Elmarié Dercksen gesels oor "You had me at hello": ’n 2023 Toyota US Woordfees-gesprek

  • 0

Elmarié Dercksen praat met Naomi Meyer oor “You had me at hello”, ’n 2023 Toyota US Woordfees-gesprek waarvan sy een van die paneellede is.

Elmarié, jy is op 12 Oktober op die Woordfeesprogram met die geleentheid “You had me at hello”. Ek gaan jou nie nou al mag vra wat die antwoord is nie, want anders bederf ek die pret. Maat wat is die vraag waaroor julle by die geleentheid met Jo Prins gaan moet gesels?

Ons almal het sulke “You had me at hello”-oomblikke met boeke: daardie openingsin wat jou asem wegslaan, jou boei om verder te lees, en jou bybly lank nadat die boek toegemaak is. Dit verklap baie van die skrywer se stem en styl ook. 

Wie is saam met jou op die paneel en weet julle al wat mekaar se antwoorde is?

Ek is seker dit gaan groot pret wees! En nee, ons weet glad nie wat mekaar se antwoorde gaan wees nie! Jo Prins gaan sy hande vol hê, want die paneel is ErlaDiedericks (Salemstraat), PP Fourie (Ons skulde), Irna van Zyl (Kwaaiwater), Morné Malan (Minder as water),  ek  (Die gawe van groen) en Pieter Marais (Konkel). En daar is wyn ook betrokke. 

Dink jy julle gaan voordat die geleentheid afskop, weet wat mekaar se antwoorde is? Ek dink nou net daaraan dat daar pret daaraan verbonde is om vooraf te weet wat die ander gaan sê, maar ook pret om nié te weet nie!

Ek glo nie ons gaan die geheime voor die tyd verklap nie. Ek oorweeg dit sterk om die domineekaart te speel en te sê my gunsteling-openingsin is “In die begin ...” 

Wat is die belang van 'n openingsin? En die belang van 'n openingsin van elke hoofstuk? Wat van die slotsin? Wat weeg die swaarste?

Ek dink storieteorie het almal bewus gemaak van die belang van die openingsin, soveel dat dit deesdae vir my ’n bietjie oordrewe is. Aanlyn boekverkope en lesersindrukke maak dit nie makliker nie; op platforms kan mense die eerste paar bladsye lees voor hulle besluit om te koop of nie. Die eerste indrukke moet soveel vermag dat dit amper resepmatig word, te weldeurdag en versigtig. Des te meer dus kudos aan diegene wat dit regkry om lesers die hoek te laat insluk met die eerste sin. Ek dink wel die slotsin van ’n hoofstuk kan die leser óf onmiddellik saamneem na die volgende hoofstuk, óf die leesliggie laat afsit.  

Vertel my asseblief wat jy nog alles op die Woordfeesprogram gaan kan bywoon, of wat jy sou wou bywoon, al kan jy dit nie vanjaar doen nie?

Ek gaan Bitterkomix bekyk, Anderkant Gendergrense se Resonansgesprek, en is lus om myself te bederf met kinderteater: Braam en die Engel. Ek is baie nuuskierig oor Charl-hulle se jazzy Peer Gynt-suite, en wens ek het tyd vir baie teater: Mirakel en Die moeder en sommer al die stand-up en Fringe-goed wat vol talentvolle jongmense is. En ek gaan my bes doen om by Clara uit te kom, oor die Schumanns en Brahms se musiek. Te veel lyk wonderlik!

Die paneelgesprek vind Donderdag, 12 Oktober om 16:00 plaas by die EasyEquities boektent. R75 | R100 by die deur (met ’n gratis glas wyn). Meer besonderhede hier.

Lees ook:

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

Toyota US Woordfeesprogram 2023

Die gawe van groen: ’n onderhoud met Elmarié Dercksen

Oor kraaie en neste: ’n lesersindruk van Salemstraat deur Erla Diedericks

Raaiselroman: ’n lesersindruk van Ons skulde deur PP Fourie

Nuut by Penguin: Minder as water deur Morné Malan

Nuut by Protea: Konkel deur Pieter Marais

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top