Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord

  • 0

Albumontwerp: Slovo Mamphaga; foto van Pieter Madibuseng Odendaal en Odwa Bongo: Liese Kuhn

Dianne du Toit Albertze:

........
Pieter Madibuseng Odendaal was nog nooit iemand wat agter die geskrewe woord geskuil het nie. Hy het al vir hom naam gemaak as spoken word-woordkunstenaar. En nou, na twee digbundels en ’n paar jaar as dosent by Potch, keer hy met volle mag terug na die verhoog, sy tuiste, die plek waar hy die veiligste voel. Sy vertoning, Ontaard, speel by hierdie jaar se Toyota Woordfees op 11 Oktober om 16:30 en 14 Oktober om 13:00 by die Spier Ouditorium.
........

Pieter Madibuseng Odendaal was nog nooit iemand wat agter die geskrewe woord geskuil het nie. Hy het al vir hom naam gemaak as spoken word-woordkunstenaar. En nou, na twee digbundels en ’n paar jaar as dosent by Potch, keer hy met volle mag terug na die verhoog, sy tuiste, die plek waar hy die veiligste voel. Sy vertoning, Ontaard, speel by hierdie jaar se Toyota Woordfees op 11 Oktober om 16:30 en 14 Oktober om 13:00 by die Spier Ouditorium.

Die vertoning bevat grotendeels musiek uit sy debuutalbum Ontaard in samewerking met Odwa Bongo en is ’n ryk samekoms van woord en klank. Hier sal luisteraars ’n kombinasie van afrojazz, inheems, klassiek, lofi, drum en bass asook amapiano teëkom. Die album bevat nege enkelsnitte in Engels sowel as Afrikaans, nooit in kontras met mekaar nie, eerder komplementerend. Hier sal luisteraars stories hoor van herkoms en die worsteling daarmee (“Teen Pieter Odendaal” en “The greatest hunt in history”), asook sterk verse oor klimaatsverandering, soos “Stook” en “Bergvergadering”, en boonop intieme verse soos “Al hoe meer see”, wat oor eensaamheid en liefde besin.

Moet egter nie ’n fout maak en dink hierdie musiek is swaar of slegs melancholies nie. Odendaal vervleg vernuftig teer vertellings met energieke tempostukke wat die ore laat sing van klankrykheid en beelde wat verras en ontroer. Soms kry ons te doen met elektroniese klanke en natuurelemente; ander kere is dit weer gestroop met slegs Odendaal en ’n klavier – albei sye ewe sterk.

Digkuns met dansskoene aan, al word daar nie altyd gedans nie – die woorde doen dit self, maar word gedoop in musiek, en luisteraars kan hulself verloor in die soms hipnotiese aard van snitte – wat mens laat met vele stof vir nadenke, met skok of ontsettende meegevoel met die spieël wat woordkunstenaars vir ons laat.

Ek het ’n bietjie met Pieter gesels oor sy onlangse album asook oor sy produksie met dieselfde titel Ontaard: spoken word en musiek, wat volgende maand by die Toyota Woordfees sal wees.

Foto van Pieter Madibuseng Odendaal en Odwa Bongo: Liese Kuhn

Dianne: Kom ons begin by jou woordkunswortels. Jy is die medestigter van InZync, ’n NPO wat vanuit Stellenbosch optredes gehad het en mentorskap gebied het.

Vertel my asseblief oor die oorsprong.

Pieter: Ek kon daardeur vir ander poets ’n platform bied, maar ook vir myself ’n tuiste kon skep wat buite die sentrum van kulturele produksie in Stellenbosch val. Een van ons (die twee ander stigterslede, Adrian “Diff” van Wyk en Allison-Claire Mpho Hoskins) visies by InZync was veeltalige optredes en om die verskillende soort poësie in ons land op die planke te bring. Dit was ook ’n platform waar ons kon ontwikkel as jong digters. Dis daar waar ek verlief geword het op poetry en gesien het wat dit kan doen in mense se lewens, as ’n uitlaatklep en manier van sin maak, die vreugde en opwinding van gehoorlede om poësie te hoor en sien en nie net te lees nie.

Dianne: As mens kyk na die vorm van spoken word, dan herinner dit my nogal aan die Sestigers se podiumdigkuns – wat dink jy?

Pieter: Ek hou nie van daardie term nie, want dit roep so half die idee van ’n dominee of ’n onderwyser op wat agter ’n podium staan en preek. Dit kom ook uit Nederlandse woordeskat en dit vat ons ’n bietjie verder weg van die wortels van spoken word in Afrika wat prysdigters en iimbongi insluit, al daardie vorme van prekoloniale vorme van uitdrukking.

Die Sestigers laat my ook dink aan die Black Consciousness Movement waar spoken word ’n rol as wapen in die struggle gespeel het  Dis juis die politiese aard van spoken word wat my daartoe aangetrek het, want daar is hierdie persistent narrative in Afrikaans poësie, ’n modernistiese siening dat poësie niks hoef te doen in die wêreld nie Dit word nog steeds as ’n verskoning gebruik om nie te engage met die politieke werklikheid in ons land nie. Spoken word, as teenpool vir geskrewe “highbrow” poësie, bied ’n platform om die politieke kompleksiteit van ons hede aan te spreek.

Dianne: Jy het onlangs jou eerste album, Ontaard, vrygestel. Dis dieselfde titel as jou tweede bundel. Bestaan die album slegs uit snitte wat eers as geskrewe gedigte in die bundel bestaan het? En hoe het jy te werk gegaan om dit van blad na musiek te kry?

