Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson

  • 1

Marthinus Basson en Keagon Cochrane (foto’s: Nardus Engelbrecht)

Boklied is vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees weer op die planke. Marthinus Basson vertel vir Naomi Meyer van sy ervaring – toe en nou.

Marthinus, het jy 30 jaar gelede gedink jy sou jou ooit weer saam met Boklied op die verhoog bevind? Hoe beleef jy dit?

Dit is uiters selde dat mens die geleentheid kry om 'n stuk weer aan te pak. Ek het beslis nie gedink dat Boklied een van daardie sou wees nie. Met die eerste produksie was ek lank in België aan't werk, het nog nie ’n komper besit nie, en moes ek baie vrae en voorstelle met Breyten bespreek deur middel van ’n e-pos-masjien in die foyer van die Jeugherberg waar ek tuisgegaan het. Die ding was so groot soos ’n outydse jukebox en het uitsonderlik baie gulde gesluk. Wat wonderlik is dat ek dus hope e-posse het van hom en soort van die ontwikkeling van idees kan koers. Uiteraard, 28 jaar later is mens nie meer dieselfde mens nie en is sy stem nou stil. Dus pak mens ’n alleenreis aan, maar wat tog gegeur word deur herinneringe en hopelik meer ervaring. In daardie kommunikasies verwys Breyten na ons vonkposgesprekke – tog ’n soveel beter woord as “e-posse”.

Om weer aan Boklied te werk is ’n vreesaanjaende voorreg, alhoewel mens bewus is van die feit dat dit is soos om 'n ’n uiters hoë piek te moet uit. Maar dis een wat ek met baie vreugde aanpak. Beslis ook met ootmoed.

Die lewe verander. Boklied het kommentaar gelewer op 'n sekere era. Is daar vandag dinge waarop Boklied kommentaar lewer – en is die teks steeds relevant?

Die waarde van ’n stuk werk soos Boklied kan net gemeet word deur dit aan die verloop van tyd te toets. Breyten se kritiek en satire was definitief destyds op ’n sekere spesifieke realiteit toegespits, maar ek sal my nie verbaas as hedendaagse teaterganger, wat noudat satire grotendeels dood is in soverre TV en verhoë merendeels ’n daaglikse dis van sentiment en banaliteit gevoer word, dalk uit Boklied ’n paar lekker giftige knolle sal kry om aan te kou nie.

Mense wat 20 jaar oud was toe dit die eerste keer op die verhoog was, is nou 50. Dink jy party van hulle wat op 20 die hele vertoning gekyk het, gaan dalk nou, op 50, wil uitstap? Dink jy mense wat dit nog nooit gesien het nie, gaan dalk in vandag se tyd glad nie geskok of uitgedaag voel nie? Is dit moontlik om Boklied te kyk sonder om geráák te wees?

Dis moeilik vir my om te spekuleer. Daar is uitdagende goed in en ek ken beslis nie gehore nie. Maar destyds, na die opslae by KKNK, is die stuk die verhoog verbied by Kunstekaap, waar gehore reeds aan baie gewoond was, maar het ons ’n uiters suksesvolle en opwindende speelvak in Bloemfontein gehad waar die gehoor lank na ’n reeds lang stuk staan en debatteer en gedagtes uitgeruil het. By die Vrystaat-fees, nou die dag nog, is ek deur ’n dame genader wat oor Boklied gesê het: "Lekker! Ons het darem seker al aanbeweeg nè?" So kom ons kyk ...


Persverklaring: Boklied – waar elke woord, komma, sin, waarde dra

Breyten Breytenbach se eerste verhoogteks, die veelbeprese Boklied, is die jaar te sien by die Toyota Stellenbosch Woordfees nadat dit 28 jaar gelede onder die eksperimentele hand van Marthinus Basson gedebuteer het. Nou waag Basson weer sy hand aan die lywige Breyten-uitdaging met ’n nuwe generasie akteurs in die rolverdeling.

De Klerk Oelofse vertolk die hoofrol wat heel anders is as die rolle waarin hy gewoonlik te siene is. “Gewoonlik vertolk ek karakters wat van nature ’n bietjie van ’n laer status het. My groot uitdaging in Boklied is om die main makulu te wees,” skerts hy.

Met ’n teks wat so lank terug geskryf is, mag mens dalk wonder of Breyten se werk nog relevant is en hoe dit tot vandag se gehoor sal spreek. Mense is minder bekend met sy dramas.

“Ek self het voor hierdie produksie meestal met sy poësie omgegaan en al het hierdie toneelstuk, soos sy digkuns, temas van bannelingskap, sosiale onreg en kunstenaarskap, was sy humor vir my die grootste ontdekking,” vertel Oelofse. “So gereeld as ons dit deurlees sal Marthinus stop en sê: ‘En Breyten is eintlik besig om stout te wees hier, né.’ So die wyse waarmee hy die draak steek en satiries omgaan met mense wat in posisies van mag is, die reëlmakers, is kommentaar wat soomloos verplaas word tot ’n hedendaagse konteks. Ek meen, dink maar net aan alles wat wêreldwyd oor die laaste jaar al uitgespeel het.”

