Liné Loff gesels met Reginald Hufkie en Herschelle Benjamin oor hulle produksie Op die kruin van Shôdeville wat eersdaags by die Suidoosterfees op die planke gaan wees.
Hallo, julle. Kan julle asseblief ’n prentjie skets van Shôdeville (Schauderville) vir diegene wat nie die plek ken nie?
Herschelle: Reggie het tydens die skryfproses die prentjie van Schauderville vir my geskep. Daar was baie dieselfde dinge soos my eie tuisdorp, Piketberg, maar daar was ook die totale teenoorgestelde, en ek was meer gefassineer daarmee. Die Oos-Kaap lê nog wyd met vele stories wat gehoor moet word. Ek was geïnspireer deur Reggie se huiwerigheid om dié storie te vertel en die kollig op die voorstad en sy (stemlose) mense te plaas.
Reginald: Schauderville lyk soos die meeste van die ou bruin gemeenskappe regoor die land. Klein huise met twee (baie klein) kamers, ’n kitchen en sitkamer. Die strate is klein en die huise is teen mekaar. Daar is altyd lewe aan die buitekant. Great mense bly daar, maar die meeste mense trek swaar, veral nou dat die unemploymentrate so erg is. En daar is nog die ander social issues ook.
Is dit die eerste keer dat julle twee saam aan ’n produksie werk? Hoe het julle by mekaar uitgekom, en wat is die storie agter die besluit om spesifiek hierdie toneelstuk te maak?
Herschelle: Korrek. Dis die heel eerste keer wat ek saam Reggie werk en ook vir my as skrywer die eerste keer wat ek saam met iemand anders geskryf het. Ek is so gewoond daaraan om alleen te skryf, maar vir hierdie stuk het dit geverg dat ek en Reggie soveel moontlik saamsnoer om die storie eerbaar te skryf en die stuk met integriteit te doen. Ek en Reggie ken al mekaar van my universiteitsdae, maar dit was maar altyd net ’n gewone “hallo-hoe-gaan-dit?” as ons verby mekaar geloop het. Daarna, jare na universiteit, toe ek Johannesburg toe trek, loop ek en hy weer mekaar raak. Ons besef toe ook dat ons baie naby aan mekaar bly hier in Linden, Randburg. Dus was dit uiteindelik baie maklik om elke nou en dan saam te skryf. Ek het ook ná my vorige stuk, Agulhasvlakte, gewonder wat is volgende. En toe Reggie met die idee kom van ’n drama en hy wil dit saam doen, was ek bereid en opgewonde.
Reginald: Ons werk vir die eerste keer saam. Ons het al ’n hele paar jaar gelede gesê ons moet iets saam doen. In Augustus-September verlede jaar het ons uiteindelik gesit en begin skryf. Ons het toe besluit om aan ’n storie te werk waaraan ek alreeds geskaaf het en amper op die verhoog gehad het. Toe hersien ons die stuk, en nou is ons hier.
Ek sien die toneelstuk is semi-outobiografies van aard. Beïnvloed dit die benadering wat ’n teatermaker volg om die stuk na die verhoog te bring? Is daar sekere gedeeltes wat vir die mense op wie dit gebaseer is, dalk moeilik sal wees om te sien?
Reginald: Ek dink Herschelle sal baie meer kan sê oor die eerste vraag, maar ek weet ons wil die stuk so gou as moontlik Schauderville toe neem sodat ons kan hoor wat die mense sê. Ek weet ons is baie sensitief.
Herschelle: Die semi-outobiografies deel is meestal op Reggie se eie lewe en ervarings geskoei. Tog is hy ook die hoofrol in die stuk as akteur en hy is ook die skrywer. Ek weet vir my was dit baie duidelik dat daar ’n tipe afstand was – party kere was dit goed, ander kere nie so baie nie – juis omdat daar gedeeltes is waarmee ek kan vereenselwig maar wat nie heeltemal op my persoonlike ervarings gebaseer is nie. So, as skrywer was dit vir my om krities te wees oor wat ons kan gebruik en hoe – want dit is ook ’n verhoogteks, en daarin is ook seker belangrike goed waaraan ’n stuk moet voldoen, soos waar is die konflik? En hoe skryf ons volronde driedimensionele karakters met beide hul sterk en swak punte? En dan ook die ander tegniese goed, soos die verloop van die stuk. Ek het baie met hierdie goed gewroeg en lateraan selfs met die skuur en skaaf van die teks. Ek wou net hê dat ons die storie so eerlik en effektief as moontlik vertel vir die gehoor. Ongeag ons eie persoonlike afstand tot die tematiek – in hierdie tye is dit tog belangrik om versigtig met ander mense se tyd te werk. Iemand koop ’n kaartjie en kom kyk die stuk; hulle besluit om hul tyd en aandag aan jou te verleen. Dit het vir my as regisseur van die stuk belangrik geword in my agterkop. Ons kan nie net die verromantisering van die temas vir onsself hou nie, maar hoe tref ons mense in hul emosies, gedagtes en verstandhouding?
