Lize Beekman praat met Naomi Meyer oor Lize se nuwe album.
Lize, 2020 was nie ’n vreugdevolle jaar nie, maar hier is ’n groen takkie van hoop: Jou eerste album in nege jaar word uitgereik. Waarom was dit juis vanjaar tyd hiervoor?
Dit het gewoon so gebeur dat ek nou weer vir die eerste keer in baie jare opwinding en vreugde ervaar het met die gedagte aan ’n nuwe album. Dit het nie gekom vanuit enige verwagting, druk of eksterne faktore soos tyd nie. Die skryf en opneem was ’n vreugdevolle reis!
’n Verlies gaan nooit verby nie. Was verlies ’n tema van hierdie CD van jou? En wat het jou ook geïnspireer en geroer om musiek te skep?
Daar is slegs een lied wat sonder voorbehoud raak aan die tema van verlies, naamlik "Kan alles net stil". Ek het dit drie maande na die verlies van my geliefde geskryf en dit was die enigste woorde en emosies wat ek op daardie stadium sinvol kon formuleer. Daarna het ek my skryfpen vir baie jare eenkant toe geskuif. Die ander snitte op die album is meer van toepassing op die hede, en daarom was Hier en nou ook ’n sinvolle titel vir die album. Die meerderheid van die ander snitte is geïnspireer deur waar ek nou is in myself, hoe ek nou deur die wêreld beweeg en dit waarneem vanuit ’n nuwe perspektief. Die fokus is eerder op bemoediging en hoop ten spyte van die uitdagings en hartseer wat op ons pad kom.
Hoe skryf jy ’n liedjie? Hoor jy ’n wysie, of kom die woorde eerste?
Dikwels begin dit by ’n enkele gedagte of sin. Sodra daar ’n sin of gedagte met iets binne my resoneer, daag die musiek en liriek gelyktydig op. Nog al die jare loop die twee vir my hand aan hand, want ek glo dat die "storie" van ’n lied selfs nog meer impak maak wanneer die musiek en liriek mekaar nie net ondersteun nie, maar ook reflekteer.
Vertel asseblief vir ons lesers van die geboorte van een (of meer as een) van die liedjies op jou nuwe album? Die inspirasie en die skep daarvan?
Elke jaar rondom Kersfees mis ek Kersliedere wat eie is aan ’n Suid-Afrikaanse Kersfees, so ek het "Kersgeskenk" geskryf met die hoop dat dit nog ’n bydrae kan wees tot ons Afrikaanse skatkis van Kersmusiek.
Dan is daar natuurlik die duet wat ek saam met Deon Meyer (die skrywer) sing, getiteld "Oase". Dit is ’n pragtige gedig wat Deon geskryf het vir sy vrou Marianne wat hy op hulle troudag vir haar voorgelees het. Ek het dit getoonset as geskenk vir hulle, en met ’n mooi storie en sameloop van omstandighede was die uiteinde dat ons dit saam sing op die nuwe album.
Beide "Hier en nou" en "Ek wonder" het ek tydens die inperkingstyd geskryf. Dit was in daardie tyd ook vir my opnuut ’n uitdaging om nie toe te laat dat my gedagtes verdwaal in die verlede of die verbeeldingsreise van die toekoms nie, maar om innerlike vrede te behou in die hede. Beide liedere se lirieke raak aan die tema van die waarde daarvan.
Daar is ook die lied "Steeds en altyd lief" wat ek in 2018 geskryf het as ’n opdragwerk vir ’n storielyn in Suidooster van kykNET. Ek het dit op een van die episodes gesing en die reaksie was oorweldigend positief. Ek het vreeslik navraag gekry vir ’n opname van die lied. Die oorspronklike opname was egter nie in my hande om te versprei nie, so dit het sin gemaak om dit ’n mooi nuwe verwerking te gee en op die album te sit sodat mense se soeke na die lied tot ’n einde kan kom.
Die afgelope jaar was ek baie bewus van die selfdoodgetalle wat so geweldig toeneem – ek dink dis maar omrede die selfdood van ’n geliefde ook deel was van my pad. Die hartseer daarvan en die seer wat so wyd uitkring laat my voel asof ’n hand my hart in ’n drukkende greep beet kry. So ‘n paar maande gelede, toe ek een oggend weer daai greep om my hart voel, het ek agter die klavier gaan sit en "Wag net ’n oomblik" geskryf.
Behalwe die musiek en hoe jy jou bestaan gemaak het (die vraag kóm nog): Hoe was jou emosionele belewenis van 2020?
Soos vir sekerlik al wat mens is, was hierdie jaar ook vir my ongewoon en ’n uitdaging. Ek het die meeste gesukkel met verlange na my geliefdes – om hulle te kan sien, my ouers ’n drukkie te kan gee en lekker kuiers rondom ’n tafel saam met vriende. Vir die res het die lewe my al die waardevolle les geleer om nie te baklei teen wat ís nie. Dit wat in my hande was om te doen, te beheer of te verander, het ek gedoen, maar die res het ek aanvaar, want dit is wat dit is. Ja, sommige dae was moeiliker as ander, maar ek is dankbaar dat ek tog innerlike vrede kon behou.
