
Michele Burgers in Monsters (Foto: Stephanie M Gericke)
Monsters het verlede jaar by die Woordfees geopen en is onlangs benoem vir vyf Kanna-toekennings by die KKNK. Die oorspronklike teks is geskryf deur Niklas Rådström en Tinarie van Wyk Loots was verantwoordelik vir die vertaling en verwerking van die stuk. Die toneelstuk draai om die skokkende werklike verhaal van ’n moord wat in 1993 in Engeland plaasgevind het. Die tweejarige James Bulger is wreed vermoor deur twee tienjarige seuns, Jon Venables en Robert Thompson. Die saak het internasionale opslae gemaak. Hoe kan twee tienjarige seuns tot so ’n afgryse in staat wees?
Ek het met Tinarie van Wyk Loots gaan gesels om bietjie tot die been te kom van Monsters voor hulle speelvak hierdie naweek by die Suidoosterfees.
Tinarie, hoe het jy besluit op Monsters en waar het jy dit opgespoor?
Tinarie: Toneel en toneeltekste is my asemhaling en ek is mal oor lees. Veral materiaal wat beskou kan word as “anders”. Ek is ’n groot aanhanger van Ionesco en Caspar. Ek hou van vreemde goed wat seker maar bietjie cliché klink, maar ek het nog altyd aanklank gevind by teater wat uitdagend is en mens se breingrense druk vir ’n ander interpretasie. Dis seker hoekom ek steeds baie lief is vir Shakespeare, want daar is nie regtig verhoogbeskrywings nie en jy kan eintlik daarmee doen wat jy wil. Ek was op ’n dag besig om deur Jaco Bouwer se boekrak te gaan en toe sien ek die teks vir Monsters. Ek het dit uitgehaal en net begin lees. Alhoewel dit nie iets is wat my gewoonlik sal aantrek nie, het dit net vir my so belangrik gevoel in ons Suid-Afrikaanse konteks. Terwyl ek dit gelees het, kon ek net al hierdie stemme hoor wat gelyk praat en antwoorde wil hê. Die krag van storievertelling het net dadelik uitgestaan vir my en die eenvoud van die teks was vir my opwindend.
Met Woordfees en KKNK agter die blad, hoe is die bywoning vir Monsters tot dusver?
Tinarie: Aangesien die aanslag van Monsters heeltemal anders is as gewone teaterervarings, het ek die geselskap van die begin af voorberei op die feit dat ons nie groot gehore moet verwag nie. Dit is wel belangrik vir ons as geselskap dat ons selfvertroue en trots het in wat ons doen, ongeag of ons speel vir vyf of 100 mense. Van die uitgangspunt wou ek dit huis toe bring dat ons moet glo in wat ons doen en ons moet weet dat ons ’n belangrike storie vertel. As mens ook jouself gaan oorlewer aan kritici, dan is jou kans om grense te verskuif geweldig beperk.
Ek is ongelooflik geseënd met die geselskap wat ek het in die vier akteurs. Hulle het van die staanspoor hande-vier-voet saam met my gespring in hierdie absurde idee en die geweldige uitdagings wat ek gestel het vir hulle. Alhoewel die bywoning tot dusver nog min was, is die word of mouth baie sterk en diegene wat wel kom kyk het, is baie verbaal oor hulle ervaring. En dis amazing! Die grootste aspek van teater is tog dat mense moet praat en dink en hulself uitdaag.
Die aanslag in Monsters is juis om nie toneel te speel nie. Kan jy uitbrei oor hoe julle die materiaal benader het?
Tinarie: Daar is niks voorskriftelik in die teks nie, behalwe vir die feit dat dit nodig kan wees om die gehoor op ’n manier in die ervaring te betrek. Ek het begin oplees oor ander weergawes en speelvakke van Monsters en dit was nog nooit gedoen nie. Ons is die eerste geselskap wat dit regkry om gehoorlede te betrek! Een van die hoogtepunte by elke vertoning is om te sien hoe ’n gehoorlid dele van die teks lees. Party distansieer hulself heeltemal, terwyl ander skaars daardeur kan kom sonder om te begin huil. Dit pas ook vir my aan by hoe digters hulle eie werk voorlees in vergelyking met akteurs. As akteurs gedigte voorlees is daar altyd ’n mate van inkleur en asof die gedig genuanseerd moet wees, waar digters se voorlesings net die krag van die inhoud wil weerspieël.
........
As akteurs gedigte voorlees is daar altyd ’n mate van inkleur en asof die gedig genuanseerd moet wees, waar digters se voorlesings net die krag van die inhoud wil weerspieël.
........
