Suidoosterfees 2024: ’n onderhoud oor Droomwerk

  • 0

Prent: Suidoosterfees

Pieter Odendaal is onlangs met die Eugène Marais-prys vir Ontaard bekroon. Sy toneelstuk Droomwerk speel ook by die Suidoosterfees vanjaar. Hy praat met Naomi Meyer oor albei hierdie werke.

Pieter, jou bekroonde toneelstuk, Droomwerk, is oor enkele dae weer op die planke (onder andere by die Suidoosterfees). Ek wil heel eerste vir jou vra oor die geboorte van die toneelstuk. Hoekom het jy dit geskryf?

...........
Ek was lank siek gewees, en Westerse psigiatriese het nie gehelp nie. Ek het na alternatiewe begin kyk, en my verhouding met inheemse genesingstradisies het begin. Ek het my "depressie" in ’n ander lig gesien, en deel van my heling was om rituele deur te maak, my genealogie na te vors en uiteindelik ook Droomwerk te skryf.
............

Ek was lank siek gewees, en Westerse psigiatriese het nie gehelp nie. Ek het na alternatiewe begin kyk, en my verhouding met inheemse genesingstradisies het begin. Ek het my "depressie" in ’n ander lig gesien, en deel van my heling was om rituele deur te maak, my genealogie na te vors en uiteindelik ook Droomwerk te skryf. Die oproep (op-die-planke-roep) van my voorouers het my ’n geleentheid gebied om oor tyd en plek heen versoening in my familie en my psige te bewerk.

Voordat ’n mens gebore word, is daar ’n voorgeslag. Voorgeslagte. Wie is die voorgeslagte in Droomwerk? Vertel vir ons lesers en almal wat dit wil kom kyk, waaroor dit handel – wie hulle uit die (persoonlike) geskiedenis (van die karakters in Droomwerk) sal ontmoet.

Die hoofkarakters is losweg gebaseer op karakters uit my familie: Petrus (my avatar) lê in ’n hospitaal vir geestesiekes en droom oor sy voorouers; oupa Piet (gebaseer op my oupa wat ’n apartheidsenator in die 1970’s was) yl op sy sterfbed in 1983; en een van die Odendaals se stammoeders, Diana van Madagaskar, kom in die laat 17de eeu as slavin in die Kaap aan, op soek na haar verlore dogter, Susanna Biebouw. Die stuk ondersoek die wortels van intergenerasietrauma en bevraagteken die hegemonie van Westerse psigiatrie teenoor inheemse praktyke om geestesversteurings te behandel.

Ons land se onlangse geskiedenis het mense weg van mekaar af gehou. Maar in Droomwerk kan ek sien jy werk met voorgeslagte wie se lewens in die geskiedenis vervleg was. Prakties: Hoe het jy jou navorsing gedoen?

Eerstens kom oupa Piet se toesprake in Droomwerk grootliks verbatim uit die toesprake wat my oupa in die senaat in die ’70’s gelewer het. Ek het hom nooit in die vlees geken nie, maar ek dra sy name, en hy het ‘n aandeel gehad aan hierdie onlangse geskiedenis waarna jy verwys. Om sy toesprake in die Hansards in die argief onder die parlementêre kompleks uit te grawe, op te sny en as bronmateriaal te gebruik, het my die geleentheid gegun om met hom in gesprek te kan tree, en dalk ook uit te daag. Ek wonder soms wat hy van Droomwerk sou dink as hy dit vandag kon sien.

Die tweede deel van my navorsing behels die storie van Diana van Madagaskar. Anders as my oupa, van wie ek duisende geskrewe woorde het, is die inligting oor Diana van Madagaskar yl gesaai. Sy verskyn slegs in argiewe waar sy telkens as slaaf verkoop is – eers in Kaapstad en daarna op Stellenbosch – en as getuie in die doopregister toe haar dogter Susanna Biebouw gedoop is. Ek moes dus baie van Diana se verhaal verbeel – en dit het my lank gevat om myself toestemming te gee om dit te kan doen. Deel van die skryfproses het behels om gereeld te phahla (met my voorouers te praat) en spesifiek vir Diana te vra om deur my te praat. Ek het ook navorsing gedoen oor Malgassiese slawe wat Kaap toe gebring is.

...........
Ek moes dus baie van Diana se verhaal verbeel – en dit het my lank gevat om myself toestemming te gee om dit te kan doen. Deel van die skryfproses het behels om gereeld te phahla (met my voorouers te praat) en spesifiek vir Diana te vra om deur my te praat. Ek het ook navorsing gedoen oor Malgassiese slawe wat Kaap toe gebring is.
.............

Jou digbundel Ontaard is onlangs met die Eugène Marais-prys bekroon. Wat beteken so ’n toekenning vir jou?

Ek probeer om my nie te veel aan pryse te steur nie. Dit help natuurlik vir bemarking en om mense in die teater te kry, maar dit is nie my beweegrede om te skryf nie. Ek skryf om die storms in my te besweer, om woorde opmekaar te stapel wat iets in ander kan los- of oopmaak. 

Waar kan mense Droomwerk kom kyk? 

Suidoosterfees: 26, 29 en 30 April – kaartjies op Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1542063628

Homecoming Centre: 8–11 Mei – kaartjies op Quicket: https://www.quicket.co.za/events/256893-droomwerk#.

Lees ook:

Persverklaring: SA Akademiepryswenners vir 2024

Pieter Odendaal se Droomwerk bring postkoloniale denke na die hospitaal

Suidoosterfees 2024-persverklaring: ATKV gee jong teatermakers gul geleenthede op Suidoosterfeesverhoog

Suidoosterfees 2024: Monsters – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk Loots

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top