Mens hoor nou soms: "Ek hoop nie ons gaan weer terug na hoe dit was nie." Is jy een van die mense wat so voel? Watter aspekte van die lewe voor Covid mis jy en na watter aspekte verlang jy?
My antwoord op hierdie vraag sluit eintlik aan by die vorige een, want die waarheid is dat ek nie my gedagtes te veel laat verdwaal in wat wás nie, want dit ís nie meer nie. So, die waarheid is dat daar nie iets pre-Covid is wat ek mis of waarna ek verlang nie, en nee, ek is nie een wat sê dat ek hoop ons gaan nie weer terug na hoe dit was nie. Indien enigiets, sal ek net sê: Ek hoop ons almal kan ons weg vind deur vandag. Ja, ek is nie lief vir die maskers nie, maar ek het dit aanvaar, want dis vir nou eers wat ons moet doen ter wille van onsself en ander. Ja, dis jammer dat mense nie die teaters vol kan sit nie, maar vir nou is dit die realiteit. Ek kies egter om "hier" te wees en nie heeltyd te wens ek was "daar" nie.
Jy was ook besig met mandalas en kuns die afgelope paar jaar. Is jy steeds hiermee besig? Het dit deel geword van hoe jy liedjies skryf, of het die vorming en skep van kuns dalk ook deel geword van jou musiek?
Die visuele kuns is vir seker steeds deel van my dag, want dit is nou ook deel van my. Dit bring vir my vreugde. Het die visuele kuns en die musiek verweefd geraak? Soms sal ’n liriek ’n visuele kunswerk inspireer, maar dis nie gedurig my beweegrede agter die een of die ander nie. Dis twee spasies in my lewe waar ek die bederf het om my grootste vreugde uit te leef, naamlik om kreatief te wees, en soms oorvleuel dit en ander male nie.
Hoe sien jy die toekoms? Vir jou, vir optredes, vir die kunste in die algemeen? Is daar ’n hibriede, aanlyn toekoms gemeng met die lewende optredes, of wat dink jy?
Wie weet hoe môre gaan lyk? Ek kan raai, spekuleer en op allerlei verbeeldingsreise gaan, maar steeds kan môre my verras. Daar is dinge waaraan ek werk – optredes, ’n uitstalling, boek vier in my inkleurboekereeks – alles dinge waarna ek uitsien en hoop dat dit sal realiseer. Oor die pad vorentoe met betrekking tot aanlyn en lewende optredes: Daar gaan altyd mense wees wat skep en daar gaan altyd mense wees wat graag wil luister of kyk na dít wat geskep is. Die vorm wat dit aanneem en die roete tussen skepper en waarnemer gaan soos enigiets anders voortdurend verander. Dis nie ongewoon nie en dis nie beperk tot die kunste nie. Hierdie keer se veranderinge is maar net aangemoedig deur ’n pandemie wat verskuiwings veroorsaak het. Alles is op ’n stadium nuut totdat dit die norm raak. Dinge gebeur; dit druk ons uit ons gemaksones en soms veroorsaak dit dat een ding wegval en ’n ander kom in sy plek, maar soms verbreed dit ons visie en bring nog ekstra moontlikhede wat ons kan omarm.
’n Kommersiële vraag. Ek lees nou die dag hoe ’n groot storie dit was toe Adele haar mees onlangse album uitgereik het, juis omdat langspeelplate (om dit nou so outyds te noem) deesdae op ’n ander manier met die wêreld meeding. En dit waarna ek verwys, was tóé (voor korona). As mens uit musiek ’n bestaan maak, is dit sekerlik nou – midde-in die virustyd – nog meer uitdagend. Wat maak mens? Hoe vind mens dit reg om planne te beraam, kos te hê om te eet, jou rekeninge te betaal?
Daar is midde die pandemie mense wat floreer en daar is mense wat bitter swaarkry en geweldige uitdagings in die oë moet kyk, en dis nie beperk tot mense wat uit musiek ’n bestaan probeer maak nie. Daar is wêreldwyd verskuiwings veroorsaak wat een en elk op ’n magdom verskillende maniere raak, ongeag in watter beroep hulle staan. Wat maak mens? As daar een baie eenvoudige antwoord op daai vraag was, sou niemand swaar kry nie, en ek het vir seker ook nie al die antwoorde nie. Ek kan maar net deel hoe ek my weg vind. Jy sit nie dag na dag jou energie in gedagtes in oor die dinge wat nie in jou hande of vermoë is om te verander nie, of in gedagtes oor hoe jy wens dit eerder was nie, of in gedagtes oor die toekoms en wat moontlik alles nog kan gebeur nie. Jy doen gewoon vandag alles wat in jou vermoë is om te doen en jy doen dit met oorgawe en dankbaarheid vir wat jy vandag het.
Lees ook:




