Onderhoud: Lize Beekman se mandala-inkleurboek

  • 3

Colouring for Adults: Mandala Art by Lize Beekman is nie ’n gewone inkleurboek nie. Die boek bevat 10 gedetailleerde mandalas. Onderaan elke mandala staan daar: “Drawing by Lize Beekman” en langs “Coloured by” is ’n spasie vir die inkleurder se naam.  Weens al die fyn besonderhede word die inkleurboek aanbeveel vir volwassenes, maar kinders wat hou van ’n inkleuruitdaging sal die inkleurboek ook baie geniet. Lize Beekman gesels met Naomi Meyer hieroor.

Lize, jy het 'n ruk gelede 'n kunsuitstalling van jou mandalas gehou. Is hierdie dieselfde kunswerke wat nou – oningekleur – in die blaaie van hierdie boek is? Of is dit ander kunswerke? En almal jou eie?

Die mandalas in die inkleurboek het ek spesiaal geteken vir die boek. Dit is dus uniek en eie aan die boek.

Kom jou mandalas van 'n plek af waar mens jou gedagtes wegneem en doelbewus op iets anders fokus – of vind jy dat mens dan juis die pyn binnegaan en 'n ruk daar vertoef? Maak dit saak?

Vir my is dit beide en selfs ook meer. Dit maak my rustig en laat my dieper asemhaal. Dit het my geweldig baie geleer oor stil raak en om selfs my gedagtes te beheer, hetsy om een gedagte op ’n slag “in die oë te kyk” of om selfs my gedagtes stil te maak en gewoon teenwoordig te wees in die oomblik waar ek my bevind. Ek het geleer dat ons gedagtes soms so kan “raas” dat ons die vermoë verloor om stil te raak en te “hoor” wat lankal wens om gehoor te word. Die inkleurboek kan vir ander wees net wat hulle wil hê dit moet wees … stiltetyd, ontspanning, kreatiewe tyd, vreugde en rustigheid. Ek het selfs al terugvoer gekry van vriendinne of gesinne wat dit saam sit en doen en sommer net die sirkelsamesyn rondom die mandalasirkels geniet. Dit laat my hart glimlag.

Skep jy steeds mandalas van jou eie? Indien wel, hoe het dit verander vandat jy daarmee begin het? Of indien nie, waarom het jy besluit om dit te staak, as dit ’n doelbewuste keuse was?

Ek skep steeds mandalas, ja, en is tans besig om voor te berei vir ’n uitstalling by die Pretoria-kunsvereniging aan die einde van die jaar. Die mandalas wat nou gebeur, verskil van die eerstes in die sin dat dit baie meer gedetailleerd geraak het. Ek weet dat ’n mens nie die dag van môre kan voorspel nie, maar ek kan nie dink dat ek met die mandalas sal ophou nie. Dit is ’n integrale deel van my dag en ’n hawe vir my hart en siel. Ek glo dit sal vir die res van my lewe deel wees van my en ek is oneindig dankbaar daarvoor.

Foto's verskaf

Besoek artlizebeekman.com vir nog inligting.

  • 3

Kommentaar

  • Veronica (Ronnie) van der Merwe

    Lize waar is jou inkleurboek beskikbaar? Ek kry dit nie in Phalaborwa nie.

  • Antoinette Olivier

    Beste Lize,
    Ek is op soek na die naam van die inkleurpotlode saam met die inkleurboek met 'n tou gebind - Brevillier's Cretacolor, Artist Studio, 24 potlode op een van jou web werwe. Dit LYK vir my asof dit meer herfskleurig is as die gewone Colleen en Noris Club van Staedtler wat ek reeds het. Kry 'n mens kleurpotlode wat meer van 'n herfskleurigheid het as die gewone gemengdes?
    Ek woon op die oomblik in Europa, posgeld is soooo duur vanuit Suid-Afrika en sal graag deur Amazon of iets dergeliks hier uit Europa wou bestel.
    Ek wil jou gelukwens met jou Mandala Art (Colouring for Adults) wat ek gedurende September in SA kon koop, dis voorwaar 'n voorreg om al in jou handewerk te kan inkleur (alhoewel ek hou van helderkleurigheid, het ek nou lus om 'n paar te maak rondom sagter herfskleure - en al probeer ek hoe, ek kry net nie uit dit wat ek het 'n handvol herfs raakgevat nie!). (Kyk op my fb timeline as jy wil sien wat ek bedoel met helderkleurigheid).
    Groetnis
    Antoinette

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top