Pieter: Dit was ’n redelik lang proses. Ek het omtrent twee jaar aan die album gewerk. Dit was my eerste poging om musiek saam met my poetry te sit. Dit het  organies gebeur in terme van die gedigte wat ek gekies het. Sommige se vorm of ritmiese kwaliteit het hul reeds  tot musikale uitdrukking geleen. “The greatest hunt in history” is een so ’n voorbeeld.

Ek het die meeste van die musiek self gekomponeer. Ek het ook met ’n vervaardiger in Potch gewerk, Jan-Meyer Verhoef, sowel as DJ Taxman. Ek het nie probeer soek vir ’n unifying klank nie. Ek het probeer om ’n klank te vind wat by die gedig pas en even met die mixing en mastering was dit vir my belangrik dat die poësie voorop moet staan. Dit is die ding wat alles moet lei en mense moet uitnooi om te luister, eerder as dat dit met die musiek kompeteer.

Foto van Pieter Madibuseng Odendaal en Odwa Bongo: Liese Kuhn

Dianne: Jy werk saam met verskeie kunstenaars aan die produksie. Wie is hulle en wat was hulle rolle?

Pieter: Die musikale regisseur Ruan Vos is die CEO van Sonic Nursery, die studio waar die meeste van die recordings gebeur het, so vir my was dit ’n natuurlike volgende stap om hom te kry.

Die produksie is nie net die album nie. Ja dit is die basis, maar daar is ook a capella tracks en bilingual gedeeltes wat ek met Jorge (Jorge Alejandro Ccoyllurpuma, skrywer en eggenoot van Pieter) gaan doen tussen Spaans, Engels en Afrikaans. ’n Eklektiese samestelling. Ek sing en speel ook klavier. Van die ander kunstenaars sluit ook in Odwa Bongo wat uhadi speel en sing, en Luke Verrezen wat bass speel. Eddie Newman gaan movement performances op van die tracks doen, Jannous Aukema gaan projeksies verskaf en Dian Harcovecchio is verantwoordelik vir die verhoog- en produksiebestuur.  Ek wil veral vir Odwa uitlig. Ek wou nog altyd met hom saamwerk, al van InZync-dae af. Hy was by verskeie aspects van die album betrokke. Op party van hulle het hy slegs gesing en ander het ons saam geskep, soos die track “Tweeling”.

Foto van Pieter Madibuseng Odendaal en Odwa Bongo: Liese Kuhn

Dianne: Ontaard praat oor herkoms, mens teenoor natuur en hoe die aarde en ons mekaar reflekteer met geweld, eensaamheid, dekolonisering, trauma en liefdeloosheid. Wil jy hieroor uitbrei?

Pieter: ’n Oorkoepelende tema in die bundel sowel as die produksie is belonging, op verskillende vlakke: om te hoort op die aarde, te belong in die samelewing of in jou familie. Daardie soeke na hoort en na tuiste.

.......
’n Oorkoepelende tema in die bundel sowel as die produksie is belonging, op verskillende vlakke: om te hoort op die aarde, te belong in die samelewing of in jou familie. Daardie soeke na hoort en na tuiste.
........

Dianne: Nou is dit nie net iets waarna mense kan luister nie, maar ook live kom kyk met jou vertoning by Woordfees vanjaar. Waarna kan hulle uitsien?

Pieter: Vir my is dit ’n eksperiment, om veral te kyk waarheen ek spoken word in Afrikaans kan vat.

Dianne: Daar is verskeie invloede wat luisteraars kan verwag om te hoor, soos die digverwerkings gevul met teer belydenisse van Gert Vlok Nel en weer die strakheid en satiriese kommentaar soos Toast Coetzer se The Buckfever Underground, asook Wopko Jensma en Andrea Gibson. Was dit met opset? En watter ander invloede het jou geïnspireer?

Pieter: My eerste blootstelling aan musiek en poetry saam is Breytenbach se Mondmusiek-album. Daar is ’n reference in “Stook” daarna. As ek dink aan my exposure aan daardie soort expressions dan staan daai album definitief uit as ’n belangrike vroeë invloed. Tog ook alles wat jy nou genoem het, veral The Buckfever Underground. Ook wat Koleka Putuma doen.

Dianne: Wat is dit wat jy wil hê kykers mee moet wegstap? ’n Gevoel van samehorigheid of dalk introspeksie? 

Pieter: Dit is ’n uitnodiging om te deel in die vreugde van spoken word en daai saamwees om die woord. Dis wel nie om mense gerus te stel of net lekker te laat voel nie. Die werk is ook bedoel om te konfronteer.

Meer oor die produksie

Ontaard: spoken word en musiek is ’n viering van die digter Pieter Madibuseng Odendaal se debuutalbum en geïnspireer deur sy veelbeprese digbundel Ontaard.

Odendaal (komposisie, klavier en stem) span kragte saam met die talentvolle kunstenaars Odwa Bongo (uhadi en stem), Luke Verrezen (kontrabas) en Eddie Newman (beweging) saam, met Jorge Alejandro Ccoyllurpuma (Pera) as gasdigter.

Kaartjies beskikbaar by Quicket. Moenie hierdie unieke versmelting van poësie, musiek en performance misloop nie!

Lees ook:

Suidoosterfees 2024: ’n onderhoud oor Droomwerk

Die wenner van die Nagtegaal-tekspryswenner: ’n onderhoud met Dianne du Toit Albertze

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en die EasyEquities-skrywersfees: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top