Suidoosterfees 2024: Burger King Konsert van Hoop – ’n onderhoud met Anna Davel

  • 0

Foto van Anna Davel: Gys Loubser

Anna Davel praat met Naomi Meyer oor die Suidoosterfees se Burger King Konsert van hoop, waarvan sy die regie behartig.

Anna, ek sien jy behartig die regie van ’n produksie wat uiters opwindend lyk: die Burger King Konsert van hoop. Wil jy vertel wie is almal hierby betrokke?

’n Baie opwindende en diverse groep kunstenaars bymekaar. Die orkes is die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes (KFJO), die voedingsorkes van die KFO. Dit bestaan uit leerders en studente. Die gaskunstenaars is Lynelle Kenned (ook die seremoniemeesteres), Robin Pieters, Salome, Anathi Mobo, Lize Beekman, Tarryn Lamb, twee soliste van die Jeugmusiekstigting – Pieter Joubert (21) op viool en Kian Goliath (17) op saksofoon – asook die Dance4All-dansgeselskap van Athlone, Muzukidz en die Jan van Riebeeck-skoolkoor. Die Suidoosterfees is ’n fees vir almal, en eerlikwaar, hierdie is so ’n heerlike potpourri van style en klanke om na uit te sien. Pop, klassiek, Afrikamusiek, ghoema, power ballads, Ierse musiek, Hongaars, so kan ek aangaan.

..........
Die Suidoosterfees is ’n fees vir almal, en eerlikwaar, hierdie is so ’n heerlike potpourri van style en klanke om na uit te sien. Pop, klassiek, Afrikamusiek, ghoema, power ballads, Ierse musiek, Hongaars, so kan ek aangaan.
...........

Die Burger King Konsert van Hoop word aangebied saam met die Jeugmusiekstigting en ek kan sien hier is baie talentvolle (veral) jongmense betrokke (soos die Muzukidz). Wat is die lekkerte daarvan om hierdie produksie op die planke te bring? En waarna gaan mense kan kom luister as hulle kaartjies bespreek?

Die fees is trots op verskeie ontwikkelingsprojekte wat ontluikende skrywers, sangers en kunstenaars oplei en ondersteun. Van die projekte is die NATi Jong Sterre-projek, Talentsoektog, New Voices, die Hoërskool Dramafees, ens.

Talentsoektog, ondersteun deur Burger King: https://suidoosterfees.com/talentsoektog-talent-search.

Koorkompetisie, aangebied saam met die ATKV.

NATi Jong Sterre, aangebied saam met NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape.

Hoërskool Dramafees, aangebied saam met Artscape en Stad Kaapstad.

New Voices, aangebied saam met Artscape en die Jakes Gerwel Stigting.

Dit is net heerlik om te sien hoe jong opkomende kunstenaars die geleentheid kry om saam met professionele kunstenaars op te tree. Die doel daarvan is om vir hulle hoop en inspirasie vir ’n loopbaan in die kunste te gee, en vir hulle selfvertroue te gee om aan te hou om hulle talente en gawes te ontwikkel. Die fees is uniek omdat ons nuwe kunstenaars en gevestigde professionele kunstenaars in optredes kombineer, sodat hulle van mekaar kan leer.

...........
Die doel daarvan is om vir hulle hoop en inspirasie vir ’n loopbaan in die kunste te gee, en vir hulle selfvertroue te gee om aan te hou om hulle talente en gawes te ontwikkel. Die fees is uniek omdat ons nuwe kunstenaars en gevestigde professionele kunstenaars in optredes kombineer, sodat hulle van mekaar kan leer.
..............

Bilqees du Plessis is ’n goeie voorbeeld in die 21-show. Bilqees, 21 jaar oud, is ’n Talentsoektogwenner wat uitstekend presteer danksy SOF-optredes. Verlede jaar het sy saam met een van haar heldinne, Vicky Samson, gesing. Dit was vir haar ’n groot hoogtepunt.

Is musiek elitisties? Of is dit ’n taal wat almal in hierdie diverse land kan praat?