My grootste nota van die begin af aan die akteurs was om soveel as moontlik nie toneel te speel nie. Ek dink dit sou pervers en manipulerend gewees het om materiaal wat so gruwelik en ontstellend is, te probeer uitspeel vir ’n gehoor. Ek wou ’n omgewing skep wat amper gelykstaande is aan die Waarheid-en-versoeningskommissie waar mense net als ontboesem. Daar is vir my twee redes hoekom die geselskap hulle afstand deurgaans moet behou met die materiaal: Dit moenie manipulerend wees nie, maar dit moet ook ons, die spelers en die gehoor, beskerm van die inhoud. Ons het, byvoorbeeld, nooit langer as drie uur op ’n slag gerepeteer nie en het baie breuke gevat. Met die koorspraak in die stuk het ek ook die spelers aangemoedig om as ’t ware die vrae hulle eie te maak. Nie te speel nie, maar hulle eie menslikheid daarop af te stempel. En dit vat baie uit ’n mens.
Hoe het julle as geselskap mekaar gevind? En hoe op aarde het jy Michele Burgers na 36 jaar weer op die verhoog gekry?

Michele Burgers in Monsters (Foto: Stephanie M Gericke)
Tinarie: Ek wou van die begin af gehad het dat die rolverdeling so divers en uiteenlopend as moontlik moes wees. Verkieslik wou ek ook gehad het dat die akteurs verskillende tale kon praat en verskillende groepe van ons samelewing moet voorstel. En dit was belangrik sodat die gehoor nie die slagoffers of oortreders kan koppel aan ’n spesifieke groep mense nie. Sodoende wou ek uitlig dat so iets met enige iemand kan gebeur. Verder wou ek ook akteurs kies wat nie by baie ander produksies by die feeste betrokke is nie.
Michele Burgers. Ek het al ’n paar keer saam met haar gewerk, maar ons het haar eintlik feitlik in ons generasie nog nooit op die verhoog gesien nie. In 2022 het Jaco Bouwer ’n filmweergawe gemaak van Reza de Wet se Asem, of nou Breathing in, wat die oorspronklike Engelse teks was en Michele het kom lees daarvoor. Sy was ONGELOOFLIK! Net daar het ek besluit ek wil ’n ouer aktrise hê met gravitas vir Monsters. Presence. Ek het haar gevra en sy het gesê absoluut ja! Ek hoop van harte nou dat mense haar weer gesien het dat sy die hele tyd werk gegee word. Sy is iemand wat die heeltyd moet werk. Dit ontstel my eintlik dat sy nie orals is nie! Ntlanhla Kutu het ek ontdek deur gesprekke met mense en hy was gelukkig beskikbaar. Ek was ook bewus van die uitsonderlike werk wat hy gedoen het in Unlikely secret agent en My children! My Africa! Hy is net een wonderlike individu. Ek het ook al ’n paar keer saam met René Cloete gewerk en ken haar baie goed. Sy het ’n amazing intuïtiewe energie en oopheid aan haar wat besonders is om mee te werk. Dan natuurlik is daar Elton Landrew wat merkwaardig was in Spinners en wat iets so heeltemal anders na die toneelstuk gebring het. Hy het hierdie stilte gebring na die space wat my oorbluf het.
........
Die hegtheid van die spelers het veroorsaak dat hulle speel vir die waarheid en nie die spektakel nie. En as jy speel vir die waarheid is jy as speler oop vir herontdekking.
........
Die vlakke van spel wat die vier dan ook nou bring met die trek van die lootjies voor elke vertoning, is verbysterend. Elke vertoning is anders as die vorige een en elke akteur voel ook anders as die vorige dag. Maar ons het seker gemaak dat dit als in ’n spasie van veiligheid moet gebeur. Elkeen moet die speletjie baie goed verstaan. Die hegtheid van die spelers het veroorsaak dat hulle speel vir die waarheid en nie die spektakel nie. En as jy speel vir die waarheid is jy as speler oop vir herontdekking. Ek het vir hulle amper ’n onmoontlike taak gegee, maar hulle doen dit met soveel toewyding en gusto. Ek kan nie eers verwoord hoe bevoorreg ek is nie.

Monsters met Michele Burgers, René Cloete, Ntlanhla Kutu en Elton Landrew. (Foto: Stephanie M Gericke)
Jy fokus deesdae baie op regie. Waar en hoe het die bal aan die rol gekom?
Dit het begin met Swerfgoed in 2018. Daarmee wil ek ook graag sê ek is ’n geleentheidsopportunis, want dis nie iets wat ek noodwendig dink ek is goed mee nie. Ek het sterk idees! En ultimately vou ek en gryp die geleentheid aan as iemand my benader. Ek het die teks vir Swerfgoed gelees en gedink dit is bitterlik opwindend en dit toe voorgelê vir Teksmark. En daar word ek toe die geleentheid gegee om die regie te doen, ná ek hulle ten sterkste probeer oortuig het om dit liefs vir iemand anders te gee. Jy weet, as akteur het mens altyd half hierdie imposter syndrome waar jy dink iewers langs die pad gaan die regisseur dink hulle het ’n helse fout gemaak. Maar met regie het hulle jóú gekies en as dit nie uitwerk nie, wel, dan was dit ultimately hulle keuse!
