense gepleeg is, sou sagkens beskryf kon word as onmenslik. Daardie geweld was dikwels erger as wat die moordenaars van Hannah Cornelius aan haar gedoen het – veel erger. Hierdie geweld is boonop in die naam van die staat, en heel dikwels ook godsdienstige instellings, gepleeg.

Die tronk moes as alternatief dien. Aan die een kant moes dit ’n plek van straf wees – iemand wat skuldig bevind word aan ’n misdaad, moet immers ’n vorm van boetedoening doen; maar daarbenewens moet tronke ook plekke wees waar mense gerehabiliteer kan word.

Laasgenoemde gebeur nie. Beslis nie in Suid-Afrika nie.

Ek het opsetlik die Franse titel van Foucault se teks naas die Engels geplaas, want daar is ’n verskil.

Surveiller et punir sou direk vertaal kon word as Om dop te hou en te straf. Dit is ’n beter titel vir die boek.

Foucault wys daarop dat te min personeel in tronke gemaak het dat ons gevonniste misdadigers nou dophou met gesofistikeerde apparaat en geboue, in plaas daarvan om hulle te rehabiliteer. In Suid-Afrikaanse tronke is die oorlading só enorm dat gesofistikeerde dophoustelsels gewoon nie bestaan nie. In die plek daarvan word ons tronke deur bendes bestuur.

Hierdie bendes bied ’n heenkome aan jongmense, maar maak van hulle beter misdadigers, nie beter mense vir die lewe buite die tronk nie.

Tog beklemtoon Anthony Molyneaux se Last blue ride ook ’n ander belangrike punt oor observasie: Wanneer ’n bekende misdadiger, iemand wat reeds tyd in die tronk deurgebring het, uitkom, sien “ons” “hulle” anders. Die polisie sal bekende oortreders makliker deursoek; die gemiddelde werkgewer sal huiwerig wees om ’n persoon aan te stel wat reeds in die tronk was.

Deur anders na misdadigers te kyk, verontmenslik ons hulle.

Om anders te dink oor geweld

Hannah Cornelius, die beeldskone blondekop met ’n omgeehart, is dood omdat ons tronke plekke van verwaarlosing is.

Haar gesin het ná haar tragiese dood moeite gedoen om nie haar moordenaars te verontmenslik nie. In die plek daarvan spandeer hulle geld op die rehabilitasie van jong misdadigers om te keer dat ander mense se dogters verkrag en vermoor word deur jongmense wat geen hoop op ’n beter toekoms het nie.

Last blue ride word aanbeveel. Deels omdat dit so slim die misdaadtoneel herskep, maar veel meer nog, omdat die makers daarvan moeite gedoen het om te verstaan hoe drie jongmense so ’n afgryslike daad kon pleeg.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top