Miché C van Wyk is ’n aktrise, digter, skrywer en kabaretkunstenaar van Steinkopf, Namakwaland. Sy het in 2021 aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer, waar sy drama studeer het en ook deel van verskeie departementele produksies was, onder andere Nadia Davids se At her feet. In 2022 het sy haar dramastudies voortgesit, in kabaret gespesialiseer, en met ’n honneursgraad gegradueer. Gedurende hierdie jaar het sy haar eie kabaret, Is als oraait by die huis van die Here?, geskryf en die hoofrol van Ruth Jantjies vertolk in Jantjies and the pearls, wat by KKNK en Suidoosterfees 2023 te sien was. Sy het vir haar honneursstudie ondersoek ingestel na en geskryf oor die uitbeelding en voorstelling van die Nama-taal en -kultuur op Afrikaanse televisie. Sy is ook benoem vir ’n Fleur du Cap-teatertoekenning in die kategorie mees belowende student en beste aktrise in ’n hoofrol by die Première-fees. Sy was onlangs deel van die NATi Jong Sterre-program.