Tog bly die groot vraag wat die stuk onderlê ’n moeilike een vir my: Kan mens familie of bloedlyne sny of laat gaan as dit jou nie meer ondersteun in jou aspirasies of lewe nie? Ek het nie ’n antwoord nie. Ek dink vir elkeen sal dit anders wees om dit binne hulself te ondersoek.
Vertel asseblief iets oor die besluit om race walking deel te maak van ’n toneelstuk wat beperk is tot ’n baie kleiner ruimte as die sportsoort self.
Herschelle: Die sport is so onbekend en so min mense weet daarvan dat ek so geïnteresseerd was toe Reggie my vertel van sy loopbaan in die sport. En hoe dit deure vir hom oopgemaak het. Ek het ook gedink sport en die metafoor van race walking is verfrissend as invalshoek vir ’n dramastuk. Natuurlik is dit nie altyd moontlik om dit heeltemal op die verhoog te verbeeld nie, maar ek glo ons het dit suksesvol in die teks gedoen. Race walking is baie belangrik vir die karakters, en die lesse wat daaruit geleer kan word, word soort van ’n kompas vir die hoofkarakters, Marvin en Uncle Smithie. Met ’n groter begroting sal ek graag nog meer visueel die uitbeelding van die sport op die verhoog wil betrek. Maar wie weet, dalk op ’n latere stadium.
Reginald: Vir my gaan dit daaroor om die storie(s) na die mense toe te vat no matter waar hulle is. Of na ’n teater naby hulle. En race walking vorm ’n groot deel van die storie. Dit is die ding wat die karakters bymekaar gebring het. Die belangrike “tool” wat gebruik was om iemand se lewe beter te maak.
Is daar ander produksies by die Suidoosterfees waarby julle betrokke is? En is daar enige van die ander produksies wat julle van plan is om by te woon?
Herschelle: Ek is betrokke by een ander ding: ’n Jakes Gerwel-gesprek op 30 April met Pieter Odendaal oor sy dramaboek Droomwerk. Ek is baie opgewonde hiervoor ook, want Pieter is ook onlangs op die kortlys vir die Hertzogprys vir drama! Hoe ongelooflik! Baie trots op hom en die stuk.
Vir my werk by kykNET is ek opgewonde vir die Suidooster Stormsterk-konsert ook. Dis elke jaar ’n hoogtepunt vir feesgangers en die Suidooster-akteurs se talent het g’n einde nie!
Verderaan gaan ek ander stukke kyk soos WaanSin, Suurdeeg, Chronicles van Mavis, KaraMonk, Bettie innie Selle, AfriSnaaks, Suwalla Kassam (weer, want dit is so fun en opwindend en uitstekend!), Fietsry vir dommies(ook weer want dis ongelooflik goed!), Ballroom Boy, Gas, Konsistorie: ’n kabaret, Ken jy vir Dewie?, Roem – daar is só baie, en die beste deel is altyd om ander werk te sien by ’n fees.
Reginald: Ek is nie betrokke by ander produksies nie. Ek wil ’n paar produksies gaan kyk, veral Fietsry vir dommies en Monsters. En musiek ook.
Op die kruin van Shôdeville
Met: Kevin Smith, Reginald Hufkie en Donovan Pietersen
Teks: Herschelle Benjamin en Reginald Hufkie
Regie: Herschelle Benjamin
Musiek: Reginald Hufkie
Produksiebestuur: Reimagine Theatre Co.
Verhoogbestuur: Zander Naude
Taal: Afr
Venue: Zip Zap Dome
Datum en tyd: 26 April 15:30, 27 April 19:00, 28 April 10:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R130
Klik hier om kaartjies te koop.
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Miché C van Wyk oor Konsistorie: ’n kabaret
Suidoosterfees 2024: Konsert van Hoop – ’n onderhoud met Anna Davel