Glad nie elitisties nie. In die armste van arm gemeenskappe word daar musiek gemaak en gesing. Instrumente word geskep van emmers, blikke, dromme, lepels, stokke, gedroogde peule, enige iets wat ’n klank kan maak. Die menslike stem kos niks en so ook storie vertel. Babas kan al lalalala en hande klap lank voor hulle kan praat of loop. Daar is wel iets beeldskoon aan die klank van ’n simfonieorkes, en vir enige sanger ’n groot voorreg om mee op te tree. Ook vir musikante om in te speel is dit ’n unieke ervaring wat heel ander dissiplines verg as ’n solo-instrument. So ook kore. Daar gebeur iets magies wanneer honderde stemme saam in harmonie sing.  

...........
Daar gebeur iets magies wanneer honderde stemme saam in harmonie sing.  
.............

Gaan mense net stil sit? Sê nou hulle hou nie van klassieke musiek nie ... wat is lekker van hierdie item? Maar ... sê nou iemand sien dis die KFJO ... dan wil hulle tog ook klassieke musiek hoor. Hoe sit mens op al die stoele gelyk?

Daar is ’n baie gebalanseerde program, en iets vir elke smaak. Klassieke musiek van oa Strauss, Dvořák, en Afrikaanse musiek. Ons sing ’n Xhosa-liedjie, "Umthwalo", van die ontslape sangeres Zahara se liedjies, iets uit ’n musical, heelwat plaaslike komposisies van oa David Kramer en Taliep Petersen, Brenda Fassie, Christa Steyn, om maar net ’n paar voorbeelde te noem. My tone krul as ek net dink aan die wonderlike stemme wat ons op die verhoog het!

Hoekom is hierdie konsert belangrik en hoekom moet mense kaartjies hiervoor koop?

Die Suidoosterfees is trots om elke jaar ’n hoogtepunt op Stad Kaapstad se kunstekalender te wees. Die fees glo in die Stad se leuse as die Stad van Hoop. Die fees wil aanhou om uitstekende vermaak aan inwoners en besoekers aan die stad te bring, en om stelselmatig sy posisie as ’n bestemming vir internasionale produksies uit te bou. Hierdie is die eerste aand van die fees (op 25 April), en daar is soveel om te vier! Die program maak my baie opgewonde, en ek gaan sommer die hele week in die stad bly sodat ek niks misloop nie.

Sedert die fees se ontstaan 21 jaar gelede het dit uitstekende groei beleef. Verlede jaar, toe die 20ste fees aangebied is, het die fees enorme groei sedert 2019 voor die inperkings, beleef: bywoning op met 119% en inkomste uit kaartjieverkope met 125%. 105 verskillende produksies is oor 170 vertonings aangebied. Ek is baie trots om deel te kan wees van ’n ongelooflike span teatermakers, sangers, akteurs, skrywers, dansers wat hande kan vat met die feesspan onder leiding van Jana Hattingh om dit vir elke feesganger ’n spesiale ervaring te maak.

Burger King Konsert van Hoop (koop kaartjies hier)
In samewerking met die Nasionale Jeugmusiekstigting
Met: die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes olv Chad Hendricks; Tarryn Lamb, Lynelle Kenned, Robin Pieters, Salome, Lize Beekman, Muzukidz, die Masidlale- en Hoërskool Jan van Riebeeck-kore, asook Nasionale Jeugmusiekstigting-kompetisie-uitblinkers

Regie: Anna Davel
Musiekregie: Melissa van der Spuy
Taal: Afr, Eng
Venue: Operahuis
Datum en tyd: 25 April 20:00
Tydsduur: 90 min
Prys: R150, R100 

Lees ook:

Persverklaring: Suidoosterfees se Onder ’n bloedrooi hemel ’n "kragveld van kreatiwiteit"

Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Miché C van Wyk oor Konsistorie: ’n kabaret

Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Reginald Hufkie en Herschelle Benjamin oor Op die kruin van Shôdeville

Operasangeres Lynelle Kenned gesels oor veelsydigheid in die kunste

Wen kaartjies na Konsert van hoop en Under African skies by die Suidoosterfees

Persverklaring: Suidoosterfees 21 – hutspot van eg Kaapse musiek en stories

From violence to violins: ’n onderhoud met Maria Botha van Muzukidz

Hier en nou: ’n onderhoud met Lize Beekman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top