Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Miché C van Wyk oor Konsistorie: ’n kabaret

  • 0

Miché C van Wyk is by vanjaar se Suidoosterfees, wat mondig word, as akteur en skrywer by drie produksies betrokke. Sy gesels met Liné Loff oor haar kabaret, een van die fees se reeks 21-minuut-produksies wat as spesiale verjaardagaanbod teen R21 per kaartjie aangebied word.

Hallo, Miché. Jou kabaret, wat eersdaags by die Suidoosterfees te sien gaan wees, klink verskriklik interessant! Sal jy asseblief kortliks kan verduidelik waaroor die stuk gaan?

Dit handel natuurlik oor kerksake. In ’n klein dorpie is een van die dinge wat ’n gemeenskap een maak, die kerk. Almal behoort aan dieselfde kerk en as die kerk toemaak, is die fondasie van ware Christengeloof maar swak. Die kabaret spreek tot al die sosiale kwessies wat in ’n dorp skeefloop.

Ek sien Nama word naas Afrikaans in die produksie gebruik. Wat het jou laat besluit om Nama te betrek? En ook: Is daar ’n behoefte daaraan dat Suid-Afrika se minder bekende inheemse tale soos Nama bevorder moet word?

Die produksie speel af in ’n Namakwalandse dorpie. Ek kom self van Namakwaland en daar praat ons nog elke dag ’n bietjie Nama. Dit was net reg om Nama in te sluit om die storie so geloofwaardig as moontlik te maak. Ek moet noem dat daar net frases en enkele woorde in Nama is. Die rede hoekom ek dit gebruik, is dat die Nama-taal ’n bedreigde taal is. Daar is min mense wat dit vlot kan praat, en dié wat kan, is nie vandag se kinders nie. Met my navorsing het ek geleer dat Nama destyds verbied was om gepraat te word. Nama-kinders is op skool gespot en getug as hulle die taal gepraat het. So het die Nama-mense van Namakwaland besluit om eerder kinders Afrikaans groot te maak om sosiaal meer aanvaarbaar te wees, en die taal is minder gepraat. As gevolg hiervan bestaan die lekker Afrikaanse dialek wat ons nou het, en die stukkies van die Nama-taal en -kultuur wat ons oor het. Ek moet ook noem dat die afgelope paar jaar daar weer ’n trotsheid heers om Nama te wees, veral onder die jeug. Dit is definitief belangrik om inheemse tale te bevorder. Hierdeur kan ons die trauma wat daarmee gepaardgaan, herstel en nasiebou bevorder. Ek as kunstenaar het hierdie verantwoordelikheid op myself geneem om, waar ek kan, altyd in my werk Nama en die Namakwalandse taal en kultuur uit te beeld en so op my manier by te dra tot die bevordering van inheemse taal en kultuur op die verhoog en in literatuur. Namakwaland en sy mense bly my grootste inspirasie.

Vertel asseblief meer oor die kombinasie en versoening van plattelandse kerksake en kabaret – twee skynbaar uiteenlopende onderwerpe.

Plattelandse kerksake is maar baie konserwatief, vol politiek en vreeslik sensitief vir verandering. Kabaret, daarenteen, is natuurlik in dié geval gevaarlik en skroom nie om ’n bietjie aan te vat en kommentaar te lewer nie. Die waarheid is ’n naarheid. Dit daag die norm uit. In die produksie se geval is dit die karakters (gemeenskapslede en gemeente) se leefwyses en opinies wat daarvan ’n uitstekende en lekker kombinasie maak.

Konsistorie is deel van die Suidoosterfees se 21-afdeling, wat beteken die produksie is net 21 minute lank. Wat is die voordele en uitdagings van so ’n tydsbeperking?

Dit het definitief voordele en uitdagings. Die grootste uitdaging is inderdaad om seker te maak dat dit wel 21 minute is. En ek moes nou al baie sny aan my teks, maar nog steeds seker maak dat al die nodige storievertelmerkpunte behaal word. Die voordeel is – geen geheim nie – dat dit net 21 minute is, so ek sal nie te moeg wees tydens die performance nie, want 21 minute vlieg. Die grootste voordeel, en dit is vir die mense, is dat ’n kaartjie net R21 kos.

Is daar ander produksies by die Suidoosterfees waarby jy betrokke is? En is daar enige van die ander produksies wat jy van plan is om by te woon of waarna jy uitsien?

Ja. Ek perform ook in ’n kinderproduksie, Pampoenpit se groen gevoel, deur die wonderlike Bianca Flanders Balie. Ek het ook die voorreg gehad om deel te kon wees van die NATi Jong Sterre-program. Met hulp van NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Suidoosterfees en my mentor, Lee-Ann van Rooi, het ek in Augustus 2023 by Paulet Huis in Somerset-Oos gaan skryf en die gevolg is my debuutdrama Suurdeeg.

Ek sien daarna uit om my mede-NATi Jong Sterre se produksies, Poppie in the dunes, Gas, Na die dood ons skeien To throw a brick te kyk saam met Waansin, Droomwerk en die Kuier-gospelkonsert.

Konsistorie – ’n kabaret

Met: Miché C van Wyk en Vihann van Rooyen (pianis)
Teks: Miché C van Wyk
Regie: Petrus du Preez
Taal: Afr, Nama
Venue: ATKV-Isibaya
Datum en tyd: 26 April 13:45, 29 April 16:00, 30 April 14:30 en 20:30, 1 Mei 14:30
Tydsduur: 21 min
Prys: R21

Klik hier om kaartjies te koop.

Lees ook:

Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Reginald Hufkie en Herschelle Benjamin oor Op die kruin van Shôdeville

Suidoosterfees 2024: Konsert van Hoop – ’n onderhoud met Anna Davel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top