Dit is vir my vreeslik bevredigend om oplossings te vind in alles wat ek aanpak en dit is vir my die heerlikheid daarvan om regie aan te pak. Met al die uitdagings wat mens partykeer in die gesig staar. My kortfilm, Paardebloem, wat ek vir Showmax gedoen het, is seker een van my gunstelingprojekte wat ek al gedoen het. Daar was ’n paar ander televisiewerk soos Dinge van ’n kind, wat ’n reuse-leerproses was. Monsters was eintlik die eerste teks wat ek voorgelê het wat ek uit my eie uit gesê het dat ek die regie self wil doen.
Soos ek, het jy grootgeword in PE. Wat is van jou lekkerste herinneringe van PE?
Rother Swain all the way! Ek dink almal wat drama gedoen het as kind in PE, is deur die bekwame hande van Linda-Louise Swain. En jy kan daardie opleiding ’n myl ver sien in die industrie. Jy kan dadelik sien wie is die Rother Swain kids.
Wat so lekker was om groot te word in PE, is die feit dat dit so half ’n small town, big city is en mens het ook nie regtig iets anders geken nie. Mens was nie bewus van groter stede soos Kaapstad en Johannesburg nie en dit was ’n eenvoudige bestaan sonder kompetisie. Die ander ongelooflike ding was dat skole ook die kans gehad het om hulle toneelstukke in die Operahuis op te voer en mense het kom kyk. I mean, the Opera House! Dan was daar ook opvoerings in die Veremarksaal. Ek kon fietsry waar ook al ek wil en see toe gaan. Ek het ge-surf! Og en die natuur is so beeldskoon. Sardiniabaai is seker een van my heel gunstelingplekke. Mettertyd het ek natuurlik bekend geraak met die politiek en die smelting pot of everything wat die Oos-Kaap is, maar ek dink dit was vir my ’n goeie plek om te kon inkubeer voor ek die wye wêreld ingevaar het.
Wat is die toekoms vir Monsters en vir Tinarie van Wyk Loots?
Monsters gaan die naweek by die Suidoosterfees twee keer speel en dan gaan ons ook by die Vrystaat Kunstefees wees begin Julie. En dit is alles moontlik met die geweldige ondersteuning van die Woordfees, Hugo Theart en Kunste Onbeperk, en natuurlik altyd Cornelia by NATi. Almal het geweet Monsters gaan nie ’n money spinner wees nie, maar tog het almal bly glo in ons en wat ons doen met Monsters en dat die tipe teater wat Monsters verteenwoordig, belangrik is in ander opsigte van die groter prentjie. Ons is so dankbaar!
Jong, die pyplyn is maar altyd oop vir ’n geleentheidsopportunis soos ek. Daar is ’n pitch vir die Woordfees en Patmos is ook nog aan die gang en verder is die wêreld ’n oop boek.
Hoekom wil jy hê mense moet die naweek Monsters kom kyk?
Dit is ’n uitdagende stuk en ek weet dit is nie maklike teater nie. Monsters begin ook op ’n baie konfronterende manier waar die spelers die gehoor vra hoekom hulle kom kyk na ’n toneelstuk wat gaan oor kinders wat kinders vermoor. Dit is ontstellend en dit is nie iets waarmee mense gemaklik wil omgaan nie, maar dit gebeur en dit is belangrik dat ons vrae vra daaroor. Ek dink dit is belangrik dat ons moet besef dat dit nie net iets is wat met ander mense gebeur nie. As dit gebeur in ons samelewing affekteer dit almal. Monsters gaan nie noodwendig vir jou antwoorde gee nie, maar dit gaan vir jou dae lank laat herkou oor rekenskap en verantwoordelikheid. Dinge in die lewe is nie altyd aangenaam nie, maar dit is belangrik. Be brave!
In Niklas Rådström’s se teks vir Everlasting moments sê een van die karakters: “Not everyone is endowed with the gift of seeing.” Moenie ’n blinde oog gooi en hierdie geleentheid verbeur nie. Iets soos Monsters gebeur minder as selde.
Monsters
Met: Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete
Teks: Niklas Rådström
Regisseur, vervaardiger, stelontwerp en kostuums: Tinarie van Wyk Loots
Vertaling: Tinarie van Wyk Loots en geselskap
Beligtingsontwerp: Jaco Bouwer
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Taal: Afrikaans
Venue: NATi Repteater
Datum en tyd: 27 April 12:30, 28 April 15:30
Tydsduur: 75 min
Prys: R130
Kaartjies: Webtickets
Lees ook:
LitNet | STAND theatre review workshop: Ignus Rademeyer's review of Monsters (final version)
Suidoosterfees 2024: Ken jy vir Dewie? – ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie
Suidoosterfees 2024: Lipkap ondersoek rymklets en kabaret – ’n onderhoud met Frazer Barry
Suidoosterfees 2024: Theo Kemp oor die Jakes Gerwel Stigting by die fees
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke
Suidoosterfees 2024: Burger King Konsert van Hoop – ’n onderhoud met Anna Davel