In Boklied kom ’n aantal ietwat verloopte toneelspelers bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte. Weg van die sogenaamde “normaliteit” daar buite besin hulle oor die liefde, lewe en dood. Saam, onder ’n wolk van politieke realiteit in ’n tyd van onafwendbare verandering, speel die hand vol digters ’n oorlewingsritueel uit in die tradisie van die eerste Griekse dramas, of “Bokliedere”. Soos in Aristophanes se komedie Die voëls onderhandel die lotjie ’n moontlike toekoms onder ’n nuwe orde, maar rituele verg bloed, ’n skerp mes en ’n sondebok.

Toe Boklied in 1998 gedebuteer het, het dit nogal oproer veroorsaak. Amper 30 jaar het verloop. Mens sou wonder of die gehoor nou anders daarna sal kyk en of dit ander betekenis kry in ’n nuwe era. 

Oelofse glo so. “Dis vir my so snaaks, as ’n mens gaan oplees oor die stuk, is van die min artikels wat jy kry een waar Breyten iets sê soos: ‘Mense hoef nie alles te verstaan nie, jy kan net prentjies kyk ook.’ Of so iets. Maar ek dink die punt wat hy maak, is dat as jy die verskuiwings in dinamika en die magspel tussen die karakters raaksien, raak die beelde universeel.”

Party mense wat sien die vertoning is 220 minute lank, wonder of dit ’n drukfout is.

“Ek kan dink mense skrik. In die eerste toneel van die stuk laat Breyten hoor: ‘Nou ja, ons beleef mos die uitmekaarval en die vrot word van tyd.’ Hoewel die konteks anders is en daar nie in die tyd wat hy dit geskryf so ’n menslike obsessie met skerms was nie, laat dit my tog in die hedendaagse konteks dink aan hoe ons met ‘content’ omgaan. Ek dink as ’n mens gaan kyk na hoeveel minute per dag jy op jou foon spandeer, sal dit waarskynlik meer as 220 wees. Is dit nie die ware vrot word van tyd nie? Dalk is ’n goeie motivering om Boklied te kom kyk, eenvoudig om vir een dag jou skermtyd te vervang met iets waar elke woord, komma, sin en beeld oorweeg is en waarde dra,” meen Oelofse.

“Ek is so bly die fees se tema is ‘Deel’. Die wonderlike ding van teater was nog altyd vir my die feit dat dit ’n geDEELde ervaring is. So, ek wil mense aanmoedig om in ’n paar nuwe ervarings te deel. Gaan kyk beslis na die produksies wat jy weet in jou smaak val, maar daag jouself uit en koop ’n kaartjie vir een produksie waarvan jy eintlik niks weet of name herken nie. So, doen jy ook jou DEEL vir die kunste.”

En as hy tyd vir iets anders by die Woordfees kon afknyp, waarna sien hy uit?

“Ek wil graag die toneelstuk ‘KUNS’ met Wilhelm van der Walt, Wessel Pretorius en Ludwig Binge gaan sien, Ek is nie Danie met Albert Pretorius, Ont- met Wian Taljaard en dan is ek ook nuuskierig oor die twee stukke wat die Reinet Nagtegaal-tekspryse gewen het: Huis van sand en Die kabinet.”

*Boklied is te sien tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees wat van 11 tot 19 Oktober plaasvind. Kaartjies is te koop by Quicket.

 

*******
Boklied
DRAMA

Met De Klerk Oelofse, David Viviers, Obed de Koker, Ntombi Makhutshi, Wian Taljaard, Keagon Cochrane, Hannah Borthwick, Jurgen McEwan, Ben Albertyn

Regie en ontwerp Marthinus Basson
Skrywer Breyten Breytenbach
Beligtingsontwerp en verhoogbestuur Nicolaas de Jongh
Musiek David Wolfswinkel
Produksiebestuurder Frankie van Straten

’n Toyota Stellenbosch Woordfeesproduksie, ondersteun deur NATi

11 OKT 16:00 | 12 OKT 18:30 14 OKT 09:30 | 15 OKT 18:00 16 OKT 10:00 | 17 OKT 18:30 18 OKT 18:30 | 19 OKT 09:00
220 min | Open Window Filmstudio
R220-R350 | R250-R380 by die deur
Geen o.16 (N, D, T, S)

  • 1

Kommentaar

  • Na ek in 1998 Boklied gesien het by die KKNK, was hierdie vertoning 'n memorie en het dit baie meer waardeer as toe ek jonger was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top